Hoekom ek die dokter gesmeek het om my arm af te sit

akkreditasie
Een oggend toe sy met haar hond gaan stap het, het sy in ’n fratsongeluk haar pols gebreek. Jare later het sy dokters om ’n amputasie gesmeek.
Kiera het dokters gesmeek om haar arm af te sit ná
Kiera het dokters gesmeek om haar arm af te sit ná ’n fratsongeluk. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

Die jong vrou van Chester, Brittanje, was nog ’n tiener toe sy een oggend saam met haar windhond gaan stap en die rustige uitstappie eensklaps ’n skokwending geneem het.  

Kiera Forsythe (23) se hond het skielik agter ’n eekhoring begin aanhardloop en sy het hard neergeslaan – met haar hand nog verstrengel in die plastiekhandvatsel van ’n intrekbare leiband. Sy het dadelik geweet haar pols is gebreek.

Dié fratsongeluk was egter net die begin van haar jare lange ontbering. Meer as ses jaar lank het  Kiera ontsettende pyn in haar linkerarm verduur.

Die gebreekte been het tot die toestand komplekse streekspynsindroom gelei. Dit is ’n seldsame neurologiese siekte wat langdurige pyn veroorsaak.  

Kiera het eindelik geen ander keuse gehad as om dokters te smeek om eerder haar arm te amputeer nie.

In Maart 2019 het sy haar linkerarm van die elmboog af ondertoe laat verwyder en vandag sê sy sy kan nie gelukkiger oor die besluit wees nie. 

Kiera, wat omgewingsbestuur en volhoubare sake bestudeer, vertel sy is hel toe en terug.

“Elke dag het dit gevoel of aanstekervloeistof by my are ingepomp en aan die brand gesteek word. Daarmee saam was die steekpyne ondraaglik. Selfs ’n vinger wat aan ’n ander vinger raak of die reën het die verskriklikste pyn veroorsaak.

“Eenvoudige take soos om soggens aan te trek of hande te was, het dikwels in trane geëindig.” 

Sy móés iets doen.

Kiera meen sy het erge pyn vir ses jaar verduur.
Kiera se hand voor die amputasie. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

Kiera onthou nie te veel van die ongeluk self nie. “Ek onthou ek het die eekhoring gesien, maar ná die val het ek my bewussyn verloor.” 

Toe sy bykom, kon sy wel self hulp ontbied. Aangesien haar hand deur die gat van die plastiekhandvastel gesteek het, kon sy teksboodskappe stuur.

Die dokter het haar hand en arm in gips gesit, maar toe dit eindelik verwyder word, was haar arm in erge pyn.

“Ek kon dit deels beweeg, maar wanneer ek daaraan gevat het, kon ek niks voel nie.”

Kiera vertel sy het haar arm selfs per ongeluk gebrand sonder om enigiets te voel. 

Haar arm het vir minstens 18 maande ná die ongeluk gevoelloos gebly, maar eendag het sy in haar bed wakker geword en kon sy die lakens oor haar voel. 

Sy het besef die gevoel in haar arm het wonderbaarlik teruggekeer. 

“Ek was in ekstase, want ek het daarna vir ’n jaar amper ’n normale arm gehad.” 

Kiera het in 2019 haar arm laat amputeer.
Kiera het in 2019 haar arm laat amputeer. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

“Ek kon aanhou sport doen en tae kwondo hervat. Met een sessie het ek ’n vuishou geblok en dadelik grond toe geval. Dit het soos steke in my arm opgeskiet en daarna amper soos naalde en spelde gevoel.” 

In Maart 2016 het sy rugmurgstimulator-chirurgie ondergaan, maar die erge pyn het onveranderd gebly. 

Kiera het vir ’n amputasie gevra. Sy was toe reeds 18, maar die dokters het geweier, want die weefsel was nog gesond. 

Die volgende vier jaar was vir Kiera ”hel”, maar sy het probeer sterk bly. 

“Daar is geen genesing vir komplekse streekspynsindroom nie en nie eens morfien het gehelp nie,” sê sy. 

“My slaappatroon was chaoties, want ek kon net sowat twee uur per nag inkry oor die pyn my wakker gehou het.”  

Sy was verplig om haar sport te laat vaar en kon skaars haar arm beweeg. Intussen het die arm boonop pers verkleur.

Sy is trots op haar arm.
Sy is trots op haar arm en droom daarvan om Brittanje by die Paralimpiese Spele in 2024 te verteenwoordig. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

“Die pyn het my baie laat huil, maar ek het myself nie een keer jammer gekry nie.”

In Maart 2019 het Kiera ’n hospitaal gevind wat bereid was om haar arm af te sit. Sy was so opgewonde dat sy selfs ’n partytjie gereël het om te vier dat haar arm sou “afkom”. 

“Ek het gehoor daar sou dalk net ’n 25% pynvermindering wees danksy die amputasie,” sê sy. 

“Maar dit was vir my goeie nuus. Ek het gehoop om net een uur meer slaap te kry, en dan sou dit die moeite werd wees. Voor die operasie het my gesin gehuil, maar ek was in die wolke. Ek het vol vertroue in die gange afgestap en kon nie wag nie.”  

Toe sy uit die operasie wakker word, het sy wonderbaarlik geen pyn gehad nie, nie eens weens die operasie soos verwag nie.

“Dit het sedertdien nie teruggekeer nie, en ek kan nie gelukkiger wees nie.” 

Kiera is vandag ’n motiveringspreker en ambassadeur vir gestremdheid, wat by plaaslike skole toesprake lewer. 

Sy is trots op haar “stompie” en droom daarvan om Brittanje in 2024 by die Paralimpiese Spele te verteenwoordig.

“Daar is negatiwiteit rondom gestremdheid en mense hou daarvan om jou te beperk voor jy bewys jy kan goed doen,” sê sy.

“Ek wil die stigma help breek. Ek steek nooit my arm weg nie en stel dit altyd as ‘stompie’ voor.  Vir my is dit net ’n arm. Dit verteenwoordig alles wat ek deurgemaak het."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees