Om Mielie se Ratel in die digte Angolese bos op te spoor was anders as om die spreekwoordeike naald in ’n hooimied te soek.

Danksy die GPS-koördinate kon ons op die skermpie sien presies waar die “naald” lê, maar hoe gemaak om daar te kom? Die paar smal sandpaadjies in die omgewing het nie in daardie rigting geloop nie.

Dit was ons laaste dag in Angola ná ’n 10-dae-toer wat soms emosioneel en fisiek uitmergelend was.

Ons het Bosoorlogslagvelde herbesoek, vriende gemaak met eertydse vyande, gesneuwelde makkers vereer, traumatiese stories gedeel en sin probeer maak van ’n oorlog waarin ons dienspligtiges eintlik nog kinders was.

Die dag was al aan die doodbloei toe ons klein konvooi – 23 mans in vier 4x4’s – die soveelste keer voor ’n hindernis te staan kom, dié keer ’n groot, seisoenale watergat.

Maar om Angola te verlaat sonder om by die wrak van Muller “Mielie” Meiring se Ratel 90-gevegsvoertuig stil te hou was buite die kwessie.

Muller “Mielie” Meiring.

Ons het kamp opgeslaan in die bos sodat ons die volgende oggend verder kon soek.

En om ’n groot kampvuur onder die blinkvet Angolese sterre, volgens die GPS presies 1,3 km van die Ratel af, het Mielie se destydse makkers hul hart oopgemaak, al sewe in ons groep van 23 veterane wat die oggend van 27 Junie 1988 daar was toe Mielie in een van die laaste gevegte van Suid-Afrika se oorlog in Angola sterf.

“Toe dit gebeur, toe Mielie doodgaan,” vertel Jannie Nieuwoudt, deesdae sagtevrugteboer by Ceres, “toe dink ek: ‘Dis nou genoeg. Ek gee nie om wie wat sê nie; dis nou regtigwaar genoeg . . .’

“Ons was ’n close groepie. Ons was van die begin af saam – lekker gekuier – maar eindelik ook ewe verward oor die oorlog.”

Hulle was moeg vir oorlog nadat hulle die vorige maande se gevegte om Cuito Cuanavale, verder noordooste toe, saam oorleef het. Die vredesamesprekings wat tot Suid-Afrika en Kuba se onttrekking aan Angola sou lei, was al aan die gang.

Mielie sterf

Maar toe begin die Kubaanse 50ste Brigade suidwaarts beweeg, ál nader aan die grens van Suidwes-Afrika/Namibië. Die gevegspan van 61 Gemeganiseerde Bataljon (61 Meg) – waarvan Jannie, Mielie en hul makkers deel was – is tussen die Kubane en die grens ontplooi.

Die oggend van die 27ste het die Ratels gereedgemaak om “taktiese spronge” noordwaarts in die aankomende Kubane se rigting te maak. Hulle het nie toe al “ ’n kontak” – soldatetaal vir slaags raak met die vyand – verwag nie, maar die Kubane was veel nader as wat hulle besef het . . .

Arno Casius, wat onlangs nog vir Telkom op Graafwater gewerk het, was ’n Ratel-drywer.

“Ons het opgestel; bespreek hoe ons vorentoe sou beweeg. Mielie se Ratel was links van my. Maar ons het skaars begin beweeg, toe bars die hel los. Dit was soos Guy Fawkes; dit was nag. Toe kom die radioberig Mielie se Ratel is getref.”

’n Kubaanse RPG 7-vuurpyl het vermoedelik die gevegstoring van die jong Vrystater se Ratel getref. Die skrapnel het hom gedood. Die ander drie bemanningslede het uitgeklim en na veiligheid gehardloop.

“Ek het deur my sigblok gesien hoe die koeëls die stof om hulle opskop terwyl hulle hardloop,” onthou Arno.

Chris Barnard, nou ’n sakeman van Thabazimbi, skud sy kop.

“Mielie het die gewoonte gehad om so met sy hand teen jou hempsak te tik-tik en te sê: ‘Wat rook ons.’ Dié oggend het ons saam ’n sigaret gerook; ’n halfuur later was hy dood.”

Aan die skadukant van die vuur vertel Wynand Louw, wat planne het vir ’n restaurant in Hermanus se Ou Hawe: “Ek was ’n paar kilometers weg toe ek hoor hy is dood. Ons was baie goeie vriende. ’n Mens voel so magteloos; jou hande is afgekap. Dit was vir my f***** erg.”

Dit was een van Jannie se voertuie wat Mielie se lyk uit sy Ratel gaan haal het.

“Die geveg het aangegaan; chaos,” onthou hy. “Toe kom ons tenks van agter af deur, ons trek terug en die tenks kom vorentoe.”

“Hoekom het ons nie geweet die Kubane is daar nie?” vra Killik Saaiman, wat ’n boufirma op Boshof bedryf; “waar was ons inligting?”

Die Kubane is eindelik teruggedryf.

“Daardie nag kon ons sien en hoor hoe die Kubane rondry,” vertel Jannie. “Hul ligte het op en af deur die dongas geskyn. Ons ammunisie was op. Toe wil ons net oppak en huis toe; ons was klaar met dié spul.”

Operasies Hooper en Excite

En die volgende dag, die dag ná Mielie se dood, het hulle inderdaad die Kunene oorgesteek – terug Suidwes toe, weg uit Angola, ná 13 maande se gevegte. Operasies Hooper en Excite was geskiedenis.

“Toe’s die oorlog vir ons verby,” sê Jannie. “Sommer net so.”

Al die jare het dit hulle gepla dat hulle nooit behoorlik vir Mielie kon tot siens sê nie. Hier is hulle nou drie dekades later om te groet, net 1,3 km van sy Ratel af.

“Ek wonder wat ou Mielie sou gesê het,” sê Jannie terwyl die vuur se rooi oog verdof.

“Hier doen ons 30 jaar later al die moeite om hom te kom soek. Ek glo hy is nou in die gees saam met ons.”

Vroeg die volgende oggend hervat die groepie vriende die soektog na Mielie se Ratel met een van die Land Cruisers terwyl die res van die kamp afbreek en oppak.

Lood Pretorius, destyds ’n seiner wat nou by ’n vervoersaak in Bloemfontein werk, sluit ook aan. Steph Rossouw, nog ’n veteraan en ondernemer van Windhoek, is soos gewoonlik agter die stuur. Wynand stap soos ’n spoorsnyer vooruit om ’n paadjie deur die bos te vind. Die spanning laai op, want die GPS wys hulle is naby.

Maar die bos verklap nog niks.

Angola se paaie is rof.

Dis Chris, vanaf sy uitkykpos op die Cruiser se dak, wat eerste skree: “Daar’s hy!” Sommerso in die ry spring hy af. Deur die lang gras hardloop hy na die wrak, roesbruin soos die kleur van ou bloed.

Toe is die ander ook by. Jannie, groot soos hy is, staan en bewe. Lank staan die vriende so, toegevou in ’n dik, swaar stilte.

Hier is hulle eindelik; die tyd het aangebreek om Mielie ’n laaste keer te groet.

Van links is Chris Barnard, Killik Saaiman, Lood Pretorius, Jannie Nieuwoudt, Wynand Louw en Arno Casius by die wrak.

Die fisieke skof van die reis na Mielie se Ratel het amptelik 10 dae tevore begin toe sowat 100 veterane van 61 Meg op die Namibiese dorp Rundu, naby die Angolese grens, saamtrek vir ’n besonderse vredesending.

Hulle sou al die Angolese slagvelde waar die eenheid oor ’n tydperk van sowat 10 jaar geveg het, herbesoek as gaste van die Angolese regering om vriendskappe met oudvyande te smee en mekaar se dooies te eer.

Maar ook om genesing vir geestelike wonde en afsluiting te kry.

Die beplanning vir die reis het al in 2015 begin nadat vriendskappe tussen Suid-Afrikaanse en Angolese veterane ontstaan het.

Aan Suid-Afrikaanse kant was oudbevelvoerders van 61 Meg, soos die uitgetrede kol. Jaap Steyn en uitgetrede genl. Roland de Vries; aan Angolese kant genl. Fernando Mateus, die militêre administrateur van die streek waar Cuito Cuanavale en ander ou slagvelde geleë is.

Ons groep, wat later na Mielie se Ratel sou soek, het eers na Windhoek gevlieg. Ons rygoed was twee omgeboude Land Cruiser-bakkies wat 10 insittendes elk kan vat. Weens die groot glasvensters agter is die voertuie summier “die Vistenks” gedoop.

Daarmee en met nog twee logistieke bakkies het ons na Rundu gery om by die groter groep aan te sluit.

Dis my vierde keer in Angola, maar die eerste keer dat ek met ’n paspoort inkom.

Toe die konvooi van 26 viertrekvoertuie oor die grens beweeg, het Angolese burgerlike administrateurs ons gul ontvang, van polisiebegeleiding voorsien en met ’n buffetete en vonkelwyn onthaal.

Vir die veterane was dit surrealisties.

“Dis my vierde keer in Angola, maar die eerste keer dat ek met ’n paspoort inkom,” het een droogweg opgemerk.

Dit sou ’n patroon word: Een provinsiale kommissaris sou as’t ware die konvooi aan die volgende een oorhandig namate ons verder vorder, altyd met polisiebegeleiding en buffet-etes met koektafels, Suid-Afrikaanse JC le Roux-vonkelwyn en Angolese Cuca-bier.

Die pad na genesing begin

Dis asof die tyd in die suide van Angola stilgestaan het. Dis nie net die karkasse van tenks wat van drie dekades van oorlog getuig nie; ook die armoede. Die bos is mooi en waterryk, maar leweloos.

En die verslete paaie het hulle op die land se gewese vyand gewreek, want soms het dit tot vyf uur geduur om sowat 300 km af te lê. Voertuie – en lywe – is tot die uiterste beproef.

Maar oral was die hartlikheid van gewone mense. Op dorpies is ons met tradisionele danse verwelkom en het inwoners en veterane mekaar met die hand gegroet.

“Ek was aangedaan deur dié oomblikke,” sê Niel de Villers, lid van die Johannesburgse Balieraad.

Baie van die veterane het mekaar nog nooit ontmoet nie, want hulle het met die jare op verskillende tye en plekke geveg. Al wat hulle bind, is dat hulle ’n deel van hul jeug in ’n vreemde land kom verloor het, met dieselfde dolk-en-weerlig-blitse-kenteken op hul bruin uniformhemde.

Hulle was dors vir mekaar se stories; om traumatiese ervarings te deel met iemand wat verstaan.

Cuito Cuanavale

Maar hoe vertel ’n mens die verhaal van ’n reis oor die tydlyn van ’n ganse oorlog heen? Dalk met skerwe van gesprekke wat soos skrapnel deur die Vistenk gevlieg het.

Niel vertel hoe hy as jong pelotonbevelvoerder in 1984 tydens Operasie Askari gesien het hoe een van sy korporaals op sy knieë in ’n mielieland huil terwyl hy sy hande oor sy maagwond hou.

“Ek’t gedink ek moet hom gaan platkry, maar ek was verstar. Toe help een van die ander ouens hom en word hy ook geskiet. Dis iets waarmee ek baie jare geworstel het.”

Dan sê hy vir Mielie se makkers van 1987/’88: “Maar jul fights was intenser . . .”

“Nee, my maat,” laat Jannie op sy reguit, Namakwalandse manier hoor, “laat ons nou vir mekaar hier ’n ding sê: Dood is dood. Bang is bang. Jy gaan nie meer of minder dood nie . . .”

In ’n dag van hel moes Killik se Ratel tydens ’n aanval naby die brug by Cuito Cuanavale drie keer heen en weer deur dieselfde mynveld beweeg terwyl die Angolese bomme om hulle geval het.

“My drywer en gunner het weens die stres ineengestort . . . In ’n stadium was daar 11 gewondes en ’n dokter in my Ratel met my drywer en gunner agter-in, uitgepass van stres. Ek kan nie vir mense beskryf hoe dit was nie.”

Daar is vandag ’n nuwe, moderne brug oor die sameloop van die Cuito- en Cuanavalerivier. Maar net langsaan het die Angolese die ou militêre brug, wat die Suid-Afrikaners in die oorlog probeer vernietig het, as ’n monument behou.

Dis op dié ou brug dat die Suid-Afrikaanse veterane en Angolese met ons besoek saam ’n unieke gedenkdiens gehou het.

Die Russiese oorlogsveteraan Andrei Polikanow (middel, met die pet) word deur die Suid-Afrikaanse veterane Toffie Grové (links) en Lood Pretorius ondersteun.
uid- Afrikaanse en Angolese veterane bring op die brug saam hulde aan hul dooies.

Na raming was die gesamentlike Kubaanse en Angolese verliese in die gevegte rondom die dorpie Cuito Cuanavale in 1987/’88 sowat 4 700; Suid-Afrika s’n was sowat 31 en Unita, ons bondgenoot, het sowat 3 000 man verloor.

