Selfs die motreëntjie wat op hierdie koel, bewolkte Vrydag oor Vanderbijlpark neersif, kan nie die opgewonde stemming by die Hoërskool Driehoek se saalbyeenkoms demp nie. Ek leef vir dae soos hierdie, dink Hein Knoetze (59) waar hy klokslag om halfagt voor in die saal staan en na sý leerders kyk.

Nes elke Vrydag is hulle informeel in denimbroeke, tekkies en wit-geel-en-pers T-hemde geklee. Ander is in sportdrag, want vanmiddag is dit die jaarlikse interskole-atletiekkragmeting wat op die velde van Driehoek sowel as ’n skool in die buurstad Potchefstroom sal plaasvind.

Daar wag ’n groot jaar op hulle, dink hy. Sy laaste matrieks . . .

Vir Hein, die afgelope dekade al skoolhoof van Driehoek, is vandag se sport­byeenkoms boonop ’n spesiale mylpaal: Dit sal die laaste een van sy loopbaan wees. Oor ses weke tree hy af.

Hy weet hy gaan die kinders en onderwysers mis wat so deel van sy lewe is.

Maar vir eers geniet hy die energie van die kinders wat die saal hier op die grondverdieping vul. Dan kyk hy op na waar vanjaar se nuwe matriekklas sit – hoër as die kinders van die laer grade, in ’n galery wat met ’n loopbrug aan die eerste verdieping van die klaskamer­blokke verbind is. Daar wag ’n groot jaar op hulle, dink hy. Sy laaste matrieks . . .

Dis Monica Dirks, die Engelsonderwyseres, se beurt om gebed en Skriflesing te doen, en die kinders “sjuut!-sjuut!” dramaties toe sy vorentoe stap.

Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Monica het aanvanklik ’n boodskap oor die waarde van vriendskap voorberei.

Maar vroeg vanoggend het sy skielik die behoefte gekry om oor waagmoed te praat. En sy blaai na Josua 1: 9 en lees: Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Dan vertolk sy die teks vir die rye jong gesigte wat stip na haar kyk. “Daar is niks om voor bang te wees nie. Die enigste ding wat ons as mense moet vrees, is vrees self.”

Almal staan op en sing die skoollied uit volle bors en skree dan saam die sportkreet wat Hein self vir hulle geleer het.

“Sjoe,” dink hy, “dit was nou werklik mooi.”

Dan begin die kinders uit die saal stroom. Die matrieks beweeg vanuit die galery na die loopbrug; die laer grade by die deure op die grondvlak uit. Nes elke  Maandag- en Vrydagoggend.

Wat hulle nog nie weet nie, is dat hierdie Vrydagoggend, 1 Februarie, binne oomblikke vir altyd in hul geheue ingebrand sal word – en dat vier van hul skoolmaats in die tragiese gebeure sal sterf en meer as 20 beseer sal word.

Kayla van Rensburg (18) en haar vriendin loop al geselsend by die galery uit en oor die loopbrug nes hulle elke skooldag verskeie kere doen. Dis ’n tawwe jaar wat voorlê; hulle moet al die wiskundewerk vir die rekordeksamen binne die eerste ses maande van die jaar afhandel.

Minute voor hulle het ’n groot groep matrieks by die galery uitgeglip om die gedrang in die gange te ontduik, want hul tasse is aan die ander kant van die skoolgebou.

Die twee meisies is amper oor die loopbrug toe Kayla deur haar tekkies voel hoe die beton begin bewe. Sy kyk na haar vriendin en sien die skrik in haar oë. Dan gee die wêreld onder hul voete pad . . .

Kayla se volgende gewaarwording is dat haar wind uit is.

Dis eers toe sy des­peraat lug in haar longe insuig dat sy die geweldige pyn in haar rug voel. Sy raak bewus van puin en stof. Dan hoor sy die gille – om haar én onder haar. ’n Breukdeel van ’n oomblik daarna sien sy twee skokkende beelde: haar vriendin se geskokte gesig langs haar en ’n seun wie se onderlyf onder betonbrokstukke vas­gepen is.

