Die dag toe hy die beste rugby van sy lewe gespeel het, onthou die tiener so goed soos gister. In daardie 80 minute waarin hy – die Bryan Habana, nee, die Ches­lin Kolbe van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark – keer op keer sy teenstanders op hul tuisveld met sy spoed en ratse voetwerk geflous het, was die hartseer oor sy moeilike lewens­omstandighede tydelik ver­gete.

Want toe Sifiso Tshabalala (19), ’n matriekleerder aan dié hoërskool, op dié dag in sy gr. 11-jaar vir die skool se tweede rugbyspan opdraf, was dit met ’n swaar hart: Dit sou sy laaste wedstryd wees voor hy sy geliefde rugbystewels wegbêre.

Hy het kort tevore vir sy ma, Zandile (43), ’n werklose huishulp, gesê hy gaan ophou speel.

“Ek het net gevoel rugby kos my ma te veel geld. Maar dié dag het ek regtig goed gespeel. Ek het man of the match gekry,” onthou hy die dag toe hy besef het hy kan onmoontlik sy rugbydroom prysgee.

“Dit voel ongelooflik wanneer jy rugby speel. As ek so vyf manne ná mekaar side-­step en die skare skree so, dan voel ek baie, baie goed. Dan is ek die step king,” vertel Sifiso vandag by die Internasionale Rugby-instituut (IRI) in Pretoria.

Dis hier waar Sifiso, wat verlede jaar matriek geskryf het, ’n beurs losgeslaan het om vanjaar ’n 10 maande lange kursus in rugbyafrigting en -bestuur te volg.

Maar dié geleentheid het nie sonder sy eie hartseer gekom nie, want enkele maande ná daardie wedstryd in gr. 11 het Sifiso se rugby-ideale nóg ’n groot terugslag gekry.

Toe die loopbrug by die Hoër­skool Driehoek op Vrydag 1 Februarie verlede jaar neerstort, was Sifiso een van die ongelukkiges wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Vier leerders is in hierdie fratsongeluk dood, en meer as 20 is beseer – onder wie Sifiso.

Vier leerders is dood en meer as 20 beseer toe ’n
Vier leerders is dood en meer as 20 beseer toe ’n loopbrug op 1 Februarie 2019 by Sifiso se skool ineengestort het. Foto: Lubabalo Lesolle

Hy het vier rugwerwels gekraak toe hy saam met die brug na onder getuimel het, en ’n lang herstelpad het gevolg.

En selfs hier waar ons vandag sit, is sy rugbytoekoms nog in die weegskaal.

In die jare en maande voor die tragedie het Sifiso dikwels gewonder hoekom sy lewe net nie wil vlot nie. Hy het nie vir sy vriende en onderwysers vertel van die vervalle huisie wat hy met sy enkelma, ouma Ntombizodwa (72), en kleinsus, Towana (3), deel nie.

Hulle het ook nie geweet hoe hy daagliks meer as 20 km van die township Evaton buite Vander­bijlpark met ’n taxi moes reis en dan ’n uur van die taxistaanplek na die skool toe moes stap nie.

Dat dit sy werk was om laatmiddae ná skool vir die hele huishouding emmers vol water by die township se gemeen­skaplike kraan te gaan tap en aan te dra, wou hy met niemand deel nie.

Tog het dié jong seun se begeerte om bo sy uitdagende omstandighede uit te styg nie ongesiens verbygegaan nie.

Sifiso en sy sussie, Towana, het in armoede grootg
Sifiso en sy sussie, Towana, het in armoede grootgeword. Foto: Lubabalo Lesolle

Een van die mense wat sy talent en dryfkrag opgemerk het, is Devan Behr, ’n onderwyser en rugbyafrigter aan die Hoërskool Driehoek. Toe Sifiso in gr. 8 was, het hy hom genooi om te kom rugby speel.

“Ek kon nie aan naskoolse aktiwiteite deelneem nie weens vervoerprobleme. Aan die begin moes ek en ’n vriend smiddae tot laat wag vir ’n geleentheid huis toe. Dis toe dat Meneer na my toe kom en sê: ‘Hoekom speel jy nie rugby nie?’ Toe sê ek: ‘Nee, ek kan nie so laat oefen nie.’

“Toe gaan speel ek tog eenkeer, en hulle moes gesien het ek kan nogal goed hardloop. Daarna het die onderwyser my ná elke rugbyoefening taxistaanplek toe geneem,” vertel Sifiso.

Devan het Sifiso later op Vrydagaande by sy huis laat oorslaap omdat daar op Saterdagoggende vir wedstryde te min taxi’s skool toe was.

Maar die vervoerkoste en -reëlings het hom bly knou, veral met die weeklikse ­oefeninge wat net te laat geraak het.

