Haai, ek is Mark.” Die bekendstelling is onnodig. Mark Zuckerberg is een van die wêreld se herkenbaarste gesigte. Hy is die uitvoerende hoof van Facebook, die wêreld se grootste sosiale netwerk met byna 2 miljard lede van wie meer as die helfte elke dag aanmeld.

Dit het van hom die sesde rykste mens op aarde gemaak. En omdat hy so jonk was toe hy met Facebook begin het – op net 19, in sy koshuiskamer aan Harvard – word hy beskou as ’n lewende bewys van die verstommende geleenthede wat gevorderde tegnologieë selfs vir jonges en onbekendes bied.

Mark (35) is beroemd verby. En hy’s hier. In Lagos, Nigerië. As enige twyfel oor sy identiteit bestaan het, wel, dié aangename ou met bruin hare, ’n lawwe glimlag en skynbaar ’n weersin daarin om sy oë te knip, is presies aangetrek soos . . . Mark Zuckerberg!

Hy dra een van sy gunsteling-T-hemde, wat wys hy’s ’n ontspanne bleeksiel, maar eintlik is dit ’n Brunello Cucinelli-skepping, wat elk R5 200 kos. Hy het ’n kas vol daarvan en dit bevry hom van die daaglikse beslommernis oor wat om aan te trek.

In sy kenmerkende hemp met Nike-tekkies en blou jeans daarby lyk Facebook se stigter en uitvoerende hoof soos hy gewoonlik lyk. Wat wel ongewoon is, is dat niemand verwag het hy sou in hierdie vertrek, in hierdie stad, in hierdie land, op hierdie vasteland, instap nie.

Die mense in die ateljee op die sesde verdieping van die Co-Creation Hub (CcHUB) – jong entrepreneurs wat enorme uitdadings probeer oorbrug om suksesvolle tegnomaatskappye in Lagos, Nigerië, op te bou – het net gehoor ’n onbekende grootbaas van Facebook sal vandag, op 30 Augustus 2016, hier wees.

 Mark kyk toe hoe skoolseuns van Nigerië besig is
Mark kyk toe hoe skoolseuns van Nigerië besig is om te programmeer.

Dit is kort voor Facebook ’n “bootcamp” vir tegno-beginondernemings gaan hou. Hulle het verwag die geheimsinnige gas sou dalk een van Mark se afgevaardigdes, Ime Archibong, wees.

Dié seun van Nigeriese immigrante wat in Noord-Carolina, Amerika, grootgeword het, het al tevore sy land van herkoms besoek. ’n Besoek van Mark self was iets te aardskuddends om hulle in te dink. Facebook het die besoek beplan met ’n soort CIA-vlak van geheimhouding, grotendeels weens kommer oor sekuriteit, maar ook om die meeste uit die verrassing en blydskap oor sy verskyning te haal.

Mark was nog nooit op die vasteland nie en dit was hoog tyd vir ’n besoek. Hy het hierheen gevlieg uit Italië, waar hy en sy vrou, Priscilla Chan (35), die troue van sy vriend Daniel Ek (37) – die uitvoerende hoof van Spotify – bygewoon het. Ná die troue by die Comomeer het hy en sy gevolg ’n paar dae in Rome deurgebring en die Italiaanse premier en die pous ontmoet.

Toe Mark in Nigerië land, het hy dadelik na die grinterige Yaba-buurt en CcHUB vertrek. Die stigters van beginondernemings in Lagos toon óf ’n onwaarskynlike optimisme óf galgehumor oor die reusestruikelblokke wat hulle moet oorkom om sukses te behaal of bloot te oorleef.

Maar dis die mense wat Mark wou ontmoet: nerds met drome. ’n Oomblik lank staan die jong tegno-entrepreneurs versteen, asof hulle dink hulle sien ’n spook of dat dit die een of ander poets is. Dan oortuig hul sintuie hulle dat dit inderdaad Mark Zuckerberg in lewende lywe is, en hulle gil van vreugde, storm soos een mens vorentoe en drom om hul beroemde besoeker saam. Hulle skud blad met hom, poseer vir selfies en blaker haastig hul idees uit.

Mark neem ’n selfie saam met Nigerië se president,
Mark neem ’n selfie saam met Nigerië se president, Mu­hammadu Buhari (links), en Facebook se Ime Archibong.

Mark gesels geduldig met hulle, hou aan met glimlag, kyk elkeen in die oë en staar hulle dalk net ’n bietjie te lank aan. Hy’s duidelik in sy element. Dis my mense dié, sê hy vir my terwyl ons by die trap afstap om met nog entrepreneurs te gaan gesels. Op die onderste verdieping word ’n program genaamd Summer of Code aangebied, en kinders van vyf tot 13 oefen op rekenaars.

Hy stap na ’n paar seuns van so sewe of agt jaar oud wat ’n rekenaar deel. “Kan julle vir my sê wat julle gebou het?” vra hy en buig tot hul vlak af sodat hy nes hulle na ’n skerm kan opkyk. Daarop beweeg flikkerende kolletjies doelgerig in formasie. “ ’n Speletjie,” sê een. Mark se oë rek selfs wyer as gewoonlik: Dis wat hy op daardie ouderdom gedoen het!

Mark Elliot Zuckerberg is in 1984 gebore – op 14 Mei, ongeveer vier maande ná die bekendstelling van die Apple Macintosh. Nie baie mense het toe persoonlike rekenaars gehad nie, en nog minder modems – daardie luidrugtige apparate wat rekenaars met telefoonlyne verbind het.

Sy pa, Ed, ’n tandarts in Dobbs Ferry sowat 40 km van New York, het ’n rekenaar en ’n modem gehad. Nes sy seun het hy sy lewe lank in tegnologie belanggestel. Mark se kop was van jongs af die ene logika, veral wanneer die antwoord op een van sy vrae “nee” was.

“As jy vir hom wou nee sê, moes jy sorg dat jy ’n sterk argument gereed het, een wat gesteun word deur feite, ervarings, logika en redes,” het Ed al aan ’n verslaggewer gesê. Hy beskryf sy seun as “onverbiddelik en met ’n sterk wilskrag” – en talle medewerkers en mededingers sal dit beaam.

In gr. R het Mark sy eie rekenaar gekry. Hy het dit gebruik om meer te leer oor hoe mense hulself organiseer – en hoe party in die proses mag verkry.

Mark in 2017 by die maatskappy se jaarlikse F8-kon
Mark in 2017 by die maatskappy se jaarlikse F8-konferensie. Hy is bekend vir sy informele kleredrag.

Wanneer hy rekenaarspeletjies gespeel het, het hy dié gekies wat sy verbeelding vrye teuels gegee het. ’n Gunsteling was Civilization, ’n gewilde reeks in die genre van “beurtgebaseerde strategiespeletjies”. Die idee was om ’n gemeenskap te bou. Hy het dit as volwassene aanhou speel.

Ná ’n paar maande op die rekenaar het hy vir homself gesê: “Goed, dis interessant – ek het alles daaroor geleer, en nou wil ek dit beheer.” Daarvoor moes hy programmering aanleer. Toe vra hy een aand sy ouers om hom na ’n boekwinkel te neem om ’n gids te koop oor hoe om C++ te skryf, ’n belangrike rekenaartaal vir die skep van sagteware.

“Hy was 10!” onthou Ed. Toe Mark ontdek belangrike inligting ontbreek in ’n boek wat op leke gerig is, het sy pa ’n privaat onderwyser aangestel. Dié het hom twee jaar lank een keer per week kom besoek. “Dit was sy gunstelinguur van die week,” onthou sy ma, Karen.

Die Zuckerbergs wou hom in ’n rekenaarklas by die hoërskool inskryf, maar die onderwyser het vir hulle gesê Mark weet reeds alles wat hy in die klas sou leer. Die plaaslike kollege het kursusse aangebied, maar al een wat Mark as die moeite werd beskou het, was in die nagraadse afdeling.

Toe neem Ed een aand vir Mark na die kollege, en tot sy groot vermaak sê die onderwyser vir hom om sy seun by die huis te los wanneer hy klas toe kom.

“Maar hý’s die student,” vertel Ed die storie dekades later steeds met trots. Soos Mark later aan ’n onderhoudvoerder gesê het: “Ek het skool toe gegaan en klasse bygewoon en huis toe gegaan. Ek het so daaraan gedink: Ek het vyf uur waarin ek net op my rekenaar kan sit en speel en sagteware skryf. En dan breek Vrydagmiddag aan en ek dink: Goed, nou het ek twee volle dae om te sit en sagteware skryf. Dit is fantasties.”

Hy het later vertel danksy al die programmering het dit ’n punt bereik waar dit deel van sy intuïsie geword het. “Ek het nie meer bewustelik soveel daaraan gedink nie.”

Mark het darem nie al sy tyd deurgebring in ’n kamer wat net deur ’n rekenaarmonitor verlig is nie. Onderwysers het hom later beskryf as wel aangepas; al was hy nie juis spraaksaam nie, het hy sy menings duidelik uitgedruk die kere wat hy wel gepraat het. Hy het goed in wiskunde en wetenskap gevaar.

Sy ouers het talle aanbiedings geweier om hom ’n graad of twee te laat oorslaan – hy was reeds kleiner as sy portuurgroep en hulle was bekommerd dat hy moeilik by ouer kinders kon inpas. Pleks daarvan het hy ’n reëling met sy onderwysers getref: Nadat hy die week se lesse geleer het – gewoonlik op Maandae wanneer hulle aangebied is – kon hy met die werk van ander klasse aangaan.

“Ek het hom nooit sien huiswerk doen nie,” vertel Ed. Mark het vir sy buurt se Little League-bofbalspan gespeel, maar nie daarvan gehou nie. Hy het skermkuns verkies – ’n individuele sport wat sy susters, Randi (nou 38), Donna (33) en Arielle (30), ook beoefen het.

Die gesin is ook Star Wars-aanhangers en die swaarde het die aantrekkingskrag gehad dat hulle lasers is. Sy barmitswa het ’n Star Wars-tema gehad. Hy en sy susters het ook ’n tuisfliek gemaak wat op Star Wars gegrond was.

Al het hy baie speletjies gespeel, wou Mark hom nie aan bande laat lê deur die skepper se reëls vir spelers nie. Om self die skepper te wees is baie beter.

“Ek het dit nie geniet om speletjies te speel nie – ek het dit net geniet om hulle te maak,” sê hy vir my, en hy verswyg die feit dat hy heeltyd speletjies gespeel het, en dít met genadelose wedywering.

Een van die eerste speletjies wat hy gebou het, was ’n weergawe van sy gunstelingbordspeletjie, Risk, waar spelers die wêreld probeer verower deur ál meer mag te kry om hul invalle in lande onkeerbaar te maak.

Mark se digitale weergawe het in die tyd van die Romeinse Ryk afgespeel. Spelers moes Julius Caesar probeer oorwin. Mark het altyd gewen.

Die Phillips Exeter-akademie in Exeter, New Hampshire, was een van ’n groep spogskole wat as voedingsbron vir Ivy League- universiteite dien. Mark het in 2002 daar ingeskryf. As hy daardeur geïntimideer was om in ’n privaat kosskool saam met skatryk studente te wees – dit was nie ongewoon om ’n Rockefeller, ’n Forbes en ’n Firestone in die klas te hê nie – het hy dit nie laat blyk nie.

Dit het gelyk of hy by Exeter floreer. Mark was kaptein van die skermkunsspan en het homself as ’n energieke mededinger bewys. Hy was in die span wat na die wiskundeolimpiade gestuur is, en al kon hy nie op topvlak meeding nie, het hy ’n sekondêre medalje gewen. Buite sy eie kringe het hy hom eenkant gehou.

“Ek dink hy vertrou waarskynlik baie min mense,” sê Ross Miller, een van sy boesemvriende by Exeter. Klasmaats onthou hy het selde aan besprekings deelgeneem. “Hy was nogals skaam en teruggetrokke en het gewoonlik sy werk en programmering in sy kamer gedoen,” het ’n klasmaat, Alex Demas, later aan ’n Amerikaanse nuuswebtuiste gesê.

Sy reputasie, sê Alex, was as rekenaarbleeksiel. Hy het ’n passie vir die antieke tyd gehad en geesdriftig aan Exeter se Latynse program deelgeneem. Hy was veral ’n bewonderaar van die Romeinse keiser Augustus, wat ’n gemengde nalatenskap het: ’n briljante veroweraar en empatiese heerser wat ook magsbehep was.

By Exeter het Mark tot sy groot vreugde ontdek hy is nie al programmeringslaaf nie. Hy was deel van ’n klein groepie wat ure lank in die skool se rekenaarsentrum deurgebring het.

Todd Perry, ’n onderwyser met ’n rekenaarwetenskapgraad van die Stanford-universiteit agter sy naam, onthou hoe Mark een aand in die rekenaarsentrum ingestap het asof hy die plek besit en aangekondig het hy gaan ’n program vir ’n sekere projek skryf deur Microsoft se Visual Basic te gebruik.

Todd het gevoel dis ’n uiters ingewikkelde taak vir iemand op Mark se vlak en het hom ’n dollar gewed dat hy dit nie sou regkry nie. Hulle het ooreengekom om hom ’n uur daarvoor te gee. Al die ander rekenaarboffins het hom omring terwyl hy die program geskryf het, asof dit ’n gladiatorstryd was. Mark het sy dollar gekry.

Op ’n ander geleentheid het ’n wiskundeonderwyser gedreig dat as sy studente hul huiswerk met sakrekenaars doen of ander digitale kortpaaie kies hy hulle opstote sal laat doen.

Daar was geen manier dat Mark die werk sou doen sonder om ’n rekenaar te gebruik nie, soos hy ook vir sy vriende in die rekenaarsentrum gesê het.

Mark het nie eens sy minagting vir die onderwyser se dreigement probeer wegsteek nie – hy het openlik ’n program geskryf om sy huiswerk te doen. En hy het sy opstote gedoen asof dit ’n segetog is.

Van al sy rekenaarkaperjolle by Exeter was die een wat die relevantste vir sy toekomsplanne geword het eintlik iemand anders se projek. Dit was Facebook.

Die skepper was ’n senior student, Kris Tillery. Hy is in die Midweste in Amerika gebore en het in Wes-Afrika en Nigerië gewoon. Sy ouers wou hê hy moes in Amerika skoolgaan; dus was hy by Exeter op kosskool.

Hy het al self erken hy was geen rekenaarfoendi nie en beslis nie so talentvol soos Mark nie, wat toe reeds ’n musiekspeler met kunsmatige intelligensie suksesvol geprogrammeer het. Kris se nalatenskap by Exeter was dat hy ’n versameling studentefoto’s en onderskrifte bekend as die Photo Address Book aan die buigsame en oneindig toeganklike digitale wêreld uitgereik het.

Die projek het daaruit gespruit dat Kris homself meer oor databasisse wou leer. Hy het dié studente-“facebook” in sy verkenningstog gebruik. Die hoof van die studenteraad het voorgestel dat hy die projek voltooi en versprei. Kris het so gemaak, en dis hoe die Exeter Facebook tot stand gekom het.

Kris het dit aan al die studente uitgereik, Mark inkluis. Dit was ongelooflik nuttig: Jy kon iemand se naam opsoek, maar ook na ander dinge soek. Telefoonnommers is ingesluit – elke student het ’n landlyn in die koshuiskamer gehad – en die leerders het ’n speletjie ontwikkel waar “The Facebook” iemand lukraak sou kies vir wie hulle met ’n foonoproep ’n poets sou bak.

Toe Kris by Exeter gradueer, was dit die einde van sy betrokkenheid by dié Facebook. Hy is daarna Harvard-universiteit toe. Maar hy was in Februarie 2004 nog by die skool toe ’n aanlyn Facebook skielik opduik en die skool soos ’n orkaan tref.

 ’n Skoolprojek van Kris Tillery het as inspirasie
’n Skoolprojek van Kris Tillery het as inspirasie vir Facebook gedien.

Hy was nie verbaas om te sien dis deur Mark Zuckerberg geskep nie. Al het hy beperkte kontak met Mark by Exeter gehad, het hy opgemerk die intense jong man het “groot, groot ambisie”.

Dit het hom nie gepla dat iemand anders hom stellig sy idee toegeëien het nie. Wat hom betref, was die aanlyn Facebook iets waarmee hy klaar was.

Kris, nou die eienaar van die Noble Hill-wynlandgoed in die Paarl in die Wes-Kaap, het gemengde gevoelens daaroor dat hy Mark eerste aan die idee van ’n aanlyn Facebook blootgestel het.

Hy is bly hy het ’n klein rol in dié wêreldwye verskynsel gespeel. Tog het hy dit die afgelope tyd begin bevraagteken of daardie verskynsel op die ou end ’n goeie ding was.

“As jy al die ure per dag bymekaartel wat mense daaraan bestee, kyk jy na ’n groot getal, en dit lewer dalk nie ’n positiewe bydrae tot die samelewing of hul eie persoonlike gesondheid nie,” sê hy.

“Die morele dubbelsinnigheid van die platform – wat vandag ’n inkomste gegrond op reklame en teikens is – laat groot vrae ontstaan oor hoe ons ons tyd ter wille van ons eie geluk behoort deur te bring.”

Wat sy eie gebruik betref, het Kris Facebook– die produk wat hy glo deur sy idee geïnspireer is – teen 2016 geskrap. Mark se sosiale netwerk, sê hy, laat hom sleg voel. 

Facebook: The Inside Story deur Steven Levy.
Facebook: The Inside Story deur Steven Levy.

’n Geredigeerde uittreksel uit Facebook: The Inside Story deur Steven Levy (Penguin General, R499). 

Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, FACEBOOK/MARK ZUCKERBERG, KRIS-TOPHERTILLERY.COM