’n Voormalige skottelgoedwasser het onlangs ’n multimiljoenêr geword – en dit omdat sy aangedring het om kerk toe te gaan.

Marie Jean Pierre (60) was vir meer as ’n dekade ’n skottelgoedwasser by die Conrad Miami-hotel in Miami, Amerika.


Sy is egter in Maart 2016 afgedank omdat sy vir ses Sondae nie gaan werk het nie. Marie, ’n toegewyde Christen en lid van die Bethel Baptistekerk in Miami, het die ses Sondagskofte gemis om kerk by te woon. 

Marie, wat skottelgoed gewas en kamers skoongemaak het by die hotel, het in die hof getuig dat sy destyds toe sy die werk gekry het, aan die bestuur van die hotel gesê het sy kan nie Sondae werk nie oor haar geloof dit nie toelaat nie.

Hulle het aanvanklik dit vir jare aanvaar, maar haar baas het in 2015 vir haar werk op Sondae begin gee.

Marie het die hotel se bestuur destyds gesê sy kan nie Sondae werk nie. Foto: @nbc6

"Ek is lief vir God. Geen werk op ’n Sondag nie, want ek eer God op ’n Sondag," het Marie aan die media gesê. 

Sy't glo vir weke met haar medewerkers uitgeruil om nie Sondae te werk nie, maar toe word sy afgedank. Sy het die hotelgroep in Mei 2017 gedagvaar.

In haar regsgeding het Marie, wat in Haïti gebore is, volgehou haar vorige werkgewer het die Wet op Burgerregte van 1964 oortree, wat werkers van diskriminasie op grond van ras, godsdiens, geslag of nasionale oorsprong beskerm. 

Marie het onlangs haar saak gewen. Die hotel, wat toe deur die Hilton-groep bestuur is, moet nou R290 miljoen in skadevergoeding, plus R472 500 in agterstallige lone en R6,7 miljoen vir emosionele pyn en lyding betaal.

"Sy is ’n soldaat vir Christus. Sy het dit gedoen vir al die ander werkers waarteen daar gediskrimineer word,” sê haar prokureur, Marc Brumer. 

Die hotel se bestuur het in ’n verklaring gesê hulle is teleurgesteld in die hof se beslissing en dat hulle gaan appelleer.

"Tydens Marie se 10 jaar by die hotel is verskeie toegewings gemaak om haar persoonlike en godsdienstige verpligtinge te akkommodeer,” lui die Hilton se verklaring. 

Bronne: NBC, Mirror, inside edition