Covid-19 coronavirus vaccination concept
Die skrywer van dié artikel, Pieter van Zyl, het aan ’n toetsprogram vir ’n entstof vir covid-19 deelgeneem

Ek is nommer 3037155 en ’n lid van die studiegroep VAC31518- COV3001.

Op die oog af is dit net onpersoonlike nommers, maar ’n wêreld van betekenis lê daarin opgesluit. Vir my verteenwoordig dit hoop in die wêreld se stryd teen die moordenaarvirus wat ons lewe so drasties verander het, en die geleentheid om ’n verskil te maak.

Kort voor Huisgenoot se druktyd het pres. Cyril Ramaphosa gesê Suid-Afrika sal 20 miljoen dosisse entstof teen covid-19 aankoop van onder meer die farmaseutiese maatskappye Pfizer, AstraZeneca en Johnson & Johnson.

“Die tesourie sal seker maak dat geld daarvoor beskikbaar is,” het Ramaphosa gesê, al is daar nog vrae oor die onderhandelings en hoe die regering se inentingsprogram sal werk.

Toe ek die afgelope Desember ’n deelnemer aan ’n kliniese toets vir ’n covid19-entstof deur die vervaardiger Janssen geword het, was daar nog geen versekering oor wanneer ons ’n entstof sal kry en watter een dit sal wees nie.

Ek is een van 60 000 proefkonyne wêreldwyd wat deelneem aan dié vervaardiger se toetse om ’n doeltreffende entstof te ontwikkel. Maar die virus is nou intens persoonlik vir my, en ek weet ons veg teen die pandemie én teen die samesweringsteorieë wat entstowwe verwerp.

Voor die entstof in Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal in my arm ingespuit is, het 20 van ons eers ’n beradingsessie ondergaan. Ons voorligter het verduidelik ons sal nie covid kry weens die inenting nie; dis net ’n stukkie van die virus waarmee ons ingespuit sal word.

covid,inenting,Groote Schuur
Sowat 60 000 mense wêreldwyd toets covid-inentings. Pieter van Zyl gesels oor sy Kaapse ervaring.

Maar ook dat almal wat ingespuit word nie immuun sal wees nie.

“As jy simptome toon, moenie kliniek toe kom en beautiful me besmet nie,” het hy gesê. Toe voeg hy by: “Ons gaan oor twee jaar kyk hoe die entstof jou lyf behandel. Moet asseblief nie in hierdie twee jaar swanger raak nie; ons weet nog nie wat die effek is nie.”

Daarna het ons in ’n sirkel gesit en mekaar vertel waarom ons daar is.

“Ek wil mense help om nie dood te gaan nie,” het ek gesê. Waarop ’n bejaarde vrou van Gugulethu van agter haar wasige bril aan my gesê het: “Thank you. I’ve lost someone already.

Een paartjie het erken hulle is hier vir die R360 wat vrywilligers ontvang. Maar die meeste wou soos ek ’n verskil maak; ons wil help om ’n entstof te ontwikkel en mense wys hulle hoef nie die entstof te vrees nie.

Die reaksie deur my Facebookvriende ná my eerste inenting het ek allermins verwag. Sommige was ondersteunend, maar vir ander was ek “mal” of selfs “satanisties”.

Nietemin, hier is ek nog, springlewendig en gesond.

"As dit nie ek is nie, dan wie?

Alles het met ’n oproep van ’n vriend begin. Tydens die streng inperking het ek drie keer per week vir die liefdadigheidsorganisasie Ladles of Love toebroodjies vir behoeftige kinders gesmeer. Maar toe hervat die skoolvoedingskema en is ek nie meer nodig nie.

Tog het ek gebrand om steeds iets te doen. En toe bel my vriend wat al 20 jaar ’n proefkonyn is vir die ontwikkeling van antiretrovirale middels teen MIV/vigs. Hy vertel toe hy is deel van die kliniese toetse vir ’n covid-entstof.

Die navorsers soek iemand soos ek: wit, 47 en ’n verbruiker van psigiatriese medisyne. Ek het sonder huiwering by hom aangesluit vir die Ensemble-studie, soos dit genoem word.

Dis natuurlik nie net ons twee nie. Kort voor ons druktyd het 12 000 Suid-Afrikaners landwyd al die entstof as deel van die kliniese toetse gekry.

Pieter van Zyl. Foto: Misha Jordaan
Pieter van Zyl. Foto: Misha Jordaan

Hierdie onbaatsugtigheid is bitter belangrik, want nes soveel ander lande steier SuidAfrika tans onder ’n nuwe vlaag infeksies. Wêreldwyd is die sterftesyfer sowat 2 miljoen; plaaslik sowat 37 000.

Toe ek en my vriend vir ons eerste inligtingsessie aanmeld, is daar sowat 200 vrywilligers wat op ’n gepaste afstand van mekaar sit en wag. Dit voel byna soos in die 1994-stemmery: vreesaanjaend maar opwindend; lewensveranderend.

Iemand plak die nommer 18 op my, en mettertyd word ek ingeroep. Die coronavirus lyk soos ’n ronde kussinkie vol stekeltjies. Die entstof bevat slegs een van hierdie stekeltjies, verneem ek.

My immuunstelsel sal dit aanval en hopelik weerstandig raak. Die helfte van ons kry ’n plasebo: ’n “fopmiddel” van gekleurde water. Ons sal nie weet wie die ware Jakob kry en wie die plasebo kry nie.

Die vrouevrywilligers ondergaan swangerskapstoetse; ek word gemeet en geweeg. Volgende is ’n dokter met vorms: instemming om aan die toetse deel te neem, asook dat ons DNS en bloed vir ander studies gebruik kan word.

Sy verduidelik die entstof is reeds deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad goedgekeur en geregistreer, maar dit kan dalk bots met byvoorbeeld steroïede en chemoterapie, wat die immuunstelsel onderdruk.

Ek kry ’n digitale termometer en oksimeter waarmee ek twee keer per week die suurstof in my bloed en polsslag moet meet. Die resultate moet ek op ’n spesiale selfoon-app aanteken. En ook daardie stokkie wat jy in jou neus kan indruk om vir covid te toets.

As jy ná die inenting simptome ervaar, sal hulle die stokkie tuis by jou kom haal. Ek teken die vorms, vat my “toetspakkie” en stap uit. By die opwinding en angs is daar nou ook afwagting.

"Die entstof bruis deur my are"

Eindelik breek die groot oomblik aan.

Op 4 Desember om 15:19 spuit die oulike nursie die geel vloeistof in my linkerboarm in. Geen pyn, geen koorsgloed in my lyf nie. Het sy dit regtig gedoen?

Tuisgekom, skryf ek opgewonde op Facebook: “Ek is nou teen covid-19 ingeënt. Ek is amptelik ’n proefkonyn.”

Die reaksie en samesweringsteorieë waarmee dit begroet word, is skokkend. “Ongehoorsaam aan die Here”; “666- duiwelskind” . . . Iemand plaas ’n video wat wys die entstof bevat kwansuis ’n demoniese mikroskyfie wat jou DNS verander. Dit – nie die entstof nie – gee my hartkloppings en laat my naar voel.

Die entstof sal my in ’n reptielwese verander, lees ek. Van ’n vriendin: “Ek is nou baie hartseer, Piet. Het jy met jou pa gepraat voor jy dit gedoen het?” Ek kry trane in my oë. Het ek die regte ding gedoen?

Ander vriende maak grappies. “Pieter, kan ek asseblief jou katte kry as dinge nie so lekker uitwerk nie?” En: “Is jy nou gechip, Pieter? Geen meer bankkaarte en dinge nie.”

Die rasionele Willie du Plessis skryf: “Hou in gedagte dat Pieter juis deelneem omdat hy met ingrypende gesondheidsprobleme en chroniese medikasie saamleef. As Pieter die toetsing oorleef, of nie baie siek word nie, beteken dit waarskynlik dat mense in sy situasie veilig ingeënt kan word.”

En Marlize Hobbs-Russell: “Baie dankie vir jou diens aan die mensdom. Jy is die verskil wat die wêreld nodig het.” Dankie, julle.

Die eerste twee dae ná my inenting het ek baie geslaap. Dalk was dit weens die entstof; dalk weens ’n middel vir my angssteuring.

Tog voel dit of my immuniteit ál sterker raak, asof die entstof deur my are bruis.

Of dalk verbeel ek my, want dis moontlik dat ek onwetend die plasebo toegedien is.

Ek ondergaan maandeliks bloed- en ander toetse, en tot dusver is ek vry van covid. Oor twee jaar sal ek weer ’n dosis kry.

Intussen sal ek getrou bly aan my lewensfilosofie: Moenie deel van die probleem wees nie; wees deel van die oplossing.

IS ENTSTOWWE VEILIG?

Samesweringsteorieë oor die gevare van entstowwe gedy in die sosiale media.

Maar sonder entstowwe sou siektes soos pokke en polio steeds miljoene mense aantas en laat sterf het, sê prof. Rose Burnett, hoof van virologie aan die Sefako Makgatho-universiteit vir Gesondheidswetenskappe in Pretoria.

Hoe werk ’n entstof?

Die entstof bevat verswakte of onaktiewe dele van ’n kiem. Jou immuunstelsel reageer op die kiem deur teenliggame te vervaardig. Die teenliggame val die kiem aan en vernietig dit.

Die teenliggame bly in jou liggaam en verhoog jou immuniteit teen nog infeksies. “Entstowwe word aan streng veiligheidstoetse onderwerp en sal net aan die mark uitgereik word as dit veilig en doeltreffend is,” verduidelik Rose.

Toetsing is eers op diere en daarna op mense, met voortdurende monitering vir newe-effekte.

Is die covid-entstowwe nie oorhaastig uitgereik nie?

Daar is geen rede tot kommer nie, sê dr. Nokukhanya Msomi, hoof van virologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. In die verlede het dit sowat 10 jaar geduur om entstowwe te ontwikkel.

Maar danksy vordering in genetiese volgordebepaling het navorsers die virus se genetiese sekwensie al in Januarie 2020 bepaal – slegs 10 dae ná die uitbreking in China. Danksy vordering in spesifieke tegnologie vir entstofvervaardiging kon navorsers toe ook binne maande die covid-entstof skep.

“Daar kan matige korttermyn-entstofreaksies wees wat sonder komplikasies opklaar, maar studies toon die covid-19-entstowwe is veilig,” sê Nokukhanya.

EKSTRA BRONNE: TIMESLIVE.COM, DAILYMAVERICK.COM, WHO.INT
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe