Dis meer as net die klanke en lirieke van die ikoniese liedjie – een oomblik melancholies; die volgende wild en driftig – wat ’n mens meesleur.

Dit is elke handgebaar en gesigs­uitdrukking van die twee soliste wat jou vasgenael hou; die geesdrif in hul stemme en die foutlose harmonie van die koor wat jou hoendervel gee.

Voor jy dit kan verhelp, begin jy spontaan saam met die koor in die video sing: I’m just a poor boy; nobody loves me . . .

En dan, uit volle bors: He’s just a poor boy from a poor family; spare him his life from this monstrosity!

Die eerste reël van die liedjie Bohemian Rhapsody lui: Is this the real life? Is this just fantasy? 

En dis presies wat die Hoërskool Rustenburg se koor hulself afvra nadat hulle die internet aan die brand gesing het met hul vertolking van die ontslape Freddie Mercury en sy popgroep, Queen, se immergroen treffer. 

Die koor se video van die liedjie is op 5 Augustus die eerste keer in die sosiale media gedeel. Net 'n week later was dit al meer as 1,3 miljoen keer op Facebook gekyk, byna 200 000 keer op YouTube, en sowat 42 000 keer gedeel en ge-like.

Sedertdien knyp die 62 skoolkinders van die rustige dorpie aan die voet van die Magaliesberg in Noordwes hulself om seker te maak hulle droom nie. “Is ons nou famous?” wil ’n jonger koorlid by sy maat weet toe Huisgenoot op Vrouedag by die Hoërskool Rustenburg gaan inloer.

Dis net vier dae nadat die video van hul optrede die eerste keer aanlyn gedeel is, maar álmal gons daaroor.

“Ons is almal nog 'n bietjie oorbluf. Ons besef nog nie wat ons getref het nie,” sê Madeleen Koch, ’n koorbestuurder en musiekonderwyseres by die skool.“

Die skool se e-posse loop oor van almal wat ons nou nooi om by hulle te kom sing. Ons stuur maar net eers vir almal ‘baie dankie vir die belangstelling’; ons moet nou eers asemskep,” vertel sy. 

“Kinders wat niks met die koor te doen het nie, kom in my klas in en sê opgewonde: ‘Juffrou, het juffrou gesien hoeveel views het die video nou al?’ Die hele skool het ingekoop op hierdie ding,” beaam haar medekoorbestuurder, die Engels-onderwyseres Lize Meyer. 

Wat mense so laat gons, is nie noodwendig die bekende liedjie nie, maar eerder die kinders se dramatiese uitvoering – onder andere dié van die soliste, Bertus Buitendach en Bernice van der Westhuizen (albei 18). 

Veral die soliste, Bernice van der Westhuizen en B
Veral die soliste, Bernice van der Westhuizen en Bertus Buitendach, se energieke vertonings het van die video ’n weghol-internetsensasie gemaak. Foto: YouTube/ skermgreep

TV-kykers sal haar ook ken as Bernice West, naaswenner van vanjaar se kykNET-talentsoekprogram Maak My Famous. Bertus en Bernice is albei matrikulante aan die skool. 

“As jy vir mnr. Ralf ken, sal jy nie eens daaraan dink om nié ’n storie deur die musiek te vertel nie,” spot Bertus. Hoe dan anders? Want “mnr. Ralf”, hul dirigent, is niemand anders nie as Ralf Schmitt (37), die man agter die sukses van die Ndlovu-jeugkoor. 

Dié koor is tans in Los Angeles in Amerika, waar hulle onder sy leiding in die uitkloprondes van die talentsoek­program America’s Got Talent meeding.

Die Ndlovu-jeugkoor se video van die Ed Sheeran-lied Shape of You was ook einde verlede jaar ’n internettreffer. 

Maar die Hoërskool Rustenburg se koorlede laat nie toe dat hul kitsroem na hul kop gaan nie. “Ralf het mooi vir ons vertel ons is nie nou ’n beter koor as ’n week gelede nie. Of ons nou vir vyf mense of 5 miljoen mense sing, ons doen dit om mooi musiek te maak,” sê Madeleen. 

