Dit is ’n moeilike dag vir die hoof van die Hoërskool Driehoek hier in Vanderbijlpark; ’n onmoontlik moeilike dag soos elke dag die afgelope maand. Dis ’n séér dag. 

In sy kop herleef Hein Knoetze (59) die verskriklike gebeure van 1 Februarie oor en oor; soos ’n skrikwekkende rillerfliek met ’n eindelose speelsiklus draai dit deur sy gemoed. 

Hier by die hoërskool waar hy al 10 jaar hoof is, is ’n gat in die loopbrug tussen die saal en gang wat na die ontvangslokaal en klaskamers lei. 

Die stutpale onder die oorblywende deel van die brug is ’n gapende wond wat herinner aan die ramp wat ses dae tevore vier kinders se lewe geneem en meer as 20 beseer het. 

Waar Hein nou meters van die toneel staan, is dit asof hy weer die slag hoor van die groot stuk beton wat uit die loopbrug losruk en val – en ook die vreesbevange krete van die beseerde kinders wat daarna in die betonrommel vasgekeer is. 

In sy kop herleef Hein Knoetze die verskriklike ge
In sy kop herleef Hein Knoetze die verskriklike gebeure van 1 Februarie oor en oor. Foto: Papi Morake

Die vreesaanjaende geluide eggo in sy gedagtes. Dit bly vir hom ondenkbaar, sê Hein en skud sy kop.

“Dis die ergste soort ramp, een wat sommerso sonder rede verwoesting kom saai het.” 

Hy maak nie oogkontak terwyl hy praat nie. “Ek voel afgestomp,” sê hy.

“Nee, dis nie die regte woord nie. Ek voel numb. Stukkend. My hart bloei. Ek wens ek kon dié ding gekeer het. Die Here ken my hart; ek wens ek kon dit keer.” 

Vandag was ’n besonder moeilike dag. Kort voor hy saam met Huisgenoot hier deur die swaar houtdeure van die skool se ontvangsgebied na dit wat oor is van die brug gestap het, was Hein by die begrafnis van die 13-jarige Jandré Steyn.

“Dit het my emosioneel verpletter,” sê Hein. Sy lippe bewe. “En die seer is nog lank nie verby nie.”

Want met die blomme nog kraakvars op Jandré se graf moet Hein hom vir die volgende dag staal – die begrafnisse van Vrydag 8 Februarie. Dié van Roydon Olckers (17), Marli Currie (13) en Marnus Nagel (16), nog drie kinders wat aan hul beserings beswyk het.

‘En as mý hart so breek . . . Jinne, hoe absoluut verpletter is die ouers nie?’

“Ek kon vandag niks vir Jandré se stukkende ouers sê nie,” bieg Hein.

“’n Stukkie van my siel is uitgeruk; ’n deel van my is weg. Ek was nog nooit net die skoolhoof nie; ek is hierdie kinders se pa,” sê hy.

“En as mý hart so breek . . . Jinne, hoe absoluut verpletter is die ouers nie?” 

Hy tree op 15 Maart as skoolhoof af, maar dié ding . . . Dit het sy vele herinnerings aan sy lang en gelukkige loopbaan by die skool vertroebel.

In die donker wolk in sy gemoed is een ligstraaltjie: die manier waarop mense landwyd die skoolgemeenskap steun. Dit gee hom hoop vir die land.

“Niemand kan iets sê om daardie seer weg te vat nie. Niks kan dit weer heel- maak nie. Maar wat ons kán doen, is om te glo dat dié kinders nie verniet dood is nie. En hulle is nie; ons weet dit.” 

Buite die skoolterrein is vandag tientalle mense by die blommemuur, foto’s en kerse wat die slagoffers gedenk. Maar die klaskamers, gange en sportvelde is verlate en spookagtig stil.

“Ek was nog nooit ’n man wat myself in die kollig wou plaas nie,” sê Hein nadat hy op die tweesitplekbank in sy on-opgesmukte kantoor gaan sit het. 

“’n Leeftyd lank in die onderwys het ek dit vrygespring, maar nou het dié ding my in die kollig ingedwing. Ek is net so onseker soos almal. Ek weet ook nie wat om te sê en doen nie.

Die onnies sê: ‘Hein, die Here het jou gekies, want hy weet jy sal hierdie ding kan hanteer.’ Maar ek weet niks. Ek is net so geskok soos almal.”

Blomme en aandenkings is buite die skool­terrein g
Blomme en aandenkings is buite die skool­terrein geplaas om hulde te bring aan die kinders wat gesterf het en beseer is. Foto: Papi Morake

Hy kyk na die houtbordjie op sy kantoordeur: If dad says no, call grandpa. “My kleindogter stuur anderdag vir my ’n boodskap waarin sy sê: ‘Oupa, ek weet oupa se hartjie is baie seer. Oupa-hulle is die sterkste mense wat ek ken en ek’s baie lief vir oupa-hulle. Jesus ook.’ ” 

’n Oomblik lank is hy stil. “Joeg. Die sluise was oop.” Die dag van die ramp, 1 Februarie, het hy soos elke weekoggend sy motor om 10 voor sewe op die skoolterrein parkeer. Daarna het hy die sowat 50m na sy kantoor gestap. Onderdeur die loopbrug buite die saal, soos soveel kere tevore.

Hy het gou iets in sy kantoor gedoen en toe in die personeelkamer met die onderwysers vergader oor die middag se sportbyeenkoms in die naburige Potchefstroom: Julle tel die kinders hier op; ons meld hier aan vir etes; almal moet dié en daai tyd al op pad terug wees.

’n Raps ná halfagt was almal in die saal en toe doen die onderwyseres Monica Dirks die Skriflesing en gebed.

“Sjoe, dit was ongelooflik treffend,” vertel Hein nou oor daardie laaste saalbyeenkoms voor alles in ’n oogwink verander het. 

‘Oupa, ek weet oupa se hartjie is baie seer. Oupa-hulle is die sterkste mense wat ek ken en ek’s baie lief vir oupa-hulle. Jesus ook.’

En nou besef hy weer hoe gepas die boodskap van Joshua 1:9 was: “Wees sterk, wees vasberade, moenie skrik nie,” som hy dit nou op. 

“Man, en die kinders was in so ’n jolige luim. Ons het nog vir hulle geesvangliedjies geleer vir later daardie dag. Hulle het dit so geniet, hulle wou meer en meer hoor. Ek het skuins ná agt uit die saal gestap en gedink dít was mooi; dis wat ons skool so uniek maak.” 

Oomblikke later, in die ontvangskantoor, het hy dit gehoor . . . “Die slag het geklink soos die hardste klapper wat jy in jou lewe gehoor het. Ek het nog gewonder watter kind is dan nou so laf?

“Maar toe hoor ek die angsgille en laat my boeke net daar op die vloer val. Toe sien ek buite die groot betonblok lê en ek dink: Nee, dit kan nie wees nie.”

“Ek het binnetoe gehardloop en geskree: ‘Bel elke liewe ambulans wat julle in die hande kan kry. Doen dit nóú.’ ”

Toe hardloop hy weer na buite en probeer om saam met van die onderwysers en seuns die swaar betonblok van die vasgekeerde kinders af op te lig. 

“Jis. Jy kry ’n greep op daardie blok en jy bid: ‘Here, gee ons vandag bonatuurlike krag.’ Maar die beton lig nie. Jy het nie bonatuurlike krag nie. En jy wéét daar is kinders dood. Jy weet nie hoeveel kinders lewend onder die blok gaan uitkom nie. Jy staan verslae, oorbluf. Hoekom nou; hoekom dit?”

Minute later, nadat Hein gesorg het dat die ongedeerde kinders die skoolterrein verlaat, het hy voor ’n polisievriend te staan gekom.

“Ek wou by hom weet hoeveel kinders dood is,” sê Hein, sy stem dik van emosie. Hy het in my oë gekyk en gesê: “Drie, my vriend.” Hy bly ’n oomblik stil en sê dan: “Toe breek ek. Toe is ek stukkend.” 

Hein het sy vrou, Ina (58), met wie hy 37 jaar getroud is, gebel: “Ina, hier het ’n verskriklike ding gebeur. Kinders is dood; baie is beseer.” 

’n Leerder aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbij
’n Leerder aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark steek buite die skoolterrein ’n kers aan ter nagedagtenis aan die oorledenes. Foto: Papi Morake

Ina het begin huil en wou dadelik skool toe kom. Maar Hein het haar gekeer: Hy het geweet die oomblik dat sy vrou hom omhels, gaan hy beheer verloor. En daarvoor was daar nie tyd nie. Hy moes leiding neem, al was dit hoe moeilik. 