Kayla vlieg van die puin af op en hardloop ’n ent weg voor sy die moed skep om haar selfoon met bewende hande uit te haal en haar pa te bel.

Hy vra: Wat gaan aan; wat het gebeur? Maar deur haar snikke kan sy hom nie antwoord nie. Sy weet nog self nie.

“Pappa, pappa moet skool toe kom,’’ is al wat sy kan uitkry.

Vanoggend stap Dewald Dirks (17), ’n leerlingraadslid, nie soos die ander matrieks oor die loopbrug nie. Hy stap met die trap aan die binnekant van die saal af en by die grondverdieping uit om die skoolvlag in die kantoor te gaan bêre.

In die deur van die kantoor kyk hy oor sy skouer en verstar.

Voor sy oë stort ’n groot deel van die loopbrug ineen terwyl van die matrieks daaroor stap en ander kinders onderdeur beweeg. Die slag is harder as enigiets wat hy al gehoor het. Met suisende ore hardloop hy die kantoor binne en skree: “Kry ’n ambulans, nóú!”

Dan is hy buite by die puin en plaas hy sy skoolbaadjie onder die kop van ’n vasgekeerde seun. Van onder die puin en stof hoor hy die hulpkrete opklink.

Hein is in sy kantoor toe hy die harde knalgeluid hoor. Dan hoor hy die ver­skriklikste geluid van sy lewe: die angsgille van sý kinders.

Juffrou, asseblief, haal hierdie ding van ons af. Dit maak ongelooflik seer

In dieselfde oomblik kyk Monica, die onnie wat vroeër die Skriflesing behartig het, by haar klaskamer uit en sien die vasgekeerde kinders.

Sy hardloop soontoe en hurk by die kinders.

“Juffrou, asseblief, haal hierdie ding van ons af. Dit maak ongelooflik seer,” fluister een.

Dan is Hein ook daar en hy en van die ander kinders probeer om die betonblok op te lig terwyl Monica troos: “Ons probeer, my kind, ons probeer. Wees rustig, alles gaan oukei wees.”

Maar die beton is swaar, en terwyl hulle desperaat spook en beur, begin van die stemme stil raak.

Hein besef hy moet nou leiding gee in die grootste krisis van sy lang onderwysloopbaan. Hy deel blitsig opdragte uit aan die ander onderwysers. Jy en jy, bel om hulp. En julle, kry die kinders van die terrein af; hul ouers moet hulle dadelik kom haal.

Skuins ná agt op die Vrydag­oggend hoor Hendrik Smal, voorsitter van Afriforum Vanderbijlpark se veiligheidskomitee, die noodkreet oor sy tweerigtingradio: ­ongeluk by die skool; hulp dringend ­nodig.

Terwyl hy skool toe jaag, ontbied hy nog hulp. Binne minute is hy en nog 13 van sy spanlede daar. Wat hulle begroet, is ’n chaos.

Kinders en onderwysers hardloop rond. Almal skree.

Van sy spanlede begin leerders en onderwysers van die puin wegkeer. Ander bring domkragte nader, van die soort waarmee motors opgelig word.

Van die seuns ruk ’n heiningpaal by die netbalbaan uit om as hefboom te ­gebruik. Hulle begin werk om die stukke beton op te lig.

Dié gaping is gelaat waar die betonblok was. Teen
Dié gaping is gelaat waar die betonblok was. Teen druktyd was vier skoolleerders oorlede en is meer as 20 vir hul ern­stige beserings in hospitale in die omgewing behandel.
Dis waar die beton afgebreek het. Staal­pilare is
Dis waar die beton afgebreek het. Staal­pilare is daarna gebruik om die brug te stut.
Personeellede en ander mense het die stuk beton me
Personeellede en ander mense het die stuk beton met ’n domkrag probeer oplig.
Van hier het die stuk beton geval en h ier het dit
Van hier het die stuk beton geval en h ier het dit bo-op leerders geland.
Hierdie foto is van die ander kant geneem en wys h
Hierdie foto is van die ander kant geneem en wys hoe die betonblok in stukke gebreek het.

