Kersvader op sy slee. Foto: Gallo Images/Reuters
Kersvader op sy slee. Foto: Gallo Images/Reuters

En as daar nou een plek is wat weet hoe belangrik dit is om dié tyd vrolik te maak, is dit Rovaniemi. Die inwoners van hierdie stad in Lapland, Finland, het dit as die tuiste van Kersvader verklaar.

Hier kan kinders (en volwassenes) met die bebaarde oom gesels en die bekoring van sy huis ervaar.

In sy kantoor sorteer sy helpers hope briewe van oral in die wêreld – elkeen vol Kersfeesversoeke van kinders.

Rovaniemi se amptelike Kersvader (ouderdom onbekend) ontvang elke jaar honderdduisende briewe uit al die lande van die wêreld, met China, Pole, Italië, Brittanje, Japan en Rusland boaan die lys. ’n Kennisgewing in die poskantoor in die stad verklaar Kersvader kry in die Kerstyd daagliks tot 32 000 briewe.

Een van sy helpers sorteer die horde briewe wat hy
Een van sy helpers sorteer die horde briewe wat hy van oor die wêreld kry. Foto: Gallo Images/Reuters

“Kersvader raak ál gewilder,” sê ene Elina, wat hier as ’n pos-elf werk. “Hy ontvang elke jaar sowat ’n halfmiljoen briewe van oral in die wêreld.

“Ons is hier in Kersvader se hoofposkantoor by die Noordpoolsirkel besig om hom al die briewe te help oopmaak en al die wense vir Kersfees gereed te kry,” vertel sy.

Die stad kry duisende besoekers per jaar en baie stroom na die Kersvader-pretpark, ’n winterwonderwêreld van rendierritte, yskastele en iglo’s.

Kersvader woon in ’n sprokiesagtige houthut. Dit is in 1980 gebou toe die toerisme-owerheid besluit het om Rovaniemi as die amptelike tuiste van Kersvader te bemark.

In die wintermaande is hier elke dag net ’n paar uur daglig, maar besoekers benut dit ten volle met sleeritte tussen die sneeubedekte bome deur.

Besoekers knoop ’n geselsie met hom aan. Foto: Gal
Besoekers knoop ’n geselsie met hom aan. Foto: Gallo Images/Reuters

Die coronaviruskrisis het die aantal mense beperk wat vanjaar hier kon kom kuier, maar die Kersfeesgees is steeds tasbaar in Rovaniemi.

“Nog ’n jaar loop ten einde en 2020 was onstuimig met groot probleme maar ook baie goeie dinge,” sê Kersvader in sy Kersboodskap.

“Noudat Kersfees nader kom, moet jy na mense uitreik wat ’n helpende hand nodig het. Doen dit met liefde in jou hart; dís die ware gees van Kersfees.”

©Reuters

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.