Natuurlik het die covid-19-pandemie wêreldwyd die mat onder miljoene mense se voete uitgeruk, en of daar ooit volledig herstel gaan word, is net een van die talle uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word. Aardbewings, vloede, sprinkaanplae, die opspraakwekkende Amerikaanse presidensiële verkiesing is maar net ’n paar van die gebeure wat die wêreld geruk het.

Daar het ook ’n paar groot en hoë bome geval: akteurs en sangers wat dekades lank vir vermaak gesorg het, sportmanne, skrywers, politici . . .

Januarie 2020

Kobe Bryant (41)

Die inspirerende Kobe het vir 20 seisoene in die kleure van die Los Angeles Lakers-basketbalspan sy onuitwisbare merk op die sport gelaat.

Hy was 18 jaar oud toe hy in 1996 die jongste speler ooit in die Amerikaanse basketbalvereniging (NBA) geword het. In 2018 het Kobe, die pa van vier dogters, ’n Oscar ontvang vir sy animasie-kortprent Dear Basketball.

  • Hy en sy naasoudste dogter, Gianna (13), het op 26 Januarie saam met nege ander gesterf toe die Sikorsky S-76B-helikopter waarin hulle gevlieg het, naby Calabasas in Kalifornië neergestort het.

Februarie 2020

Kirk Douglas (103)

Kirk, die pa van die akteur Michael Douglas, is op 5 Februarie oorlede. Hy word beskryf as die laaste van Hollywood se goue era. Hy was op die silwerskerm saam met ander ikone soos Burt Lancaster, Gregory Peck, Steve McQueen, John Wayne en Paul Newman.

Volgens The New York Times het hy in tot drie flieks per jaar gespeel.

Die akteur se geboortenaam was Issur Danielovitch. Hy is die enigste seun van sewe kinders en het na sy ouers as ongeletterde Russiese Joodse immigrante verwys.

Issur het later Isadore Demsky geword. Ná ’n vakansiewerk by die Tamarack Playhouse-teater het hy sy van na Douglas verander.

  • Kirk is op 5 Februarie weens natuurlike oorsake oorlede.

Joseph Shabalala (78)

Joseph, gebore Bhekizizwe Joseph Siphamandla Mxoveni Mshengu Bigboy Shabalala, was die stigter en leier van die ikoniese Suid-Afrikaanse musiekgroep Ladysmith Black Mambazo wat Zoeloe-musiek die wêreld help instuur het. Hy is op 11 Februarie op die ouderdom van 78 oorlede.

Hy het reeds vanaf die 1950's koorgroepe gelei, maar in die vroeë 1970's is Ladysmith Black Mambazo gebore.

Wat gevolg het, lees soos ’n sprokie: Hulle het saam met Paul Simon (van Simon & Garfunkel-faam) gesing op sy album Graceland (1986) op die onvergeetlike liedjies “Homeless” en “Diamonds on the soles of her shoes”. Hulle het talle Grammy-pryse gewen en in konserte in Hydepark sowel as Broadway opgetree.

  • Joseph se gesondheid het na bewering agteruitgegaan sedert hy in 2013 ’n rugoperasie ondergaan het. Maar die oorsaak van sy dood op 11 Februarie is nooit amptelik bekend gemaak nie.

Maart 2020

Lance James (82)

Suid-Afrika se countrylegende, Lance 'Big Daddy' James, met sy kenmerkende cowboyhoede, het oor ’n tydperk van meer as 60 jaar in die musiekbedryf al 100 albums uitgereik en meer as 60 musiekpryse ontvang.

Lance James. Foto: Facebook

Die ouer garde sal hom met groot deernis onthou as die man wat countrymusiek lewendig gehou het op Springbok-radio met musiekprogramme soos Keep it country en Munt uit musiek.

In 2014 het hy tydens ’n onderhoud met Huisgenoot gesê hy sal eers ophou sing as God hom roep.

  • Op 2 Maart vanjaar het daardie oproep gekom . . . Lance was in die hospitaal nadat hy op 17 Januarie in die hospitaalgang sy balans verloor, geval en sy heup gebreek het. Hy het nooit herstel nie.

Max von Sydow (90)

Carl Adolf von Sydow, oftewel Max von Sydow, het in 2015 in Star Wars verskyn en in 2016 die rol van die Three-eyed Raven in die sesde seisoen van die trefferreeks Game of Thrones vertolk, waarvoor hy vir ’n Emmy benoem is. Hy was ook ’n stemakteur vir die karakter Klaus Ziegler in die TV-reeks The Simpsons.

Maar voor dit was Max reeds 70 jaar in die filmbedryf aktief. Hy is een van Swede se mees gerespekteerde akteurs en die land se enigste manlike akteur tot nou toe wat vir ’n Oscar benoem is: Pelle the Conqueror (1987) en Extremely loud & incredibly close (2011).

  • Op 8 Maart vanjaar het Max, die seun van ’n barones en ’n etnoloog, die wêreld gegroet vanuit Provence, Frankryk. Hy is weens natuurlike oorsake dood.

Kenny Rogers (81)

Kenny, die man van Texas, oftewel Kenneth Ray soos sy familielede hom genoem het, se heserige stem en manier om ’n storie met sy liedjies te vertel, het aan hom drie Grammy-pryse besorg en hy het meer as vier dekades lank boaan die trefferlyste geboer.

Treffers soos “Lucille” en “Islands in the Stream” (’n duet saam met die countrymusiekster Dolly Parton) is lank reeds ­karaoke-gunstelinge.

Hy was die eerste lid van sy familie wat sy hoërskoolloopbaan voltooi het. Hy was 10 toe hy vir sy eerste talentkompetisie ingeskryf het, en sy weergawe van “Lovesick Blues” het aan hom die eerste prys besorg: byna 2 L vanieljeroomys en ’n ontmoeting met Eddy Arnold, ’n countryster in eie reg.

  • In 2015 het Kenny reeds gevoel hy het alles moontlik bereik wat hy graag wou. Op 20 Maart het hy weens natuurlike oorsake beswyk.

Bill Withers (81)

Sy liedjies “Lean On Me” en “Ain't No Sunshine” is net so tydloos soos Bill Withers wat eers op die ouderdom van 33 sy toetrede tot die musiekwêreld gemaak het.

Die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer is op 30 Maart op die ouderdom van 81 oorlede.

Bill se pad na die sterre het rooskleurig gelyk tot waar hy met die platemaatskappy Columbia ’n kontrak onderteken het. Hy het nie veel ooghare gehad vir die groep se bestuur nie, wat hy as "eng" beskryf het.

Bill het geweldig gehakkel as ’n kind, en hy het vertel mense het hom in sy gesig uitgelag wanneer hy iets probeer sê het. ’n Spraakterapeut het hom gehelp toe hy as 17-jarige by die vloot aangesluit het.

Hy het geen nuwe opnames ná 1985 uitgereik nie. Maar toe iemand hom tydens ’n onderhoud in 2009 vra wat hy sedertdien gedoen het, was die antwoord: “Lewe. Ek het geen bitterheid nie. Ek leef net en wat gebeur, gebeur.”

  • Bill het op 30 Maart weens hartkomplikasies gesterf.

April 2020

Stirling Moss (90)

Enigeen wat graag die spoednaald in die rooi wíl druk (maar dit natuurlik nie doen nie), sal die naam Stirling Moss dadelik herken. Eintlik sir Stirling Moss. Die legendariese Britse renjaer het 16 keer as wenner in F1-renne uit die stryd getree.

Om nie van sy spoedrekords te praat nie.

Talle beskou hom as die grootste renjaer ooit. Met 222 oorwinnings uit die 366 renne waaraan hy deelgeneem het, is dit te verstane. In 1962 was hy vir ’n maand lank in ’n koma ná ’n grubotsing op die renbaan, maar nie eens die risiko van gedeeltelike verlamming daarna kon hom nog ’n jaar lank agter die stuur weghou nie.

  • Sir Sterling het op 12 April ná ’n lang siekbed gesterf.

Brian Dennehy (81)

Trokdrywer, kroegman, verkoopsman en toe akteur. Brian het ’n spektrum van rolle vertolk: van tawwe rolle soos die skelm sheriff wat Sly Stallone in Rambo: First blood (1982) toegesluit het tot die stem van Django in die animasietreffer Ratatouille (2007).

“Ek probeer skurke speel asof hulle die goeie ouens is en die goeie ouens asof hulle die skurke is,” het hy gesê.

  • Brian is op 15 April weensnatuurlike oorsake oorlede.

Irrfan Khan (53)

Sahabzade Irfan Ali Khan is in Indië gebore. Die Slumdog Millionaire-ster, wat op 29 April oorlede is, was ’n kranige krieketspeler wat vanweë ’n tekort aan geld sy aspirasies in daardie rigting moes kortknip.

Vir fliekgangers was dit ’n bedekte seën, want Irrfan is ook die eerste Bollywood-akteur in twee flieks wat elk ’n Oscar gewen het: vir die beste regisseur vir Slumdog Millionaire (2008) en Life of Pi (2012), asook Oscars vir die beste rolprentfotografie en beste oorspronklike klankbaan.

Hy was ook te sien in The Amazing Spider-Man (2012), Jurassic World (2015) en Inferno (2016).

Irrfan het eers lugreëlaars reggemaak in Mumbai. Een van die eerste huise waar hy herstelwerk gedoen het, was dié van Rajesh Khanna, bekend as Bollywood se eerste superster.

  • Irrfan het op 29 April weens ’n koloninfeksie gesterf.

Mei 2020

Little Richard (87)

“Die vader van rock wat musikale grense afgebreek het, het op 87 gesterf,” het die gesaghebbende musiektydskrif Rolling Stone dit beskryf ná Little Richard se dood op 9 Mei. Want ja, die flambojante bondel energie wat een ná die ander treffer die lig laat sien het, het stilgeraak.

Richard Wayne Penniman was 13 toe hy sy ouerhuis verlaat het omdat sy pa nie sy seksualiteit kon aanvaar nie.

“Ek het my ma se gordyne oor my skouers drapeer. Ek was pragtig. Ek glo ek is die stigter van gay,” het hy in 1987 aan Playboy gesê.

Met sy kapsels, grimering en hemde met glaskrale was hy die norm vir rock & roll-vertoonkuns, iemand vir wie die ikoniese Prince ook in ’n groot mate voor dankie kon sê.

Little Richard word as een van die ­vaders van rock ’n’ roll beskou. Met sy hoë stemmetjie en uitbundige vertonings het hy musiekliefhebbers laat regop sit en luister. Foto: Gallo Images/Getty Images
  • Op 9 Mei het beenkanker Little Richard se lewe geëis.

Junie 2020

Elsa Joubert (97)

Die ikoniese skrywer Elsa Joubert was bekend vir haar ruim denke en die menslikheid wat sy in haar karakters kon vasvang.

Die fyngeboude, brose vroutjie was onverskrokke. Vreesloos het Elsa in Ons wag op die kaptein (1968) oor die spanning in Angola geskryf, die verhaal van ’n Afrikaanssprekende Xhosa-vrou se soeke na stabiliteit vir haar gesin in Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) vertel en die belewenisse van vier generasies van ’n wit Afrikaanse familie in Afrika – van die Anglo-Boereoorlog tot die struggle – in Die reise van Isobelle (1995) beskryf.

Elsa Joubert op die vooraand van haar 95ste verjaardag.

Skaars ’n maand voor haar dood in Junie het sy in ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa en die regering ’n pleidooi gerig dat die inperkingsmaatreëls verslap moet word sodat bejaardes in aftreeoorde en tehuise wel besoekers mag ontvang.

  • Elsa se spertyd het op 14 Junie aangebreek.

Dame Vera Lynn (103)

Vera Lynn was een van Brittanje se kragtigste simbole van deursettingsvermoë en hoop en het as die “Forces' Sweetheart” bekendgestaan.

