In ’n nuwe dokumentêr en boek vertel die legendari
In ’n nuwe dokumentêr en boek vertel die legendariese sir David Atten­borough wat die mensdom nou kan doen om die planeet te red. Foto: Camera Press/Greatstock

Davos, Januarie 2019. Dis nie sir David Attenborough se natuurlike habitat nie, maar hier staan hy op 93 jaar ­gecollar en getie en spreek ’n vertrek vol ­finansiers, uitvoerende hoofde en wêreldleiers toe.

Hy wys vir hulle filmgrepe van die gevolge wat ons optrede vir die natuur het: ’n Orangoetang wat aan die enigste tak klou van die enkele boom wat oor is in ’n eens groen reënwoud; afgryslike beeldmateriaal van reusewalrusse wat van kranse tuimel en geen rusplek kan vind nie omdat smeltende seeys honderde van hulle op een strandjie ingedwing het.

Die gehoor is merkbaar ontroer. In die voorste ry is Christine Lagarde, toe nog hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, in trane.

David verduidelik op die verhoog in sy afgemete, kalmerende stem hoe dit gebeur het, hoe ons eintlik ons noodsaaklikste hulpbronne verwoes het, en die belangrikste: wat daaraan gedoen kan word; wat húlle – mense met invloed en mag en finansiële aansien – daaraan kan doen.

’n Dag later het prins William op die verhoog ’n onderhoud met hom gevoer, en is hy staande toegejuig.

Daar is ’n greep daarvan in sy nuwe opspraakwekkende dokumentêr, A Life on Our ­Planet, wat saam met die meegaande boek die laaste standpunt is wat hy inneem. Hy noem dit sy “verklaring as getuie”.

En hy is ’n unieke getuie – David is in die merkwaardige posisie dat hy al meer van die natuur gesien het as waarskynlik enigiemand anders. Sowat sewe dekades gelede, aan die begin van sy loopbaan, was die natuurlewe nog oorvloedig, en dit het toe pas maklik geword om te reis.

David in ’n duikuitrusting in die vroeë 1990’s op
David in ’n duikuitrusting in die vroeë 1990’s op die Groot Koraalrif in Australië.

Sedertdien het die menslike bevolking meer as verdubbel en wilde diere se getalle met die helfte afgeneem. En die planeet het een graad Celsius warmer geword – wat nie na veel klink nie, maar dis ’n verandering teen ’n vinniger tempo as in die afgelope 10 000 jaar.

Soos hy in sy Davos-toespraak gesê het: “Ons is in ’n nuwe geologiese era: die ­antroposeen – die era van mense.

“Ons kort ’n nuwe perspektief – dit is om nie meer uit die see en land te probeer haal as wat die aarde kan aanvul nie,” sê die bekende stem, effens gedemp deur tegniese probleme tydens ’n Zoom-­oproep, dieper met die ouderdom, maar tog onmiskenbaar David.

Hy gesels vanuit sy huis in Richmond, Surrey, waar hy al maande lank die inperking deurbring. Daardeur is werk aan ver­skeie projekte onderbreek, waaronder een vir die BBC oor uitsterwing en talle met die woord “planet” in die titel.

Sy jongste dokumentêr, A Life on Our Planet, wat nou op Netflix te sien is, se première sou in April in die Royal Albert Hall in Londen gehou word.

Dit sou die grootste uitreiking van ’n dokumentêr in die geskiedenis van die Britse rolprent­wese gewees het, maar is weens die inperking uitgestel.

Hoe het hy dit hanteer?

“Ek is bang om dit te sê, want ek moet in gedagte hou ek is nie ’n getroude paar­tjie met ’n jong kind nie, want dit moet erg wees, maar ek was baie gelukkig. Ek het ’n vreedsame tyd gehad.

“Ek het ’n tuin en ek woon naby Richmond Park en het baie om my gelukkig te hou. Ek het die lente van nader sien ontvou en ontwikkel as wat ek in dekades kon – en wat ’n vreugde was dit nie.

“My dogter, Susan, woon in dieselfde huis en sien om na dinge en hou dit aan die gang. Ek het oorsese reise gereël wat gekanselleer is.”

Saam met sy dogter in 2016 by Wimbledon. Foto: Gal
Saam met sy dogter in 2016 by Wimbledon. Foto: Gallo Images/Alamy

Maar daar is geen teken dat hy die pas verslap nie. Hy het tydens die inperking kommentaar opgeneem vir sy volgende projek vir die BBC, A Perfect Planet, “in my eetkamer met ’n mikrofoon op die eetkamertafel en donskomberse teen die muur om die weerklank te demp. Die opnametegnikus was in die tuin in die reën onder ’n sambreel . . .

“Dit is nogal ’n lekker manier om dinge te doen ná ’n stewige ontbyt, pleks van om in ’n motor te klim en om halfagt na ’n ateljee te gaan.”

Die Cairngorms in die oostelike Hooglande van Skotland was die laaste plek wat hy laat verlede jaar besoek het, en hy mis dit nie om te vlieg nie.

“Glad nie. Ek voel verleë om dit te sê, want baie mense het ’n baie, baie moei­like tyd deurgemaak, en ek het baie simpatie met jong mense wat wil uitgaan en die wêreld wil sien en partytjies wil bywoon, maar wanneer jy in jou 80’s en 90’s is, dink jy meer na en is doodgelukkig om in die skadu oor die lewe te sit en dink. Dit is hoofsaaklik wat ek gedoen het.”

En dit is waarmee hy vorendag gekom het, waarmee hy altyd vorendag kom, wat hy vir ons oor en oor, al jare lank wys: dat die natuur ons grootste bondgenoot is. Sien om na die natuur en die natuur sal na ons omsien.

Om te sê “ons het ’n keerpunt bereik” het ’n strydkreet geword wat ons so dikwels in die afgelope dekade gehoor het dat die gevaar van “keerpunt-uitputting” bestaan.

Maar jy hoef net na die jongste nuus te kyk – die onbeheerbare veldbrande in Brasilië en Oregon wat dorpe en gemeenskappe verwoes en ’n halfmiljoen mense ontwortel het; orkane en kitsvloede van oorweldigende krag en frekwensie wat die Amerikaanse Golfkus bedreig.

Die reënwoude word steeds vinniger as ooit afgekap – 3,8 miljoen ha word jaarliks ontbos; dit is 15 miljard bome per jaar – en soos ons almal weet, verloor ons planeet sy ys: Sedert satellietrekords in 1979 begin het, het die somer-seeys met 40% verminder.

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het verlede maand berig dat die dierebevolking in minder as 50 jaar met twee derdes afgeneem het.

Maar, sê David, dit is nog nie te laat om dinge te verander of ten minste te ver­beter nie. Die wetenskap is daar, die tegnologie is daar, die politieke wil behoort daar te wees, maar die probleem is om mense te oorreed om om te gee. En dit is hier waar David Attenborough ’n rol speel – hy laat mense omgee.

Miskien is dit die stem, die poëtiese ­intonasie, die saggeaarde, belese manier, die magdom kennis – hy het om heelwat redes die gewildste uitsaaier ter wêreld geword. Ons vertrou hom: Hy lees nooit iemand anders se draaiboeke voor of adverteer iets nie; hy sal nie waterfilters borg of sy naam aan ’n nuwe reeks papierstrooitjies verbind nie.

Hy moes onpartydigheid handhaaf toe hy vir die BBC uitgesaai het, en hy was stil oor aardverhitting tot hy volkome seker was van die wetenskap.

“Baie mense het druk op David geplaas om sy stem vroeër te laat hoor,” sê Colin Butfield van die WWF, wie se idee dit was dat David by Davos ’n toespraak moet lewer.

“Maar hy het gedoen wat tipies ­David was – om volkome seker te maak dat hy die wetenskap goed verstaan. Hy het hom heeltemal daarin verdiep voor hy bereid was om te sê wat hy dink.”

David weerspreek dit effens.

“Ek praat al 30 jaar hieroor!” roep hy uit. “En niemand het kennis geneem nie. As jy terugkyk, sal jy vind ek het in die laat 1970’s geen reeks gemaak sonder om op die ou end te praat oor wat ons moet doen om na die planeet om te sien en oor watter gevare bestaan nie.”

Maar in sy jongste dokumentêr, A Life on Our Planet, maak hy seker niemand ignoreer sy boodskap nie. Dit is ongewoon, want David verskyn self daarin en praat direk met die ­kamera op ’n manier wat byna ’n belydenis is; aangrypend en intens.

Die nuwe Netflix-dokumentêr A Life on Our Planet.
Die nuwe Netflix-dokumentêr A Life on Our Planet.

“Hy was persoonlik betrokke by die dokumentêr. Dit wys ’n kant van David wat jy normaalweg nooit sien nie – hy is gewoonlik ’n klassieke, ordentlike Engelsman, maar hy is emosioneel in die dokkie, wat niemand al tevore gesien het nie,” sê die mederegisseur Alastair ­Fothergill, wat al lank met David saamwerk.

Saam met die dokumentêr verskyn ’n gelyknamige boek, met die rolprent­maker en wetenskapskrywer Jonnie ­Hughes as medeskrywer. Hy werk al jare lank saam met David en is ook mede­regisseur van die dokumentêr.

Die boek is ’n bondige huldeblyk aan die natuur, wat met David se merkwaardige persoonlike geskiedenis vermeng word. Dit bekyk die wêreld deur hoofstukke van sy lewe. Soos hy dit stel, is dit “die storie van hoe dit gebeur het dat ons ons grootste fout gemaak het en hoe – as ons nou optree – ons dit kan regstel”.

’n Meerkat sit op sy skouer terwyl hy die BBC-reek
’n Meerkat sit op sy skouer terwyl hy die BBC-reeks Life of Mammals in die Kalahari verfilm. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar is talle voorbeelde van regerings wat vordering maak met volhoubaarheid: Ysland, Paraguay en Albanië wek reeds ál hul elektrisiteit op sonder om fossielbrandstowwe te gebruik.

En wie sou kon raai dat Marokko die grootste sonplaas ter wêreld het wat in 40% van hul behoeftes voorsien? Of dat Costa Rica nou die helfte van die reënwoud wat teen die 1970’s afgekap is weer aangevul het?

En daar is hoop vir die natuurlewe: In ­David se leeftyd het berggorillas met mening na die ooste van Afrika teruggekeer; en waarnemings van blouwalvisse, wat tot die laaste 1% van hul aanvanklike bevolking gejag is voor walvisjag in 1986 verbied is, het alle verwagtings oortref.

Het dit hom nostalgies gemaak om die argiewe deur te werk en die wêreld te sien soos dit eens was?

“Waaroor ek nostalgies is – as ek die woord effens kan verdraai – is dinge wat ek nooit gesien het nie. As jy boeke lees oor reise in Afrika ’n eeu gelede, besef jy hoe die vasteland verarm het.

“Daar was troppe met duisende diere soos kwaggas  en verhale van treinspore aanlê te midde van leeus wat jag. Die natuurlewe het geblom (‘pullulating’ is die woord wat hy in Engels gebruik het) en die oseane was ryk.

Die rykdom van die natuur in die 19de eeu was oorweldigend milddadig (‘munificent’). En dis alles weg.”

“Pullulating” en “munificent” – praat jy met David, herinner sulke woorde jou aan sy pragtige kommentaar wat hy so sorgvuldig skryf.  

“Wel, ek skryf al lank beskrywings, 50 of 60 jaar – en het trouens geleer minder woorde is beter. Ek doen baie moeite met die skryf daarvan.”

George Fenton, wat die musiek vir talle van sy reekse gekomponeer het, het sy woorde soos die hoofkarakter in ’n drama hanteer en die musiek by sy stembuigings laat aansluit.

Die stem het beslis deur die jare ver­ander. Sy toonhoogte het laer en minder reëlmatig geword, maar niks van sy geesdrif verloor nie.

En dis nie benede hom om met homself te spot nie. Hy het op die BBC se Radio1 in sy kenmerkende stem ’n Adele-musiekvideo beskryf.

Hy het ook ’n dokumentêr saam met Björk oor die raakpunte tussen natuur en musiek gemaak.

Minstens 20 spesies is al na hom genoem en hy spog met meer eregrade van Britse universiteite as enigiemand anders, asook talle pryse.

Toe hy verlede maand by Instagram aansluit, het hy binne vier uur ’n miljoen volgelinge gehad en daarmee die aktrise Jennifer Aniston se rekord verbeter.

David lei ’n eenvoudige lewe. Hy is trots daarop dat hy geen selfoon of e-pos­adres het nie. Pleks daarvan gebruik hy die posdiens en af en toe ’n rekenaar.

