Jy hoor haar voor jy haar sien. Die vrolike gejil van ’n meisie­stem weerklink deur die huis. Stap jy deur die sonnige oopplankombuis tot in die gesel­lige televisiekamer, sien jy die meisie met die helder blou oë lê op haar rug voor die televisie en kyk ’n vrolike tekenprent.

Haar ma gaan kruisbeen langs haar sit en help haar dan regop.

“Wie verjaar môre? Wie verjaar môre?” koer oupa en ouma Piet en Carla Kruger wat spesiaal uit Lephalale kom kuier het. Klein Isabella Kruger of Pippie, soos ons haar die afgelope paar jaar leer ken het, kyk met groot oë na die mense om haar.

“Ek,” sê die blondekoppie in die pienk rok en grasgroen sykouse sag. ’n Groot glimlag sprei oor haar gesig.

Pippie blaas die kersie op haar verjaardagkoek doo
Pippie blaas die kersie op haar verjaardagkoek dood terwyl oupa Piet, ouma Carla en kleinboet, Arno, toekyk. Foto: Corrie Hansen

Oujaarsaand

Dis al agt jaar sedert ’n bottel vuuraansteekjel tydens ’n familiebraai op Oujaarsaand op die Krugergesin se plaas in Lephalale ontplof en klein Pippie derde­graadse brandwonde oor 80% van haar lyf opgedoen het.

Ná ’n baanbreker-­veloorplanting van haar eie gekloonde vel, sowat 60 operasies, twee jaar se hospitaalbehandeling en rehabilitasie kan ’n mens nie help om met verwondering na die langbeenkind met daardie groot blou oë te kyk nie.

“En hoe oud word jy?” vra mamma Anicè (34) en gee haar oudste ’n soen op die kop.

“Tien!” laat hoor Pippie weer van haar.

Vanjaar vier dié dapper meisietjie hierdie mylpaal op die rustige Suid-Kaapse kusdorp Stilbaai, waar sy sedert Desember verlede jaar saam met ma Anicè en haar jonger boetie, Arno, woon.

Go, go, go, Pips!” moedig Arno (8) sy sussie aan terwyl sy probeer om die gestreepte geskenkpapier van haar vroeë verjaardaggeskenk af te skeur. Pippie kraai van vreugde en Arno klap sy hande toe hy sien sy sussie kry ’n helderkleurige Lego-stel.

’n Hele nuwe hoofstuk

“Dis asof jy vir die eerste keer weer vrede in jou siel kry ná al die eina van alles wat gebeur het,” sê Anicè met ’n glimlag oor hul nuwe lewe hier op Stilbaai.

“Dit is ’n hele nuwe hoofstuk, ’n nuwe leefstyl; alles is anders. En Pippie is ook meer ontspanne. Ek dink sy kan aanvoel dinge is kalmer,” sê Anicè, wat aan die begin van Mei vir die eerste keer sedert die ongeluk weer voltyds begin werk het.

Dis ’n dag voor Pippie se 10de verjaardag op 9 Junie, en hoewel hulle nie vanjaar ’n groot partytjie hou nie, vier hulle dit tuis met ’n lekker kuier saam met oupa en ouma. Anicè kyk liefdevol na Pippie en haar stem raak skielik sag: “My kind word nou groot.”

Die afgelope paar jaar was ­allesbehalwe maklik.

Benewens Pippie se lang en uitmergelende herstelpad, het ’n sielkundige verlede jaar bevestig Anicè en haar man, Erwin (46), se jongste kry baie swaar omdat hy verwerp gevoel het nadat al die aandag so lank op Pippie was.

Die inbraak en die pad na Stilbaai

En toe het inbrekers in Oktober op hul plaas toegeslaan terwyl die gesin een nag geslaap het.

“Hulle het ingebreek, die ­televisie uitgedra, ons in die huis toegesluit en met die bakkie weggejaag,” onthou Anicè. Hulle het eers die volgende oggend besef wat gebeur het en dit het die Krugers baie groot laat skrik.

“Dit was die laaste strooi,” sê sy ernstig.

In Desember het hulle weer, nes die ­afgelope ses jaar, by haar skoonouers se vakansiehuis hier in die Suid-Kaap uitgespan. Maar pleks daarvan om in Ja­nuarie terug te keer huis toe, het Anicè en die kinders vanjaar agtergebly om met ’n nuwe lewe te begin.

“Ag, en elke keer dat ons hier op Stilbaai was, was Pippie altyd só ontspanne en slap. In Lephalale kan dit soms in die 40 °C raak, en dan trek hierdie klein lyfie so styf,” sê Anicè.

Boonop gaan dit sedert hul skuif ook baie beter met Arno, wat by die Laerskool Bertie Barnard op die dorp in gr. 2 is. Sy skoolpunte het verbeter, hy doen twee keer per week karate en het al baie nuwe maats gemaak, sê sy ma trots.

“Hy het so verander. Dis gerusstellend om te sien albei is gelukkig.”

Erwin, wat steeds as ’n beroepsjagter werk, woon nog op hul plaas, maar kom kuier elke vyfde week vir ’n week of twee in Stilbaai.

“Ons maak video-oproepe en gesels elke oggend en aand,” sê Anicè. Dié min sien is nie vir hulle so ’n groot aanpassing nie.

“Met sy werk was hy maar altyd dikwels weg van die huis af, en ­onthou, ek was twee jaar lank in Johannesburg met Pippie (tydens haar lang rehabilitasie). Ons is eintlik al gewoond daaraan om mekaar min te sien,” sê sy.

Tog ondersoek hulle werkmoontlik­hede vir Erwin nader aan Stilbaai, en Anicè en die kinders gaan ook binnekort ’n week lank op Lephalale kuier.

Terug in die tuig

Die een groot aanpassing was wel toe Anicè op 1 Mei die eerste keer ná die ongeluk weer begin werk het.

“Nou dít was scary!” sê sy met groot oë en lag.

Sy het voorheen as ’n sjef en lodgebestuurder gewerk, maar sedert die ongeluk het sy heeltyds na Pippie omgesien. Nou werk sy by hul kerk se Aroma-koffierestaurant en geniet die nuwe uitdaging.

“Dis ’n klein plekkie en ek doen iets van alles; ek is die bestuurder, ek bedien tafels en help sommer met die bakwerk ook,” vertel sy.

Boonop moes sy vir die eerste keer in jare Pippie in iemand anders se sorg laat. Karla Liebenberg (31), wat ook van Lephalale kom, versorg Pippie terwyl sy werk.

“Kyk, ek het daardie eerste dag ’n klomp keer ge-SMS en seker gemaak sy kry wat sy benodig en eet wat sy moet eet,” onthou Anicè.

Karla Liebenberg (links) sien deur die dag na Pipp
Karla Liebenberg (links) sien deur die dag na Pippie om. Foto: Corrie Hansen

“Ek dink elke mamma voel dat niemand anders goed genoeg na jou kind kan kyk nie. En wat spesiale behoeftes betref, is dit nog glad ’n ander storie. Maar ná die eerste week kon ek sien hoe gelukkig sy is.

“Dit klink dalk nou snaaks om te sê, maar sy het ook ’n blaaskans nodig. Om 24 uur in jou ma se geselskap te wees kan jou ook maar keelvol vir jou eie ma maak,” spot Anicè.

“Maar ja, sy raak ook ouer; sy het ook iets anders en meer stimulasie nodig.”

“Sy het so diep in my hart ingekruip,” laat ’n glimlaggende Karla hoor.

Sy meld elke oggend seweuur aan. Kort daarna laai Anicè vir Arno by die skool af voor sy self werk toe gaan. Karla bad dan vir Pippie, trek haar aan, gee haar kos en masseer haar ledemate om te help dat dit nie so styftrek nie.

Sy speel ook opvoedkundige speletjies met haar soos om haar aan verskillende reuke bloot te stel.

Wanneer Anicè tussen een- en drieuur tuiskom, gaan Karla huis toe en bring Anicè gehaltetyd saam haar twee spruite deur voor hul slaaptyd om halfagt.

Ma en dogter het steeds ’n hegte band. Foto: Corri
Ma en dogter het steeds ’n hegte band. Foto: Corrie Hansen

“Die afgelope ruk kampeer ons elke aand op hierdie matras en raak sommer hier aan die slaap,” sê Anicè laggend.

Pippie gesels voortdurend saam met klankies en woordjies. “Katte-katte-katte-­katte,” sê sy toe hul kat, Loxa, verbystap.

Pippie volg steeds ’n ketogene dieet en moet genoeg vette, olie en botter inneem.

“En sy is mal oor perde en die animasiereeks Dora the Explorer,” vertel Anicè.

Pippie se gesondheid is goed, buiten ’n verkoue wat sy ’n ruk gelede gekry het, sê sy. Sy doen ook steeds oefeninge met Pippie om haar te help sit en kruip, en hulle maak seker Pippie kry genoeg vars lug.

“Maar baie werk lê nog vir ons voor,” sê Anicè.

Sy glo Pippie se breinskade weens haar hartstilstand ná die ongeluk is besig om stadig maar seker te verbeter danksy neuroplastisiteit – die brein se vermoë om nuwe neurale verbindings te maak.

“Ek glo sy sal nog loop en praat. Dit neem maar net ’n bietjie langer.”

Anicè hoop Pippie kan eendag haar eie drome uitleef.

“Maar ek wil net hê sy moet gelukkig wees. En ek dink ons is baie content waar ons nou is.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.