Om sesuur op ’n koue, donker Dinsdagoggend in April 2015 ontmoet ’n halfdosyn polisiebeamptes in gewone klere, twee FBI-agente en twee aanklaers van die Amerikaanse departement van justisie mekaar by ’n McDonald’s op ’n verkeersirkel naby die Heathrow-lughawe in Londen.

Nadat hulle ’n laaste keer die plan weer nagegaan het, ry die groep na die voorstedelike strate van Hounslow, waar hulle stilhou buite ’n tweeverdiepingskakelhuis omring deur eenderse huise. Binne is ’n slapende Navinder Singh Sarao, ’n 36-jarige met savantsindroom (’n buitengewone genialiteit in ’n spesifieke veld – in dié geval handel) salig onbewus van sy lot.

Hy het $70 miljoen (sowat R840 miljoen) gemaak deur ’n sleutelbord en ’n muis te gebruik om blitsvinnig finansiële termynkontrakte te koop en te verkoop – so asof hy ’n rekenaarspeletjie speel.

Die Amerikaanse regering reken hy het ook die vinnigste en geheimsinnigste markineenstorting in die onlangse geskiedenis help teweegbring, die sogenaamde “Flash Crash” van 2010 toe markte wêreldwyd sonder waarskuwing getuimel en tydelik $1 biljoen se aandele uitgewis het.

Die Amerikaners het Navinder maande lank op ’n afstand gemonitor, sy e-pos gelees, sy bates opgespoor en onderhoude met sy medewerkers gevoer. Maar geen van die ondersoekbeamptes het hom in daardie stadium al ontmoet nie, en hy bly ietwat van ’n raaisel.

Hulle weet wel hy verhandel alleen aandele vanuit sy ouerhuis en spog daarmee dat hy ’n vreemdeling vir Wall Street is.

Maar rekords wys hy koop gereeld meer aandele as die wêreld se grootste banke en verskansingsfondse. Hulle het al stories gehoor dat Navinder personeel by die Chicago Mercantile Exchange, die elektroniese mark waar hy handel dryf, geteister het: Hy het glo gedreig om een werknemer se duime af te sny.

Tog beskryf Navinder se makelaars hom as ’n mak lammetjie wat op pad na hul kantoor verdwaal het en sy papierwerk in ’n Tesco-plastieksak ronddra. Navinder se pa maak die deur oop. Toe hy van sy skok herstel, skree hy vir sy seun om uit die bed te klim en ondertoe te kom.

Nav, soos almal hom noem, verskyn in die gang in ’n lospassende sweetpakbroek en ’n sweetpaktop, met ’n dik bos swart hare wat orent staan.

“Ons is hier om jou in hegtenis te neem vir bedrog en manipulering van die markte,” sê ’n beampte.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Die skakelhuis in Hounslow waar hy saam met sy ouers gewoon het en in 2015 aangekeer is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die geharwar het nou die bure se aandag getrek. Inwoners loer deur hul kantgordyne. Niemand kon verstaan wat hulle by die Saraos soek nie – ’n nederige, gerespekteerde Sikh-gesin wat hulle eenkant hou.

Nav se ouers wag in stilte terwyl die jongste van hul drie seuns stort en van sy besittings bymekaarkry. Terwyl hy buitentoe gelei word, sê hy vir ’n beampte: “Wag net gou, broer.”

Daardie aand is daar ’n sokkerwedstryd op televisie, en Navinder wil gou boontoe hardloop om dit op te neem. “Ek is nie seker of jy sal tyd kry om dit te kyk nie, seun,” kom die antwoord.

Teen twaalfuur die middag begin beamptes die eiendom deursoek. Navinder se kamer is muwwerig en slordig. Daar’s ’n enkelbed met ’n opgestopte tier so groot soos ’n labrador, ’n groot televisiestel aan ’n speletjieskonsole gekoppel en ’n geraamde paar pienk Adidas-sokkerstewels met die woorde: “Aan Nav, van Lionel Messi.”

Die beweerde misdaadtoneel is ’n klein werkstasie aan die onderpunt van die bed. Daar’s niks buitengewoons daaraan nie: ’n rekenaar met drie skerms gekoppel aan ’n standaardbreëbandlyn; ’n paar Samsung-hardeskywe; ’n ietwat verouderde videokamera. Is dit dan van waar Navinder ’n fortuin gemaak en die wêreldwye finansiële stelsel op sy knieë gedwing het?

Die Amerikaanse ondersoekbeamptes, wat Navinder as een van die wêreld se gevaarlikste markmanipuleerders beskou het, kan hulle dit skaars indink. Luidens die klag het Navinder ’n geoutomatiseerde stelsel bedink om ’n groot aantal koop- of verkooptransaksies in Amerikaanse markte aan te gaan.

Daardeur het hy ander gelok om sy voorbeeld te volg. Maar dan kanselleer hy die transaksies net voor dit uitgevoer word. Deur ander deelnemers aan die mark oor die vraag en aanbod te mislei kon hy markte laat styg of daal terwyl hy terselfdertyd gekoop en verkoop het om daaruit munt te slaan.

Navinder het vyf jaar lank die program, wat hy “NAVTrader” gedoop het, met merkwaardige sukses ingespan en soms miljoene dollars binne ’n dag gemaak.

Vreemd genoeg het hy nie juis die geld uitgegee nie en dit eerder in buitelandse fondse geplaas. Navinder, by wie aspergersteuring – ’n vorm van outisme – later gediagnoseer is, het nie vir sy familie of vriende van sy rykdom vertel nie, want hy was bekommerd hulle sou hom dan dalk anders begin behandel.

Hy het by McDonald’s geëet en op ’n heldergeel fiets met ’n Lamborghini-plakker rondgery; hy’t dit sy “Lambo” genoem. Toe personeel by die termynbeurs sy taktiek begin bevraagteken, het Navinder – in ’n oomblik wat nou in handelslegende geëts is – teruggekap met: “Kiss my ass!”

Ná Navinder se inhegtenisneming was daar onmiddellik weerstand teen sy uitlewering aan Amerika. Eerstens is hy ’n Britse burger wat nog nooit eens Amerika besoek het nie. En tweedens was “spoofing” – wanneer jy ’n bestelling plaas wat jy wil kanselleer nog voor dit uitgevoer is – toe nog ’n splinternuwe oortreding.

Navinder was slegs die tweede mens wat strafregtelik daarvan aangekla is, en die eerste buite Amerika.

Maar die mees omstrede aspek van die saak was dat die Amerikaanse regering geglo het Navinder het ’n wêreldwye markineenstorting help ontketen. Dit was moeilik om te glo ’n ou in sy slaapkamer kon dit doen met wat eintlik net ’n opgekikkerde tuisrekenaar is.

Verslaggewers en televisievoertuie het daardie week op die Sarao’s se doodloopstraat toegesak op soek na nog inligting oor die man wat hulle die “Flash Crash Trader” en die “Hound of Hounslow” gedoop het. Dit was een van daardie seldsame finansiële stories wat die hoofstroomnuus gehaal het: die geniale outjie van die verkeerde kant van die treinspoor wat in die Amerikaanse regering se visier beland.

Ek het toevallig ’n voorsprong gekry. As joernalis vir Bloomberg het ek ontdek ’n ou vriend het langs Navinder gesit toe hulle aan die begin van hul loopbane by ’n klein firma genaamd Futex gewerk het. Oor drankies het my vriend my trakteer met stories oor Navinder se buitensporige talent en eienaardighede. Ek was geboei.

Futex, geleë bokant ’n supermark in Weybridge in Surrey, was een van ’n toenemende aantal sogenaamde “arkades” wat met die eeuwisseling verskyn het. Dit was toe markverhandeling van fisieke “handelsputte” met hul handseine en kleurvolle baadjies na rekenaarskerms migreer het.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Hy is daarvan aangekla dat hy die 2010-blitsineenstorting van die aandelemark veroorsaak het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die sakemodel was eenvoudig en – vir ’n rukkie – hoogs winsgewend. Futex sou ’n groep aspiranthandelaars neem en hulle die nodige vaardighede leer om sukses in die markte te behaal. Die uitblinkers is ondersteun met ál groter somme geld, terwyl dié wat misluk, uitgeval het.

