Met haar eerste boek, Lean In, het sy vroue mekaar leer ondersteun. En met haar tweede het Sheryl Sandberg ’n padkaart aangebied vir ander mense wat dood en verlies moet verwerk. Die titel was Op­tion B, want opsie A, om by haar man te wees, was nie meer moontlik nie.

Dave Goldberg (47) is aan ’n hartaanval dood terwyl hulle in 2015 in Mexiko met vakansie was. Al was Sheryl bedroef, het sy geweet sy moes om hul twee kinders se onthalwe voortbeur. Met haar kenmerkende moedigheid het Facebook se hoofbedryfsbeampte toe besluit om die beste van opsie B te maak.

Haar tweede man, Dave Goldberg, is in 2015 aan ’n
Haar tweede man, Dave Goldberg, is in 2015 aan ’n hartaanval dood. Foto: Gallo Images/Getty Images
Haar tweede man, Dave Goldberg, is in 2015 aan ’n
Haar tweede man, Dave Goldberg, is in 2015 aan ’n hartaanval dood. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nou, vyf jaar later, gebruik Sheryl (50) haar nuwe romanse om vroue aan te moedig om hul eie lotsbestemming te bepaal.

Sy straal toe sy my tydens ons ontmoeting vroeër vanjaar van haar verlowing aan Tom Bernthal die vorige week vertel. Hy is die uitvoerende hoof van ’n konsultasiefirma en ’n voormalige televisievervaardiger.

“Toe ek en Tom verloof geraak het, het ons die naweek saam beplan,” vertel sy. Haar nuwe liefde, wat sy by ’n familie-­barmitswa ontmoet het, was ’n vriend van haar oorlede man se broer, Rob.

“Dit was vir my belangrik dat ons saam beplan hoe ons verloof sou raak. Ons het oor die ‘verras my; vra my die jawoord’-­model gepraat, maar dit is een van die grootste besluite wat jy ooit gaan neem.”

Sheryl skud haar kop.

“Hoekom verras mans in 2020 steeds vroue en wag vroue dat mans hulle vra om te trou en roer dit nie self aan nie? Ek voer soveel gesprekke met die wonderlikste jong vroue wat sê: ‘Ek gaan nie met my kêrel oor trou praat nie.’ ”

Sheryl slaan op die tafel. “Hoekom nie praat as jy dit wil hê nie?”

Sy vertel sy het vir haar swaer gesê sy stel in Tom, ’n pa van drie, belang.

“Rob was die onsigbare hand agter alles. Hy het met ons albei gepraat oor waarna ons op soek is en hy het gedink ons is goeie pasmaats en ons het baie gou ernstig geraak.

“Tom is nie iemand wat ek op ’n afspraak-app sou ontmoet nie; hy is iemand wat ek geken het – ons was al by dieselfde gesellighede; ek het van sy kinders geweet. Hy is soos niemand anders wat ek al ontmoet het nie. Hy is vrygewig en kan regtig in diepte oor sy gevoelens kommunikeer. Hy is een van die beste pa’s wat ek al gesien het,” sê Sheryl.

“Tom laat my lag. Hy het my opgebeur.”

Sy het besluit hy’s die een toe sy hom by ’n barmitswa met sy dogter sien dans het.

Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde
Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde gevind.

“Dit was wonderlik. Hy is die uitvoerende hoof van ’n maatskappy wat hy gestig het. Hy is geskei. En op die dae dat hy toesig oor sy kinders het, neem hy hulle skool toe en laai hulle drieuur die middag weer op. Vir ’n pa om so toegewyd te wees was vir my belangrik.”

Tog het sy geweet hul warrelwind­romanse, wat teen die middel van ver­lede jaar begin het, sou kritiek ontlok.

“Wanneer jy ’n sterfte het, laat die wê­reld jou nie toe om weer gelukkig te wees nie,” gaan sy voort.

“Ek onthou ek het met volwassenes gepraat wat as kind ’n ouer verloor het, en hulle het gesê: ‘Ek het skuldig gevoel dat ek oukei was.’ Ek het my eie kinders dit sien doen, en ek het gesê: ‘Pappa sou nie wou gehad het julle moes vir altyd huil nie.’ ”

Sy swaai haar skoonma lof toe. Dié het kort ná Sheryl se man se dood gesê: “ ‘Jy gaan weer trou en ek sal op jou troue dans.’ Dié toestemming was belangrik.”

Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde
Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde gevind.
Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde
Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde gevind.

Nes haar oorlede man is sy Joods. Sy was verbaas toe sy uitvind die Joodse routydperk vir ’n huweliksmaat is net 30 dae.

“Die rabbi’s wou hê mense moet met die lewe aangaan.”

Die res van die wêreld was nie so begrypend nie. Sy is aanlyn verguis toe sy bekendmaak sy gaan weer op romantiese afsprake uit. Sy het geweet sy is nie al een wat dit ervaar nie.

“Ek het die data. Vroue word veel feller veroordeel as hulle ná ’n sterfte weer begin uitgaan.”

Al is dit moeilik om onder soveel kritiek deur te loop, meen Sheryl sy het as suksesvolle vrou ’n plig om haar stem dik te maak.

Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde
Ná haar man se dood het sy by Tom Bernthal liefde gevind.

Sy het onlangs almal laat regop sit en luister toe sy aangekondig het sy verlaat die kantoor saans om halfses sodat sy saam met haar 15-jarige seun en 12-jarige dogter tuis kan aandete eet.

Kort daarna het vroue van Facebook se internetmededinger Yahoo! vir haar blomme gestuur met ’n briefie daarby: “Dankie; nou gaan ons ook huis toe om saans saam met ons kinders te eet.”

Al is meer as 4,2 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop, het Lean In, haar boek van 2013 oor hoe vroue verder in die werkmag kan vorder, heelwat kritiek ontlok.

Dit is veroordeel as ’n hand­leiding wat net ander bevoorregte wit vroue help en ook omdat dit daarop sinspeel dat vroue pleks daarvan om pa­triargale instellings te blameer self harder moet probeer – terwyl baie reeds so ver vooroor “lean in” dat hulle so te sê horisontaal is.

Michelle Obama het dit onvergeetlik gekritiseer met die woorde: “Daardie k** werk nie altyd nie.”

Maar al is dit waar dat Sheryl ’n skatryk vrou is – met ’n geraamde  waarde van sowat R30 miljard – het party van haar teorieë ’n snaar by vroue wêreldwyd aangeroer.

Op die vlug San Francisco toe het ek toevallig langs ’n jong Suid-­Afrikaanse vrou gesit wat na Silicon Valley op pad was om daar as die ­finansiële direkteur van ’n tegno­firma te begin werk. Ons het begin gesels, en sy het my gesmeek om ’n briefie aan Sheryl af te lewer.

Dit het gelui: “Dankie, van ’n anonieme bewonderaar wie se lewe jy ingrypend beïnvloed en gevorm het. Deur jou boek het jy my geleer om my hand te bly opsteek, en jou voorbeeld het my die moed en gevoel van eiewaarde gegee om dit te doen. Ek het my werk gekry terwyl ek swanger was, en my eerste gedagte was: ‘Reg, ek gaan hierdie werk ’n kishou gee, net soos Sheryl.’ ”

Hoe kon Sheryl die hoogste sport haal, terwyl soveel ander dit nie kon regkry nie?

Vir die eerste keer is sy effens ontwykend. Daar is ’n “mmm” en dan sê sy verleë: “Wel, ek skat ek was gelukkig.”

Komaan, maak ek beswaar; daarmee help jy glad nie ander vroue nie.

Sy lag. “Maar dit is ook waar. Ek wou altyd iets doen wat saak maak.”

Sheryl het by die Wêreldbank werk gekry nadat sy ekonomie aan Harvard studeer en in Indië aan gesondheidsprojekte soos opvoeding oor melaatsheid gaan werk het.

Nadat sy terug is Harvard toe vir sakestudie, het sy die bestuurshoof vir Larry Summers – Bill Clinton se adjunkminister van finansies en haar voormalige mentor uit haar universiteitsdae – geword. Daarna het sy vir Google gaan werk, waar sy sy aanlyn advertensie­bedryf gevestig het.  

Sy het in 2008 by Facebook aangesluit. Nadat ek by hul hoofkantoor in Kalifornië en ook in Londen tyd saam met haar deurgebring het, kan ek presies sien waarom sy floreer het.

In ’n wêreld van slimkoppe wat liefs in programmeringstaal kommunikeer, is sy met haar bonsende swart kapsel, statige houding en slim vleitaal ’n baken van warmte en empatie.

Oral op die uitgestrekte “kampus” in Menlo Park, ’n uur se ry van San Francisco af, is plakkate wat die 40 000 werk­nemers herinner: “Niks by Facebook is iemand anders se probleem nie.”

Ten spyte van ’n wins van R133 miljard per kwartaal is alles nie wel nie. Die maatskappy het van ’n engel in ’n duiwel verander. Eens het dit gespog dat dit die wêreld verbind.

Maar in die afgelope paar jaar is Facebook onder meer daarvan beskuldig dat dit toegelaat het dat skelm Russiese agente dit gebruik om te help om pres. Donald Trump verkies te kry.

Ander beskuldigings is dat dit ’n rommelhoop van onwettige inhoud bevat, ’n platform aan pedofiele verskaf en ons persoon­like data uitbuit. Hoe voel dit om onder sulke univer­sele kritiek deur te loop?