Hulle het behoorlik gesweet met die maak van die video. Dit is op 30 Julie binne ses uur in die geskiedkundige The Rand Club in Johannesburg vervaardig. “Die moeilikste deel is om al 62 koorlede te kry om volmaak op tyd die woorde te sing en te beweeg.

Maar niks maak jou so vol selfvertroue soos die 10de take nie,” vertel Albert Blignaut, koorlid en hoofseun van die skool.

“Daar was nie tyd om gespanne te wees nie.”

Van links is die koorlede Bernice, Kele Motang, Ma
Van links is die koorlede Bernice, Kele Motang, Marli Visser, Anri Liebenberg, Hano van der Walt, Albert Blignaut, Johan de Wet en Bertus voor die skool. Foto: YouTube/ skermgreep

Die koor wou graag iets anders doen as met die uitreiking van hul twee albums van 2015 en 2017. Vroeg vanjaar is besluit om ’n professionele video van 'n bekende lied te maak, en Ralf het Bohemian Rhapsody voorgestel.

Hy het 12 lede gekies om in April drie dae lank in die Dynamic Sound Factory, Two Keys Studio, in Johannesburg die basis van die liedjie en solo’s op te neem.

Daarna is die klanktoerusting vir die volgende kooroefening na die skool geneem om die res van die koor op te neem.

“Die 12 kinders het omtrent elke aand tot tweeuur die volgende oggend gewerk. Daardie skreeu van Bernice in die liedjie was seker die laaste aand om middernag. Ralf het vir haar gevra wat sy by die rockgedeelte voel, want daar kort iets. Ek weet nie of dit frustrasie of iets was nie, maar toe spring sy daar weg, en dit het so goed gewerk,” sê Lize en lag.

Bernice vertel: “Die koor word jou natuurlike habitat. Almal sing saam en niemand wil enigiemand teleurstel nie. Die jonger kinders was eers ’n bietjie oorweldig, maar die koor is ’n familie. Toe ons weet dit is nou die tyd en ons moet ons alles gee, is almal saam daardeur.”

Hulle het eerste die rockgedeelte van die liedjie verfilm. Maar ná die eerste probeerslag het 'n lid van die vervaar­digingspan vir Bertus en Bernice gesê: “I’m not feeling it. Julle is besig om te rock en nou staan julle net hier. Gaan mal!” 

'Die koor word jou natuurlike habitat. Almal sing saam en niemand wil enigiemand teleurstel nie.'

En toe laat waai hulle met dieselfde energie voor die kameras as in al hul verhooguitvoerings.  “Waar ons optree, is die mense op hul voete. Wanneer Ralf en die koor opstap, is die energie tasbaar; hy vat almal saam met hom,” sê Lize. 

“Met kompetisies oefen jy die kinders morsdood om vier liedjies perfek te kry, en dan verloor jy al die genot. Dit is vir ons belangrik dat die kinders en die gehoor geniet wat ons doen.”Bernice lag: “Die enigste ding wat ek werklik gaan mis wanneer ek die skool verlaat, is my musiekklas en die koor.”

Die sukses van hul Bohemian Rhapsody-video het hul wildste drome oortref. “Juffrou Madeleen het gesê as die video 100 000 kyke oor al die platvorms kry, sal ons ongelooflik gelukkig kan wees. Mnr. Ralf het gedink ons sal 10 000 trefslae in die eerste maand kry,” sê Bertus.

Maar nou die dag bel Ralf vir Lize en begin wyle Lukas Maree se liedjie sing: “Ek sou kon doen met ’n miljoen . . . ”

En dis wat hulle in daardie stadium gekry het wat Facebook-kyke betref. Die koor se doelwit is om te vermaak, en hulle leef dit behoorlik uit. 

“Wanneer hulle ’n kans kry om te jam, dan jam hulle op Queen,” vertel Made­leen oor Bernice, Bertus en Albert, wat van gr. 10 af in dieselfde musiekklas is.

En as Freddie Mercury nog hier was, sou hy ongetwyfeld in sy noppies gewees het oor hoe die Rustenburgse leerders sy musiek laat voortleef. Hy’t immers self in een van sy ander treffers gesing: The show must go on.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.