Futex het geld gemaak deur ’n deel van hul handelaars se winste en kommissie op elke verhandeling te eis. Dit was ver verwyderd van die blink wolkekrabbers van New York. Maar vir ’n spul ambisieuse, byna uitsluitlik manlike gegradueerdes wat grootgeword het met flieks soos Wall Street, maar nie die onderskeidings of kontakte gehad het om ’n werk by JPMorgan los te slaan nie, was die geleentheid onweerstaanbaar.

Die beste daghandelaars (is daar vir hulle met hul aankoms by Futex in ’n opruiende toespraak gesê) kon self oor hul werkure besluit, plakkies werk toe dra en steeds soveel geld soos ’n beroepsokkerspeler verdien.

Hulle moes net korrek kon voorspel of die mark sou styg of daal. Die werklikheid was natuurlik dat dit uiters moeilik is om die mark ná kostes te bly klop, veral wanneer jy so ver van die aksie is. Daarom het die meeste wat by Futex ingestap het onvermydelik misluk.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Ondersoekbeamptes was verstom oor die hoeveelheid chaos wat Navinder Singh Sarao op die wêreldmarkte veroorsaak het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar Navinder was uitsonderlik geskik vir die werk. As driejarige het hy al sy maaltafels geleer nadat hy ’n Little Professor-elektroniese speletjie ontdek het.

Toe hy begin skoolgaan, kon hy reeds langer syfers in sy kop vermenigvuldig. Waar ander kinders hul berekenings op ’n stuk papier neergeskryf het, het Navinder besef hy kon elke stap doodmaklik in sy kop doen.

“Ek weet dit klink belaglik, maar hy was soos ’n robot in Westworld of Neo in The Matrix of iets,” vertel ’n voormalige Futex-handelaar, Leif Cid. “Hy het nie net die mark dopgehou nie; hy was binne-in die mark.”

Navinder het agt uur per dag op sy eentjie by ’n lessenaar aan die verste punt van die handelsvloer gesit, sy gesig enkele sentimeters weg van sy skerms, oënskynlik in ’n katatoniese toestand.

Om die wêreld uit te doof, het hy ’n paar rooi swaargewig-oorskutte gedra – van die soort wat padwerkers gebruik. Wanneer hy soms ’n blaaskans geneem het, het hy kombuis toe geloop, waar hy ’n beker vol melk geskink en dit soos ’n verhongerde dier gedrink het.

Nuwe rekrute is aangesê om uit te kyk vir die stil ou met die verslete bruin leerbaadjie wat elke dag om 14:00 opdaag om agter in die vertrek op die Amerikaanse mark aandele te verhandel. Hulle het om die risikobestuurder se rekenaar saamgedrom om hulle aan die grootte van sy transaksies te vergaap.

Teen die tyd dat Navinder in 2008 by Futex weg is, was hy £2 miljoen (toe sowat R30 miljoen) werd. ’n Jaar later, toe hy meestal uit sy slaapkamer gewerk het, het dit tot £12 miljoen (toe sowat R156 miljoen) aangegroei. Ondanks sy sukses het ’n onwelkome verwikkeling Navender ontsenu.

Teen 2007 is markte wêreldwyd ál meer deur ’n nuwe geslag deelnemers oorheers wat by iets genaamd hoë-frekwensie-verhandeling (HFT) betrokke was.

Hierdie HFT-firmas het bestellings van pensioenfondse, banke en dies meer in die mark gemonitor vir leidrade of pryse sou styg of daal. Dan het hulle dit met supervinnige rekenaars voorgespring.

Die kern van hoë-frekwensie-verhandeling was algoritmes – stelle reëls wat rekenaars opdrag gee om op wisselende marktoestande te reageer met baie min menslike ingryping.

Teen 2010 is die helfte van alle transaksies in groot termynkontrakte en aandelemarkte deur die een of ander HFT- firma behartig. Tussen hulle het hierdie klein, geheimsinnige ondernemings met ’n personeel van wiskunde- en wetenskapgegradueerdes jaarliks sowat $10 miljard (toe R80 miljard) wins gemaak.

Daar was niks onwettigs aan die metode nie (al is party HFT-firmas later vir markmanipulasie vervolg), maar talle het hul maatskaplike nut bevraagteken.

Michael Lewis, topverkoperskrywer van The Big Short en Moneyball, het in 2014 Flash Boys: A Wall Street Revolt gepubliseer – ’n verpletterende onthulling oor hoe markte muteer het om die belange van ’n nuwe finansiële elite te dien.

Die HFT-bedryf het teruggekap en gesê deeglike ontleding het gewys dat dit inderwaarheid kostes verlaag en verhandeling makliker en vinniger vir almal maak.

Navinder is gepootjie deur robotte wat aansienlik vinniger as hy op vars inligting kon reageer, en sy winste het gekwyn. Hy het by die reguleerders en aandelebeurse gekla oor wat hy beskou het as “die massamanipulering deur hoëfrekwensie-bleeksiele”.

Toe niemand daaraan aandag gee nie, het hy die rampspoedige besluit geneem om sy eie masjien te bou om terug te veg.

“As jy hulle nie kan klop nie, kan jy netsowel by hulle aansluit, of hoe?” het hy anoniem op ’n gewilde handelsforum geskryf. Sy avatar was die Joker. Navinder het ’n ontwikkelaar aangestel om ’n program te skryf wat die HFT-firmas kon flous deur vals seine vir die mark te stuur waarop hy geweet het die algoritmes sou reageer.

Een van die eerste kere dat hy sy nuwe program gebruik het, was op 6 Mei 2010, die dag van die Flash Crash toe die S&P 500-indeks binne vier minute met 5% geval het. Navinder het daardie dag ’n wins van $879 000 (R7 miljoen) gemaak – drie keer die waarde van sy ouerhuis.

In sy beste sessie die volgende jaar het hy $4,1 miljoen (byna R33 miljoen) gemaak. Die winste het bly inrol tot die lang arm van die gereg hom in 2015 in Hounslow ingehaal het.

Vir sy ondersteuners, veral randfigure in die finansiële ekostelsel, was hy Dawid wat Goliat getakel het – ’n Robin Hood-figuur wat teen ’n korrupte stelsel veg. Ná sy inhegtenisneming het die hutswoord #freenav op Twitter begin opduik. Daardie week is met ’n aanlyn petisie begin om teen sy uitlewering beswaar te maak.

Die storie het ’n ander wending geneem toe Navinder, vasgekeer in ’n klein tronksel, nie genoeg geld in die hande kon kry vir sy borgtog van £5 miljoen (R95 miljoen) nie. Op papier was hy 10 keer soveel werd, maar deur die jare het hy sy rykdom aan ’n rits kleurryke beleggers en entrepreneurs toevertrou.

Met die bewyse wat teen hom opstapel en geen geld vir sy regskoste nie, het Navinder toe die enigste lewensvatbare opsie gekies en ’n ooreenkoms met die Amerikaanse regering aangegaan.

Die 22 strafregtelike aanklagte teen hom sou dekades in die tronk beteken, maar op voorwaarde dat hy skuldig pleit op sommige aanklagte en die owerheid met hul ondersoeke help, het aanklaers tot ’n ligter vonnis ingestem.

Die regering se begrip van elektroniese verhandeling was in daardie stadium nog beperk, en dit kon van onskatbare waarde wees om iemand in die binnekring te hê wat verduidelik wat hy doen en hoe die markte werklik werk.

Drie maande later het Navinder hom aan ’n tafel in ’n konferensiekamer in Londen bevind met ’n halfdosyn Amerikaanse ondersoekbeamptes en aanklaers oorkant hom. Voor hy aangekeer is, het die voortdurende gekul in die markte – soos hy dit beskou het – hom so geïrriteer dat hy opnames van homself begin maak het terwyl hy handel dryf.

