In ’n video wat sowat ’n maand gelede op YouTube versprei is, verskyn ’n jong hawelose vrou van Pretoria. In die video vertel sy in ’n onderhoudsituasie van haar lewe op straat. En dadelik het mense begin wonder: Is dié vrou nie dalk die vermiste Rehana nie? Daar is immers sterk ooreenkomste tussen die twee.

Kapt. Sergio Kock, ’n woordvoerder van die SAPD in Kimberley, sê hulle ondersoek die saak. Op die oomblik wag hulle op die DNS-uitslag om vas te stel of die twee meisies dalk dieselfde persoon is.

“Maar dis onmoontlik om te sê wanneer die uitslag beskikbaar sal wees. Daar kan ook nie bespiegel word of daar wel ’n genetiese ooreenkoms tussen die twee meisies sal wees nie.”

’n Week ná Rehana se destydse verdwyning, is die 38-jarige Frans Olifant in Lichtenburg in hegtenis geneem. Hy het verskeie oproepe en teksboodskappe na Rehana gemaak, selfs op die dag van haar verdwyning, wat hy nie kon verduidelik nie.

Maar die polisie het hom toe verbind met ander misdrywe wat verkragting, diefstal en brandstigting insluit. Hy is tot 36 jaar tronkstraf gevonnis.