As jy ’n Huawei-foon het, is jy waarskynlik die josie in vir pres. Donald Trump. 

En met rede ook – nes een uit elke vyf selfoongebruikers ter wêreld. Want die Amerikaanse president se handels­oorlog met China kan die foon in jou eie sak raak. Amerika se nuwe handelsverbod teen die Chinese tegnologiereus Huawei het ongeloof en selfs paniek ontketen, en gebruikers van dié fone het beangs begin wonder of hulle dit liewer moet vervang. 

Maar wat is nou eintlik die Wit Huis se probleem met dié maatskappy, en wat beteken dit vir Huawei en jou eie foon?

Waaroor gaan die Huawei-herrie?

Chinese and United States flag waving together on
Ren Zhengfei, Huawei-baas, reken sy maatskappy gaan die Amerikaners verras. Foto: Gallo Images/ Getty Images

In lande buite China gebruik Huawei-fone die Amerikaanse maatskappy Google se Androidbedryfstelsel asook ander tegnologie van Amerikaanse oorsprong, maar volgens Trump se nuwe handelsverbod mag geen Amerikaanse maatskappy voortaan sonder spesiale toestemming tegnologie aan Huawei verkoop nie.

Dit beteken Huawei sal vorentoe nie meer fone kan vervaardig wat van die Androidbedryfstelsel of ander Amerikaanse tegnologie gebruik maak nie.

Google het reeds aangekondig hulle gaan Huawei se lisensie opskort om die Androidbedryfstelsel asook Google se appdiens, die Google Play Store, vorentoe in nuwe Huawei-foonmodelle te ­gebruik.

Hoekom gaan Huawei sukkel sonder Google?

Die bedryfstelsel is die belangrikste sagteware van enige slimfoon, want dit is die platform waarop dit funksioneer. Dit beheer die foon se harde- en sagtewaredienste. 

Tot 85% van alle slimfone in die wêreld maak tans gebruik van Google se Androidbedryfstelsel, sê Arthur Goldstuck, besturende direkteur van die navorsingsfirma World Wide Worx – onder meer Huawei in lande buite ­China.

Die Androidstelsel kan ’n magdom apps gelyktydig bedryf, en Google se aanlyn appwinkel, Google Play Store, bied miljoene apps. Talle van dié apps, soos Gmail, Google Maps, YouTube, Dropbox en die webblaaier Chrome, word algemeen in Suid-Afrika gebruik. 

Trump se verbod hou dus ernstige implikasies in vir Huawei. “Sonder Google-­tegnologie sal Androidfone nie toegang tot die Play Store en sy apps hê nie,” sê Steven Ambrose, hoof van die saketegnologie-konsultasiefirma Strategy Worx. 

“En sonder bywerkings van Android sal sekuriteitskwessies ook ’n bron van groot kommer wees. Huawei kan die bedryfstelsel vervang, maar betroubaarheid en veral gebruiksvriendelikheid sal ’n regte uitdaging wees.”

Tensy Huawei met alternatiewe vorendag kom, kan dit Huawei-fone belemmer en die maatskappy knou.

Hoekom die handelsverbod?

Chinese and United States flag waving together on
onald Trump is ’n groot Apple-aanhanger. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die redes vir die handelsverbod klink ingewikkeld voor dit in gewone taal ont­syfer word: Trump wil glo die “ongelyke” internasionale ekonomiese speelveld gelykmaak, en die Chinese selfoonvervaardiger bedreig glo Amerika se nasionale sekuriteit.

Dit beteken in gewone taal Trump wil die mededingers van sekere Amerikaanse maatskappye op hul knieë dwing en dat die Amerikaners bang is vir spioenasie deur die Chinese.

Een van die redes wat Amerika vir sy drastiese stappe voorhou, is dat Huawei onderhewig is aan ’n Chinese wet wat van maatskappye daar vereis om met die staat saam te werk, verduidelik Arthur. 

Die vrees is dat Huawei moontlik ’n “geheime agterdeur” in fone sou kon inkorporeer wat die Chinese regering toegang gee tot dié fone wêreldwyd.

Die Amerikaanse regering beweer Chinese telekommunikasiemaatskappye ­fasiliteer moontlik hul staat se spioenasie op die VSA, sê Steven. Die Amerikaners glo hulle doen dit deur die einste Huawei-toestelle en netwerkinfrastruktuur wat hulle verskaf, maar volgens ­Steven is daar nog geen bewyse vir dié bewerings nie. 

Ook Arthur meen dis ’n “absurde gedagte”, want as dit waar was, sou bewyse daarvan Huawei se geloofwaardigheid vernietig. Volgens Arthur spreek dit boekdele dat Amerika nie ook handel verbied het met die Chinese tegnologiemaatskappy ­Lenovo nie.

Die rede, volgens Arthur? Anders as Huawei, wat ’n mededinger is vir Amerika se tegnologiereus Apple, is Lenovo nie ’n noemenswaardige mededinger vir ’n Amerikaanse-vlagskipmaatskappy nie. 