Vera Margaret Welch was die dogter van ’n loodgieter en toe sy 11 jaar oud is, het sy skool verruil vir ’n voltydse loopbaan as ’n danser en sangeres in ’n rondreisende revue. Sy het haar ouma se nooiensvan aangeneem: Lynn.

Sy was die eerste Brit wat ’n Amerikaanse no. 1-treffer gehad het met “Auf Wiedersehen, Sweetheart”. 

In 2009 het Vera op 92 die oudste lewende kunstenaar geword wat bo-aan die Britse trefferlys was. Sy het die top-10-posisie met die Arctic Monkeys en die Beatles gedeel.

Haar virtuele optrede met Katherine Jenkins het tot die uitreiking van ’n album op haar 100ste verjaardag gelei.

  • So is die nuus van dame Vera Lynn se afsterwe op 18 Junie met die wêreld gedeel.

Ian Holm (88)

Bilbo Baggins is nie meer met ons nie. Ian Holm, die veelsydige Britse akteur, was ewe gemaklik in die rol van Bilbo in Lord of the Rings as dié van ’n anteroïed in die grilfilm Alien.

Verhoogvrees het hom in 1976 die verhoog sien verlaat. Maar danksy Lord of the Rings het hy nie vir altyd vir gehore verlore geraak nie.

Ian is ook benoem vir ’n Oscar vir die rol as die wegbreek-atletiekafrigter Sam Mussabini in die ikoniese Chariots of Fire-fliek van 1981.

Julie 2020

Mary Twala (80)

Die tenger figuur van Mary Twala, oftewel Mam' Mary, het niks verklap van hoe sterk sy regtig was nie.

Sy is in Soweto gebore en was meer as 50 jaar lank betrokke by die vermaaklikheidswêreld.

In 1991 was sy Fedora in Taxi to Soweto, ’n jaar later was sy Leleti Khumalo se ouma in Sarafina!, en sy was al in talle plaaslike sepies te sien  van Generations, Yizo Yizo en Muvhango tot Ubizo: The calling. Wie kan ooit vir Ma Dolly van die TV-reeks Hopeville vergeet?

Haar laaste rol was in Beyoncé se musiekfliek Black is King.

  • Mam' Mary het op 4 Julie op die ouderdom van 80 gesterf.

Naya Rivera (33)

Die Glee-ster het op 8 Julie in die Piru-meer in Kalifornië verdrink.

Naya Marie Rivera het reeds as ’n baba haar verskyning voor die kameras gemaak in ’n advertensie vir K-mart, en toe sy 4 jaar oud is, was sy Hillary Winston in die sitkom The Royal Family (1991).

Kort voor sy die rol van Santana Lopez in die trefferreeks Glee (2009) losgeslaan het, was sy van plan om toneelspel vaarwel toe te roep.

Naya het in 2016 haar memoires neergepen: Sorry Not Sorry: Dreams, Mistakes and Growing Up waarin sy skryf “daar's steeds ’n 13-jarige binne my wat lysies maak van hoe ek my lewe kan verbeter”.

Kelly Preston (57)

Baie sal haar onthou as John Travolta se vrou, maar Kelly Kamalelehua Smith was ’n aktrise en model uit eie reg. Sy was onder andere Tom Cruise se hardgebakte verloofde in Jerry Maguire (1996).

Voor John was sy in ’n verhouding met Charlie Sheen, maar ’n pistool wat afgevuur is tussen die twee het glo tot die einde van hul verhouding gelei. Wat regtig gebeur het, is tot vandag toe nog ’n digbewaarde geheim.

  • Die ma van drie het op 12 Julie haar twee jaar lange stryd teen borskanker verloor.

Zindzi Mandela (59)

Zindziswa Mandela, ook bekend as Zindzi Mandela-Hlongwane, was die oudste dogter van oudpres. Nelson Mandela en Winnie Madikizela-Mandela. Sy was kontroversieel, uitgesproke en het ’n uitsonderlike lewe gelei. Zindzi was 18 maande oud toe haar pa in die gevangenis beland het. Sy was Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke.

  • Zindzi het op 13 Julie weens covid-19 beswyk.

Elize Cawood (68)

Sy was ’n nooi uit die Vrystaat wat ’n passie soos min vir die toneelwêreld gehad het. Elize het in 1979 in haar eerste fliek, Wat jy saai, verskyn, en vandaar was daar geen keer aan die talentvolle en veelsydige aktrise nie.

Die TV-reeks Verspeelde lente (1983) was beslis een van haar kragtoere.

In 2004 het sy teenoor Hilary Swank in Red Dust opgetree.

In 2016 was sy in Huisgenoot se eeufeesfliek Vir die voëls. Dis maar net ’n fraksie van die ikoniese Elize se werk.

  • Elize het op 18 Julie weens longkanker gesterf.

Olivia de Havilland (104)

Sy was nog een van die laaste oorspronklike goues van Hollywood. Olivia is in Japan gebore en het ná haar ouers se egskeiding saam met haar ma, Lilian Agusta, en haar ewe bekende jonger aktrise-suster, Joan Fontaine, na Kalifornië verhuis waar die verhooggogga gebyt het.

Albei susters is met Oscars bekroon: Joan vir Suspicion (1942) en Olivia twee vir The Heiress (1950) en To Each His Own (1947).

  • Olivia is op 25 Julie in haar slaap oorlede.

Augustus

Bob Mabena (51)

Die gewilde radiopersoonlikheid en anker van Power 98.7, ’n boorling van Pretoria, het diep spore in die radio- en TV-wêreld getrap.

Bob ‘The Jammer’ Mabena se radioloopbaan het in 1989 begin met Radio Bop wat vanuit die destydse republiek van Bophuthatswana uitgesaai het.

Twee weke voor sy sterfte het hy ’n 12-snit album “Jammers House Volume 1” uitgereik.

  • Op 10 Augustus is Bob ná ’n hartaanval oorlede.

Ben Cross (72)

Die naam Ben Cross is sinoniem met die ikoniese atletiek-fliek Chariots of Fire (1981). Ander onthou hom dalk as die fiktiewe ambassadeur Sarek in Star Trek (2009).

Harry Bernard Cross, afkomstig uit die Britse werkersklas, het skool verlaat en as ’n vensterwasser, kelner en skrynwerker gewerk voor hy op 22 by die Londense Royal Academy of Dramatic Arts aanvaar is.

Tien dae voor sy dood het hy sy laaste rol as Mathews in die Lionsgate-gruwelfliek The Devil's Light voltooi.

  • Ben het op 18 Augustus in Wene, Oostenryk, gesterf ná ’n kort siekbed. Hy het kanker gehad.

Chadwick Boseman (43)

Die Black Panther-ster se dood in Augustus het talle in die fliekwêreld verpletterd gelaat. Kanker is vier jaar gelede by hom gediagnoseer, maar het nie die inligting bekendgemaak nie.

Chadwick het al werklike legendes vertolk: die bofbal-reus Jackie Robinson in 42 (2013) en die sanger James Brown in Get on Up (2014).

Maar vir sy groot aantal aanhangers was daar net een rol vir die talentvolle akteur: dié van die heerser van Wakanda . . .

Die fliek Black Panther (met hom in die titelrol) is die eerste superheld-fliek wat ’n Oscar-benoeming vir beste fliek ontvang het.

  • Chadwick het op 28 Augustus tuis weenskolonkanker gesterf.

September 2020

Thandeka Mdeliswa (34)

Die jong aktrise van Mpumalanga sal veral onthou word vir haar rol as Khanya in die SABC1-dramareeks Ikani (2018). Sy het ook in Generations: The Legacy, Isidingo en Rhythm City verskyn.

  • Thandeka het op 3 September gesterf toe sy glo ’n struweling tussen twee mans en haar broer van nader wou ondersoek. Een van die mans het ’n vuurwapen van sy vriend gegryp en haar doodgeskiet.

Kevin Dobson (77)

Kevin, die seun van ’n skoonmaker en tuisteskepper van Queens in New York, was ’n kelner, kroegman, weermagpolisielid en treinkondukteur voor hy in 1960 ’n akteur geword het.

Hy was die speurder Bobby Crocker in die TV-reeks Kojak (1973-1978) en ook die TV-fliek Kojak: It's Always Something (1990), Mack MacKenzie in Knots Landing (1982), The Bold and the Beautiful (2007-2007) en Days of Our Lives (2008).

Hy was bekend vir sy ondersteuning aan Amerikaanse oorlogsveterane en het die hoogste erkenning ooit deur ’n veteraan-organisasie ontvang: die AMVETS Silver Helmet-vredesprys.

Ruth Bader Ginsburg (87)

Dink aan die woord baanbreker en die naam Ruth Bader Ginsburg duik op. Sy was die tweede vrou ooit wat as regter in die Amerikaanse hooggeregshof gedien het en boonop die eerste Joodse vrou. Joan Ruth Bader is in Brooklyn, New York, gebore.

Haar ma is oorlede voor Ruth haar skoolloopbaan kon voltooi. Terwyl sy meesterlik op die regbank was, kon Ruth een ding nie doen nie: kook. Haar man, Marty Ginsburg, het daardie taak oorgeneem.

  • Ruth het op 18 September weens komplikasies met pankreaskarsinoom gesterf.

Oktober 2020

Eddie van Halen (65)

Edward Lodewijk van Halen, gebore in Amsterdam, Nederland, was vir sommige die "kitaar-god", ander het hom weer die hedendaagse Mozart genoem.

Begaafd, innoverend en kitaarmeester wat met nuwe speelstyle, waaronder “tapping” vorendag gekom het. Hy en sy broer, Alex, het ’n musiekgroep in 1972 gevorm wat twee jaar later Van Halen geword het.

Hul eerste, en enigste, nommer een op die treffersparade was “Jump” in 1984.

Eddie het ook drie van sy eie kitaarpatente gehad tussendeur verskeie fliekklankbane en samewerking met ander sangers, onder andere Michael Jackson vir “Beat It” (1982) waar hy die kitaar-solo speel.

  • In 2001 is tongkanker by hom gediagnoseer en in 2002 is hy kankervry verklaar. Maar keelkanker het op 6 Oktober sy lewe geëis.

Conchata Ferrell (77)

Conchata Galen Ferrell se vertolking van 'n prostituut in 1975 in die reeks Hot l Baltimore het hoë verwagtinge by kritici geskep vir winkende roem. Dit sou egter eers 30 jaar later gebeur: as Berta in die sitkom Two and a Half Men (2003) met Charlie Sheen en Jon Cryer.

Terloops, wie sou ooit kon raai dat Berta in die werklike lewe gek oor videospeletjies was?

  • Die laaste produksie waaraan sy gewerk het, is Deported wat volgende jaar uitgereik sal word. Sy is op 12 Oktober oorlede weens komplikasies van ’n hartaanval wat sy in Mei gehad het.

Sally Vaughn (77)

Mamma Country is hoe sy onder countrymusiekliefhebbers bekendgestaan het. Sally Vaughn het treffers soos “Glory Glory Hallelujah”, “The Teddy Bear Song” en “I Was The Other Woman” gesing. Ander treffers is “Special Angel”, “Piece of my Heart” en “Simply Goodbye”.

Sally, gebore in Regent's Park, was 14 jaar oud toe sy haar sangloopbaan saam met haar broer, Buddy Vaughn, begin het.

Haar laaste optrede was in Februarie 2019 tydens die Country Legends Spectacular-vertoning by die Sun Arena in Pretoria.

Sean Connery (90)

Die Bond-ster is op 31 Oktober oorlede.

Thomas, oftewel Tommy Connery, sou waarskynlik nie so glad van die tong afgeglip het soos die naam Sean nie. Maar desnieteenstaande: die voormalige melkman en doodskis-poetser wat aan die mnr. Heelal-kompetisie deelgeneem het, was gewis bestem vir groot dinge.

Dit was so hittete of Cary Grant was die seepgladde 007, maar nadat die Bond-skrywer Ian Fleming vir Sean in Dr. No (1962) gesien het, het hy selfs toekomstige boeke aangepas vir Sean se Skotse agtergrond . . .

Min mense is bewus daarvan dat Sean se vroeë haarverlies daartoe gelei het dat hy in al sy Bond-flieks vanaf Goldfinger (1964) met ’n toupee moes takel.

  • Sean is op 31 Oktober in die Bahamas, waar hy gebly het, in sy slaap oorlede. Hy het die afgelope tyd ’n stryd teen demensie gevoer.

November 2020

Diego Maradona (60)

Diego Armando Maradona was dalk klein in statuur, maar ongetwyfeld een van die grootste sokkerspelers ooit. Daar is min wat dié Argentyn kon ewenaar waar dit strategie op die veld behels het, soveel so dat hy die bynaam “Die Goue Seun” gekry het.

Want waar Maradona op die veld was, het die magiese gebeur. Behalwe natuurlik tydens die 1986 Wêreldbekerwedstryd teen Engeland toe die “Hand van God” ’n doel teen die Engelse aangeteken het.

Van die veld was dit ’n ander saak: dwelms, en later alkohol, het sy lewe verwoes, en hy het telkens met die gereg gebots. Ook op die veld het sy humeur soms handuit geruk.

  • Diego “Die Goue Seun” Maradona het op 25 November weens ’n hartaanval beswyk.

Desember 2020

Dawn Lindberg (75)

Die legendariese folksangeres en teaterlegende het op 8 Desember weens covid-verwante komplikasies gesterf.

Dawn en haar man, Des, met wie sy 55 jaar getroud was, was in die 1960's as Suid-Afrika se blommekinders, oftewel hippies, bekend. Sy was die doyen van Suid-Afrikaanse teater, het folkmusiek gemaak en opspraak gewek toe hul eerste album in 1967, Folk on Trek, op grond van obseniteit verban is. Maar die onstuitbare egpaar het voortgestu en in samewerking met Barney Simon en Brian Astbury het hulle veelrassige toneel in 1977 gehelp om teaters vir almal oop te stel.

Dawn was ook ’n groot gees wat tot seksonderrig vir kinders en volwassenes bygedra het. Haar 1980-kinderboek How Did I Begin, in kombinasie met ’n plaat, was gewild onder ouers wat hul kinders aan seksonderrig wou blootstel.

  • Dawn het op 8 Desember aan ’n covid-verwante siekte gesterf.

Pierre Cardin (98)

Die ikoniese Franse modeontwerper Pietro Costante Cardin is op 2 Julie 1922 in Italië gebore, die seun van ryk grondeienaars. Hulle wou van die politieke bestel ontsnap en het na Fankryk verhuis. Sy ouers wou hê hy moes argitektuur studeer, iets wat hy wel gedoen het, maar vir die jong Pierre was daar net een loopbaan: om rokke te maak.

Hy sou die eerste ontwerper wees wat in die 1970's mini- en maksi-rompe sou kombineer. Pierre was ook geïnspireer deur die ruimte en ontdekkingstogte.

Nadat hy Neil Armstrong se ruimtepak aangepas het, het hy in 1970 vir Nasa sy eie weergawe van 'n ruimtepak ontwerp.

Terwyl talle bewus is van sy modes, parfuum, juweliersware en horlosies, is dit minder bekend dat hy ook sy hand aan 13 motorontwerpe gewaag het. Saam met American Motors Corporation (AMC) het hy gewerk aan die binneruim van die Hornet Sportabout-stasiewa en die AMC Javelin.

  • Pierre Cardin het op 29 Desember 2020 in die Hôpital américain de Paris in Parys, Frankryk, gesterf. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend gemaak nie.

Bronne: pierrecardin.com, buzzfeednews.com, cnn.com, desdawn.co.za, sabcnews.com, popsugar.com, people.com, za.opera.news, wtop.com, mirror.co.uk, rollingstone.com, today.com, imdb.com, nytimes.com, usatoday.com, carthrottle.com, bbc.com, theguardian.com, iol.com, netwerk24.com, bbc.com, southerncourier.co.za, scotsman.com, economictimes.indiatimes.com