Die 39-jarige slagoffer van St. Petersburg, wat deur plaaslike media as Maria Frolenkova geïdentifiseer is, is vroëer in Julie na bewering deur haar kêrel, Arkadiy Antonov, in ’n woede van jaloesie vermoor, berig Daily Mail

Maria en Arkadiy was ten tyde van haar dood in ’n verhouding. Die vermeende moordenaar het glo sy humeur verloor nadat Maria erken het dat sy met ander mans uitgaan wat sy aanlyn ontmoet het.

Volgens OttawaSun.com het die ma van twee en haar kêrel vanaf haar kothuis buite St. Petersburg gery en dis toe Maria dié bekentenis aan hom gemaak het.

Hy het daarna van die hoofweg afgedraai en na ’n afgeleë woud daar naby gery waar hy haar glo doodgeslaan en haar liggaam onder blare en takke begrawe het. 

Volgens Evoke.ie, was Foksa, Maria se corgi, tydens die voorval in die voertuig. Arkadiy het later die hond byna 10 km van die moordtoneel af langs die hoofweg afgelaai. 

Die corgi is egter ure later deur die polisie langs die pad ontdek en het hulle toe reguit na Maria se liggaam geneem, berig Evoke.ie.

Arkadiy is ure daarna inhegtenis geneem. Hy word nou aangekla van die gru-moord. “Die verdagte is ure nadat die slagoffer se liggaam gevind is, inhegtenis geneem. Hy is in aanhouding,” het ’n woordvoerder van die plaaslike polisiediens aan Evoke.ie gesê. 

Volgens die polisie is Foksa veilig in die sorg van Maria se naasbestaandes en sal hulle vir die dapper hond sorg. Die ondersoek duur steeds voort.  

Bronne: Daily Mail, Ottawa Sun, Evoke.ie