By die ingang na die skool begin verwarde en ontstelde ouers opdaag. Hulle word verhoed om die skool­terrein binne te ry of in die straat voor die skool te parkeer. Dit moet vir die noodvoertuie oopgehou word.

Dit reën steeds saggies. Hendrik werk koorsagtig, soos in ’n droom. Tyd vir asemskep en rug reguit maak is daar nie. Hy weet skaars wat hy doen, hoor bevele uit sy eie mond kom, reageer outomaties wanneer ander skree om dit of dat te doen.

’n Kind word onder die puin uitgehaal, dan nog een en nog een . . . Party beweeg nie.

Rizaan Coetzee (15), ’n gr. 8-leerder, staan op die tweede verdieping van een van die klaskamerblokke toe sy sien hoe die brug val en besef daar is kinders vasgekeer. Dan bel sy haar ma, Debbie (46), ’n administratiewe beampte by Herza-afslaers buite die dorp.

“Mamma, mamma moet my en Johan kom haal. Hier’s chaos by die skool. Die brug het geval. Daar’s kinders beseer. Daar’s kinders dood.”

Johan (15), ook in gr. 8, is Rizaan se stiefbroer in dieselfde skool.

Debbie spring in haar wit Ford EcoSport-motor en trap die petrol. By die Vaal Mall-kruising word die lig vir haar groen; net toe ’n ander motor daar na bewering regs draai.

Debbie Coetzee, ’n ma van een van die leerders, wa
Debbie Coetzee, ’n ma van een van die leerders, was in ’n motor­ongeluk betrokke nadat sy die nuus ontvang en skool toe gejaag het.

Die twee voertuie bots met ’n geweldige slag en Debbie se Ford slaan om. Sy word uit die motor geslinger en doen ernstige kopbeserings op.

By die skool wag Rizaan vergeefs op haar ma. Later bel haar ma se werk. Haar ma was in ’n ongeluk; iemand anders kom haar en Johan haal.

Maar haar ouer suster, Anri, se vriend is eerste by die skool en Rizaan ry saam met hom. By die winkelsentrum sien hulle die wrak van haar ma se kar en sy bars in trane uit.

Dis skuins ná negeuur, Vrydagoggend.

Eers drie dae later, op die Maandag kort voor ons druktyd, word Debbie in die Mediclinic Emfuleni uit haar geïnduseerde koma gebring.

Sy herken haar familie en reageer op haar man, Kruger (46), se vrae, maar die omvang van haar beserings word nog ­bepaal.

Dis omstreeks halftien toe drie helikopters die een ná die ander op die skool­terrein land. David Stanton, ’n senior paramedikus van Netcare 911, spring uit met sy mediese tas en hardloop na waar hy nou ook brandweermanne in die puin sien werk.

Sy hart ruk toe hy drie hopies onder komberse sien lê. Hy weet dadelik wat dit beteken.

Hy ignoreer doelbewus die emosionele onderwysers en ouers wat om hom rondmaal. Hy fokus op die beseerde kinders; beweeg doelgerig tussen hulle.

Paramedici het gespook om die beseerdes te red ter
Paramedici het gespook om die beseerdes te red terwyl hartgebroke ouers en kinders mekaar omhels het.
Paramedici het gespook om die beseerdes te red ter
Paramedici het gespook om die beseerdes te red terwyl hartgebroke ouers en kinders mekaar omhels het.

Dié met die ergste beserings moet eerste na hospitale toe; die ander later. Dis besluite wat in sekondes geneem moet word, en ’n fout kan ’n jong lewe kos. Binne twee en ’n half uur is al die beseerdes na hospitale afgevoer. Net die drie lewelose liggame is nog op die toneel.

Donovan Olckers (50), ’n motorverkoopsman, sit agter sy lessenaar toe sy selfoon lui. Dis sy vrou, Shar­lene (49).

“Donovan, jy moet by die skool kom. Vincent sê die dak van die saal of ’n brug het ineengestort. Hy klink erg geruk.”

Vincent (13) is die jongste van hul kinders en ’n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Driehoek. Donovon se middelkind, Roydon (17), is daar in matriek.

Terwyl hy skool toe jaag, probeer hy sy angs onderdruk: “God het nog altyd na ons gesin omgesien . . . Hy sal nou ook.”

By die skool is tientalle motors, ambulanse en polisievoertuie.

Donovan hardloop na binne en skree: “Waar is Vincent? Waar is Roydon?”

Eers minute later lei iemand hom na die huilende Vincent: “Pappa, ek weet nie waar Roydon is nie,” hoor hy van sy jongste.

Donovan besef hy moet die getraumatiseerde kind wegkry. Hy neem hom huis toe en jaag dan weer terug. Hardloop weer die terrein in; skree weer Roydon se naam.

Niks.

Dan lui sy foon weer. Dis Sharlene. Sy sê aan hom hy moet ’n vriend bel. Die vriend is ’n polisiebeampte.

Kort daarna kom sy polisievriend aangestap. “Ek is jammer, Donovan. Roydon is dood . . .”

Donovan wil op sy vriend skree dis g’n tyd vir grappies nie. Maar in sy hart weet hy dis nie ’n grap nie.

Dan word hy na die beweginglose hopies geneem. Hy herken sy atleetseun se drafskoene wat onder die kombers uitsteek. Omstanders kan net magteloos toekyk hoe Donovan met sy vuiste teen die mure slaan terwyl hy skree: “Nee, nee, nee!”

Donovan Olckers (50 ), wie se seun Roydon (17) op
Donovan Olckers (50 ), wie se seun Roydon (17) op die toneel dood verklaar is, het Vrydag oor sy verlies gerou, maar ook mense aangeraai om na die Here te draai.
Donovan Olckers (50 ), wie se seun Roydon (17) op
Donovan Olckers (50 ), wie se seun Roydon (17) op die toneel dood verklaar is, het Vrydag oor sy verlies gerou, maar ook mense aangeraai om na die Here te draai.

Shani Botha (17), ’n gr. 11-leerder, was in die skool op die grondvlak sowat 2 m van die brug toe dit val.

“As ek ’n paar treë gegee het, was ek daar. Dis alles vir my ’n groot blur. Ek het dit voor my sien gebeur. Daar was ’n kraakgeluid en ek het vasgesteek, want ek het gedink dis donderweer of iets, en toe val dit,” vertel sy ná die ongeluk.

“Daar was ’n halwe sekonde waarin als stil was, toe begin mense skree. Daar was stof op my en daar was ’n seuntjie reg voor my; sy kop het begin bloei. Hy het na my opgekyk en iets gesê, maar ek kan nie onthou wat dit was nie. Jy kon hoor hoe die kinders besig is om seer te kry.

“Ek het dadelik my sussie Cindy (14) gaan soek; sy was gelukkig veilig. Ek het nie geweet wat om te doen nie; ek het begin ruk en huil.’’

Toe kry sy haar vriend Estian van Rooyen, ’n matrikulant. Al woorde wat hy kon uitkry, was: “Roydon is dood.”

Cheverné Duvenhage is kritiek beseer tydens die vo
Cheverné Duvenhage is kritiek beseer tydens die voorval.

Dis ’n warboel by Mediclinic Emfuleni en ander hospitale in die Vereeniging-omgewing. Binne minute nadat Netcare 911 hulle van die ramp in kennis gestel het, is bykomende verpleegpersoneel en dokters ontbied en niekritieke operasies uitgestel. Alles om soveel beseerdes moontlik te kan opneem en help, verduidelik Wim Segotta, hospitaalbestuurder van Mediclinic Emfuleni, later.

Van so vroeg as negeuur is beseerdes ingebring: sommige deur ambulanse; ander deur hul ouers.

Dit word elfuur, byna drie uur nadat die loopbrug geval het.

By die skool daag ál meer mense op terwyl verkeersbeamptes spook om verkeer aan die beweeg te hou. In Ackermanstraat, waar die skool geleë is, staan bekommerde ouers tussen hordes geparkeerde motors en wag. 

Voor die skoolsaal staan ’n klein groepie mense en troos mekaar. Een vrou bid hardop: “Here, maak ons kalm en rustig. Gee vir ons die nodige krag om hierdeur te kom. Ek bid vir elke ouer; ek bid vir elke kind.”

Op die agtergrond dreun hys­krane wat steeds stukke beton verskuif. Metaalstutte word met klapgeluide onder die oorblywende dele van die brug ingekap.

Sigbaar getraumatiseerde kinders stap die skoolsaal in om hul tasse te kry wat die oggend net so agtergelaat is toe die loopbrug geval het en stap dan saam met hul ouers weg.

Binne die saal skarrel onderwysers om die tasse te identifiseer wat nie gehaal is nie. Hulle lees die name van die boeke in die tasse af en skryf dit neer. Water en koeldrank word uitgedeel waar mense mekaar in klein groepies vertroos.

Philip Nothnagel (71), ’n plaaslike wyksraadslid, is reeds van negeuur hier.

“Dis ’n baie hartseer storie; hulle het nog nie eens al die ouers opgespoor nie,” sê hy.

Hy vee ’n traan agter sy bril weg. “Almal in die gemeenskap is hier om te help.”

Omstreeks halftwaalf spreek Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, die media toe. Langs hom staar Hein, die skoolhoof, met nat oë voor hom uit.

“Dis ’n baie hartseer dag in die onderwyssektor,” sê Lesufi.

“Ons het nooit verwag dat hierdie soort ramp ons sou tref nie. Dis vir die skoolpersoneel pynvol om ouers in kennis te stel dat iemand wat vanoggend nog vrolik by die skool op­gedaag het nou dood is.

“Dit breek my hart om daardie kinders se lyke te sien wat steeds daar lê,’’ sê hy.

Hein kan die trane nie meer keer nie.

By ’n hopie skoolbaadjies wat vergete by die ongelukstoneel lê, staan ’n man en vrou – pastore wat na die skool gekom het om hier te bid. Die vrou het self twee kinders in die skool, vertel sy. In gr. 9 en 11. Genadiglik ongedeerd.

Hy het hom die Vrydag na die toneel gehaas, sê ds. Hannes Nagel, wat ’n hane­tree van die skool woon, ­later.

“Kinders en ouers het ­almal gehuil en geskree – dit was on­gelooflik emosioneel, en baie trau­maties.”

WAARSKUWING: VIDEO MAG SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL

Hy het onmiddellik met trauma-­berading begin.

“In so ’n oomblik dink jy nie aan jouself of die uitwerking van die ding op jouself nie – jy weet al hierdie kinders het ’n verskriklike ding beleef; ­almal het ’n skouer nodig.”

Altesaam 17 sielkundiges, agt maat­skaplike werkers en tientalle dominees het saam met die kinders en personeel gewerk en meer as 200 leerders het byna dadelik berading ontvang.

Ons kinders is stukkend, maar dit strek wyer as net die kinders – die hele dorp huil.

“Ek glo met my hele lewe in die krag van gebed – maar ons moet hierdie kinders nou eers debrief,” verduidelik ­Hannes.

“Die uitwerking hiervan is ondenkbaar: Ons kinders is desperaat. Die seuns wat daardie betonblok probeer lig het, sê vir my hulle voel skuldig; hulle wil weet hoekom hulle leef en nie hul maats nie. Al wat ek kan doen, is om hulle toe te laat om te praat.

“Ons kinders is stukkend, maar dit strek wyer as net die kinders – die hele dorp huil.

“Die gemeenskap is nou almal saam in die kerk; almal ken mekaar van sien. Ons almal huil.”

Een van die talle beroepsmense wat berading gratis aanbied, is Dalene Vermeulen-Nel, ’n lewensafrigter verbonde aan die organisasie School of Life, wat met kinders in die Vaaldriehoek werk.

“Die situasie is onverwoordbaar. Hier is ’n groot klomp seer,” vertel sy.

Die voorval raak nie net die plaaslike gemeenskap nie, maar mense oor die land heen.

“Baie ouers wat Maandag ’n kind by ’n skool gaan aflaai, sal aan Driehoek dink en wonder of hul kind vandag veilig gaan wees. Mense beskou ’n skool as ’n veilige plek. Kinders is mos nie veronderstel om by die skool te sterf nie,” sê Dalene.

“Niemand het geweet daar skort iets met daardie loopbrug nie – ons sou mos nie die lewens van honderde kinders en personeellede in gevaar stel deur die brug nie te laat regmaak nie,’’ vertel Hein en voeg by: “Ek het self daagliks onderdeur daardie brug geloop.”

Die skoolgebou is 42 jaar oud, maar Hein sê gereelde instandhoudingswerk word gedoen.

Hein Knoetze (regs), hoof van die Hoërskool Drieho
Hein Knoetze (regs), hoof van die Hoërskool Driehoek, op ’n mediakonferensie ná die ongeluk.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê die Hoërskool Driehoek se strukturele in­tegriteit is die staat se verantwoordelikheid.

Kort voor ons druktyd bevestig Steve Mabona, woordvoerder vir die departement van onderwys, ’n strukturele ondersoek na die skoolgeboue is ingestel.

“Die ondersoek is om te kyk watter gedeeltes van die skool tans toeganklik is en watter gedeeltes op ’n veilige manier deur die skool gebruik kan word.”

 ’n Ondersoek is deur die departement van onderwys
’n Ondersoek is deur die departement van onderwys begin na beweerde strukturele probleme wat tot die voorval op 1 Februarie by ’n oorgangsbrug op die terrein van die Hoërskool Driehoek gelei het.
 ’n Ondersoek is deur die departement van onderwys
’n Ondersoek is deur die departement van onderwys begin na beweerde strukturele probleme wat tot die voorval op 1 Februarie by ’n oorgangsbrug op die terrein van die Hoërskool Driehoek gelei het.

Dit is Maandagoggend, 4 Februarie. Buite die skool drom hordes hartgebroke mense saam om medelye te toon, en by ’n lapa op die skoolterrein ontvang groepies kinders berading.

Hier vertel Shani moedig: “Ná die ongeluk wil ek soveel goed moontlik gaan doen; ek wil ’n tatoe kry, ek wil skydive, ek wil soveel dinge doen as wat ek kan, want ek besef ek het ’n tweede kans ­gekry.’’

Sedert die voorval het talle mense onder meer blomme, kerse en briefies by die heining en skoolhek gelos om hul medelye te toon en ook die beseerdes sterkte toe te wens.
Sedert die voorval het talle mense onder meer blom
Sedert die voorval het talle mense onder meer blomme, kerse en briefies by die heining en skoolhek gelos om hul medelye te toon en ook die beseerdes sterkte toe te wens.

Al teen die heining van die skool spreek honderde bosse blomme in plastiek toegedraai van die rou en medelye van ’n ­gemeenskap.

Die blomme, ballonne en kerse is ook ter nagedagtenis van die drie kinders wat onder die beton gesterf het: Roydon Olckers (17) in gr. 12, Jandré Steyn (13) in gr. 8 en Marli Currie (13) in gr. 8.

Eenkant hang die rugbytruie van die skool se o.16-span aan die heining – hier gelaat ter ere van hul gr. 10-spanmaat Marnus Nagel (16) wat die vorige ­oggend, Sondag, in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Op velle wit papier lui groot swart ­letters: “Hier is waar engele voortleef.’’ 

Die o.16-rugbyspan het boodskappe op rugbytruie geskryf ter nagedagtenis aan hul vriend en spanmaat Marnus Nagel wat die Sondagoggend vroeg oor­lede is.
Die o.16-rugbyspan het boodskappe op rugbytruie geskryf ter nagedagtenis aan hul vriend en spanmaat Marnus Nagel wat die Sondagoggend vroeg oor­lede is.
Teen Maandagoggend het boodskappe op die skool se heining gelui dat dit nou ’n plek is waar engele voortleef. Wit lakens is ook opgehang waarop mense boodskappe kan neerpen.
Roydon Olckers. Foto: Facebook.
Marli Currie.
Jandré Steyn.