Dis 'n werk waarvoor min mense sou kans sien – om die leier van 'n party te word wat in die na­sionale verkiesing vanjaar slae gekry het en ná die bedanking van die vorige leier 'n manier moet kry om dié steun te probeer terugwen. 

Maar die man wat pas as die tussentydse leier van die Demokratiese Alliansie (DA) verkies is, lyk sowaar lus vir die uitdagings wat voorlê. En hy het oënskynlik 'n plan.

“Die kiesers het vir ons 'n boodskap gestuur, en ons het gehoor. Ons het uitgewerk waar dinge verkeerd gegaan het, en ons gaan dit regmaak . . .”

John Steenhuisen (43) het skaars grond gevat sedert sy verkiesing as Mmusi Maimane se opvolger, maar hy lyk nog kraakvars in sy wit hemp, bloupers das en donker broek toe Huisgenoot hom vier dae daarna in sy kantoor by die parlement in Kaapstad ontmoet. 

“Dis nou my prioriteit om die DA terug by ons ideologiese ankerplekke te kry, terug na ondubbelsinnig en konsekwent wees oor waarvoor ons staan, vir wie ons baklei en waarheen ons Suid-Afrika wil neem,” sê hy met die intrapslag. 

Hy is pas terug uit Johannesburg ná 'n rondomtalie van TV-onderhoude en partysake en vlieg vanaand weer terug soontoe. “Dis róf . . .” het sy woordvoerder, Azola Mboniswa, oor sy baas se skedule laat hoor. “Ek slaap 'n bietjie minder as gewoonlik,” gee John glimlaggend toe.

John by ’n DA-­saam­trek vroeër vanjaar. “Ons kan
John by ’n DA-­saam­trek vroeër vanjaar. “Ons kan kiesersvertroue terugwen,” sê hy.

Maar dis gou duidelik dat die minder slaap nie die vurigheid wat hy voorheen met sy kwinkslae as die DA se hoofsweep in die parlement gewys het, kan blus nie. Hy praat met oortuiging oor die party se pad vorentoe en sê die “gety van armoede” gaan 'n hooffokuspunt wees. 

“Die afgelope 25 jaar het rasgegronde beleid Suid-Afrikaners in die steek gelaat. Ongelykheid het toegeneem pleks van afgeneem. As jy armoede doelgerig teiken, sal jy die mense help wat van eko­nomiese geleent­hede uitgesluit bly – die oorgrote meerderheid van hulle swart Suid-Afrikaners.”

Hy het op skool al in die politiek belanggestel, vertel die gebore en getoë Durbaniet. “Ek was aan die Hoër Seunskool Northwood in die debatspan en passievol oor hoe jy lewens deur die politiek kan verbeter as jy opstaan vir wat reg is.” 

Hy het op skool al by die destydse Demokratiese Party (DP) se werksaamhede betrokke geraak deur partypamflette op sy fiets af te lewer en as 18-jarige by sy plaaslike DP-tak aangesluit.

'Mense het eerlike Suid-Afrikaners nodig wat die samelewing wil dien'

Op 22 is hy tot die Durbanse stadsraad verkies – een van hul jongste raadslede ooit. 

Met die Demokratiese Alliansie se vorming in 2000 het hy DA-raadslid geword, in 2006 DA-koukusleier en in 2009 DA-­leier in KwaZulu-Natal. In 2011 het hy parlement toe geskuif en in 2014 is hy tot DA-hoofsweep verkies.

“Tony Leon was die eerste leier onder wie ek gedien het; regtig inspirerend as 'n politikus wat dapper stem dik gemaak het vir dit waarin hy glo,” vertel hy.

En wat van Tony se opvolger, Helen Zille, die oudleier van die party wat pas weer as voorsitter van die DA se federale raad verkies is? “Ons gaan nie bots nie,” kom die antwoord reguit en ferm.

Helen Zille en John net ná sy verkiesing. Hulle sa
Helen Zille en John net ná sy verkiesing. Hulle sal goed saamwerk, meen hy. Foto: Gallo Images/Veli Nhlapo

“Ons stem nie oor alles saam nie, maar ek’s die leier en sy die voorsitter van die federale raad, en ons gaan elkeen in ons baan hou en goed oor die weg kom.” 

Helen se rekord as Wes-Kaapse premier spreek vanself, sê hy; sy kry nie genoeg krediet vir wat sy bereik het nie. “En wie sal nie so 'n talentvolle mens om die tafel wil hê waar ons beleid ontwikkel oor basiese dienslewering, behuising en werkskepping nie?” 

Toe hy verlede jaar deur die EFF aangevat is omdat hy nie 'n naskoolse kwalifikasie het nie, het hy skerp in die parlement gereageer.

“Jy het nie 'n tersiêre opvoeding nodig om 'n goeie openbare verteenwoordiger te wees nie,” het hy onlangs aan News24 gesê.

“Mense het eerlike Suid-Afrikaners nodig wat die samelewing wil dien. Ek wil 'n verskil maak en nie op grond van my velkleur of die feit dat ek matriek het, geoordeel word nie, maar op grond van my bydrae.”

