HC (21) en Stephan de Bruyn (23) van Hoopstad in die Vrystaat was Maandagoggend van die familie se wildsplaas na hul ouerhuis op ’n ander plaas op pad toe hul bakkie omslaan. 

Die twee plase is net 25 km van mekaar af. 

Albei die jong manne is in die ongeluk dood. 

Volgens Pieter Möller, ’n nabye familievriend, is hul ouers Herman en Charleen “totaal en al stukkend”. 

“Dis vir hulle ’n verskriklik groot slag en nog niemand het regtig met hulle kontak gehad nie. 

“Dit is hul enigste twee kinders,” sê hy. 

Volgens Pieter is hul pa op Hoopstad sowel as die landboubedryf baie geliefd. 

“Hy was nog altyd ’n leier en ’n vaderfiguur vir baie mense. Die hele dorp en die landbougemeenskap is hartgebroke oor hul groot verlies.” 

Pieter ken die seuns van kleins af en sê albei was spontane kinders wat mal was oor die veld en die natuur. 

“Hulle wou graag eendag hul pa se wildboerdery oorneem.”

Die twee het aan die Grey College in Bloemfontein gematrikuleer. 

Stephan het reeds saam met sy pa geboer en HC was besig om veeartsenykunde in Namibië te studeer. 

“Orals waar hulle gegaan het, het mense van hulle gehou. Hulle was twee baie geliefde jong manne gewees.

“HC was net ses maande in Namibië, maar daar is hordes mense wat van daar vlieg om sy begrafnis by te woon.” 

Die twee mans se begrafnis vind Saterdag 11:00 by die NG kerk Hoopstad plaas.