Hier is ons gunstelinge van ’n jaar wat ons nooit sal vergeet nie.

STER VAN DIE JAAR

Master KG

Foto: Instagram (@masterkgsa)
Foto: Instagram (@masterkgsa)

Die plaaslike musikant se treffer “Jerusalema” het vanjaar in ’n groepdansgier ontplof wat miljoene TikTokkers van hier tot in Amerika laat lyf skud het. Dit is selfs die “amptelike liedjie” van die coronaviruspandemie gedoop!

Master KG (24), die man agter die voetejeukmelodie, het “Jerusalema” al verlede jaar hier bekendgestel met die sangeres Nomcebo Zikode wat die liedjie sing. Maar dit het eers vanjaar soos ’n veldbrand aanlyn begin versprei toe die “Jerusalema Dance Challenge” hier begin het.

Sedertdien het 346 miljoen mense wêreldwyd al aan dié dansgier op TikTok deelgeneem. Almal van skoolkinders tot hospitaalpersoneel en sterre soos die wêreldberoemde sokkerspeler Cristiano Ronaldo het al dié trots Suid-Afrikaanse gospelliedjie in hul video’s in die sosiale media gebruik. En dis net ’n bewys: Local is inderdaad lekker!

MUSIEKSTERRE

PLAASLIK: SHO MADJOZI

Foto: TikTok (@shomadjozi)
Foto: TikTok (@shomadjozi)

Die rapper het ons vanjaar van ons sorge laat vergeet en ons gemoed gelig met haar liedjie “Spirit Up”.

Dit is deur TikTok gekies vir ’n bewustheidsveldtog om Suid-Afrikaners te help om positief te bly tydens die moeilike tyd van die pandemie en lockdown. Sedertdien het 51 miljoen mense al dié snit in hul video’s op die app gebruik.

Dit was behoorlik ’n groot jaar vir die superster. Sho Madjozi (28) was vir van die musiek in Netflix se plaaslike trefferreeks Queen Sono verantwoordelik en haar nuwe album, What a Life, het kort nadat dit verlede maand uitgereik is al no. 2 op iTunes se lys van topalbums wêreldwyd gehaal.

Die plaaslike rapper, wat bekend is vir haar kleurvolle uitrustings, het verlede jaar mense laat regop sit met haar treffer “John Cena”. 

Die The Voice-beoordelaar en sangeres Kelly Clarkson het haar verlede jaar genooi om ’n gas in haar kletsprogram in Amerika te wees. En met wie het Kelly haar verras? Die rofstoeier en akteur John Cena – die man wat Sho Madjozi se trefferliedjie “John Cena” geïnspireer het.

INTERNASIONAAL: ARIANA GRANDE

Foto: Instagram (@arianagrande)
Foto: Instagram (@arianagrande)

Die Amerikaanse sangeres het vanjaar bewys hoekom sy deesdae die grootste popster op die planeet genoem word.

Ariana (27) het geskiedenis gemaak toe die drie liedjies wat sy in 2020 uitgereik het almal met hul debuut na die no. 1-plek op die Amerikaanse Billboard Hot 100-trefferlys geskiet het. Hieronder was haar lockdownliedjie “Stuck with U” saam met Justin Bieber en dansliedjie “Rain on Me” saam met Lady Gaga.

Dit lyk asof alles waaraan Ari raak in goud verander. Sy is die enigste sangeres wat al vyf liedjies gehad het wat sommer op no. 1 op dié trefferlys kon debuteer. Geen wonder almal val oor hul voete om saam met haar te werk nie.

TREFFERSNIT: MOOD

Foto: Instagram (@24kgoldn)
Foto: Instagram (@24kgoldn)

Die liedjie, oor iemand wat hulle té cool wil hou, deur 24kGoldn en iann dior, was maande lank een van die gewildstes op TikTok.

Dit was weke lank op trefferlyste wêreldwyd en die musiekvideo is binne vier maande nadat dit uitgereik is al meer as 82 miljoen keer op YouTube gekyk. Die lirieke is ook so aansteeklik dat jy nie kan help om saam te sing nie.

AKTEUR

DILLON WINDVOGEL

Foto: Netflix
Foto: Netflix

Die Kaapse akteur, wat ons as Vernon in die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei ken, het vanjaar sy vlerke gesprei. Hy het mense laat regop sit met sy spel in die plaaslike Netflix-reeks Blood & Water, wat een van die mees gekykte reekse op dié stroomdiens was.

Dillon (21) was te sien as Wade, Puleng (Ama Qamata) se bestie, wat haar help om haar biologiese suster op te spoor. Die akteur sê hy moes homself “knyp” toe hy die rol kry.

AKTRISE

KENLEY SWART

Foto: Jacques Stander
Foto: Jacques Stander

Dié oudleerder van die Hoërskool DF Malan in Kaapstad het die tonge laat klap toe sy vanjaar haar rolprentdebuut as die vrolike vrygees Lara in Huisgenoot se tweede fliek, Vergeet my nie, gemaak het.

Dit was ’n ongelooflike ervaring om haarself vir die eerste keer op die groot skerm te sien, het Kenley (27) vroeër aan ons vertel. Ons kan nie wag om te sien wat 2021 vir dié talentvolle aktrise inhou nie.

TIKTOK-STER

WIAN VAN DEN BERG

Foto: VIA
Foto: VIA

Dié kulkunstenaar van die Vrystaat is nie net die gewildste TikTokker in Afrika nie; hy spog met 11 miljoen followers en meer as 205 miljoen likes op dié app. Hy het ook vanjaar sy TV-debuut gemaak toe hy sy eie TV-reeks, Wian, op VIA losgeslaan het.

Wian (25) is so beroemd dat hy deesdae deur aanhangers op straat voorgekeer word.

OPKOMENDE STER

ANDAHR COTTON

Foto: Sean Brand
Foto: Sean Brand

Andahr (23) was vanjaar te sien as die jong Adam Prinsloo in die tweede seisoen van kykNET se trefferdramareeks Spoorloos. In Spoorloos: Heksejag is Adam op die aand van sy matriekafskeid in ’n ongeluk betrokke en dan ly hy aan geheueverlies.

Later vind hy skokkende geheime uit oor sy lewe voor sy ongeluk.

Andahr, wat verlede jaar in Netwerk24 se eerste aanlyn blitssepie, Die testament,en onder meer in die TV-reeks Dwaalster was, het in die rol uitgeblink en is beslis een om in 2021 dop te hou. 

SPELETJIE DREAMS – PS4

Foto: Takealot
Foto: Takealot

Dié bekroonde speletjie is al een van die innoverendste speletjies van die jaar genoem. En met rede. Met Dreams kan jy lekker met jou verbeelding speel.

Die speletjie, deur die skeppers van LittleBigPlanet, het een van die prettigste stories van die jaar gehad. Dit help spelers om hul eie speletjies te skep en sorg vir ure se speelgenot. Dis altyd cool om te sien watter nuwe interessante ervarings ander spelers geskep het wanneer jy die speletjie aansit.

– GARETH SEILER