Buite, voor die skoolhek, is ’n ry groot wit kolle op die sypaadjie geverf. Elke kol is 1,5 m van die volgende een af.

Dit is 07:15 op ’n Donderdagoggend hier voor die Laerskool Table View naby Kaapstad, en ’n koue herfsbriesie waai die onweerswolke in die rigting van Tafelberg.

Soos die gr. 7’s een vir een by die skool aankom, groet hulle vinnig hul ouers en gaan staan dan elkeen by ’n wit kol, netjies in gelid.

Kinders staan soggens op wit kolle wat op die sypa
Kinders staan soggens op wit kolle wat op die sypaadjie geverf is en wag voor hul hande met handontsmetmiddel gespuit word en hulle op die skoolterrein toegelaat word. Foto: Misha Jordaan

Elkeen dra ’n gesigmasker wat hul ­ouers self gemaak of gekoop het, en die oë wat bo die maskers uitloer, is vol onsekerheid. ’n Gespanne stilte hang in die lug. Hier is geen teken van die gewone opgewonde gesprekke, grappe, drukkies en vatvywe voor die skoolklok lui nie.

Dít is onmoontlik omdat hierdie groep leerders, die skool se enigstes wat voor Julie sal terugkeer klas toe, weens die COVID-­19-pandemie sosiale distansiëring moet handhaaf.

Dan kom ’n groep onderwysers in die mistigheid nader gestap. Paraat. Om 07:30 maak hulle die skoolhek oop.
Een vir een stap die gr. 7’s deur die hek met ’n onderwyser wat handontsmetmiddel in elkeen se hande spuit.

Leerders se temperatuur word elke ­oggend gemeet e
Leerders se temperatuur word elke ­oggend gemeet en die inligting word daagliks aan die onderwysdepartement gestuur. Foto: Misha Jordaan

Die 12-jarige Heinrich Botha vryf sy hande saam en volg die ry in die rigting van die paviljoen. Daar staan mnr. Malan Rohde, die sportonderwyser, en neem elkeen se koors. Hy rig die termometer na Heinrich se voorkop en sê: “Ses en dertig punt vyf.”

Heinrich stap na ’n tafel waar ’n ander onderwyser sit. Hy haal ’n wit papiertjie uit ’n plastieksak in sy skoolrugsak – dis ’n vorm van die departement van basiese onderwys wat enkele dae tevore op hul eerste dag terug by die skool vir elke leerder gegee is. Daarop skryf Heinrich nou: “36.5.” Die onderwyser by die tafel gaan die inskrywing na.

Heinrich sit die papiertjie terug in sy sak en volg die ry stil-stil na die paviljoen. Daar is sitplekke netjies uitgemeet en met gekleurde plakkertjies aangedui. Heinrich gaan sit by ’n blou plakkertjie en kyk van agter sy masker na sy klasmaats wat een-een 1,5 m uitmekaar rondom hom gaan sit.

Voor skool begin, asook tydens hul pouse van 20 mi
Voor skool begin, asook tydens hul pouse van 20 minute, sit die gr. 7’s ver uitmekaar op die paviljoen. Foto: Misha Jordaan

Later, wanneer dit pouse is, sal hulle weer hier by die plakkertjies kom sit. Hulle sal hul maskers net mag afhaal om hul broodjies of snoepgoed te eet.

Dan roep ’n onderwyser van agter sy bakhande: Die kinders mag maar klas toe gaan. Die moedige groepie staan op – steeds tjoepstil – en stap in ’n ry, al langs die plakkers, na verskeie klas­kamers in die skoolgebou.

“JP, jou masker val af,” sê juf. Sue Ackerman, en die seun verstel dit.

“Pieter, dis mos nie 1,5 m van Charl nie; tree weg,” sê sy dan.

In een van die 10 klaskamers wat gebruik word om vir die skool se 139 gr. 7’s voorsiening te maak sit 12 kinders ver uitmekaar in juf. Bianca Witte se klas.

 In die klas. Foto: Misha Jordaan
In die klas. Foto: Misha Jordaan


Sy sukkel om haar leerders se gesigs­uitdrukkings van agter hul maskers te lees en groet hulle van agter haar eie.
Die kinders sit doodstil. Dis moeilik om van agter hul maskers met mekaar te gesels. Elkeen haal weer die papiertjie van die onderwysdepartement uit.

Juf. Witte neem haar selfoon en meld by die departement se webtuiste aan. Daar is ’n lys met die name van al die ­kinders in haar klas. Een vir een roep sy hulle.

“Heinrich?” sê sy. “Ses en dertig punt vyf, Juffrou,” sê hy en sy sleutel dit op die webtuiste in.

“Hoes, seer keel, kort van asem?” vra sy.

“Nee, Juffrou,” sê hy, en sy tik dit ook in.

Toe sy deur al die name in die klas is, staan sy op en sê van agter haar ligblou-en-wit masker: “Ek mag nie na jou tafel loop en kom kyk wat in jou boek aangaan nie. As jy ’n vraag het, steek jou hand op en probeer vir my verduidelik.”

En dan: “Goed, kom ons begin.”

Die gr. 7’s van die Laerskool Table View sit 1,5 m
Die gr. 7’s van die Laerskool Table View sit 1,5 m uitmekaar in die skoolsaal, waar hulle ingelig word oor hoe die skooldae voorts gaan werk. Foto: Misha Jordaan

Toe pres. Cyril Ramaphosa in Maart aankondig skole sal vir langer as die gewone skool­vakansie sluit omdat ’n inperking landwyd ingestel word om die verspreiding van die coronavirus te probeer vertraag, het die onderwysdepartement geskarrel om planne te beraam om die akademiese skooljaar te red.

Drie weke tuis het ses geword – en toe byna drie maande. Dit was uitdagend vir almal – onnies, ouers en leerders – om tuisonderrig op koers te hou. Noudat matrieks en gr. 7’s terugkeer skool toe, is dit egter ook nie maklik nie.

Vroeg in Maart het onderwysers hier by die Laerskool Table View nog soggens voor skool en tydens pouse kuier-kuier met ’n warm koppie koffie of tee in die personeelkamer vergader.

Op ’n witbord was die jaarkalender volgeskryf: datums vir rugby-, netbal- en hokkietoere, swemkompetisies, kooroptredes, redenaars en die jaarlikse konsert.

Maar daardie beplanning moes alles uitgevee word. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die skool is die witbord nou heeltemal skoon.

Dis ’n lewensgevaarlike si­tuasie. Jy wil almal – personeel en kinders – veilig hou, en jy is so bang jy doen die verkeerde ding.

“Nóóit het ek gedink ek en my skool sou in hierdie situasie wees nie,” erken Golie Gouws (49), die skoolhoof, en gaan sit op die bruin leerstoel in sy kantoor. Die drie stoele wat vroeg vanjaar nog langs mekaar gestaan het vir personeel, ouers en kinders om op te sit, is nou almal ver uitmekaar geskuif.

Voorheen sou Golie sy kantoordeur toemaak vir privaatheid, maar nou moet alle deure en vensters oop bly om die ventilasie van vars lug te verseker.

“COVID-19 het die hele skoolstelsel verander. Nou is ons op onbekende terrein,” sê hy. “Dis ’n lewensgevaarlike si­tuasie. Jy wil almal – personeel en kinders – veilig hou, en jy is so bang jy doen die verkeerde ding.”

Boonop is die skool net 4 km weg van Dunoon, een van die Wes-Kaap se ­coronavirusbrandpunte. Dít het die angstigheid onder ouers verdriedubbel, vertel hy.

“Ons skool is in ’n baie diverse gemeenskap. Ons het ouers wat uitvoerende hoofde van maatskappye is en ons het ouers wat huiswerkers is. Ons het ­ouers wat nog deur die pandemie skoolgeld kan betaal en wat onbeperkte Wi-Fi by die huis het, maar ook ander wat hul werk verloor het en liewers ’n brood as foondata sal koop. Dis byna onmoontlik om ’n model te kry wat in dié tyd vir almal gaan werk.”

Juis daarom het die skool vir ouers die keuse aangebied: Stuur jou gr. 7-kind skool toe of ontvang steeds tuisonderrig. Die skool het tans 240 gr. 7-leerders, maar 101 van hulle se ouers het besluit om voort te gaan met afstandsonderrig eerder as om hul kinders terug te stuur skool toe.

Dieselfde opsie sal aan die ander grade gebied word wanneer hulle kan terugkeer skool toe, sê Golie.

“Kinders wat reeds ’n siektetoestand het, mag nie skool toe kom nie, en ons akkommodeer hulle reeds met aanlyn onderrig,” sê hy.

Maar al maak hy en sy personeel planne, bring die vereistes van sosiale distansiëring baie uitdagings. Dié laerskool het immers 1 712 leerders.

“As jy gedurig sosiale distansiëring van 1,5 m tussen leerders in ’n skool van meer as 500 kinders moet toepas, is daar nie genoeg klaskamers om almal te huisves nie. Dit is fisiek onmoontlik,” sê hy.

Die groot uitdaging vir laerskole gaan kom wanneer die laer grade moet terugkeer, benadruk hy.

“Maatjies het mekaar in amper drie maande nie gesien nie. Kan jy hul opgewondenheid indink? Maar nou mag hulle nie naby mekaar kom en aan mekaar raak nie. En hulle sal natuurlik wil speel.”

Om dinge op hul eerste dag vir die gr. 7’s ’n bietjie minder spannend te maak, het Golie en sy kollegas toe soos helde uit strokiesprente aangetrek en die leerders welkom geheet. Later het dié helde op die maat van die sanger Jay se liedjie “Superhero” voor die paviljoen gedans.

Die onderwysers het soos superhelde aangetrek om d
Die onderwysers het soos superhelde aangetrek om die gr. 7’s te verwelkom. Van links is Iron Man, Spider-­Man, Batman (1960), Superman, Mr. Incredible en Batman (2016). Foto: Misha Jordaan

“In hierdie tyd is die kinders die eint­like helde,” sê Golie nou. “Al die buitemuurse aktiwiteite is vir die res van die jaar gekanselleer, en hul teleurstelling is enorm. Kan jy dink deur watter emosies hulle gaan?” vra hy.

“Hulle sien alles in die media wat ons sien, en hulle sien Ma of Pa wat ook angstig is. Kinders se wêreld is klein, en hulle het nie die emosionele kapasiteit om dit wat hulle sien te verwerk nie. Ons wou help om die angstigheid by die skool vir hulle weg te vat. Ons wou vir hulle sê alles gaan oukei wees. En superhelde dra ook mos maskers.”

Later, toe ons groet, is die skoolterrein stil. In juf. Witte en die ander onderwysers se klasse gaan die skoolwerk voort. En die maskers bly op hul kindergesigte – uurin, uuruit.

  • Matrieks en gr. 7’s het teen 8 Junie landwyd teruggekeer skool toe. Ander grade volg op 6 Julie en 3 Augustus.