Swys, ook die Leeus se hoofafrigter, het die keuse glo weens “persoonlike en mediese redes” gemaak. 

Dit het gekom kort ná die Bokke teen Nieu-Seeland in Wellington gelykop gespeel het.

Hy was betrokke by die onlangse sege in Salta, maar sal nie beskikbaar wees vir die kragmeting teen Argentinië op Loftus Versfeld nie. Die Springbokke het Swys in ’n verklaring bedank vir sy harde werk.

“Swys de Bruin het ’n fantastiese bydrae tot die span in sy tyd by ons gelewer. Ons wil hom bedank namens die span en die bestuur vir die laaste 12 maande wat hy saam met ons gewerk het.”

Swys wou nie kommentaar lewer toe Huisgenoot hom kontak nie.

Dis hoe Huisgenoot in Mei vanjaar oor hom berig het

Die Lions-afrigter vertel hoe opgekropte stres en spanning eindelik sy tol van hom geëis het.

Hy sit agteroor op sy stoep wat op die gholfbaan van die Ebotse-landgoed in Benoni uitkyk. Twee kolganse stryk op die damwal neer en begin sorgeloos oor die lowergroen grasperk aanwaggel.

Die laatherfsson vonkel op die kalm water tot ’n reusekarp deur die oppervlak breek en dan weer met ’n yslike plons in die water induik. 

Vir Swys de Bruin (59), breier van die Lions, is dit sy plek van stilte – weg van die skeidsregters se skreiende fluitjies, die rooi kaarte en die alewige druk wat die hoofafrigter van ’n suksesvolle rugbyspan moet verduur. 

Maar tot onlangs het die vrede en kalmte soos hy dit vandag ervaar hom ontwyk. Angs en stres het hom ’n laagvat toegedien in ’n kritieke stadium tydens sy span se deelname aan die Superrugby-­toernooi. 

lions,afrigter,rugby
Swys moes uit Nieu-Seeland terugvlieg Suid-­Afrika toe nadat hy angsaanvalle begin kry het. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Ondersteuners was verlede maand geskok om te hoor die Lions moes hul toer in Nieu-Seeland sonder hul hoofafrigter klaarmaak omdat Swys ­skielik om persoonlike redes na Suid-­Afrika teruggekeer het. Hy het later gebieg dit was weens stres. 

“Ek het nie besef hoe ernstig dit was nie,” vertel hy terwyl hy gemaklik kruisbeen sit en uitkyk op die dam. 

Dan erken hy: “Die afgelope twee tot drie jaar het ek nie aandag geskenk aan die geweldige stres en angs wat ek ervaar nie. Dit was soos ’n ballon wat opgeblaas word. Elke dag blaas jy hom bietjies-bietjies op. Tot die dag dat jy hom te veel opblaas en hy eindelik bars . . .” 

Op die vooraand van die Lions se wedstryd op 19 April teen die Chiefs in Christchurch het daardie ballon gedreig om vir Swys te bars.

“Ons is ’n Christenspan. Dit was vir my verskriklik moeilik om op Goeie Vrydag te speel. Baie van ons ondersteuners het ons ook daaroor gekritiseer. Ek voel ek kon ’n besluit geneem het, maar ek het nie.” 

Hy het die dag langs die see gaan sit, maar anders as vandag het die natuur­skoon geen vrede vir sy gemoed gebring nie. Dit het trouens vir hom gevoel asof hy self daar tussen die branders maal en sukkel om kop bo water te hou. 

"Ek het gedink ek is Superman, maar dan is dit soos ’n resieskar wat sy laaste twee rondtes om die baan moet doen en skielik raak die petrol op.”

“Die druk van rugby was nog nooit vir my ’n probleem nie,” sê die gesoute afrigter. “Maar stres is soos ’n drukkoker as jy nie na jouself kyk nie. Jy hou aan om die vuur te stook – op die ou einde gaan dit oorborrel.

“Ek het gedink ek is sterk. Ek het gedink ek is Superman, maar dan is dit soos ’n resieskar wat sy laaste twee rondtes om die baan moet doen en skielik raak die petrol op.” 

Die aand voor die wedstryd het Swys in sy hotelkamer gelê, sy lyf en lakens deurtrek van die sweet. “Ek het ’n hol kol op my maag begin kry en gedink vandag groet ek die wêreld.” Hy het sy vrou, Marilize, in Suid-Afrika gebel.

“Ek het vir haar gesê dit voel asof ek verdrink, en ek weet nie hoekom ek so voel nie. Sy’t dadelik vir my gesê ek moet huis toe kom.” 

lions,afrigter,rugby
Swys de Bruin het vroeg in Mei weer sy pos as hoofafrigter van die Leeus hervat. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sy stres en angs het nie noodwendig uit die gebeure op die veld gespruit nie; verskeie faktore weg van die veld was die spreekwoordelike laaste druppel wat gedreig het om die emmer te laat oorloop.

“Ons by die Lions is baie geheg aan mekaar,” verduidelik Swys. “Ons is familie, en ek as die afrigter dra my hart op my mou en probeer vir almal ’n pa wees.” 

Een van die dinge wat ’n groot invloed op hom gehad het, was toe ’n hof in ­Sydney, Australië, verlede maand hul verdedigingsafrigter, Joey Mongalo, skuldig bevind het aan onsedelike aanranding. Die klaer was ’n vrouewerknemer van ’n hotel in Coogee, Sydney, waar die span in 2018 tuisgegaan het. Joey het aangedui hy gaan teen die uitspraak ­appelleer.

“Dit het my diep getref. Joey was nog altyd soos ’n kind vir my. Ek het om sy onthalwe hulpeloos gevoel.” 

Toe kom die aanloop tot die wedstryd op Goeie Vrydag, Swys se wroeging daaroor en daardie gevoel dat alles vir hom te veel word. Op aanbeveling van die ­Lions se spandokter, Rob Collins, het Swys daardie Donderdagaand terug­gevlieg Suid-Afrika toe. 

stres,rugby,lions,afrigter
Stres is soos ’n drukkoker as jy nie na jouself kyk nie, maan Swys. Foto: Lubabalo Lesolle

“Dit was vir my moeilik om die span agter te laat net ure voor hulle teen die Chiefs moes speel, maar ek het met hulle kontak gehou en almal was baie ondersteunend. Met die oorwinning oor die Chiefs het hulle my baie trots gemaak.” Terug op eie bodem het Swys drie ­sessies terapie by ’n sielkundige gehad. En die eerste Maandag in Mei was hy terug op sy pos.

“Dit was vir my ’n baie harde les,” sê hy. “Op die ou end is ek ook net ’n mens; ek het besef dit gebeur met almal.

“Skeidsregters wat onregverdige besluite neem, het my ondergekry, maar ek het besef die lewe is nie regverdig nie, en ek moet dit so aanvaar.” 

Wat is die een boodskap wat Swys nou aan ander wil oordra? “Jy moet eers jouself vind en verstaan voor jy ander kan help. Alles is in jou kop, en jy moet dit wat tussen jou ore is, verstaan en hulp kry as dit nodig is.” 

Wanneer angs of frustrasie hom nou begin beetpak, het hy ’n teenvoeter gereed: Hy dink aan sy vreedsame hoekie hier op die stoep.

“Wanneer iets soos die verkeer my onderkry, dink ek net hoe ek op hierdie stoep uitspan, en dan sê ek vir myself Psalm 23 op: Hy bring my by waters waar daar vrede is. 

Keer so dat jy uitbrand

Oormatige en voortdurende stres kan jou laat uitbrand, waarsku Jurie Wessels, ’n ­lewensafrigter van Kaapstad. Gewone daaglikse stres verdwyn sodra jy die uit­daging die hoof gebied of die probleem opgelos het. “Maar met uitbranding gaan die stres nooit weg nie en ervaar jy chroniese angstigheid en druk,” verduidelik hy.

Gevaartekens dat jy op uitbranding afstuur, is as jy hulpeloos en permanent moeg voel. “Jy kan nie aksie neem om algemene probleme op te los nie.” 

Stres het nie net ’n uitwerking op jou gemoed nie, maar ook op jou liggaam. Dit verhoog die liggaam se gebruik van vitamien B, sê Cornelia Swart, ’n kliniese sielkundige van Pretoria. 

’n Tekort aan hierdie vitamien knou die werking van die senustelsel en lei tot uitputting. 

“Ander gevaartekens sluit in spierspasmas, sosiale onttrekking, verkorte aandagspan, aggressie, depressie, naelbytgewoontes, spanningsknoppe op die maag, emosionele distansiëring en gewigsverlies of -toename.” 

Nog ’n gevaarteken is as ’n mens jou stres tydelik verlig deur die oormatige gebruik van alkohol of jou toevlug neem tot rook, dwelms, kos, pynmedikasie, slaappille of selfs aanlyn speletjies en die so­­siale media.

“Hierdie meganismes veroorsaak dikwels ’n sekondêre probleem benewens die probleem waardeur die stres veroorsaak word,” waarsku Cornelia.

Hoe slaan jy stres betyds hok? 

Die eerste stap na herstel is om te besef jy ly aan stres en angstigheid, sê Jurie. “Om professionele hulp en berading by ’n sielkundige te kry moet vir jou so doodnormaal wees soos om ’n griepinspuiting voor die winter te kry.” 

Om stres daagliks beter te hanteer, stel Cornelia voor jy verlaag jou verwagtings van jouself en ander. “Soms is daar net te veel hooi op jou vurk. Verminder dit. Probeer meer lag en positiewer wees,” voeg sy by.

Gesond eet en genoeg oefening is ook belangrik. “Oefening werk baie goed om stresvlakke te verlaag. 

“Meditasie en asemhalingsoefeninge is ook doeltreffend.” 
Om stres by die werk te bekamp, moet 
jy gesonde grense stel, sê dr. Marlet Tromp, ’n lewensafrigter van Johannesburg. “Doen eerstens wat van jou verwag word en fokus op jou hooftaak.”

Probleme met tydbestuur kan ’n bron van stres wees as mense geneig is om werk uit te stel of perfeksionisties te wees en onnodig baie tyd en aandag aan take wy.
Moenie skuldig voel wanneer jy ’n blaaskans of vakansie neem nie, sê dié kenner. 

“Om jou batterye te herlaai, is tye van rus waarin jy jou waarlik van die werk afsluit noodsaaklik.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!