Die lewe op die derde verdieping van dié woonstelkompleks in Johannesburg is byna soos iets uit die TV-reeks Friends. Die wie’s wie van die plaaslike vermaakbedryf woon immers deesdae hier . . .

Aan die een kant woon die aktrise Melissa Willering, oftewel Chrissie in die sepie Getroud met Rugby; aan die ander die akteur en grapjas Bennie Fourie, Phil in die kykNET-reeks Phil 101. Die aktrise Ansu Visser van Vir die Voëls woon ook hier, en Burger Meyer, ’n skrywer by Getroud met Rugby.

En dan is daar die twee aktrises wat die plaaslike vermaakbedryf die afgelope jaar stormgeloop het: Simoné Nortmann, wat die hoofrol vertolk het in Vir die Voëls, en Mila Guy, haar vriendin en medester in die kykNET-sitkom Hotel. Dié twee is soos hoofkarakters in die gemoedelike gemeenskap op die derde verdieping, en hulle is boonop woonstelmaats.

Kway is the way. #dismoerkoud #onset #series #gearupgetout @kwaysa

A post shared by mila guy (@milaguy) on

Met haar geel kelnerinpakkie, aweregse sêgoed en onskuldige glimlag het Mila se Hotel-karakter, Malanie Schmidt, gou in kykers van dié program se hart ingekruip. Die 25-jarige Mila is net so spraaksaam soos haar karakter toe sy ons op ’n Sondagoggend vroeg by die woonstelkompleks verwelkom.

Terwyl ons met die trappies boontoe klim, gesels sy land en sand en vertel ons van die lewe op die derde verdieping. Dit is hier waar die jong akteurs wat ons deesdae voor die kassie vasgenael hou saans hul skoene uitskop en nes die res van ons ná ’n lang dag ontspan.

Mila het die skerm die afgelope jaar soos ’n warrelwind getref.

Sy is nog tot die einde van die jaar te sien in Hotel, maar speel ook in twee nuwe flieks, die komedie Liewe Kersfeesvader, wat vanaf 17 November in teaters gewys word, en die drama Wonderlus, wat aanstaande April uitgereik word ná ’n suksesvolle debuut op die kykNET Silwerskermfees.

Terwyl haar oulike karakter in Hotel deesdae smoorverlief is op die kinderlike en naïewe hoteljoggie, Danny Beyers (gespeel deur die komediant Schalk Bezuidenhout), sal ons Mila in Wonderlus in volle bruidsgewaad voor die kansel sien staan. Daardie einste toneel het haar tot nuwe insigte gebring, vertel sy.

“Ek het nooit regtig van trou gedroom nie, maar toe ek met die trourok aan kansel toe stap, het ek besef: Wow, dis ’n vreemde gevoel . . . Anders as my vriendinne het ek maar altyd van my werk as aktrise gedroom,” vertel Mila, wat al amper vyf jaar in ’n vaste verhouding is.

Ek wou eers net sing, maar my pa het gesê ek moet eerder ’n storie vertel terwyl ek sing, anders gaan ’n mens mos niks voel nie.

Die toneeldroom het vinnig waar geword sedert sy in 2014 haar debuut gemaak het as die kinderoppasser Zanel in die sepie Binnelanders. ’n Jaar later het sy die eerste keer op die silwerdoek verskyn: as Karlientjie Koekemoer in die fliek Ballade vir ’n Enkeling.

Sy het haar rol in die nuwe fliek Liewe Kersfeesvader veral geniet omdat dit gaan oor hoe belangrik familie is, vertel Mila in die gesellige sitkamer van haar woonstel met sy mengsel van turkoois en geel aksentkleure. In die fliek vertolk sy die rol van Nonnie, wat ter wille van haar familie moet sterk wees.

“Sy sien haar pa gaan deur ’n moeilike tyd en dink: ‘Reg, ek gaan hom hierdeur help en dinge fix.’ Soms is sy hardkoppig, ’n bietjie soos ek. ’n Mens het altyd jou familie nodig; hulle het soveel om jou te bied,” vertel sy van ’n les wat sy uit die rolprent geleer het.

Mila is die oudste van Johan (47), ’n siviele ingenieur, en Belinda (48), ’n onderwyseres, se twee kinders. Sy en haar suster, Maró (22), het van jongs af vir hul ouers konsert gehou in Pretoria, waar hulle deels grootgeword het.

“Soms het ons modevertonings gehou en ander kere sommer net liedjies gesing,” onthou sy. “Ek wou eers net sing, maar my pa het gesê ek moet eerder ’n storie vertel terwyl ek sing, anders gaan ’n mens mos niks voel nie.”

Toe sy besef hoe lekker dit is om stories te vertel, het die toneelgogga gebyt.

Aan die Laerskool Bergland in Nelspruit het Mila dramalesse geneem. Sy was 14 toe die gesin emigreer na Nieu-Seeland, waar haar ouers steeds in Palmerston North op die Noordeiland woon.

Al het sy die skoollewe in Nieu-Seeland geniet, het sy na Suid-Afrika bly hunker, veral na ons humor en die kos. Melktert is haar gunsteling.

“Jy is ’n tiener oorsee en Afrikaans, maar nou moet jy begin Engels praat, plus jy is in ’n ander kultuur vasgevang,” verduidelik sy. In dieselfde asem vertel Mila hoe mooi Nieu Seeland is. “Oral is die see net 30 of 40 minute se ry weg. Ek love die see, maar hul see is baie koud. Die lug in Nieu-Seeland is baie anders; dis baie mooi en skoon. Dit is ’n pragtige land.”

En dan voeg sy by: “Dis net nie my land nie.”

The Windy City. #exploring #winter #newzealand

A post shared by mila guy (@milaguy) on

Sy was ’n eerstejaardramastudent aan die Universiteit van Auckland toe haar ouma Thea Stigling (65) van Nelspruit vra waarom sy nie eerder in Suid-Afrika verder studeer nie. “Ek het eers gedink sy is laf. Maar hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het dit begin sin maak.”

Begin 2012 het Mila by die Universiteit van Pretoria ingeskryf.

“Ek het die Donderdag geland, die Vrydag ’n oudisie by Tukkies afgelê en is dieselfde dag nog aanvaar. Die Saterdag het ek in Pretoria begin blyplek soek, die Sondag ingetrek en Maandag my eerste klas gedraf.”

In haar tweede jaar het sy “op ’n Dinsdagaand in ’n kuierplek” ’n man ontmoet wat haar hart gesteel het, en hy is steeds die man in haar lewe.

Al wat sy verder oor hom wil verklap, is dat “hy nie in die toneelbedryf is nie en hier naby woon”.

En nee, hulle het nog nie trouplanne nie.

In 2014, dieselfde jaar dat sy haar studie voltooi het, het sy die rol van Zanel in Binnelanders losgeslaan.

“Ek gaan nie jok nie; dit was overwhelming. Maar dit was ook vreeslik lekker.”

Mila gesels ewe geesdriftig oor haar rol in Hotel. Oor haar medester Schalk vertel sy: “Hy het my baie laat lag. Hy is baie natuurlik en neem sy werk ernstig op.”

En die langverwagte soentoneel tussen hul karakters, Danny en Malanie?

“Daar was nie eintlik iets daaraan nie; dis mos maar speel-speel,” sê sy met ’n laggie.

Nes haar en haar karakter se liefdeslewe ligjare van mekaar verwyder is, verskil hul persoonlikheid. “Ek sal nooit so kwaai kan wees soos Malanie nie.”

Sy wens wel sy kon so maklik soos haar karakter nee sê, maar is te bang sy sal mense dan teleurstel.

“Maar hoe ouer ’n mens word, hoe makliker raak dit.”

Al het die mense hier op die derde verdieping al byna soos familie geword, verlang sy baie na haar ouers – en na haar ma se groentesop.

Haar suster het darem vanjaar aan die UP kom studeer vir ’n B.A.-graad in visuele studie.

Mila sien haar ouers een keer per jaar. Die res van die tyd skype hulle gereeld.

“Wanneer hulle kom kuier, is dit gewoonlik een lang opvangsessie.”

Haar ouers kom juis in die feestyd kuier, en Mila gaan saam met hulle, sus Maró, ouma Thea, oupa Francois Stigling en nog familielede op Ballito aan die kus van KwaZulu-Natal Kersfees hou.

En wanneer sy oor dié tyd te sien is in Liewe Kersfeesvader, kry sy self die grootste geskenk wat Kersvader vir haar kan bring: tyd saam met haar eie mense.