Die 31-jarige voormalige Playmate – wat 60 jaar jonger as Hugh was – het in Desember 2012 met die Playboy-stigter getrou.

Maar ’n waterdigte voorhuwelikse kontrak en die feit dat Hugh haar nooit by sy testament gevoeg het nie, beteken die blonde bom gaan niks van sy multimiljoendollar-fortuin erf nie.

Hugh, oftewel Hef, is Woensdagaand aan natuurlike oorsake oorlede.

Volgens CNBC het die omstrede sakeman in sy huis in Holmby Hills, Los Angeles, omring deur geliefdes, gesterf.

Sy fortuin, wat in 2013 na raming sowat R385 miljoen beloop het, sal verdeel word tussen sy vier kinders, Christie (64), David (62), Marston (27) en Cooper (26) en liefdadigheidsorganisasies wat hy gesteun het. 

Maar al erf sy weduwee niks, gaan daar goed na haar omgesien word, berig Daily Record.

Crystal het in 2011 vir Hef (91), toe hy die eerste keer met haar wou trou, voor die altaar gelos omdat sy koue voete gekry het. 

Daily Mail berig die troue, wat 300 gaste sou bywoon, is vyf dae voor die groot dag gekanselleer.

Hef het hom egter nie laat afsit nie en die paartjie is op 31 Desember 2012 getroud.

“Die drastiese ouderdomsverskil tussen my en Crystal maak nie regtig saak nie,” het hy destyds oor sy derde huwelik gesê. “Ons wil die tyd wat ek oorhet, saam deurbring.”

Crystal het ook in die wolke gelyk om met haar man, toe 86, te trou.

“Hierdie keer is dit wonderlik. Ek is baie gelukkig en Hef is baie gelukkig; ons is opgewonde,” het sy gesê.

Bronne: CNBC, Daily Record, Daily Mail, Mirror.co.uk