“Trump en sy admi­nistrasie voel lankal China misbruik hul on-belemmerde toegang tot Westerse markte en eien Westerse tegnologie vir hulself toe, met min re­spek vir patente en handelsname. Hulle reken China beperk terselfdertyd Amerikaanse en ander Westerse maatskappye se toegang tot hul eie enorme mark,” sê Steven.

Hy voeg by: “Die Trump-administrasie probeer Amerikaanse handel met China hervorm – die aanslag op Huawei is die direkste aanval tot dusver.” 

Wat beteken dit vir Huawei en die slimfoonbedryf?

Huawei is die snels groeiende slimfoonvervaardiger en naas Samsung die grootste slimfoonhandelsnaam ter wêreld. Apple is derde grootste. 

In Suid-Afrika is Huawei die derde grootste slimfoonhandelsnaam, naas Samsung en Mobicel.

Maar noudat daar vrese is oor Huawei-fone se toekomstige bruikbaarheid weens Trump se handelsverbod, ontstaan die gevaar dat mense sal ophou om dié fone te koop, sê Steven.

“Dit werp ’n skadu oor wêreldhandel. Dis ’n voorbeeld van hoe handels­oorloë soveel in hul pad vernietig”

Hoewel Huawei ’n Chinese maatskappy is, kan die impak “dwarsoor die wêreld” gevoel word “aangesien Huawei bedrywe en werknemers wêreldwyd het”, sê Steven.

As Huawei in die stof byt, sal Amerika se tegnoreus Apple waarskynlik die hele pad bank toe lag omdat mense hulle tot dié fone sal wend. En Trump is hoeka bekend as ’n groot Apple-aanhanger: Hy het minstens twee iPhones en ’n iPad. Tans word al Apple se iPhones egter in China aanmekaargesit.

As die Wit Huis se boelietaktiek boemerang, kan die Chinese terugslaan en die montering van Apple-produkte daar stopsit. Dit kan weer die beskikbaarheid en koste van Apple se iPhone beïnvloed omdat Apple dan ’n nuwe verskaffingsketting sal moet ontwikkel.

Trump is dus besig met ’n “Game of Phones” wat die slimfoonbedryf wêreldwyd kan knou, maan Arthur.

“Almal in dié handelsoorlog verloor,” sê Arthur oor die risiko’s wat die Huawei-­verbod ook vir Amerikaanse ondernemings inhou.

As dit nie herroep word nie, sal Trump volgens hom die hele foonbedryf ’n vernietigende slag toedien. Dit kan weer ’n voorteken wees van ’n insinking in tegnologieaandele op aandelemarkte wêreldwyd. “Dit werp ’n skadu oor wêreldhandel. Dis ’n voorbeeld van hoe handels­oorloë soveel in hul pad vernietig.”

Moet jy jou Huawei vervang?

Google se sagtewarebywerkings vir nuwe Huawei-modelle sal wel binnekort gestaak word omdat die Amerikaanse maatskappy nou ingevolge die wet verplig word om dit te doen, maar bestaande Huawei-Android-fone sal nie geraak word nie.

As jy tans die eienaar is van ’n Huawei-foon, sal jou Google-bedryfstelsel en -dienste dus aanhou werk en die apps ook bygewerk word, sê Steven. “Daar is dus geen rede vir paniek nie.”

Google het die versekering gegee dat dienste soos Google Play en die sekuriteit van Google Play Protect sal aanhou funksioneer op alle bestaande Huawei-toestelle, vertel Arthur.

Huawei het aangekondig hulle sal sorg dat al hul bestaande fone steeds ondersteun word en bywerkings ontvang, maar as die handelsverbod voortduur, sal geen toekomstige Huawei-toestelle volle Androidbedryfstelsels of -dienste hê nie. 

Maar Huawei het reeds ’n plan met ’n selfontwerpte bedryfstelsel en komponente om Amerikaanse tegnologie te vervang, sê Steven. 

“Plan B is reeds in ’n mate in China aan die gang. Daar het alle plaaslik ontwerpte Androidgegronde Huawei-toestelle plaaslike apps wat nie van Google af kom nie en nogtans dieselfde funksioneer. Plaaslike weergawes van alles soos Facebook en Twitter werk perfek in ­China.” 

Of dit buite China – en in Suid-Afrika – aanvaarbaar en gebruikersvriendelik sal wees, is ongelukkig ’n ander vraag, voeg Steven by.

Huawei se stigter, Ren Zhengfei, het in ’n TV-onderhoud gesê hulle het die Amerikaanse verbod voorsien en daarvoor beplan: “Die Amerikaners onderskat ons vermoëns,” sê hy. 

Hy het laat blyk sy maatskappy kan reeds self alles vervaardig of elders bekom wat hulle vir hul fone benodig. 

Maar terwyl politici en tegnobase stoei om te wys wie die sterkste is, is dit gewone gebruikers wat sal moet besluit: Hou ek vas aan my Huawei of is dit tyd om ’n ander foon te oorweeg . . .?

Game of Phones, inderdaad. 

Ekstra bronne: huawei.com, counterpointsearch.com, idc.com, Reuters