Waar Helen Zille op die mat van haar Kaapstadse kantoor in die DA se federale hoof­kantoor sit, haar rug teen ’n groot glasvenster waarby die oggendson instroom, is haar gesig as’t ware ’n skoon doek. Sy het nie ’n titseltjie grimering aan nie.

Maar dié toedrag van sake gaan nie lank duur nie. Sy moet netnou ’n toespraak lewer – en haar persoonlike towerfee is hier om haar voorkoms blink te poets.

“Sonder Janine lyk ek soos die agterkant van ’n bus,” verduidelik Helen. Sy tik verbete op haar skootrekenaar terwyl die 44-jarige Janine Schouw haar kwassies en poeier op die kantoor se konferensietafel uitpak.

­Janine sorg dat Helen se grimering en hare perfek
­Janine sorg dat Helen se grimering en hare perfek is voor sy ’n toespraak ­lewer. Foto: Corrie Hansen

Die voormalige Wes-Kaapse premier se skielike terugkeer tot die politiek as nuutverkose voorsitter van die DA se federale raad het opspraak gewek. Maar mense gons ook oor hoe stylvol Helen deesdae lyk. So anders as voorheen . . .

En dít is die werk van Janine, haar persoonlike stilis.

“Janine is soos ’n dogter vir my; sy is wonderlik,” sê Helen terwyl sy by die konferensietafel gaan sit. “Janine, ek het jou skoene aan,” sê sy dan. Janine glimlag goedkeurend en begin haar grimeer.

Helen hou net op tik toe Janine haar aansê om haar oë toe te maak sodat sy oogskadu kan aanwend.

“Daardie drie sekondes wat ek moet ophou werk, is vir my ondraaglik,” brom Helen. Janine skud net haar kop.

“Ek het my oorbelle onthou,” sê Helen skielik en staan op om dit uit haar handsak te krap. Sy wys ingenome die swart oorbelle, maar Janine skud haar kop: “Nee, dit gaan nie werk nie,” skop sy vas.

Helen frons, maar dan pieng haar foon en haar aandag is ’n oomblik lank by die skerm. Janine haal vinnig haar eie goue oorbelle af en glip dit vir Helen aan.

“Dit is hoe dit altyd gaan,” sê Janine. “Ek moet buig en strek soos ’n gimnas, want sy hou net aan met werk.”

Vir die stylvolle Janine is dit niks nuuts om die vrou agter die troon te wees nie.

Sy het tot onlangs toe nog die voormalige DA-leier Mmusi Maimane se dagboek vir hom bestuur. Maar sedert 1 November werk sy weer amptelik vir Helen as haar uitvoerende bestuurder.

“Toe Helen vroeër vanjaar begin het met haar podsending, Tea with Helen, het sy gevra of ek nie haar hare en grimering daarvoor wil doen nie. Ek het gesê dit is reg so – op voorwaarde dat ek ’n blank canvas kry om mee te werk,” verduidelik sy met ’n ondeunde glimlag.

'Ek het vir haar gesê: ‘Eerstens gaan ons jou hare
'Ek het vir haar gesê: ‘Eerstens gaan ons jou hare in ’n bob sny.' vertel Janine. Foto: Corrie Hansen

“Ek het vir haar gesê: ‘Eerstens gaan ons jou hare in ’n bob sny. En dan gaan ons jou ’n kenmerkende voorkoms gee . . . ’n mooi langbroek met ’n bloes.’ Sy hou mos glad nie daarvan om rokke te dra nie!”

Helen het aanvanklik verklaar sy spits haar toe op politiek eerder as haar voorkoms. En dat sy verkies om haar hare langer te dra sodat sy dit net kan vassteek. Maar eindelik het sy bes gegee.

“Dit het vir my gevoel soos Kersfees,” sê Janine laggend oor haar “oorwinning”. En Helen se nuwe, moderne haarsnit, met ligte sonstrepies, het die komplimente laat instroom.

Sy het vroeër nooit veel tyd gehad om aan haar klerekas of voorkoms te wy nie, en in 2008 het die Sunday Times-­rubriekskrywer Gwen Gill haar selfs aangewys as een van die swaks geklede vroue van die jaar. Maar nadat Janine haar onder hande geneem het, is daardie dae verby.

Janine was van kleins af versot op mode en skoonheid.

“Ek het as meisie graag met my ma of my tannies se hare gespeel. En as kind het ek mense dop­gehou om te sien hoe hulle optree en aantrek,” vertel sy.

Ná matriek aan die Sekondêre Skool Sarepta in Kuilsrivier het Janine haar­stilering en grimeerkuns aan die London Hair Academy in Kaapstad studeer. Sy het as ’n haarstilis by ’n paar haarsalonne gewerk voor sy in 2003 haar eie tuissalon begin het.

Sy het ook ’n kursus in internasionale diplomasie en protokol by The School of Etiquette in Sandton voltooi en later ’n aanlyn kortkursus in projek­bestuur deur die Universiteit van Kaapstad.

In 2005 – terwyl haar projekbestuurderman, Raynard, in die buiteland was – het hul gesinshuis met haar salon in Kuilsrivier afgebrand. Janine en hul seuntjie, Groban (toe 3), het net betyds na buite gevlug.

Janine het nie kans gesien om weer van voor af te begin met haar salon nie. Sy het toe haarstilering en grimering vir troues en mode­parades gedoen.

In 2010 het ’n vriendin, ’n naeltegnikus, haar een middag aan ’n nuwe kliënt voorgestel – Donnae Strydom, Helen Zille se sekretaresse.

“Donnae het my kontakbesonderhede geneem en ’n paar dae later gebel om te vra of ek nie asseblief met Helen se grimering kan help vir die parlementsopening nie.”

Helen was in daardie stadium DA-leier en premier van die Wes-Kaap. Janine was stom­geslaan. “Ek het teruggebel om seker te maak dit was nie ’n grap nie.”

Toe sy op die dag van die parlementsopening effens senuagtig met haar reusegrimeertas by die premierswoning, Leeuwenhof, opdaag, moes Janine toe sommer ook met Helen se haarstilering uithelp.

“Sy het vir my gesê sy voel soos ’n koek,” vertel Janine laggend. “Ek het haar hare in ’n elfiestyl stileer, en sy was mal daaroor.”

Helen het daarna een van Janine se gereelde kliënte geword.

'Janine is soos ’n dogter vir my; sy is wonderlik,
'Janine is soos ’n dogter vir my; sy is wonderlik,' sê Helen. Foto: Corrie Hansen

Janine het in 2012 amptelik by die DA aangesluit en as assistent saam met Helen se destydse politieke assistent, Shaun Moffitt, gewerk.

“Toe het ek steeds voortgegaan om in my privaat hoedanigheid Helen te stileer,” vertel sy.

Toe Mmusi in 2015 partyleier word en by Helen oorneem, is Janine as sy programkoördineerder aangestel. Maar hoewel dit nie deel van haar posbeskrywing was nie, het sy nie geskroom om vir hom ook ’n paar stylwenke te gee nie.

“Ek sou dan sommer vir hom sê: ‘As jy vandag in die huis (parlement) is, dra asseblief dit en dit.’ Dan sal hy vir my vra: ‘Hoekom?’ Dit is maar net hoe hy is,” lag Janine.

Soms het sy stilletjies met die lyf­wagte gereël om sekere pakke klere by Mmusi se vrou, Natalie, te kry sodat sy dit in sy kantoor kan hang, gereed vir enige formele geleentheid.

“En sommer ’n paar van sy dasse. Later het hy darem gewoond geraak aan my raad.”

En as sy hom in die parlement sien krom sit, het sy vinnig ’n streng Whats-App gestuur: “Leier, sit asseblief regop; jy kreukel jou hemp.”

“Ek is baie ingestel op detail en hou daarvan om georganiseer te wees,” erken Janine, wat die meeste oggende al sesuur op kantoor is.

Sy doen ook die afgelope paar jaar Helen se klere-­inkopies vir haar. En dán duur die stylstryd voort.

“My grootste gesukkel is om Helen te oortuig om hoëhakskoene te dra,” sê sy effens verontwaardig.

“Sy verkies plat skoene en wil nie eens iets met ’n wighak dra nie. Sy stry altyd met my. Sy sal soms vir my sê sy het die hakskoene vergeet, maar dan weet ek sy het nie regtig nie. Of dan sal ek ’n ekstra paar byderhand hê, want ons dra dieselfde grootte.”

Soms dra Helen Janine se hoë­hakskoene. Foto: Corr
Soms dra Helen Janine se hoë­hakskoene. Foto: Corrie Hansen

Juis soos die paar wat vandag aan Helen se voete pryk. Janine bly ’n oomblik stil en dan verklap sy haar geheim.

“Jy moet net altyd een stap voor haar wees . . .”

Janine se skoonheids- en stylwenke
  • Bestee geld aan haarkleur. “As jy nie kan bekostig om jou hare by ’n salon te laat kleur nie, koop dan ’n boksie haarkleur by ’n apteek of kruidenierswikel. Dit is steeds die moeite werd.” As jy liewer jou grys hare wil laat uitgroei, kan jy steeds mooi lyk, mits jy dit netjies hou, sê sy.
  • “Verwyder altyd jou grimering voor jy gaan slaap,” sê Janine. Gebruik reuklose akwaroom om die swaarste grimering te verwyder. Gebruik daarna jou grimering-­verwyderaar. “Dit vergemaklik en versag die skoonmaakproses.”
  • Bevog jou gesig met ’n goeie vogroom of akwaroom. “Dit maak ’n groot verskil,” sê ­Janine. “Net omdat jy nie kan sien hoe jou gesig verouder nie, beteken dit nie dit gebeur nie.”
  • Gebruik ’n grimeringsproei om jou grime­ring langer deur die dag te laat hou.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.