Dis ’n snikhete dag aan die kus van die Rooisee. Die son sit hoog in ’n wolklose hemel en ­vakansiegangers van oral in Europa en die Midde-Ooste ontspan op ’n wit strand. Die jaar is 1982 – stel jou Speedo’s, bikini’s en die geur van sonbrandolie en sigarette voor wat op ’n warm briesie aangedryf kom – en die mans en vroue op die strand geniet almal hul verblyf in ’n naby­geleë oord.

Die Arous Holiday Village in Soedan, sowat 160 km suid van die Egiptiese grens, is ’n nuwe oord. Dit bestaan uit ’n groot klubhuis met ’n dosyn of wat mooi, afgewitte eenhede met rooi teëldakke aan weerskante en word as ’n watersportbestemming bemark.

Die vakansieoord

Die brosjure van die Arous-vakansieoord.
Die brosjure van die Arous-vakansieoord.

Die kleurryke brosjure beloof uitasem “Avontuur, à la carte”. Daarin verskyn gestileerde foto’s van aantreklike modelle wat seilplankry en in skuba-uitrustings poseer en ook foto’s van die kleurvolle verskeidenheid seelewe wat tussen die koraalriwwe te sien is. Die oord is “uniek”, is die brosjure se slotsom.

Die gaste, wat wissel van ernstige skubageesdriftiges tot senior Soedan­nese regeringsamptenare, verwyl hul dae in die ontspanne geselskap van die oord se handvol personeellede en duik­instrukteurs.

Die werknemers is meestal Europees en jonk, fiks en vriendelik. Teen sononder deel hulle drankies en grappies met die gaste by die klubhuis en bied selfs af en toe ’n amateurverhoogproduksie aan.

Die oord self is die geesteskind van ’n seningrige 37-jarige Franse antropoloog, Dani. Hy was met navorsing oor stamme in die streek besig toe hy op die 12 leë wit huisies sowat 50 km noord van Port Soedan afkom.

Hy het uitgevind dit was ’n projek om met ’n vakansieoord te begin, maar is laat vaar toe dit bankrot gespeel het. Maar Dani het gereken hy kon nuwe lewe daarin blaas.

Met die hulp van ’n belegger en die goedkeuring van die Soedannese regering het hy die plek opgeknap en dit as die Arous Holiday Village herbekend­gestel. Teen 1982 het dit baie goed gevaar. Reisagente oral in Europa het twee weke se verblyf daar vir kliënte bespreek. Die gasteboek was vol lof van tevrede gaste.

’n Front

 ’n Mossad-­agent gee voor hy is ’n duik­instrukt
’n Mossad-­agent gee voor hy is ’n duik­instrukteur.

Net een klein besonderheid is weg­gelaat: Die hele onderneming is ’n front. Dani is nie regtig ’n Franse antropoloog nie. Die opgewekte duikinstrukteurs is nie regtig duikinstrukteurs nie.

Hulle is almal agente vir Mossad, die nasionale intelligensieagentskap van Israel. Feitlik al Arous se werknemers is Israelse agente wat in die grootste geheimhouding te werk gaan – van die mooi oordbestuurder by die ontvangstoonbank tot die man wat die kombuis bestuur.

In die pakkamer vir duiktoerusting is geheime kommunikasietoerusting versteek. Die belegger wat Dani die mislukte oord help regruk het, is niemand anders nie as die staat Israel. Arous is inderdaad ’n “unieke oord”. Maar nie om redes wat enigiemand – van die gaste tot die Soedannese regering – hulle ooit sou kon voorstel nie.

Waarom het die Israelse regering byna 40 jaar gelede gemagtig dat ’n kastige duikoord met geheime agente as personeel aan die kus van ’n vyandige land geskep word?

As ’n lid van die Arabiese Liga was Soedan, minstens op papier, sedert 1967 in ’n oorlog met Israel gewikkel. Om so onder hul neus te werk te gaan sou ’n ernstige provokasie wees as dit ontdek sou word. Die risiko was reusagtig.

Maar die voordele is as die moeite werd beskou. Want die oord self was deel van ’n selfs gewaagder oëverblindery. Tussen 1979 en 1984 het Mossad dank­sy ’n program bekend as Operation Brothers die lewe van duisende Ethio­piese Jode gered. Hulle wou van die oorlog, hongersnood en vervolging vlug en is deur Soedan na Israel gesmokkel.

Snags het agente wat hulle as werk­nemers by die Arous-oord voorgedoen het tientalle mans, vroue en kinders uit die oorvol vlugtelingkampe van suidelike Soedan gaan haal en met hulle na die oord teruggery.

Kommando's

Ethiopiese vlugtelinge word in Soedan op rubberbot
Ethiopiese vlugtelinge word in Soedan op rubberbote gelaai en die see in gestuur, waar vlootskepe hulle opgelaai het.

In ’n inham daar naby sou Israelse kommando’s hulle ontmoet en dan in klein motorbote na ’n vlootvaartuig vergesel wat as ’n handelskip verdoesel is.

Later in Operasie Broeders sou laagvlieënde C-130 Hercules-vragvliegtuie Soedannese grondgebied 700 km ver binnedring en op afgeleë stukke struikveld land. Daar sou hulle honderde Ethio­piese Jode oplaai en dan ongesiens na ­Israel terugkeer. Teen die einde van die operasie is meer as 7 000 mense uit Soedan gered sonder dat enigeen uitgevind het hoe of waarom.

Sedertdien het besonderhede oor die operasie bekend geword. Verlede jaar het Netflix The Red Sea Diving Resort uitgereik, ’n riller wat losweg op die gebeure gegrond is.

Dani, die Mossad-agent

Die een mens wat nie breedvoerig oor sy betrokkenheid gepraat het nie, is die man wat alles beplan het: Dani, die Mossad-agent.

Maar nou gaan dit verander. In Raffi Berg se nuwe boek, Red Sea Spies, ’n spannende en sorgvuldige vertelling oor die operasie, val die kollig eindelik op Dani se eie weergawe. Dis dié dat daar een middag ’n 75-jarige voormalige Mossad-agent oorkant my in my kantoor in Londen sit. Ek sê “voormalige”, al is dit skynbaar nie die volle waarheid nie.

“Amptelik het ek baie jare gelede af­getree,” sê Dani.

“Maar selfs nadat jy afgetree het, kan hulle jou steeds bel; daarom tree jy nooit regtig af nie.”

Dani is kort, met grys hare, ’n penregop rug en ’n stewige handdruk. Sy houding is bedaard en saaklik. Toe hy gaan sit, kies hy ál stoel in die vertrek wat na die deur wys – ’n gewoonte wat hy sê hy nooit afgeleer het nie. Met ondersoekende oë kyk hy oor die lessenaar.

As dit hom intimiderend laat klink, is dit nie heel­temal die geval nie, want hy is ook snaaks en uitdrukkingsvol en peper sy gesprek met ou KGB-idiome en grappe oor die Amerikaanse Intelligensiediens.

Hy benadruk dat al is daar ’n versoeking om op die gebeure van Operasie Broeders terug te kyk en jou te verwonder oor hoe seepglad alles afgeloop het hy eintlik alles desperaat uitgedink het terwyl dit afgespeel het.

“Daar was niemand vir wie ek kon raad vra nie, want ons het nooit tevore so iets gedoen nie,” vertel hy.

Agtergrond

Die destydse Israelse premier, Menachem Begin, het
Die destydse Israelse premier, Menachem Begin, het die oord besoek wat op sy bevel op die been gebring is om Jode uit Et­hiopië te smokkel

Dani is in Uruguay gebore en het in 1961 op 16 na Israel getrek. Hy het by die leër aangesluit, ’n valskerm­soldaat geword en in die Sesdaagse Oorlog, die Israelse Uitputtingsoorlog en die Jom Kippoer-oorlog geveg.

Hy het tot die rang van kompaniebevelvoerder gevorder voor hy in sy laat 20’s vir Mossad gewerf is. Met sy veeltaligheid, ’n reputasie vir laterale denke en beslistheid het hy gou in die agent­skap begin naam maak.

Maar hy sou nooit die geleentheid gekry het om die operasie te lei as Menachem Begin nie in 1977 tot premier van Israel verkies is nie. Sedert die 19de eeu was dit bekend dat afgeleë stamme in die Ethiopiese Hoogland woon wat beweer hulle is Jode.

Beta Israel

Hul oorsprong is steeds in mites gehul, maar hulle het geglo hul voorsate was ­Israeliete wat in die Bybelse tyd uit hul tuisland verdryf is en dat hulle eendag daarheen sou terugkeer. Hulle het hul grondgebied Beta Israel genoem, maar afgeslote van die groter wêreld het hulle ’n vorm van Judaïsme beoefen wat nie volgens die hoofstroompraktyke ontwikkel het nie.

Die mense van Beta Israel is as ’n aardigheid beskou, nie as ware Jode nie. Daarom het hulle nie vir Israelse burgerskap gekwalifiseer nie.

Ná sy verkiesing het Begin dié beleid verander. Teen die laat 1970’s is die geraamde 36 000 Jode van Ethiopië deur die gesamentlike bedreigings van ’n naderende hongersnood, interne opstande en toenemend gewelddadige vervolging in die gesig gestaar. In Begin se oë het dit hulle Joods genoeg gemaak.

“Bring vir my,” het hy aangekondig, “die Jode van Ethiopië!” Dit was makliker gesê as gedaan. Weens wanfunksionele diplomatieke verhoudings tussen die twee lande was regstreekse reise verbode.

Ferede Aklum

En omdat Beta Israel so afgeleë en bergagtig was, was enige soort geheime massa­onttrekking onmoontlik. Dani het opdrag gekry om maniere te vind om hulle na Israel terug te bring sonder om konflik in die streek te ontketen, al het dit geensins realisties gelyk nie.

’n Moontlikheid het in 1979 opgeduik. ’n Jong, geleerde Ethiopiese Jood, Ferede Aklum, het uit sy land ontsnap en die lang, gevaarlike tog noordwaarts tot in Soedan afgelê.

Ferede het in ’n vlugtelingkrotbuurt buite Khartoem gewoon en sy trouring verkoop om vir ’n telegram te kan betaal. Hy het dit na die Hebreeuse Immigrante-hulpvereniging gestuur, ’n Amerikaanse organisasie wat Joodse gemeenskappe wat in gevaar verkeer, help om hulle te hervestig.

“Ek is in Khartoem,” het sy boodskap gelui. “Het uit Ethiopië gevlug. Julle weet waarom.”

Dani het met ’n vals paspoort na Khartoem gereis. Deur hom as ’n antropoloog voor te doen kon hy Ferede opspoor en ’n vennootskap begin – ’n innige vriend­skap – waardeur talle lewens gered sou word.  

“Ons het baie geheg aan mekaar geraak,” vertel Dani.

“Ons het mekaar altyd ‘broer’ genoem. En dit was nie net ’n uitdrukking nie. Ek dink ons het dit albei gevoel.”

Dit het vir albei mans duidelik geword dat as hulle ander Ethiopiese Jode kon oortuig om in Ferede se voetspore tot in Soedan te volg hulle makliker ’n manier sou kon vind om hulle na Israel te neem.

Eerstens: Soedan het ’n kuslyn. Tweedens het die ál groter vlugtelingkrisis in Soedan meegebring dat groot groepe Ethiopiërs noordwaarts beweeg; daarom sou dit nie agterdog wek nie.

’n Boodskap is na Beta Israel gestuur. Drupsgewys het Jode die reis begin aanpak wat hulle gehoop het in hul Beloofde Land sou eindig, maar eindelik het dit tot ’n stortvloed aangegroei.

Twee jaar lank het Dani en Ferede volgens ’n eenvoudige maar waaghalsige plan te werk gegaan.

Uitgesmokkel

Die agent “Dani” help om Ethiopiese Jode uit Soeda
Die agent “Dani” help om Ethiopiese Jode uit Soedan te vervoer.

Ferede het die vlugtelingkampe vir sy mense gefynkam en Dani het hulle dan agterin ’n viertrekvoertuig uitgesmokkel. Snags het hy met hulle na Khartoem gery terwyl hy dikwels ompaaie om weermagpadblokkades gevolg of bloot deurgejaag het.  

Die Ethiopiese Jode is in geheime skuilplekke gehuisves tot Dani, wat hom as ’n  hulpwerker voorgedoen het, vir hulle paspoorte by die Soedannese departement van binnelandse sake kon kry.

Met reisdokumente kon die Ethiopiese Jode dan na Europese stede vlieg en daar die eerste vlug na Israel haal. Teen 1980 is sowat 800 Ethiopiese Jode op hierdie manier uit Soedan gesmokkel.

In dié tyd moes Dani voortgaan om hom as ’n Franse antropoloog voor te doen.

“Jy moet soos ’n normale mens optree,” vertel hy. “Daar was ’n wit gemeen­skap in Khartoem en klubs waar hulle gaan bier drink en meng met wat jy die heersende klas van die land sou noem. Senior amptenare in die weermag. ­Se­nior klerke. Sakelui.”

Dani en Mohammed Mah­joub, die Soedannese minister
Dani en Mohammed Mah­joub, die Soedannese minister van toerisme.

Hy het in dié kringe beweeg. Hy het soms saam met die broer van die president van Soedan tennis gespeel. Op ’n partytjie het hy die kanselier van die Universiteit van Khartoem ontmoet en dié het daarop aangedring dat Dani vir hulle ’n lesing oor die antropologie van Oos­Afrika kom lewer.

“En ek het gesê: ‘Ja, waarom nie!’ Ek kon nie weier nie. Toe waag ek dit.”

Hy het trouens toe al ’n bietjie antro­pologiese veldwerk gedoen en aantekeninge gemaak om sy storie geloofwaardig te maak. Hy dink steeds die lesing was deels ’n sukses, al het hy ’n klomp inligting daarvoor uit die Encyclopedia Britannica afgeskryf.

Dani se gesin

Al het Dani ’n vrou en twee jong dogters by die huis ­gehad, was hy volgens die storie wat hy vertel het enkellopend.

“En daar word gewoonlik gereken ’n normale enkellopende man het sekere behoeftes, nie waar nie? En as jy nie ’n meisie het nie, sal die mense wat jy ontmoet, probeer om . . .” Sy stem sterf weg en hy haal skaam sy skouers op voor hy byvoeg: “. . . jou aan mense voor te stel.”

Dani het minstens twee vaste meisies in dié tyd gehad. Een was die dogter van ’n ryk Armeense sakeman en die ander ’n jong Italiaanse vrou wie se broer ’n beroepskrokodiljagter was.

Maar heeltyd het hy en Ferede, wat ’n amptelike Mossad-agent gemaak is, voortgegaan om Ethiopiese Jode uit die groeiende vlugtelingkampe te smokkel en hulle op kommersiële vlugte uit die land te laat vlieg.

Risiko's en sterftes

Dani wys daarop dat dit lewensgevaarlik was – dit is bekend dat minstens 1 560 Jode van Beta Israel op die tog na Soedan dood is.

“Hulle moes van hul dorpe honderde kilometers ver stap tot hulle die Soedannese grens bereik het, wat nie altyd moontlik was nie. Die Soedannese en die Ethiopiese leër het hulle probeer keer. En in die vlugtelingkampe was hulle voortdurend in doodsgevaar.

“Daar was geen kos, water of sanitasie nie. En benewens die gevare wat alle vlugtelinge moes trotseer, was hulle ook Jode. Hul eertydse bure, die Christen-Ethiopiërs, het hulle soms herken en dan sou hulle vir die Soedannese polisie sê: ‘Dit is Jode dié!’ ”

Hoekom die Arous-oord?

Israelse militêre landingsvaartuie is geverf om so
Israelse militêre landingsvaartuie is geverf om soos handelskepe te lyk.

Teen 1981 was dit duidelik dat daar veel meer Ethiopiese Jode in die vlugtelingkampe was as wat ooit op vliegtuie uitgesmokkel kon word. Dit is toe dat die plan vir die Arous-oord bedink is, want dit kon as ’n hoofkwartier vir ’n reeks geheime ontruimings deur die vloot dien.

Dani – wel, Mossad – het die verlate plek vir $250 000 (toe sowat R198 000) gekoop, maar hy het geweet vir die slenter om oortuigend te wees sou die oord suksesvol moes lyk. Aan die begin is die aantal gaste opgeblaas deur afgetrede Mossad-agente daarheen te nooi.

“Hulle het ’n lekker week se verblyf in die oord gekry,” vertel Dani vrolik. “Hulle het baklei oor wie daarheen kon gaan.”

Tog was ongelooflik baie op die spel. Nie net was daar nou meer Mossad-agente in Soedan nie; ’n verdoeselde Israelse vlootvaartuig het aan die Soedannese kus geluier. Spanne van Israelse soldate het teen sononder op die strand aan­gekom en die Ethiopiërs weg­gevoer.

“Polities sou dit ’n katastrofe gewees het as ons betrap is,” sê Dani.

Boonop het die Soedannese teen hierdie tyd geweet iets is nie pluis nie. Vlugtelinge wat uit kampe verdwyn? Gerugte van wit mans wat hulle in die nag weglei?

Noue ontkoming

Een aand in 1982 het die hele operasie byna in ’n bloedbad geëindig. ’n Peloton Soedannese soldate is opgemerk toe hulle ’n inham naby die oord nader waar ?Israelse spesiale magte op daardie oomblik honderde vlugtelinge in­derhaas in motorbote laat klim het.

Dani het hom saam met ’n paar ander geheime agente gehaas om die Soedannese mag te ontmoet in ’n poging om hul aandag af te lei. Die bote het byna al almal weggeglip toe ’n Soedannese soldaat die laaste een opmerk. Hy het ’n koeël­reën in die water afgevuur.

Dani het hom op die grond platgeduik, waar ’n stoeigeveg losgebreek het. In ’n stadium het albei besef die loop van die geweer is teen Dani se maag vasgedruk. “Hy moes net die sneller trek. Ek het gedink dis die einde. Maar hy het gehuiwer.”

Die Soedannese bevelvoerder het die twee mans uitmekaar getrek en antwoorde van Dani geëis.

Wonderbaarlik kon hy hulle nie net oortuig dat gaste by die oord op ’n nagtelike uitstappie was om te gaan kreef uitduik nie, maar ook dat hy woedend is omdat hul lewe in gevaar gestel is en dat hy by die owerhede sou kla. Die peloton het na smokkelaars gesoek en die probleem is uitgestryk.

Die einde van die operasie

’n Israeliese vlootsoldaat dra ’n jong seun na vei
’n Israeliese vlootsoldaat dra ’n jong seun na veiligheid gedurende die gewaagde Operasie Broeders.

Teen die einde van die operasie het Dani 7 054 Ethiopiese Jode na Israel help smokkel. Hy het in 1984 teruggekeer huis toe. Teen daardie tyd het sy vrou al van hom geskei.

Vandag woon meer as 120 000 Ethiopiese Jode in Israel teenoor die hand vol van 40 jaar gelede. Dani is by hulle betrokke en sê hul lewe in Israel kan steeds ’n stryd wees, want hulle moet die rassisme van hul mede-Israeli’s trotseer.

“Die Israelse samelewing is ongelukkig nie verdraagsaam nie. Ons het nie die lesse van die geskiedenis geleer nie. Ons behoort die laaste mense te wees wat onverdraagsaam is.”

Voor hy vertrek, sê Dani hy glo nie daar was iets besonders aan hom nie. Maar wat hy wel gehad het, was volkome sekerheid oor die noodsaak van sy sending.  

“Om ’n Jood te wees is nie ’n eenvou­dige ding nie,” sê hy glimlaggend, maar met ’n sug. “En vir my is een van die grootste lesse as Jood dat jy nie ander Jode aan hul lot oorlaat nie. Jy moet alles doen om hulle uit enige situasie te gaan haal. Waar hulle ook al is.”

Ben Machell / The Times Magazine / News Licensing
Red Sea Spies: The True Story of Mossad’s Fake Div
Red Sea Spies: The True Story of Mossad’s Fake Diving Resort deur Raffi Berg; Uitgewer: Icon Books; R255 by takealot.com

Die prys van R255 by takealot.com was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.