Dis die plek waar hy net sy vellies en kakiehemp kan dra. Hier, op die plaas Ntaba Nyoni naby Badplaas in Mpumalanga, is hy nie pres. Cyril Ramaphosa, Suid-Afrika se nuutverkose leier wat sake van landsbelang moet uitstryk, nie. Hier is hy net Cyril die boer, die baas van die plaas.

Dis waarheen ons staatshoof ontsnap wanneer hy vir ’n oomblik of twee weer ’n gewone mens kom word. “Die plaas is sy wêreld,” vertel ’n kennis toe Huisgenoot op die plaas kuier enkele dae voor ons nuwe president sy eerste staatsrede in die parlement lewer.

Eers vind jy jou weg deur koppies en groen klowe na die twee stelle indrukwekkende plaashekke, elk met ’n sementarend wat aan weerskante op die hoekpilare pryk. Op pad na die plaasbestuurder se kantoor ry ons verby voerkrale vir sy bonsmara- en boranbeeste.

Maar Cyril die beesboer se eintlike trots is sy geliefde ankolebeeste, ’n ras met unieke hol horings waarop hy in Uganda vir die eerste keer sy hart verloor het. Hy het verlede jaar glad ’n fotoboek getitel Cattle of Ages oor hulle laat saamstel.

Die indrukwekkende ankolebeeste met hul swierige horings het in pres. Cyril Ramaphosa se hart ingekruip.

Vir elkeen van sy ankolebeeste het hy ’n naam: Thanyani, Mambo, Yonona, Kolani . . . Elke naam het ’n betekenis: Tshinakaho beteken “beeldskoon” in Venda, sy moedertaal, en Dembe “wonderwerk”.

Ry jy verder deur die plaas van 5 100 ha, strek ’n groen vallei voor jou uit. Dis asemrowend. Minstens een keer per maand probeer die gesoute politikus kom kyk of alles hier nog reg verloop. Dan land sy helikopter vroegoggend op die plaas en dieselfde aand vertrek hy weer na waar hy ook al moet wees.

Sy program is so bedrywig dat hy vier jaar laas in die doodgewone vierslaapkamerhuis kon oorslaap, vertel ’n kennis, wat uit respek verkies om anoniem te bly.

Maar vir die tydjies wat Cyril wel hier by sy sowat 250 ankolebeeste kan deurbring, is hy ver verwyder van die land se uitdagings en gewoel.

Hy wou ’n plek hê waar hy sy eie beeste kon aanhou en waar hy in sy pa, Samuel Mundzhedzi Ramaphosa, se voetspore kon volg, vertel Cyril self in die boek oor sy beeste.

Samuel was as kind ’n beeswagter vir sy pa en oom se kudde op die vlaktes van Khalavha in Venda. Cyril se droom het waar geword toe hy in 2001 dié plaas buite Badplaas koop. Hier sou hy die grootste ankolebeesstoet in Suid-Afrika opbou.

Hy het dié beesras die eerste keer gesien toe hy in 2004 in ’n helikopter oor die plaas van Yoweri Museveni, die president van Uganda, sirkel terwyl die loods op soek was na ’n landingsplek.

“Doer onder was hierdie pragtige wesens wat my dronkgeslaan het,” vertel Cyril oor die beesras wat in Uganda die “konings se beeste’’ genoem word.

Die doodgewone vierslaapkamerhuis op die plaas.

“Elkeen het lang, wit, pragtige horings gehad wat in die Afrikason glinster. Ek kon my aan hulle verkyk.

“Ek het net daar verlief geraak op hierdie skepsels.”

Hy wou dié ras na Suid-Afrika invoer, maar die Suid-Afrikaanse departement van landbou, bosbou en visserye het ’n stokkie voor sy planne gesteek. Uit vrees dat beessiektes nie voldoende in Uganda beheer word nie, is hy nie toegelaat om die beeste die land in te bring nie.

Maar ’n boer maak ’n plan. Cyril het 43 van Museveni se beeste gekoop en hulle na die reservaat Ol Pejeta in Kenia verskuif. Daar het dr. Morné de la Rey, ’n veearts en direkteur van die beesvoortplantingsdiens Embryo Plus, sy koeie geïnsemineer met sperma van sy bulle. Die embrio’s is daarna uit die diere verwyder en by die bonsmara- en borankoeie op Cyril se plaas ingeplant.