Ingevolge die daaropvolgende vredesooreenkoms het Suid-Afrika en Kuba aan Angola onttrek en Namibië onafhanklikheid verkry.

Maar 30 jaar later op ’n vredige, sonnige dag in die groen Angolese landskap maak dit vir die meeste veterane nie meer saak wie nou eintlik wat gewen het nie.

Oudkol. Jaap Steyn dra ’n verswakte oudkol. ­Cassie Schoeman oor die brug by Cuito Cuanavale.

Hulle omhels gewese vyande, bid saam en gooi rooi papawers – die papierblommetjies waarmee gesneuwelde soldate tradisioneel gedenk word – van die brug om soos bloed op die water te dryf.

Aan die verste rand van Cuito Cuanavale, seker 4 km van die brug af, troon die vergulde beeld van twee triomfantelike soldate etlike verdiepings hoog bo die verweerde dorpie en die omliggende bos.

Dis die gedenkteken wat die Angolese hier opgerig het vir wat hulle as ’n geskiedkundige oorwinning oor die destydse apartheidsregering herdenk.

Ook hier is ’n plegtigheid: Die Suid-Afrikaanse veterane oorhandig hul vaandel aan die Angolese om in die museum te bewaar.

Ná donker daardie aand gaan ’n klein groepie van ons terug na die brug waaroor soveel bloed verspil is. Ons bad in die rivier en verwonder ons aan die genesende krag van Angola se waters.

By die Roomse sendingstasie op Mupa, waar ek in 1983 tussen grafte geslaap het, hou die Suid-Afrikaners en die gemeente saam ’n diens. Hier word die kruis wat ons in die oorlog uit die kerk verwyder het aan die gemeente terugbesorg.

Dis Roland de Vries se verjaardag toe ons op Ongiva aankom. Hier waar hy eens 61 Meg se troepe aangevoer het, kon hy die geleentheid vier deur vonkelwyn saam met Angolese veterane te drink.

En toe begin ons Vistenk-groep se soektog na Mielie se Ratel.

In Jannie se Sakbybeltjie, wat destyds aan alle dienspligtiges gegee is, het hy op die dag van daardie laaste geveg met die Kubane by Rom. 28 geskryf: Mielie oorlede . . . As ons alleen voel.

En daar by die wrak van Mielie se Ratel het hy dieselfde gedeelte uit dieselfde rooi Sakbybeltjie gelees.

Toe die emosies te veel raak, gaan maak Mielie se makkers hul eie kringetjie eenkant in die bos.

“Ons was baie hegte vriende,” het Wynand later vertel.

“Ek is bly ek kon hier wees om behoorlik tot siens te sê.”

En Chris: “Ek was voorheen negatief en hartseer. Dit het vir my emosioneel baie beteken om hier te wees.”

“Ek is rustig in my gemoed,” som Jannie op.

“ ’n Sirkel is voltooi.”

Ons neem foto’s, ook om aan Mielie se ma, Suzanne Meiring, in Australië te stuur. Sy laat weet later per e-pos: “Dit doen ’n ma se hart ongelooflik goed om te sien dat haar seun se nagedagtenis so deur sy band of brothers geëer word.”

Dit was lank stil in die Vistenk nadat ons by Mielie se Ratel weg is.

Toe laat Killik hoor: “Ek is nou klaar met Angola."

Dié wat agtergebly het

Die meeste van ons daar by die wrak van die Ratel waarin Muller “Mielie” Meiring 30 jaar gelede in Angola dood is, het hom nooit geken nie.

As dienspligtiges was op ons verskillende tye in Angola, met verskillende operasies. Maar ons almal het die een of ander tyd ’n makker nes Mielie in daardie land verloor.   

So skryf sy ma oor die seun wat sy verloor het – en sy vriende wat 30 jaar later finaal gaan afskeid geneem het van Mielie tydens sowat 100 veterane van 61 Gemeganiseerde Infanterie Bataljon se vriendskapstoer na Angola.

'n Brief aan die skrywer deur 'Mielie' se ma

 
Liewe Deon,

Ek vertel graag van ons seun, Muller. Ongelukkig kan ek nie vir jou ’n gesinsfoto stuur nie omdat ons nooit een geneem het nie. Muller was ons eersteling en enigste seun. Ons het lank gewag vir dié baie welkome baba. Muller was sy oupa se naamgenoot.

Hy was ’n plaaskind en het op die Vrystaatse familieplaas, Gertjie, grootgeword. ’n Vriendelike en gelukkige seuntjie wat met die werkers se kinders gespeel het. Een in besonder, Sam, was sy maatjie. Muller was op laerskool op die naaste dorpie, Verkeerdevlei, saam met ’n ondersteunende groepie nefies en niggies.

Klein Mielie was goed in atletiek en rugby.

Ons as uitgebreide familie was lief daarvoor om saam te kuier. Waar die nefies en niggies saam was, was altyd ’n gelag en vrolikheid, met Muller aan die voorpunt. Muller was lief vir die lewe, vir lees en musiek en rugby speel en atletiek.  Hy was ’n geliefde seun.

Ná sy laerskooldae is hy as koshuiskind na Grey-kollege in Bloemfontein. Daar het hy maklik aangepas en gedy. Hy het goed gevaar in atletiek en rugby. Oor die algemeen was hy gelukkig waar hy was en het nooit gekla nie.

Sy pa, Piet Meiring, was ’n suksesvolle boer en sakeman. Muller sou universiteit toe gaan en die boerdery en onderneming oorneem.

Ons het hom laat gaan en elke dag gebid en gehoop dat hy veilig sal wees en huis toe sal kom.

Muller het met sy diensplig begin. In November 1987 is hy as 2de luitenant Grens toe gestuur.

Ons as ouers het destyds soos so baie ander geglo ons moet diens doen vir die land. Ons het dit so aanvaar. Ons het hom laat gaan en elke dag gebid en gehoop dat hy veilig sal wees en huis toe sal kom.

Ons het geweet hy sou in gevaarlike situasies wees, maar ons het bly hoop en glo.

Ek het twee dogters, Rochelle en Marcelle. Rochelle was besonder na aan haar boetie. Marcelle, ’n laatlam, was destyds net nege. Muller het gereeld van die Grens aan hulle geskryf.

In Maart 1988 het hy met grensverlof huis toe gekom. Ons as gesin het hom met vakansie Oos-Londen toe geneem. Hy was baie stil, maar het die tydjie by die see geniet. Ek onthou nog so goed hoe hy saam met ons gesing het toe ons terugry.

Muller 'Mielie' Meiring en sy pa.

Ons het Muller twee en ’n half maande voor sy dood die laaste keer gesien.

Sy laaste brief het ons ’n week ná sy dood gekry. Dit was hartseer en ontstellend om te lees, want daarin het hy sy toekomsplanne met ons bespreek. Hy het toelating tot die universiteit gekry en was angstig om te begin studeer.

Dit was vir ons ’n geweldige slag.

Ons seun, wat met die plaas en onderneming sou voortgaan, was weg. Ons wêreld was onderstebo. Daar was geen sin meer om met die boerdery, wat geslagte lank in die familie was, en die onderneming voort te gaan nie.

Ons het alles verkoop en Jeffreysbaai toe getrek. My dogter Rochelle en haar gesin het na Australië verhuis en ons jongste dogter, Marcelle, het gevolg. Sedertdien woon ons ook in Australië.

Die verlange lê met tye en sekere datums nog baie diep.

Die eer wat sy band of brothers ná 30 jaar aan Muller in Angola gaan betoon het, beteken ontsaglik baie vir ons. Om te weet Muller was nie net ’n nommer nie; hy was ’n geliefde makker. Dit doen ’n ma se hart ongelooflik goed om dié mooi gebaar te sien.

Hy was ons eerste, ons seun wat so welkom was en met soveel liefde grootgemaak is. Ek was ontsettend lief vir hom. Die verlange lê met tye en sekere datums nog baie diep. Ek wonder soms hoe anders ons lewe kon gewees het.

Ons is gelukkig en geseënd hier in Australië, maar ’n deel van my hart het daar by Muller agtergebly.

Suzanne het hierdie gedig vir haar seun geskryf.

Dankie nogmaals aan elkeen wat nou in Angola was en die geleentheid so mooi gemaak het. Ek waardeer wat julle doen om sy nagedagtenis te onthou en te eer.

Ek sluit af met alle eer aan die Vader, wat die lewe van die drie ander dapper jong seuns in Muller se Ratel gespaar het. Ek bly lief vir julle.

Groete uit Tasmanië.

Suzanne Meiring

Foto's: Verskaf