Hier vertel Zanie Groenewald van hul tyd by hul woning op ’n pragtige klein eiland en hoe die nare werklikheid van COVID-19 hul daaglikse lewe verander het: 

Zanie, 'n Huisgenoot-leser op ’n eiland in die Karibiese See, is ook vir die afgelope ruk saam met haar gesin hier ingeperk. 

"Dis week twee van 'lockdown' op die pragtige Kaaiman-eiland in die Karibiese See, wat ons huis noem. Twee weke gelede was lewe nog gewoon. Ek het skool toe gery elke oggend, na die Britse privaat skool waar ek die sielkundejuffrou is.

My driejarige het kleuterskool toe gegaan en my man kantoor toe, waar hy 'n ouditeur is. 

Ons het ver en verwyder gevoel van die aaklige COVID-19 op ons klein eilandjie.

Dinsdag, met ons personeelvergadering, ontvang ons opleiding om Microsoft Teams te gebruik om aanlyn klas te gee in die geval van fase 3 van die coronavirus. Ek stres niks, want wat is die kans? Ons maak grappies en dagdroom oor die skool wat sluit en hoe ons heeldag op die strand gaan deurbring.

Donderdag word 'n siek passasier van 'n passasierskip afgelaai en na Health City, een van ons drie hospitale op die eiland, geneem. Hulle vermoed 'n hartaanval. Die nuus word bekend; hy het positief getoets vir COVID-19.

Vrydagmiddag laat weet die skool se direkteur dat alle skole op die eiland vir die volgende ses weke sluit. Ek laai my seuntjie by die skool op en die naweek kry ons ons gesin gereed vir die volgende ses weke in isolasie. Die naweek sorteer ek speelgoed, maak huis skoon en gaan koop oor die $100 se opvoedkundige speelgoed om my seuntjie konstruktief mee besig te hou.

Ek stel 'n rooster op, met die minimum TV-tyd en baie alleen speeltyd. My man stel sy werkhoek in ons klein woonstelletjie op. Elke oppervlak in die kombuis het 'n groot rekenaarskerm met nommertjies en tabelle waarna hy heeldag staar. Ek voel reg vir die week wat voorlê.

Maandagoggend seweuur gaan stap ek en my seuntjie om die gholfbaan voor ek agtuur moet reg wees om my eerste aanlyn klas te gee. Ons gaan gesond en gebalanseerd lewe en heerlike familietyd saam deurbring. 

Die werklikheid tref my soos 'n stoomtrein. Ek maak my werk e-pos oop en word gebombardeer deur paniekerige studente en hul ouers wat nog meer gestres is. Ek laai PowerPoints op Microsoft Teams wat nie wil oopmaak nie. Die studente is gefrustreerd en ek wil weghardloop. My seuntjie huil op die agtergrond, want hy wil hê ek moet saam met hom Dominos speel.

My man praat kliphard in die kombuis met 'n kontak. Ek gaan kruip weg in die badkamer waar ek die res van my uur lange les aanbied oor die relevansie van positiewe sielkunde in die hedendaagse tyd. Die ironie gaan my nie verby nie. My studente vra waar ek is, en ek sê sitkamer, maar ek is seker die akoestiek gee my weg. Ek gee klas met die kamera af.

Ek maak ontbyt en was skottelgoed. Ek gee klas en sit die wasgoed aan. Ek maak middagete en was skottelgoed. Ek speel karretjies en berei lesse voor. Ek maak aandete en was skottelgoed. Ek sit my seuntjie in die bed en begin opstelle merk tot twaalfuur die aand. Dag drie is al my goeie beginsels by die deur uit en ons kyk Paw Patrol en eet 2 minute noodles. Ons oorleef.

Die werklikheid is erger as wat ek gedink het. My Franse buurman en sy meisie is afgedank by die Westin Hotel waar hulle gewerk het. Hulle het elkeen $900 ontvang. Dis nie eens genoeg vir huur nie. Al die hotelle maak vir 'n maand toe. Geen restaurante of bars is oop nie behalwe vir uitneemkos.

Ons mag van saans seweuur tot soggens sesuur nie buite wees nie. As jy dit nie nakom nie, kan jy 'n boete van $3 000 kry of 'n jaar in die tronk.

Ons mag geen parkies besoek nie en daar word bespiegel dat selfs strande buite perke gaan wees. Ons lughawe is vir die volgende drie weke gesluit en waar die ryk en beroemdes se privaat stralers gewoonlik staan, is dit nou leeg.

Ons eiland is afhanklik van skepe vir al ons benodigdhede. Die mense koop en gaar op en gerugte doen die ronde dat die skepe afgeskaal gaan word. 

Ek en my man wonder of dit darem nie te erg is nie. Ons het tot dusver nog net 'n paar gevalle gehad op die eiland. My vriendin, 'n suster by die hospitaal, verduidelik ons het net drie hospitale op die eiland.

Dit beteken dat ons beddens beperk is en ons mediese voorraad, soos suurstof, ook. Dit is dus van uiterste belang dat ons die situasie onder beheer moet hou.

Ek word omtrent elke oggend drieuur wakker in ’n “wat as . . .”-wêreld.

Wat as iets met iemand by die huis, in Suid Afrika, gebeur en ek kan nie terugvlieg nie. Wat as my skoonpa, 'n dokter in Kanada, siek word? Wat as my seuntjie siek word? Wat as hierdie aanhou tot die einde van die jaar?

Ek bel my ma 'n honderd keer per dag op WhatsApp-audio. Ek verlang verskriklik. Ek's bekommerd oor my ouma in die ouetehuis. Ek's bekommerd oor my pa wat 'n heupvervanging gehad het.

Ek vat my seuntjie elke middag strand toe en vir 'n paar uur vang ons vissies en krappies en vind vertroosting in die turkoois waters. Dan gaan ons huis toe, eet kossies, bad en lees ’n Bybelstorie.

En ons bid dat die Here ons moet bewaar en ook vir almal vir wie ons lief is reg oor die wêreld.

Ek klim in die bed, doodmoeg en ek dink aan Koos Doep:

"Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my Heer vanaand daarheen."