Die volgende drie uur se reddingswerk en mediakonferensie was een groot, nimmereindigende warboel. 

“Jy kan dit nie glo nie. Voor jy jou oë uitvee, is almal daar: ambulanse, die polisie, die departement. Al die kinders het in ’n stadium by die saal byeengekom waar Clarissa van Zyl, ons hoofmeisie, vir almal gebid het. Dit was ontstellend, maar ek kon God se teenwoordigheid deurentyd voel.” 

Maar vrede, dít ontwyk Hein en die hegte gemeenskap van die skool en dorp ses dae later steeds.

Hein is verpletter oor die verlies van sy jong leerders, en hy kan nie help as om ook te wonder waarom dit juis nou moes gebeur nie. 

‘Toe hoor ek die angsgille en laat my boeke net daar op die vloer val’

“Tragedies gebeur; dis oral om ons. Maar dat dit moes gebeur net ses weke voor ek my kantoor ná 10 jaar as skoolhoof moes ontruim – dít vang my ook.”

“My ou moeder is vanjaar 94. Ek is een van vyf kinders. Oor die naweek, met die seer nog baie rou, sê sy vir my: ‘My kind, jy het die sagste hart van al my kinders. Dat hierdie ding nou met jóú moes gebeur, breek ma se hart.’” 

Maar die Here het hom hier geplant met ’n rede, hou die skoolouers en onderwysers vol. Hy is gekies om sy mense hierdeur te dra. 

“Vroeër vandag, by jong Jandré se begrafnis, het ek opnuut besef hoe ’n tragedie ons kan laat hande vat . . . ons kan laat saamstaan. 

“Ek het my rug gedraai om ’n vriend te groet toe ek hoor hoe Ina met sy ouers praat. En daar, op die hartseerste dag van hul lewe, sê hulle vir Ina: ‘Jy moet jou man oppas, hoor. Kyk mooi na hom.’ ”

Hy druk sy gebalde vuis teen sy bewende lippe vas. “Ek is die minste in hierdie ding; ek is die een wat die ligste hiervan afgekom het. Hulle is die ouers wat vandag ’n 13-jarige kind begrawe; ’n kind wat vir altyd uit hul lewe hier op aarde geruk is.” 

Hy het die nuwe verantwoordelikheid aanvaar wat die tragedie aan die einde van sy loopbaan op sy skouers plaas, sê Hein weer moedig nadat hy die emosie onderdruk het. 

“Kort ná die tragedie het ek vir Ina gesê ek gaan nie toelaat dat dié ding my loopbaan bepaal nie. Maar toe dink ek weer ’n oomblik en besluit: Ek gáán toelaat dat dit my loopbaan bepaal. Ek gaan dié ding met soveel integriteit en so na aan die Here hanteer dat dit vir ewig ’n blywende bewys sal wees van wat dié skool regtig is.” 

Hy sal elke dag terugkeer om te doen wat ook al nodig is. Tot hy voel die skoolgemeenskap het weer opgestaan.

Hy glimlag wrang: “Daar is ’n ou grappie wat in die laaste dae heeltyd deur my kop draai: Hoe laat jy die Here lag? Jy vertel hom jou planne . . . 

“Hier beleef ons dit nou elke dag. Ek en Ina het beplan om op 15 Maart rustig in ons vakansiehuis op Tergniet buite Mosselbaai te gaan aftree. Ek sou dié lewe agtergelaat het.” 

En nou? Hulle gaan steeds Tergniet toe verhuis, vertel Hein. Maar sodra alles uitgepak is, kom hy terug na die skool, al het hy afgetree. Hy sal elke dag terugkeer om te doen wat ook al nodig is. Tot hy voel die skoolgemeenskap het weer opgestaan. 

“Want hier by die skool met sy somber atmosfeer is ook hoop,” verduidelik hy.

“Maar jy moet mooi kyk om dit te sien. Die hoop is soos ’n beeldskone lelie wat ná ’n verwoestende brand uit die geskroeide grond groei. 

“En wanneer die eerste lelie eers groei, is die veld binnekort weer geil.”