Alicia Thomas van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op dié dorp sê die twee jong mans het op 3 Maart gekuier en vir Nugget, die Jack Russell, melktertjies gevoer.

Melktertjies word van wodka en kondensmelk gemaak.

“Een van die mans, wat nie die hond se eienaar is nie, het ’n vriend gekontak en gesê hy dink hulle het vir Nugget te veel drank gevoer. Hy is bang hy gaan dood,” sê Alicia aan Huisgenoot.

“Die vriend het ons toe laat weet. Dit was omtrent elfuur die aand en ons het die nommers van ’n klomp veeartse vir hulle gestuur, want Nugget het konvulsies gekry, maar hulle het niks gedoen nie,” sê sy.

Die DBV het die volgende dag opgevolg en uitgevind dat Nugget steeds nie na ’n veearts toe geneem is nie.

Foto: Verskaf
Nugget is baie gelukkig by sy nuwe eienaars. Foto: Verskaf

“En dit is ’n staatsveearts. Dit sou hulle niks kos nie. Op die ou end is ons self soontoe. Die mense het gesê hulle is nie by die huis nie, hulle is nou eers dorp toe. Maar Nugget het in die son in sy hondehok gelê en ons het hom gevat. Die veearts het vir ons gesê as ons Nugget ’n uur later gebring het, sou hy dood gewees het,” sê sy.

Die DBV het ’n urinemonster geneem en Nugget se bloed-alkoholvlak was 0,205 g/100 ml. Om dit in perspektief te stel, die bloed-alkohollimiet vir bestuurders in die land is 0,05 g/100 ml. Nugget se vlak was dus 12 uur later steeds gevaarlik hoog en ver oor die limiet vir bestuurders. 

“Ek weet nie hoe hulle soveel in hom ingekry het nie. Ek weet nie. ’n Mens kon sien hy was dronk, maar ons was baie bekommerd oor breinskade en dat sy organe sal ingee,” sê sy.

Nugget is egter behandel en het goed herstel.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Hy het geen neurologiese skade nie, maar dis nog te vroeg om te sê of sy lewer oukei is.

“Dit is vreeslik ontstellend. Die eienaar van die hond en sy ouers het nie een enkele keer gebel en gevra hoe dit met Nugget gaan en of hulle hul hond kan terugkry nie. Nugget het dus nou ’n nuwe huis en hy is vreeslik gelukkig,” sê sy.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Die hof het nog nie ’n datum gegee wanneer die saak gehoor sal word nie.

“Maar ons is vasbeslote. Alkohol is giftig vir honde en dié mense moes geweet het Nugget kon ernstige skade gely het. Ons is dankbaar dat iemand wel vorendag gekom het en ons van die geval vertel het,” voeg Alicia by.