Nou, met die video’s wat op ’n groot televisieskerm agter hom geprojekteer word, het hy vir die owerheid ’n blitskursus gegee in roomafskepping (waar ’n handelaar munt slaan uit klein veranderings in die aandeleprys) en hoe om te identifiseer wanneer iemand kul.

Die inligting wat Navinder verskaf het, het die Amerikaanse regering se begrip van elektroniese markte getransformeer.

Sy insigte is in die opsporingsagteware van die agentskappe opgeneem en het tot die skuldigbevinding gelei van meer as 20 handelaars van banke, verskansingsfondse en selfs die HFT-firmas wat hy altyd so verafsku het. Sy “tuisvideo’s” word steeds in opleidingsprogramme dwarsoor Amerika vir ondersoekbeamptes en aanklaers gewys.

Op 28 Januarie 2020 neem ek my plek in op die galery agter in ’n groot, vensterlose hofsaal in Chicago vir Navinder se vonnisoplegging. Ek het twee jaar lank sy storie saamgestel, dokumente ingesamel, by verhore opgedaag en met almal wat ek kon onderhoude gevoer.

Intussen het See Saw Films (die produksiemaatskappy agter rolprente soos Lion en The King’s Speech) ’n kontrak gesluit om Flash Crash, my boek oor die saak, vir die silwerdoek te verwerk met Dev Patel in die hoofrol.

Navinder se besluitneming was dikwels vir my onbegryplik, maar sy vindingrykheid en volstrekte weiering om sy lot te aanvaar het my bly boei. In die dae voor die vonnisoplegging het sy prokureur, Roger Burlingame, hom uitgebeeld as ’n soort idioot-savant wat nouliks sonder sy ouers in die wêreld kan funksioneer.

Hy het ’n outismekenner, Simon Baron-Cohen, aangehaal wat gesê het Navinder se toestand het dit vir hom onmoontlik gemaak om op ’n genuanseerde manier te onderskei tussen wat toelaatbaar is en wat nie. Hy het ook gewaarsku dit sou uiters nadelig wees om hom terug te stuur tronk toe omdat hy so sensitief vir lig en geraas is.

In ’n merkwaardige ontwikkeling het die departement van justisie saamgestem en die regter gevra om Navinder genadig te wees en hom toe te laat om huis toe te gaan – ’n groot afwyking van die riglyne vir vonnisoplegging waarvolgens hy ’n minimum van ses en ’n half jaar moes uitdien.

Die ondersoekbeamptes het Navinder sedert sy inhegtenisneming leer ken en het volgehou dit sou geen nut hê om hom agter tralies te hou nie. Toe hy aan die woord kom, het Navinder sag en stadig gepraat.

“Ek het 36 jaar lank probeer geluk vind op ’n pad wat op ’n leuen gebou was,” het hy aan die regter gesê. Hy het vertel hy was verslaaf aan handel dryf, maar in die tronk het hy besef hy kry nie ’n “dieper betekenis” daaruit nie.

“Geld koop nie geluk nie,” het Navinder gesê. “En ek is bly ek weet dit nou.”

In haar opsomming van die saak het die regter gesê toe sy die eerste keer die feite hoor, het sy aanvaar sy het met die een of ander misdadige meesterbrein te doen.

“Nou kyk ek na die verslag oor iemand met outisme wat by sy ouers woon in ’n kamer wat lyk asof dit onveranderd gebly het sedert hy 13 jaar oud was.”

Nietemin was sy ferm daaroor dat Navinder op ’n manier gestraf moes word, afgesien van die vier maande wat hy toe reeds uitgedien het. Met die oog op sy mediese toestand het sy beveel dat hy ’n jaar lank in huisarres in sy ouerhuis bly.

Navinder het daardie aand op Heathrow aangekom en hom reggemaak om in dieselfde kamer ingeperk te bly waar hy sy misdade gepleeg het. Die volgende maand was die res van die wêreld ook ingeperk. Soos altyd was die “Hound of Hounslow” se tydsberekening onberispelik.

  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Flach Crash deur Liam Vaughan, gepubliseer deur William Collins.
© Liam Vaughan 2020.
  • R349 by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.