Op sy pos buite die Hoek Kafee lig Diesel die ou labrador sy kop net vir een trae oomblik toe ons die dorpie met die verslete hoofstraat binnery. Dan hervat hy sy middagslapie.

In sy leeftyd het hy al alles gesien . . .

Bo-oor die handjie vol dorpsgeboue troon die NG kerk. In die sagte lig van ’n herfsmiddag ry motors draaie om die bokke wat wei onder die hoë kloktoring met sy horlosie wat die tyd in vet swart strepe aftik.

Marna (links) en Sharnelle is op 26 Mei verlede jaar in die skoolkoshuis verwurg. Foto: Facebook

Vir die oningeligte besoeker lyk dit dalk asof die tyd in dié klein plattelandse gemeenskap in Noordwes stilstaan. Asof alles, nes Diesel se middagslapies, nooit verander nie. Maar die skyn bedrieg.

Want ’n raps minder as ’n jaar gelede sou niemand kon raai Stella sou landwyd bekend word weens ’n moorddrama wat die rustige gemeenskap tot in sy fondament sou skud nie: ’n haas onbeskryflike tragedie waarby drie bekende jong mense van die dorpie betrek is: die boesemvriendinne

Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) – en Xander Bylsma (toe 19), die seun van ’n welaf plaasboer.

Xander Bylsma (19), Sharnelle se ekskêrel en Marna se kleinneef, staan tereg op twee aanklagte van moord. Foto: Gallo Images/Netwerk24/Deaan Vivier

Die datum was 26 Mei 2018. Binne ure sou die twee meisies dood aangetref word in die Estrellita-koshuis van die Hoërskool Stella. En nou, byna ’n jaar later en kort voor sy verjaardag vandeesmaand, staan Xander in die beskuldigdebank weens hul wrede dood.

’n Vlietende kyk na Stella se kerkhorlosie laat dit lyk asof die wysers inderdaad stilstaan. Maar al praat die rustige dorpie se inwoners nie graag daaroor nie, het dinge verander.

Want vir drie plaaslike jong mense en hul geliefdes sal die horlosie nooit teruggedraai kan word na ’n tyd voor 26 Mei 2018 nie. En tog stap die dae hul draaie; die lewe hier op Stella gaan noodgedwonge aan.

Johan Els (80), eienaar van die Hoek Kafee, sit soos altyd buite en gesels met Magriet Loftie-Eaton (50) van die meubelwinkel oorkant die straat. Hulle lig hul hande in ’n gebaar van plattelandse hoflikheid om ons te verwelkom.

Johan Els, eienaar van die Hoek Kafee, by sy hond, Diesel, en Magriet Loftie-Eaton van die meubelwinkel oorkant die straat. Foto: Sharon Seretlo

Diesel roer nie. “Hy is maar ’n lui waghond,” maak Magriet verskoning terwyl Johan in die winkel met sy rakke vol geblikte vis, tuisgebakte gemmerkoekies en eiers instap om ’n plaaswerker te help.

Nes hy eens ’n jonger Xander Bylsma in sy skooluniform bedien het. “Ek het hom geken, ja. Hy was gereeld hier,” vertel Johan oor die einste Xander wat op sy 20ste verjaardag op 13 Mei weer in die hooggeregshof in Mmabatho sal verskyn.

“Ek het gelees Sharnelle het om haar lewe geveg. As dit my kind was, was ek mal,” sê die bejaarde kafeebaas. “Ons hoop net vir geregtigheid. Soveel mense het seergekry.”

Die dorpenaars probeer met hul lewe aangaan – daar’s dinge wat gedoen moet word, rekenings wat betaal moet word, die gewone draadwerk van die lewe om uit te pluis.

Maar elke keer dat iemand die koerant kom koop en Xander, Sharnelle en Marna se naam daarin verskyn, word die moorde weer bespreek. “Dit bly maar ’n sensitiewe saak,” sê Johan.

“Mense raak vinnig opgewerk wanneer ’n mens daaroor praat.”

Magriet beaam: “Niemand op Stella sal ooit weer dieselfde wees nie. Dit los ’n klad. ’n Seerplek. Dit is wonde wat vir die mense na aan die oorlede kinders nooit sal genees nie.”

Ons ry aan, verby die poskantoor, die begrafnisondernemer en die polisiekantoor. ’n Paar slaggate en draaie later kry ons die plek van die toneel wat so ’n diep letsel op die gemeenskap gelaat het.

Die hekke na die koshuis staan wawyd oop, nes dié van die skool ’n ent straataf. Op die netbalbaan oefen twee meisies met poniesterte om doele te skiet. As Marna en Lallie, soos Sharnelle se geliefdes haar genoem het, nog geleef het, sou hulle vanjaar hier in matriek gewees het, vol drome oor die matriekdans en hul grootmenslewe.

Hoe gaan dit nou by die skool en met die kinders wat deur die moorde geruk is?

