Nadat ’n video van ’n groep mense wat voor ’n huis in Pretoria-Noord slaags raak soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei het, het dit die land met twee tergende vrae gelos. 

Is die vuisvoos familie toe uitgesit en hét Hugo die polisie gebel? 

Huisgenoot kan bevestig dat die gesin wel uitgesit is. 

Volgens ’n anonieme bron wat op dieselfde perseel haar onderneming bedryf het, is die gesin aan die einde van dieselfde maand uitgesit. 

Sy het ook bevestig dat die voorval agt maande terug gebeur het. 

“Daar was altyd klagtes van die bure dat hulle rumoerig raak en hulle steur; ek het dit eers ervaar toe die buurvrou vir my die video gewys het.” 

Die video is glo in Desember 2018 geneem. 

“Dit was absoluut skokkend om te sien,” sê sy. Sy kon nie bevestig wie die mense in die video is nie. 

“Ons het nooit met hulle kontak gehad nie. Al wat ons weet is dat almal in Pretoria-Noord die oom met die prostese ken.” 

Intussen het haar onderneming na ’n ander perseel geskuif. 

Waar dié mense hulle nou bevind, weet niemand nie. En of Hugo wel die polisie gebel het, weet die bron ook nie.