Hy heg groot waarde aan individualiteit, sê hy nou.

“Ons is 'n party wat in die waarde van die individu glo, aan individuele vermoë bo groepsidentiteit. Deur die beste in individue saam te trek kan ons groot dinge bereik.”

Individualiteit is iets wat hy ook by sy gesin probeer aanmoedig. Hy en Terry, wat in menslike hulpbronne en personeelbestuur vir 'n internasionale firma werk, is vyf jaar getroud en het 'n dogter, Olivia (3). 

Hy het ook twee dogters uit sy vorige huwelik, Ashleigh (14) en Caroline (12).

John en sy gesin: Links voor is Caroline en agter
John en sy gesin: Links voor is Caroline en agter haar Ashleigh, en dan klein Olivia in Terry se arms. Foto: Verskaf

“Ek leer hulle om te sê wat hulle dink en hul eie menings te hê. 'n Mens moet individue toelaat om hul eie talente en belangstellings te ontwikkel en nie van hulle verwag om op ’n bepaalde manier te konformeer nie.

“Ek stem byvoorbeeld nie altyd saam met wat hulle dra nie, maar jy verstaan dat hulle individue is en dat hulle anders is. En dis juis daardie individualiteit wat mense pragtig maak.”

Ashleigh het nou gesê hy mag na haar Instagramprofiel kyk, “maar ek mag nie kommentaar lewer nie”, sê hy met 'n glimlag. “So ek het haar raad ter harte geneem. Ek hoop net ek kan voortaan daardie soort sosialemediadissipline by my eie party kweek!” spot hy.

John praat tong-in-die-kies oor sy jongste en die moontlikheid van 'n politieke loopbaan: “Wel, sy kwalifiseer beslis vir 'n rooi oorpak . . . Sy’s ontwrigtend en bly net nie stil nie!

"Maar as daar 'n politikus uit my gesin gaan kom, sal dit waarskynlik my middelste dogter wees. Sy’s mal oor politiek; sy het iets van my geërf. Ek dink my oudste verkies 'n stiller lewe.”

Ja, erken hy, as openbare verteenwoordiger is daar opofferings, soos die “lang ure” en die “ongeoorloofde aandag” wat jou gesin kry. 

Wanneer sy werk nie al sy aandag opeis nie, lees hy graag. 

“Ek lees dikwels vier boeke gelyktydig. Dis meestal politieke biografieë, surprise, surprise. Ek probeer ook 'n roman inpas . . . en het nou 'n paar Deon Meyers begin optel.” 

Hy laat nie die kans verbygaan om met homself te spot nie. 

“Iemand sê my mos nou die dag: ‘Party mense praat vlot Afrikaans; jy praat vrot Afrikaans.’ ”

John en Mmusi Maimane, ná wie se ­bedanking hy die
John en Mmusi Maimane, ná wie se ­bedanking hy die leisels oorgeneem het. Foto: Gallo Images/ Getty Images

John geniet dit om sy dag met 'n oefensessie te begin, dié dat hy die afgelope tyd 15 kg kon afskud. “Dis ook 'n manier om stres te verlig, en 'n goeie geleentheid om te dink en verwerk.” 

Al bly hy al 'n paar jaar in Kaapstad, ondersteun hy steeds Durban se Amazulu-­sokkerspan. “Dis 'n liefdestaak, want soos die DA wen hulle nie altyd nie,” grinnik hy. “En dan natuurlik die Sharks.”

Die gesprek verskuif na rugby en die Springbokke se Wêreldbekeroorwinning, en sy gesig verhelder. 

“Wat 'n kragtige boodskap is dit nie: Saam is ons sterker. Geen wonder partye wat verdeeldheid en haat predik, het so 'n pyn in die bors oor dié fantastiese sege gehad nie.

"Hulle kon hulself nie sover bring om dit te vier nie, want hier het jy Suid-Afrikaners van verskillende rasse, kulture en tale rondom 'n viering van Suid-Afrikaanse uitnemendheid sien verenig.” 

Die ekonomie is ongetwyfeld Suid-Afrika se grootste uitdaging, en dis grootliks weens die regerende ANC se “beleidsonsekerheid” hieroor die afgelope twee dekades, sê John. 

“Ons moet beleidsekerheid kry en die ekonomie aan die groei kry deur buitelandse investering te lok en korrupsie en wanbestuur uit te roei. Maar ons gee steeds reddingspakkette vir staats­beheerde entiteite (SBE’s).

"Ons besnoei op onderrig, gesondheidsorg, die polisiediens en armoedeverligtings­programme – om SBE’s te red wat buitensporige salarisse aan onproduktiewe bestuurders betaal. Die president sal moeilike besluite moet neem.”

Ja, hier is baie uitdagings, maar hy bly hoopvol oor die toekoms, sê John toe ons groet. 

“Ek glo Suid-Afrika se beste dae lê nog voor. As ons, nes die Springbokke se leuse, bymekaar kan kom as 'n nasie en in nasiebelang kan saamwerk, sal ons Suid-Afrika uit hierdie trajek van hoë skuld en lae groei kan kry en ’n toekoms kan bou waarop ons trots kan wees.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.