Die opwinding was groot toe haasbekkies van oor die hele land verlede maand vir die eerste keer grootskool toe is.

Party gr. 1’tjies het omtrent by die deure ingehuppel, terwyl ander ’n bietjie meer huiwerig was.

Die eerste skooldag is ’n belangrike mylpaal; daarom het Huisgenoot vanjaar in samewerking met PEP weer ’n fotokompetisie gehou om dit te vier. Ons het byna 1 000 inskrywings ontvang – die een foto so oulik soos die ander. En toe kry ons 394 799 stemme van lesers!

Hier is vanjaar se wennertjies.

1ste prys

Declan Muller (6), Brackenfell

Declan Muller (6) van Brackenfell is die wenner va
Declan Muller (6) van Brackenfell is die wenner van ons My Gr.1'tjie-kompetisie.

Declan wen R5 000, asook R2 000 vir sy skool, die Laerskool Bastion in Brackenfell, Kaapstad.

“Dis glad nie ’n probleem om hom wakker te maak vir skool nie,” vertel Declan se ma, Machel (39).

“Hy is mal daaroor, en hy love sy juffrou en sy maatjies.

Hy het nog nie een dag ’n traan gestort of iets nie.

“Ek is die een wat baie hartseer is, want hy wil nie eens hê ek moet meer saam met hom tot by die skool stap nie. Mamma moet omdraai en hy stap alleen in,” vertel Machel oor haar en Gustav (41) se jongste. Declan se ouer broer, Aiden (13), is tans in gr. 8.

Machel en verlede jaar se My Graadeentjiewenner, klein Nicoline du Preez van die Laerskool Mooirivier in Potchefstroom, is familie aan vaderskant, en al het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie, het Machel verlede jaar vir haar gestem.

“Ons het ’n groot WhatsApp-groep met al die familie. Verlede jaar het ons in die Kaap vir haar gestem, en toe het almal nou weer vanjaar vir Declan gestem.

Ons het gesê ons moet nou ’n family reunion hou sodat ons almal mekaar kan ontmoet.”

Declan is “ ’n besige seuntjie” wat reeds krieket speel en gretig is om als te beleef wat die skool bied, sê Machel.

Op die oomblik droom Declan daarvan om ’n vlieënier te word – nadat hy verlede jaar in sy gr. R-klas so moes aantrek, vertel sy ma.

Machel weet reeds wat hulle met sy prysgeld gaan maak – dit gaan reguit skoolfonds toe.

“Daar is nie nog ander planne nie!”

2de prys

Amy-Lee Steffen (6), Vereeniging

Amy-Lee Steffen (6) van Vereeniging het die tweede
Amy-Lee Steffen (6) van Vereeniging het die tweede prys gewen. Foto: Verskaf

Amy-Lee se eerste skooldag aan die Laerskool Risiville in Vereeniging het seepglad verloop, sê haar ma, Jackie (33).

“Sy is al van gr. R af in dié skool. Sy was net baie opgewonde om in die juffrou se klas te wees vir wie sy heeltyd gehoop het,” vertel Jackie.

Amy-Lee wil graag eendag self ’n onderwyseres word, voeg sy by.

Oor wat hulle met die prysgeld van R3 000 gaan doen, sê Jackie dis als in haar dogter se hande.

“Sy sal seker maar vir haar iets by Toys R Us wil gaan koop.”

3de prys

JG Pienaar (6), Carnarvon

JG Pienaar (6) van Carnarvon het die derde prys ge
JG Pienaar (6) van Carnarvon het die derde prys gewen. Foto: Verskaf

JG se eerste skooldag aan die Karoo Akademie op Carnarvon was ook sy eerste dag in dié skool se koshuis.

Sy ma, Tharina (37), sê hy was eintlik baie bly om skool toe te kan gaan.

“Dis vir hom lekker in die koshuis. Hy geniet die maatjies, maar hy begin nou ’n bietjie verlang.

Toe ek laas met hom oor die telefoon gepraat het, kon ek hoor die week raak nou ’n bietjie te lank,” vertel Tharina.

Sy sê sy en haar man, Johannes (39), gaan die R2 000 wat JG gewen het vir hom belê.

“Ons sal kyk of ons ’n skaap of so kan koop en sy geldjies so kan groei.”

DIE GROOT PRYS

Die wenner van PEP se groot prys kry R10 000 vir haarself en R6 000 vir haar skool.

Vanjaar se wenner is Azina Mamane (5) van die Laerskool Glenanda in Johannesburg.

Azina Mamane (5) van Johannesburg is die wenner va
Azina Mamane (5) van Johannesburg is die wenner van PEP se groot prys. Foto: Verskaf

Azina is uit al die inskrywings wat Huisgenoot en ons sustertydskrifte, YOU, Drum en Move!, ontvang het as wenner getrek. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.