“Wat pynlik was midde-in die Facebookstorm,” antwoord Sheryl, “is die dinge waarmee ons ’n fout gemaak het en die dinge waarmee ons beter moet vaar – en op ’n manier bekommer ek my dat al die goeie dinge wat Facebook doen net verlore gaan. En ons is daarvoor verantwoordelik.

“Niemand was meer ontsteld oor Russiese inmenging by die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2016 as ons nie.”

In 2016 het sy voor die Amerikaanse senaat getuig
In 2016 het sy voor die Amerikaanse senaat getuig oor Facebook se rol in die uitkoms van die presidentsverkiesing. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar ’n vraag oor die teorie dat Trump danksy Facebook verkies is, betrap haar onkant. “Mmm. Ek wil dit nie beantwoord nie,” sê sy.

Toe ek haar pols, sê sy: “Natuurlik is ons verantwoordelik vir die databreuk, en ons aanvaar verantwoordelikheid.”

Terwyl ons die verkiesing bespreek, sê sy skielik: “Baie mense vra my hoekom ek hier bly.”

Hoekom bly sy? Sy het tog al meer as genoeg geld gemaak om te kan wegstap.

Sy gee my ’n sielvolle kyk. “Ek bly, want ek . . . is . . . so . . . passievol oor wat ons doen.” Sy bly ’n oomblik stil en praat stadiger. “Neem die Option B-groepe (die rougroepe wat sy ná haar man se dood help stig het).

“Hulle is almal op Facebook. Wanneer ek ’n slegte dag het – wanneer dit Dave se verjaardag is en dit was al vyf jaar, en selfs mense wat ek baie goed ken, sê: ‘Jy het dit seker al te bowe gekom’ – verstaan hulle. Ek glo in die mag van daardie gemeenskap.

“Daar is 2,8 miljard mense wat die diens gebruik. Daar sal altyd ’n paar mense wees wat kwaad doen, en ons werk is om hulle een voor te wees,” sê sy.

“In die 40 minute wat ons hier sit en praat, het iemand ’n bloedskenker op Facebook gevind, iemand het vir ’n liefdadigheidsorganisasie geld ingesamel en iemand het probeer kwaad doen. Met die skaal waarop ons werk, is daardie (laaste) een ’n groot ding.

“Daarom is dit ons werk om die kwaaddoener te vind voor iemand anders dit sien, en om dit te verwyder. Maar hulle sal altyd probeer.”

Maar doen Facebook genoeg?

Hy besit ook Instagram, die app vir foto’s deel, wat by die dood van Molly Russell betrek is.

Dié Britse tiener het haar eie lewe geneem nadat die algoritme haar in die rigting bly stuur het van grafiese plasings oor selfskending. Moet hulle nie meer doen om die kwesbares te beskerm nie?

“Ons moet, en ons doen dit. Ons was nog altyd proaktief daaroor om gemeenskapstandaarde te beskerm. Ons laat nie naaktheid toe nie. Ons het jou nog altyd verplig om jou geboortedatum in te tik – baie ander webtuistes doen dit nie. As jy die verkeerde geboortedatum intik en ons kom agter jy’s nog ’n kind, sal ons jou uitgooi.’’

Sy vra of ek al Messenger Kids gesien het, die platform en boodskap-app wat Facebook in 2017 ontwikkel het en deur kinders so jonk as ses gebruik word.

Sy sê dit bied “hope beskerming” en gee “ouers merkwaardige beheer”. Die meeste kenners en kindersielkundiges sou aanvoer sulke jong kinders moet glad nie aanlyn wees nie.

“Dis veronderstel om vir voortieners en tieners te wees. Ek weet van geen sesjariges wat dit gebruik nie,” sê sy.

Die naam maak dit nie duidelik vir ouers nie, en buitendien wys ’n onlangse verslag 53% van kinders het teen sewe jaar al ’n foon. Daarby word sosiale­mediawebtuistes soos Instagram ál gewilder onder meisies van sewe tot 16.

Hoeveel skermtyd laat sy haar eie kinders toe? Nog ’n “mmm” en ’n pouse.

“Ons het wel ’n perk op skermtyd, maar ek het dit nog nooit in die openbaar gedeel nie, want die kinders sal dalk nie daarvan hou nie. Ek is baie beskermend oor hul privaatheid.”

Sheryl sê sy sal na my toe terugkom wanneer sy met hulle gesels het, maar stuur later vir my ’n e-pos om te vra of ek sou omgee om dié vraag uit die stuk weg te laat.

Met dié dat elke ouer wat ek ken bekommerd is oor aanlyn tyd en die verslawende kenmerke wat by die produkte ingebou is, sê ek vir haar dit sal nie moontlik wees nie.

Sy kom terug met ’n nuwe antwoord: “Ons het streng perke op skermtyd in die week en min perke daarop oor die naweek.”

Kwel dit haar dat haar tienerdogter dalk obsessief deur geïdealiseerde beelde op Instagram blaai en dit ’n uitwerking op haar geestesgesondheid kan hê?

“Beslis; ek bekommer my dat ’n fiets hulle gaan tref op pad skool toe en dat hulle ’n vriend sal hê wat nie gaaf is nie. Ek bekommer my oor alles,” sê sy.

Ja, maar die spesifieke bekommernis wat ek geopper het, is weens die toedoen van die maatskappy waarvan sy die hoofbedryfsbeampte is. Facebook word beskuldig van die gebruik van algoritmes wat skadelike inhoud aan ontvanklike tieners en jonger kinders opdis.

Nog ’n “mmm” en ’n pouse. “Ek dink dat die druk op vroue en meisies om op ’n bepaalde manier op te tree ’n baie groot probleem is. Ons plaas nêrens swak dieetadvertensies nie; ons was nog altyd versigtig daarmee . . . en dis nie net in die sosiale media ’n probleem nie.”

Op die dag van ons onderhoud word Facebook daarvan beskuldig dat dit onregverdig min belasting betaal. Daar klink ook stemme op dat die maat­skappy ontbondel moet word, want sy grootte (dit besit ook WhatsApp en Instagram) gee dit saam met Google ’n mono­polie om geteikende advertensies op ons data te verkoop.

In die lig van al die teenkanting, kan sy werklik steeds glo Facebook is ’n positiewe mag?

Dié keer is daar geen huiwering nie. “Ja, ek glo dit wel. Punt. Ja. Maar nie altyd nie. Ek dink Facebook en die sosiale media en die internet doen ongelooflik baie goeie dinge. Baie skade is ook aangerig,  en dit is ons doelwit om die goeie dinge te laat groei en die skade te laat afneem.”

In hierdie stadium sê haar assistent ferm die verkeer is druk en Sheryl moet ’n vliegtuig haal. Maar Sheryl is nie klaar nie. “Ek is nou by die belangrikste deel van die onderhoud,” sê sy stralend. “Wetgewing op hierdie gebiede is belangrik; ons vra gedurig daarvoor.”

Oor belasting sê sy: “Ons betaal alles wat ons wetlik verplig is om te betaal.”

Vir ’n vrou wat besorg is oor haar openbare beeld en graag as ’n positiewe mag beskou wil word, moes die aanvalle op Facebook moeilik gewees het.

Asof sy my gedagtes lees, sê sy: “Dis moeilik, maar dié besluite is veronderstel om moeilik te wees vir Mark (Zuckerberg), en dis veronderstel om moeilik te wees vir my. Ek dink nie dit het ons baie lank geneem vandat ons die probleem gesien het tot ons dit verstaan en iets begin doen het om dit te probeer oplos nie.

By Mark Zuckerberg, die stigter van Facebook.
By Mark Zuckerberg, die stigter van Facebook.

“Ons doen byvoorbeeld nou gedurig gebeurlikheidsoefeninge. Soos: Maak asof jy ’n skurk is – wat sou jy nou doen? Ons belê miljarde dollars – en dis reg so – om dit te stuit.

“Ek voel ek veg om iets te beskerm en voort te sit wat ek weet baie goeie dinge vermag, veral vir vroue wat hul eie onderneming wil begin.”

Sy wys daarop dat die sosiale media ook ’n stem gee aan vroue wêreldwyd wat voorheen nie gevoel het hulle word gehoor nie.

“In die ou wêreld het net ’n baie klein getal mense ’n stem gehad. Maar nou sou ek as byvoorbeeld ’n hoër­skoolmeisie in Miami gehoor kon word.”

Of, stel ek voor, Malala Yousafzai, wat ’n pleidooi om onderrig vir meisies ge­lewer het nadat die Taliban haar geskiet het omdat sy in Pakistan skoolgegaan het, of Greta Thunberg, wat die Skool­staking vir die Klimaat begin het wat aanlyn gegroei het, of die duisende vroue wat aan die #MeToo-beweging deelgeneem het.

Vir hulle het die sosiale media werklik die wêreld help verander.

In ’n stadium was daar gerugte dat Sheryl self die politiek sou betree. Daar is gesê dat as Hillary Clinton sou gewen het Sheryl die minister van finansies sou geword het.

Is dit waar? “Nee, ek sou nooit, en ek wil ook nie,” sê sy.

Dis jammer. Die wêreld het meer magtige vroue nodig – en niks sal verander tot meer van ons na vore kom en ons stem laat hoor nie.

© Eleanor Mills / The Sunday Times Magazine / News Licensing
Kom neem deel aan die geprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.