Ouers het beurte gemaak om in die Estrellita-koshuis van die Hoërskool Stella by die kinders te slaap. Foto: Sharon Seretlo
Foto: Sharon Seretlo

Die skoolhoof, Laetitia Beukes, is nie beskikbaar om te praat nie. Die ontvangsdame verwys ons na die voorsitter van die beheerliggaam, Richard Hobson, maar hy wil nie daaroor praat nie.

“Die saak is nou in die hof. Dit het niks meer met die skool te make nie,” sê hy. “Niks kan wat gebeur het, verander nie. Ons wil dit nou agter ons sit.” By die koshuis kom ’n vrou vinnig aangestap.

“Hoekom neem julle foto’s hier?” wil sy omgekrap weet. Nee, ons mag nie inkom nie en niemand kan met ons praat nie. ’n Skool wat wil voortgaan, wat móét voortgaan, al is dit hoe moeilik . . .

’n Bron bekend met die koshuislewe hier op Stella vertel die koshuiskinders was ná die moorde baie bang.

“’n Maand lank het drie tot vier ouers beurte gemaak om in die koshuis by die kinders te slaap; sommige ouers het hul kinders uit die koshuis gehaal.”

Die bron vertel Christelle Jooste, die koshuismoeder, was erg getraumatiseer nadat sy die lewelose Sharnelle aangetref het waar sy van die koshuistrap gehang het.

“Sy kon snags nie slaap nie. Veral die eerste week was vir haar bitter erg.”

Ook Christelle het daardie eerste maand in die koshuis by die kinders geslaap eerder as in haar aparte woonstel. Die skoolhoof was ewe geskok.

“Laetitia is ’n baie goeie mens en skoolhoof. Sy en Christelle het albei erg gely,” vertel die bron.

Die koshuis is altyd snags gesluit, “maar ek weet nie hoekom dit daardie moordnag nie gesluit was nie”.

Sedert die moorde is tralieheinings binne die koshuis aangebring om beweging tussen die eet- en studiesaal en slaapkamers te beheer, vertel die bron. Toe ons later weer verby die skool en koshuis ry, is al die hekke dig gesluit.

’n Vrou wat destyds saam met Sharnelle op laerskool was en anoniem wil bly, vertel die skok van die gebeure het die hele dorp geruk.

“Dis nie iets waaroor ’n mens elke dag praat nie, maar ons volg maar als in die koerante. As daar iets in die hof gesê is, soos hoe seer Sharnelle moes gekry het, hoe sy haar vingernaels stukkend baklei het, praat mense weer daaroor.”

Soms word daar in binnekamers of in fluisterstemme gegons.

Party mense wonder of dit werklik moontlik was vir een mens om alleen die meisies te vermoor; ander sê daar was bloed aan Sharnelle se koshuisbed, en hoe strook dit daarmee dat sy doodgewurg is?

Soms wonder ’n vrou wat naby die koshuis woon oor die geluide wat sy die moordnag gehoor het.

“Dit het geklink soos twee bakkies wat stop. Asof iemand van die een bakkie na die ander oorklim . . . Ek was in die bed en het nie deur die venster gaan kyk nie,” sê sy.

Bokke wei nog hier in die strate van dié plattelandse dorpie. Foto: Sharon Seretlo

Maar gerugte is nie iets wat openlik met buitestanders bespreek word nie. “Stella het maar daai kleindorpiesindroom – hier bly jy stil,” sê ’n inwoner.

In die middedorp beaam ’n pensioentrekker: Die moorde is steeds vir almal ’n hartseer storie. “Maar dit gaan nie vir ons daaroor om te oordeel nie. Die liewe Vader, Hy is die enigste een wat kan,” sê hy en vroetel met die aartappels wat hy vir ’n ekstra inkomste smous.

Nes alle dorpenaars breek sy hart vir Sharnelle en Marna se ouers, maar hy kan nie help om in hierdie tyd aan Xander se mense ook te dink nie.

Op ons pad uit die dorp uit vertel Xander se ma, Mercia, oor die foon dat sy vir hom kolwyntjies na die hof in Mmabatho sal neem vir sy verjaardag, al moet sy dit in die beskuldigdebank vir hom gee.

Sy sien nie kans daarvoor om ons te ontmoet nie; haar hartseer is nog te rou.

“Die Here het hom vir my gegee en ek het hom grootgemaak,” sê Mercia voor die sein onverwags verdwyn.

In Mei sal almal op die dorp weer aan die gebeure van ’n jaar gelede dink. Want dan is dit die tragiese herdenking van die einde van twee jong lewens, en ook die geboortedag van die jong man wat van hul moorde aangekla word.

Met ’n droefheid verduidelik een inwoner: “Ek glo nie Stella sal dit sommer vergeet nie; dis ’n seer wat sal bly. Elke keer op die 26ste. Elke verjaardag.”