Dis asof ’n stukkie son die grou winterdag hier in Suid-Afrika ophelder toe Karla Pretorius se stem vroegoggend aan die ander kant van die foon opklink.

Sy lê op die bed in haar sonnige tweeslaapkamerhuis aan die Sonskynkus van Australië, vertel die netbalspeler met die ewe sonnige geaardheid. Met ’n vrolike lag beskryf sy die toneel: Sy is deur potplante omring, sê sy. 

“Vandat ons hier woon en nie meer ’n tuin het nie, het ons baie potplante in die huis,” vertel sy. “My man, Werner, is vrees­lik goed met plante.”

“Hier” is net ’n uur se ry van Brisbane, en Werner is die Bloemfonteinse prokureur met wie sy in 2017 getroud is en wat sak en pak saam met sy talentvolle vrou soontoe getrek het sodat sy daar beroepsnetbal kan speel.

Haar tydelike tuiste is soos “Bloem-by-die-see”, vertel die oud-Kovsie wat deesdae vir die Australiese klubspan Sunshine Coast Lightning speel. 

“Die mense is ongelooflik vriendelik en warm hier. O, en die verkeer is glad nie so erg nie.”

Sy klink beskeie – nie noodwendig wat ’n mens sou verwag van ’n topatleet wat onlangs in die Wêreldbekernetbal­toernooi in Liverpool, Engeland, as die speler van die toernooi aangewys is nie.

Karla is as die speler van die toernooi aangewys.
Karla is as die speler van die toernooi aangewys. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Maar al kan Karla (29) deesdae as een van Suid-Afrika se topsportsterre beskou word, is dié hulpdoelverdediger van die Proteas se voete stewig op die grond; dis nou as sy nie deur die lug trek om die bal uit haar teenstanders se greep te red nie.

Haar lewe word tans deur die Australiese netbalseisoen gerig, sê Karla. 

Wanneer die seisoen in September eindig, keer sy na haar hartland, Suid-Afrika, terug voor sy vier maande later weer haar tasse sal moet pak om vir die volgende seisoen na die land Doer Onder te reis.

Al geniet die Pretoriusse die Sonskynkuslewe, oorweeg hulle dit nie om permanent na die buiteland te verhuis nie. 

“Ons is heeltemal te lief vir Suid-­Afrika,” laat Karla hoor.

Hulle vat dit nou “jaar vir jaar”, sê sy. 

Werner het voorheen in ’n regspraktyk in Bloemfontein gewerk. Nadat Karla in 2016 met beroepsnetbal begin het, het hy daar agtergebly wanneer sy na Australië moes reis.

Maar hulle het dinge vanjaar anders aangepak: Hy het ’n jaar sabbatsverlof geneem en werk nou in Australië aan sy M.B.A.-graad terwyl sy speel. 

Al verlang Karla soms huis toe, is dit lekker om haar beste maat by haar te hê wanneer sy ’n blaaskans neem van die ure se oefening op die baan.

“Ons verken Australië, eet pizza, drink rooiwyn en kyk gereeld movies,” vertel sy. 

Karla saam met haar man, Werner Pretorius. Die egp
Karla saam met haar man, Werner Pretorius. Die egpaar woon deesdae in Australië, waar sy vir die netbalklub Sunshine Coast Lightning speel. Foto: Verskaf

Maar nie te veel pizza nie, keer sy gou. Sy is ’n gekwalifiseerde dieetkundige en beklemtoon dis vir haar belangrik om gesond en gebalanseerd te eet.

Dis ’n goue seisoen in die lewe van ons goue meisie van sport, maar dit het harde werk geverg om hier te kom.

“Mense dink my lewe is maanskyn en rose, maar dit is nie. Ek het ook al moeilike tye beleef en moes baie opofferings maak,” erken Karla. 

“Ek en Werner moes baie lank ’n langafstandverhouding maak werk. Ons het mekaar maar baie min in ’n jaar gesien.” 

Maar dit was alles die moeite werd toe die Protea-netbalspan die vierde plek in die Wêreldbekertoernooi behaal. Ná ’n uitstekende wedstryd teen Jamaika is die span in die halfeindstryd deur Australië uitgeknikker.

Ja, natuurlik sou ’n medalje lekker gewees het, sê Karla.

“Maar dis lekker om te sien hoe ver ons al gekom het en hoe goed ons met die beste spanne meeding.”Dit het haar verbaas toe sy as speler van die toernooi aangewys word, sê sy.

Soveel ander goeie spelers – die bestes ter wêreld – was op die baan.“ ’n Mens speel nie om ’n prys te kry nie. Jy probeer die beste vir jou span wees. Die beker is net ’n bonus.” 

Karla se ouers, Herman (57) en Magda (59) Mostert, was langs die netbalbaan in Liverpool – nes hulle nog altyd was sedert hul agtjarige dogter as leerder aan die Laerskool Hennopspark in Centurion in dié sport begin uitblink het. 

Haar trofee is saam met haar ouers Suid-Afrika toe, waar pa Herman dit saam met al Karla en haar jonger suster, Tanya (25), se pryse sedert hul skooldae uitstal. Op skool het die susters deel­geneem aan al wat ’n sportsoort is.

“Maar dis darem nie al wat ek gedoen nie!” lag Karla. “Ek het eenkeer ’n inkleurkompetisie gewen en was deel van die spreekkoor wat Die Spokie moes opvoer.”

Tog het sport vir van haar gelukkigste ervarings gesorg.

“Wanneer ek aan daardie sportdae terugdink, onthou ek eintlik nie die netbal nie; ek onthou die ouers wat ná elke wedstryd saamtrek en langs die baan tent opslaan, kuier en braai. Dis asof die netbal almal bymekaargebring het.”

Karla saam met haar o.9-spanmaats aan die Laerskoo
Karla saam met haar o.9-spanmaats aan die Laerskool Hennopspark. Foto: Verskaf

Herman, wat voorheen vir die Reserwebank gewerk het en self ’n kranige sportman was, en Magda, wat destyds vir die Hoërskool Grens netbal gespeel het, het nooit druk op hul dogters geplaas om te presteer nie, en hul oudste vertel sy kon altyd op haar pa staatmaak om haar baan toe te neem om ’n paar balle vir oefening rond te gooi.

Aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion het Karla ’n paar speler-van-die-jaar-netbalpryse ingeryg, en vir kêrels was daar nie veel tyd nie.“Wanneer ek nie gespeel het nie, het ek geleer,” sê sy.

Sy was altyd een van die langste meisies in haar klas, maar op die wêreld­verhoog is 1,8 m glad nie so lank nie, vertel Karla. “Ek is eintlik kort vergeleke met van die ander netbalspelers. Wanneer ons span langs mekaar moet staan, is my lengte eintlik heel ‘normaal’.”

Ná skool het Karla aan die Universiteit van die Vrystaat dieetkunde studeer terwyl sy vir Kovsies netbal gespeel en later ook provinsiaal meegeding het. Dit was op kampus waar sy en Werner mekaar in die vriendebondel ontmoet het. 

Toe die paartjie in 2013 begin uitgaan, het hy haar ’n houer gegee met dinge waarvan hy hou sodat sy hom beter kan leer ken: ’n CD met sy gunsteling­musiek, poskaarte van die Voortrekkers, ’n ou koerantberig met die nuus toe hy die studenteraad gehaal het, ’n pamflet van die musiekgroep Fokofpolisiekar, ’n armbandjie wat toegang verleen tot die Oppikoppi-musiekfees en ou munt­stukke.

Dié boksie bêre Karla steeds in ’n opgaarboks.

“Werner is lief vir politiek en geskiedenis en ek hang gereeld aan sy lippe. Sy kennis was een van die eerste dinge van hom wat my vasgevang het,” vertel sy. 

Hul verlowing in 2017 was net so plat-op-die-aarde soos die egpaar: Werner het die groot vraag op die trap van ’n restaurant op Philippolis in die Vrystaat gevra.

Hulle moes al voor hul troue “die langafstand-ding” doen; eers toe Werner in Nederland vir sy meestersgraad studeer het en daarna weer toe Karla vir die Bath-klubspan in Engeland gespeel het.

Al het baie Suid-Afrikaners eers van haar kennis geneem toe sy op die wêreldverhoog vereer word, maak sy lank­al in sportkringe naam.

Sy is in 2011 as 21-jarige student gekies om as ekstra speler saam met die Proteas na Singapoer te reis vir die Wêreldkampioenskapstoernooi. “Ek kon proe hoe naby ek aan my droom was,” vertel sy. 

In 2015 het sy in Sydney, Australië, amptelik as ’n Protea op die baan gestap vir haar eerste Wêreldbekertoernooi. Toe die geleentheid in 2016 oor haar pad kom om beroepsnetbal in Australië te speel, kon sy dit nie laat verbygaan nie.

Sewe van haar Protea-spanmaats speel ook tans vir oorsese ligaspanne. 

“As jy in Suid-Afrika netbal wil speel, word jy nie betaal nie. Dis nie soos met rugby- of krieket­spelers nie,” sê sy. 

“Dis moeilik, want jy het ’n voltydse werk en jy moet ná werk tyd maak om te gaan oefen. Jy het ook net soveel verlofdae; dus moet jy soms onbetaalde verlof neem om aan toernooie deel te neem. En dan het jy nog ’n familie vir wie jy moet tyd maak. Baie meisies tree daarom maar uit.”

Sy en haar spanmaats droom daarvan dat netbal in Suid-Afrika eendag dieselfde erkenning as ander beroepsporte sal geniet, en hulle werk hard om dit te laat gebeur. 

En wie weet? Dalk wag ’n medalje op die Proteas in die volgende Wêreldbeker in 2023 in Kaapstad. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.