Toe hy in gr. 11 sy rugbystewels wou wegpak, het nóg ’n onnie en afrigter by die skool, Kallie Schultz, ingegryp en sy ma gebel toe hy sien Sifiso woon nie meer die rugbyoefeninge by nie.

“Hy het gesê ek het net te veel rugby­talent. Hy het my ná elke oefening taxigeld gegee. Saterdae het hy vir my kos gebring en my sakgeld gegee. Dit het baie vir my beteken. Hy was my pa by die skool.”

Foto: Lubabalo Lesolle
Foto: Lubabalo Lesolle

Sy matriekjaar het Sifiso blinkoog begin, opgewonde oor die vooruitsig om vir sy skool se eerste span uit te draf. Hy het geglo hy gaan dit nog ver bring in rugby, maar daardie hoop het op 1 Februarie vir eers saam met die brug in duie gestort.

Hy was die oggend van die saalbyeenkoms onderweg na sy registerklas.

“Ek en my vriend het oor ons wiskundetaak gepraat. Ek het so drie treë gegee; ek wou nog hardloop; ek wou nog wegspring,” onthou hy die oomblik toe die brug onder sy voete meegee.

Wat hy nooit sal vergeet nie, is die gille.

“Toe ek bykom, het ek dit gehoor. Ek het probeer opstaan, maar net neergeval. Daarna kon ek nie weer beweeg nie. Ek kon nie asem kry nie en het gedink my tyd het aangebreek. Die manier hoe die mense geskree het, het my bang gemaak.”

Sy eerste gedagtes onder die puin was kommer oor sy ma en kleinsus.

“Terwyl ek daar gelê het, het ek besef ek moet ter wille van hulle sterk bly. Hulle het net vir my en ek wil eendag vir hulle kan sorg, want dis moeilik sonder ’n pa in die huis,” het Sifiso in Huisgenoot se televisiereeks, Huisgenoot: ware lewens­dramas, op VIA (DStv-kanaal 147) vertel.

Hy is in die Mediclinic Vereeniging opgeneem en op 6 Februarie ontslaan.

Maar die dag daarna, op die begrafnis van wyle Jandré Steyn (14), een van die vier oorledenes, het Sifiso skielik kwaai pyn verduur en besef daar is fout.

Hy het die begrafnis saam met die ander leerders bygewoon, maar is daarna na die plaaslike Mediclinic Emfuleni, waar skanderings die gekraakte werwels in sy middel- en lae rug uitgewys het.

Hy moes nog ’n week daar deurbring en dokters het besluit om nie dadelik te opereer nie.

“Die dokter het gesê ek sal nie meer rugby kan speel nie, maar daar is tog ’n kans dat ek sal regkom. Hulle sal dit eers in Februarie 2020 met sekerheid kan vasstel, want my rug sal omtrent ’n jaar neem om te herstel.”

Wynand Moolman, die eertydse bestuurder van die Blou Bulle Tuks-rugbyakademie, het ná die ramp van Sifiso gehoor en hom ’n beurs gegee. Maar toe sluit die akademie in Oktober.

Daarna het Wynand vir Marinus van der Watt, direkteur van die IRI, en Kudu Oberholzer, die hoofafrigter hier, ge­kontak. Dit is toe dat hulle vir hom ’n soortgelyke studiebeurs van Januarie tot Oktober aanbied. Die instituut se bestuurspan hou nou saam met Sifiso duim vas dat die mediese verslag in Februarie gunstig sal wees, sê Marinus.

“Die belangrikste is dat hy sy self­vertroue terugkry en dat sy rug sterker word. Ons gaan alles doen wat ons kan. Dit gaan moeilik wees om hom weer te kry waar hy was, maar die eerste prys is dat hy weer kan speel. Ons wag nog om te sien wat Sifiso se pad vorentoe is, maar ons sal dié pad saam met hom stap.”

Intussen sal die tiener hier by die ABE Midas Naka Bulle-rugbyklub, waaraan die IRI verbonde is, studeer. Terapeute by die gimnasium hier sal hom ook met rehabilitasie help.

Nog ’n struikelblok is dat hy nie geld vir sy verblyf tydens sy studie het nie, maar Sifiso is optimisties.

“Wat my nou dryf, is my ma en sussie; ek wil hulle uit die omstandighede haal waarin hulle is. Ek wil alles probeer om my suster ’n beter te lewe te gee.

Sifiso en sy sussie, Towana. Foto: Lubabalo Lesoll
Sifiso en sy sussie, Towana. Foto: Lubabalo Lesolle

“Die brugramp was tragies, maar dit het ons as skoolkinders eintlik bymekaargebring. Ons het oor ons probleme begin praat. Dit was die eerste keer dat ek my vriende van my huislike omstandighede kon vertel.

“En ek weet nou ek moet elke oggend voor ek uit die huis gaan vir my ma-hulle sê ek is lief vir hulle, want ek weet nie wanneer my dag sal kom nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.