Sowat 13 jaar gelede is sy eerste ankole-kalf gebore, en deur die jare het sy trop gegroei tot die pragtige klomp wat nou op die groen heuwels wei.

Cyril was die tweede Suid-Afrikaanse boer wat die ras na Suid-Afrika gebring het; hy is voorgespring deur Dail van Rensburg van Delareyville in Noordwes. Vandag is daar altesaam 13 ankoleboere in Suid-Afrika. Die eerste ankolebeeste het hier aangeland toe ’n Duitser hulle in 1929 uit Uganda hierheen gebring het om hulle na Europa uit te voer, vertel Dail.

“In die 1970’s is van dié beeste teruggebring na Suid-Afrika, waar hulle onder meer in dieretuine aangehou is. Later het die dieretuine hulle verkoop, en ek het van dié beeste gekoop.”

Wat dié beesras so interessant maak, is dat hul horings hol is, vertel Kobus Rall, Cyril se plaasbestuurder. Dit help hul liggaamstemperatuur reguleer. Die horings is vol bloedvate en die bloed word daarin afgekoel voor dit weer deur die bees se liggaam sirkuleer.

'Ek het net daar verlief geword op hierdie skepsels'
Pres. Cyril Ramaphosa
Die ankolebeesras se horings is hol en help om hul liggaams­temperatuur te beheer.

Terwyl ons op die plaas rondloop, kom ’n bakkie aangery. Die bestuurder in sy goudgeel T-hemp klim uit en groet met ’n breë glimlag. Hy stel hom voor as Randy Cangale, ’n verlangse familielid wat in beheer is van Cyril se stoet.

“Cyril is vir my soos my eie pa,” vertel Randy. “Ná skool het hy my onder sy vlerk geneem. Hy het my potensiaal raakgesien toe ek nog op my kleinhoewe op Badplaas geboer het.”

Randy se groot droom was om landbou te studeer, en Cyril het hom gehelp om dit te bewaarheid. Vandag het Randy ’n graad in dierewetenskap en plantproduksie.

“Hy gee regtig om vir sy medemens,” sê ’n kennis oor Cyril. Dan vertel die kennis van die drie maaltye per dag wat sy plaaswerkers kry. Hy sorg ook vir busvervoer vir sowat 50 werkers soggens en saans tussen sy plaas en Badplaas.

Dit was drie goeie maande vir die man wat as ’n gebore leier beskou word. Hy is nie net in Desember as leier van die ANC verkies en pas as Suid-Afrika se nuwe president ingehuldig nie; hy het boonop vroeg in Februarie president geword van die Suid-Afrikaanse Ankole-telersgenootskap op hul stigtingsvergadering in Irene, Centurion.

Die ingang na Ntaba Nyoni.

“Met die vergadering het Cyril vir sy lyfwagte gesê om buite te bly,” vertel Nico Lerm, ’n ankole- en wildboer van Albertinia in die Wes-Kaap.

“Daarna het hy almal gegroet en vir hom gaan koffie maak. Hy het gevra of nog iemand koffie wil hê. Hy het omtrent vir almal koffie gemaak. Dis die soort mens wat hy is.”

Nico is so beïndruk met die plat-op-die-aarde president dat hy ’n bul wat hy by Cyril gekoop het “Ramaphosa” gedoop het. Nico boer hoofsaaklik met ankole vir jagdoeleindes “omdat hulle indrukwekkende horings so gesog is”.

Dis juis daardie horings wat Cyril in sy fotoboek wou vasvang.

“Cyril gee vir al die beeste name,” vertel die fotograaf Daniel Naudé, wat die foto’s vir die boek geneem het. “Hy is passievol oor sy beeste.”

'Hulle is vir my so kosbaar soos my eie kinders'
Pres. Ramaphosa oor sy beeste

In sy boek vertel Cyril van al die dinge waaroor hy nog altyd geesdriftig was: “My land en sy mense, my familie, onderrig, jeugbemagtiging, vlieghengel, die ANC en ekonomiese transformasie – spesifiek die ontwikkeling van klein ondernemings. Min het ek geweet daar is plek oor in my hart vir nog een ding . . .

“Hulle is vir my so kosbaar soos my eie kinders. Die uitwerking wat hulle spiritueel op my het, is om my te herinner hoe belangrik dit is om dankbaar te wees vir die hier en nou.” 

FOTO'S: MARTIN DE KOCK, DANIEL NAUDÉ