Hy woon in dieselfde huis wat hy al jare lank besit en met sy dogter, ’n oudonderwyseres, deel. Sy vrou, Jane, is in 1997 weens breinbloeding dood terwyl hy in Nieu-Seeland verfilm het. Hy het nie weer getrou nie.

Sy vrou is in 1997 oorlede. Foto: Gallo Images/Ala
Sy vrou is in 1997 oorlede. Foto: Gallo Images/Alamy

Sy seun, dr. Robert Attenborough, is ’n professor in biologiese antropologie aan die Universiteit van Cambridge.

David het ses jaar gelede ’n knieoperasie ondergaan, wat dit vir hom moontlik maak om sy werk voort te sit. Hy oefen nie.

“Ek het nog nooit geoefen nie.”

Hy eet nie vleis nie. “Ek het lank laas vleis geëet. Dit het net weggegaan – ek kan dit nie verduidelik nie. Dit was nie dat ek ’n opoffering of enigiets gemaak het nie. Ek het net dekades gelede opgehou om dit te eet.”

Miskien was dit die openbaring wat hy in die boek noem, dat 60% van die wêreld se soogdiere vir kos aangehou word en ons 50 miljard hoenders per jaar eet – waarvan die meeste soja gevoer word wat op ontboste land verbou word.

Die dokkie en boek is op hul wreedste wanneer hy skets wat teen die huidige tempo van ontwikkeling op iemand wag wat vandag gebore word. Maar hy voeg by: “Ek glo dinge is aan die verander, en dis jong mense wat op die oomblik die kragtigste is en hul stem laat hoor.”

Hy het net goeie dinge te sê oor die Sweedse aktivis Greta Thunberg, saam met wie hy verlede jaar tyd deurgebring het.

“Ek dink sy is absoluut merkwaardig, en sy is baie realisties oor die kwessies; sy is beskeie en die eerste een om te sê ons moet na die weten­skap luister – moenie na my luister nie, ek is geen wetenskaplike nie, maar dit is nietemin my toekoms.

“En sy sê dit met soveel krag en duidelikheid dat sy ’n uiters kragtige stem is, en daardie stem sal baie langer as myne hou en opklink, want sy is 75 jaar jonger.”

David is beskeie en skram weg van enige poging om sy nalatenskap te ontleed.

“Mense sal my vir die flieks onthou; maar wat die flieks moontlik maak, is die kamera en regisseurs en groot spanne. Ek het ’n wonderlike tyd gehad – ek kan nie glo hoe gelukkig ek was nie, en my opvolgers sal nie so gelukkig wees nie, want die goed sal bloot nie meer daar wees nie.”

Hy hoef nie hierdie werk te doen nie; hy kan maklik aftree, sê hy.

“Maar ek het dit gelukkig getref. Ek sou so skuldig gevoel het as ek die wêreld se probleme raakgesien het en besluit het om dit te ignoreer.”

Met so ’n lang loopbaan met soveel onvergeetlike oomblikke, wanneer was hy op sy gelukkigste?

“Om vir die eerste keer, in 1960, Afrika toe te gaan was onvergeetlik; en om na die Suid-Amerikaanse reënwoud te gaan, of om vir die eerste keer op ’n koraalrif te swem, of om ’n paradys­voël te sien pronk – dit alles was openbarings. Mense sê jy raak nie aan sulke dinge gewoond nie, maar jy raak wel. Daar is ’n varsheid wanneer jy vir die eerste keer na een van daardie plekke gaan.”

Is daar enigiets daar buite wat hy nog graag wil sien?

“O, baie dinge. Daar is ’n paar paradysvoëlspesies wat ek nog nie gesien het nie. Ek sal nie nou kan nie, want dit sou dae se stap deur ruigtes behels wat ek nie meer kan doen nie, maar ek wens ek het hulle gesien.”

Sy stem kry ’n ander klank; daar is poësie en hunkering.

“Daar is ’n nuut ontdekte spesie wat die afgelope paar jaar gevind is, en dis ’n voëlfamilie wat – op ’n lawwe, irrasionele manier – vol drama en opwinding en pragtige romanse is, en ek is net versot op hulle.

“Wanneer jy ouer raak, raak jy meer gelate. Ek is gelukkig om in my tuin na die lente te sit en kyk. Wanneer jy 94 is, is om in die tuin na die lente te sit en kyk baie lekker.”

© THE TELEGRAPH; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY, AAIFOTOSTOCK, CAMERA PRESS/GREATSTOCK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe