Toe die sexy Bobby van Jaarsveld met sy smeulende glimlag in November op Huisgenoot se voorblad pryk, het ons gedink daar is min mense so aantreklik soos die sanger.

En duidelik was ons nie die enigstes nie, want toe die brandslagoffertjie Pippie Kruger (8) dié uitgawe van Huisgenoot in die hande kry, het sy dit óp gespeel, vertel ma Anicè Kruger.

“Pippie het die beste smaak,” vertel Anicè. “As Bobby hier naby konsert hou probeer ek haar altyd neem, maar ons het mekaar lank laas gesien.”

Pippie en Bobby deel al baie jare ’n hegte band en hy het kort ná haar ongeluk ’n konsert gehou om geld vir haar mediese onkoste te help insamel.

Intussen gaan dit baie goed met die behandeling wat Pippie by die Family Hope Center (FHC) in Sandton kry. “Ons is een week tuis op Ellisras en een week in die stad,” verduidelik Anicè.  

Sy en Pippie het vroeër in 2017 na die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië gereis, waar Anicè geleer het hoe om Pippie holisties tuis te behandel. "Hulle het my geleer hoe belangrik vars lug vir ’n gestremde is,” het Anicè in Julie vir Huisgenoot vertel. 

Pippie kry ook behandeling in ’n hiperbariese kamer en Anicè sê dit maak 'n verstommende verskil. “Dit is ongelooflik. Pippie kom uit daai tenk met soveel energie. Dis asof haar spraak en alles net elke keer beter en beter word.”

Dié behandeling behels dat 'n mens suiwer suurstof inasem en word gebruik om verskeie toestande te behandel.

Verder volg die klein vegtertjie ook steeds ’n streng ketoniese dieet wat geen suiker of gluten bevat nie. Dit veroorsaak dat die liggaam ketone in die lewer vervaardig om as energie te verbruik pleks daarvan om byvoorbeeld suiker en pasta as energiebronne in te span.

Pippie het op Oujaarsaand 2011 derdegraadse brandwonde aan 80 persent van haar lyf opgedoen toe ’n bottel vuuraanstekerjel tydens ’n braai in pa Erwin se hande ontplof het.

Sy was kritiek siek, maar het die tragiese ongeluk oorleef. Daarna het sy baanbrekerchirurgie ontvang toe haar eie gekloonde vel op haar wonde oorgeplant is.

Anicè sê sy sien groot verbeterings in haar dogtertjie.

“Mense dink ’n verbetering is iets soos dat Pippie al loop, maar ek sien dit aan haar spraak, haar konsentrasie, haar vel, haar depressie wat verbeter het en haar slaappatroon. Sy kommunikeer beter, oefen harder en probeer harder.

"Oor sekere goedjies is haar selfbeeld swak, maar ons probeer haar aanmoedig om meer te doen. Dit duur ’n rukkie voor sy besef waartoe sy regtig in staat is en dan gebeur groot goeters. Sy kan al baie lees, iets wat mense gesê het sy nooit sal kan doen nie.

“Soms kyk ek na haar en dan dink ek ‘Het jy regtig dit nou net gedoen?’. Dan trippel ek 'n bietjie rond en is ek die trotste ma in die hele wêreld. En dan pak ons dit weer van voor af aan.”

Vir Kersfees het hulle nog nie regtig planne nie en vir Anicè is dit altyd ’n verligting as Oujaarsaand eers verby is. 

“Dit bly maar vir my erg. Hier teen die 29ste kry ek 'n bietjie van ’n down, en dan hier van die 2de af voel ek weer beter. Dan pak ons die jaar van voor af aan. Ek bid elke dag vir krag en dan gaan ek weer aan.”

Tog sê sy is dit ongelooflik om die ondersteuning van die FHC te hê. “Dit is so groot span wat die pad saam met my stap en ek voel nie meer so alleen nie. Dit help vreeslik baie.”