Dit lyk mos of dinge tussen die TV-skrywer Lindsay Shookus (37) en die akteur Ben Affleck (45) vinnig ernstig raak.

Foto: Getty Images/ Gallo Images

Die twee maak reg om saam ’n huis te koop en is onlangs gewaar toe hulle in die spogbuurt Brentwood in Los Angeles na eiendomme kyk.

Al het hulle eers in Julie hul romanse duidelik gemaak, loop die gerugte dat hulle in 2013 ’n affair begin het – twee jaar voor Ben weg is van sy vrou, die aktrise Jennifer Garner (45). Sy is die ma van sy drie kinders, Violet (11), Seraphina (8) en Samuel (5).

Kevin Spacey het amptelik uit die kas geklim. Die 58-jarige akteur se onthulling volg nadat Anthony Rapp van Star Trek: Discovery-faam die House of Cards-ster onlangs in ’n onderhoud daarvan beskuldig het dat hy hom in 1986 by ’n partytjie “probeer verlei het” toe Anthony net 14 jaar oud was.

Kevin Spacey. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Nadat Kevin die ander akteur (46) “opreg verskoning” gevra en gesê het hy onthou nie die beweerde voorval nie, het hy die geleentheid gebruik om “oor ander dinge in sy lewe te praat” en gesê al het hy al met vroue en mans romantiese verhoudings gehad, kies hy nou “om as ’n gay man te leef”.

Skuif reg, mense, die Kardashians gaan nêrens! Die familie het glo ’n kontrak vir R2,1 biljoen met E! onderteken om nog reekse en seisoene te maak van hul vlagskipwerklikheidsreeks, Keeping Up with the Kardashians. Dit sal glo tot 2020 duur.

A post shared by Kris Jenner (@krisjenner) on

“Ons het onlangs die 10de herdenking van Keeping Up with the Kardashians gevier. Ons het 13 uiters suksesvolle seisoene gehad en 11 uitloperreekse. Seisoen 14 het sterk begin,” het ’n E!-woordvoerder gesê.

Dis gewoonlik vroue wat deurloop onder iemand wat hulle betas, maar Harry Styles (23) was tydens ’n onlangse konsert in Los Angeles ’n slagoffer. In ’n video sien ’n mens hoe ’n geesdriftige vroulike aanhanger in die voorste ry die voormalige One Direction-sanger se privaat dele gryp terwyl hy sy liedjie Kiwi sing.

Harry Styles. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Die Brit het nog nie kommentaar gelewer oor die voorval nie, maar aanhangers het die vrou se optrede in die sosiale media veroordeel en gevra mense moet hom respekteer.

Bronne: Metro.co.uk, Variety, E! Online