Essie gesels met haar “mens”, die Huisgenoot-skryw
Essie gesels met haar “mens”, die Huisgenoot-skrywer Pieter van Zyl, met Hettie wat as tolk optree. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Buite is dit vandag nie die gewone Kaapse winter-weer met ’n aanhoudende ligte motreëntjie nie. Dit reën katte en honde. En in ons woonstel gaan dit beswaarlik beter, want hier woed ’n oorlog.

Dan lui die deurklokkie en hoop vlam op in ons harte. Is die uitkoms eindelik hier? Want ons kan nie meer huishou met hierdie onmin tussen ons katte, Essie en Poppie, nie.

Nag ná nag is dit ’n geblaas en geskarrel. En in die proses kry ons nie ’n oog toegemaak nie.

Hettie en haar dogter, Skye, saam met Pieter-hulle
Hettie en haar dogter, Skye, saam met Pieter-hulle se baba sfinkskat, Poppie. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Dié huismoles is die jongste kinkel in ’n traumatiese sage wat begin het met die dood van ons geliefde kat Grietjie verlede jaar. Om Grietjie se leemte te vul, wou ons ’n nuwe katjie aanlyn koop, maar ons is deur swendelaars ingeloop.

Toe Poppie daarna danksy die welwillendheid van vriende by ons intrek, was ons verheug. Maar die veel ouer Essie wou niks van dié nuwe kleinsus weet nie. En dis waarom Hettie Richter (46) en haar dogter Skye (16) vanoggend voor ons deur staan.

Hettie is die ster van kykNET se nuwe program Dierepraters. Haar roeping is om getraumatiseerde diere en hul eienaars te beraad en genees, en dis dan ook waarmee sy haar slag in die program sal wys.

“Ek weet julle het Poppie vir my gekry omdat julle kon sien ek is hartseer en alleen. Ek besluit nog of ek van haar hou. Gee my net drie dae.”

Ons nooi hulle binne – en vir die volgende twee ure luister ons vasgenael hoe sy die psige van ons katte ontrafel.

Eintlik het haar ontleding van die twee “kaalkatjies” al in die verre Bloemfontein begin. Toe ek haar aanvanklik kontak, het sy gevra ek moet foto’s van die twee stuur om te “lees”.

Nou staan sy hier in ons woonkamer en lees uit haar notaboek haar ontleding uit daardie foto’s: “Essie is meer toe as Poppie. Poppie gaan ’n sonstraal in julle huis wees,” hoor ons.

Voné Schreuder, die geliefde “vroedvrou” van Welge
Voné Schreuder, die geliefde “vroedvrou” van Welgemoed, waar Poppie gebore is. Foto: Paul Enslin

Essie het selfs telepaties vir Hettie gevra om aan my ’n boodskap oor my geestestoestand oor te dra: “Hou aan om jou pilletjies te drink. Moenie ’n held probeer wees nie,” rapporteer Hettie.

Wat het Essie haar nog vertel? “Hulle het baie gesukkel toe Grietjie weg is. Dit was ’n tranedal wat my emosioneel uitgeput het. Nou het ons ’n kat in ’n bakkie.”

Die Vrystaatse diereprater Hettie Richter doen ’n
Die Vrystaatse diereprater Hettie Richter doen ’n sessie op die blou haarlose sfinkskat Essie van Seepunt, Kaapstad. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Ek vra myself af: Hoe kon Hettie weet dat ons Grietjie se as in die kleihouertjie op die eetkamertafel bewaar?

Dan hoor ons weer Essie se “stem” in Hettie se notas: “Ek weet julle het Poppie vir my gekry omdat julle kon sien ek is hartseer en alleen. Ek besluit nog of ek van haar hou. Gee my net drie dae.”

En vir die volgende twee uur help Hettie ons gesinnetjie van vier om ons wonde te lek.

'N KAT IN DIE KOP PRAAT

Die voorbarige Poppie spring op Skye se skoot en gesels lustig. “Warra, warra, warra,” vertaal Hettie die gebrabbel. “Pure babakat – verwonderd oor alles om haar.”

Essie, altyd skaam vir mense, kruip nog in die slaapkamer weg, maar Hettie begin met konsentrasie met ons oudste kommunikeer. Haar hande sweet van die inspanning om medium tussen mens en dier te wees.

“Essie sê vir jou: ‘Dit was nie jou skuld nie.’”

“Essie sukkel om Grietjie te laat gaan; sy is hartseer en terneergedruk. Sjoe, dis so hartseer,” vertel sy met haar hand oor haar hart.

My eerste bekommernis ná Grietjie se dood in verlede jaar se inperking was of ek haar nie gereelder veearts toe moes gevat het nie.

Maar nou laat hoor Hettie: “Essie sê vir jou: ‘Dit was nie jou skuld nie.’”

Hettie glo spesifieke diere bring ’n sekere energie na menselewens “om ons op ons reis te help – soos Poppie se joligheid. Essie besef dit.”

Eindelik verskyn Essie in die gang en kyk reguit na Hettie. “Kom Essie. Jy hoef niks te doen nie, suster. Jy hoef nie met my te praat nie,” paai Hettie.

Hettie Richter,diereprater,hande
Haar hande raak warm en sweterig wanneer sy so in voeling kom met diere, vertel sy. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Dan lag sy lekker. “Sy vra: ‘Is daai ander flippen kat nog hier?’ ”

Dan hol Essie weer kamer toe. “Toemaar, ek sal nou agter haar aangaan. Ek gaan vir haar lekker genesing doen,” bemoedig Hettie.

Sy gee raad oor hoe om met ons katte te kommunikeer: Plaas jou regterhand tussen die dier se blaaie en op haar hart. “Bevestig gereeld aan Essie: ‘Jy bly die koningin in die huis.’ Dit sal haar help vrede maak met Poppie.”

Dan miaau Poppie weer. “Jy plaas te veel druk op jouself,” is die klein parmant se boodskap glo aan my.

“Sy sien deur jou, al het sy jou onlangs eers ontmoet,” verduidelik Hettie.

Sy gaan buig eerbiedig voor die slaapkamerdeur en vra Essie of sy mag ingaan. Die antwoord is duidelik ja. Hettie gaan sit op die bed met haar hand op ons wyse ou gryse se hartjie.

Hettie bewe liggies en Essie, wat gewoonlik sou vlug, spin vredig. “Ek is lief vir jou. Bless you, dankie,” sluit Hettie hul kommunikasie af.

Essie het glo ’n paar versoeke vir ons.

“Sy vra: ‘Kry vir daai kleintjie haar eie sandbak. Ek hou meer van daardie goedkoop sand wat soos sagte haaspille lyk, nie die dures wat julle nou vir daai ander kat koop nie.’”

Essie het skynbaar ook oor my fisieke gesondheid gesels. “Sy weet jy is baiekeer in pyn reg oor jou lyf. Dis op sellulêre vlak en het met jou senuweestelsel te doen.”

"As dit nie vir my was nie, was hy in ’n swart gat."

Ek is verstom want dis weer in die kol. Ek het neurofibrome – niekwaadaardige knoppe wat uit senuwees groei en onder jou vel klop.

“Jy moet jou senuweestelsel in pienk teken,” is glo Essie se raad. Pienk is die kleur van liefde, verduidelik Hettie. Dis soos ’n helende soen vir kleintyd se eina.

Ook oor ons kat-en-mens-verhouding het Essie glo uitgebrei. “Sy sê: ‘Ek en Pieter is soos grondboontjiebotter en konfyt. As dit nie vir my was nie, was hy in ’n swart gat’.”

Liewe Essie, dit is so waar.

UIT DIE PERD SE BEK

Met ons beradingsessie afgehandel, vertel Hettie sy het al kleintyd op ’n plaas op Bothaville oor dierekommunikasie en -genesing geleer by haar Arabiese skimmelperd, Prins.

En in een voorval lank gelede by die Bloemfonteinse dieretuin het sy glo na ’n wyfieleeu gekyk sonder om te besef sy stuur die verkeerde boodskap uit. “Moenie my uitdaag nie,” het die leeu na bewering gekommunikeer en gestorm.

Groot honde vind haar glo ook dikwels intimiderend; daarom “gebruik sy haar talente verantwoordelik”.

Hettie vertel sy het tydens haar swangerskap met Skye met gekommunikeer, en haar ongebore baba het toe ook ’n rol gespeel. “Sy was toe al ’n jolige kind wat my ook lesse geleer het, soos om die hemel te kies en dit rondom my te skep vir diere en mense.”

“Kommunikasie met ’n dier is van siel tot siel.”

Maar eers met Skye se geboorte het Hettie haar ware roeping gevind. “Ek het alles op een slag van ’n dier begin kry.

Voorheen het ek ’n promosiehuis gehad wat syskermdrukwerk gedoen het. Maar nou kon ek dier en mens help en só my brood verdien.”

Sy was in 2019 in die nuus toe sy ’n Vrystaatse boer en sy verskrikte hond glo herenig het ná ’n plaasaanval, maar sy probeer meestal haar ding onder die radar doen.

Skye vertel sy kan soos haar ma ook met diere kommunikeer. “Soort van. Maar ek is meer in die perde in.”

Hettie in ’n toneel uit die nuwe TV-reeks, Dierepr
Hettie in ’n toneel uit die nuwe TV-reeks, Dierepraters op kykNET. Foto: Verskaf

Voor ma en dogter die pad terug Bloemfontein toe aanpak, wil ek weer hoor hoe sy dít wat ek vandag in my woonstel met Essie beleef het, regkry.

“Kommunikasie met ’n dier is van siel tot siel,” vertel Hettie.

En sy belowe: “Essie en Poppie gaan nog van mekaar hou.”

Dit sal nou ’n helse verligting wees, dink ek terwyl ek die deur agter hulle toemaak om die grou winterweer buite te hou.

  • Dierepraters is van 28 Julie op Woensdae om 20:00 op kykNET.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe