Dis 10 minute oor drie op ’n Woensdagoggend toe my wekker op my skel. Ek vlieg op pleks daarvan om die sluimerknoppie te druk.

Hoekom is ek nou eintlik in die middel van die nag wakker?

O ja, dring dit tot my benewelde brein deur: Ek het ’n afspraak met die president.

Ek gryp na my gemaklike stapskoene pleks van my sandale, want ek is nie op pad parlement toe nie.

Die geleentheid is die volgende aflewering van #tummymustfall, die speelse hutsfrase waarmee pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrikaners deesdae elke af en toe op Twitter nooi om vroegoggend ’n entjie saam met hom te stap om fiks te word.

Vanoggend stap hy van Khayelitsha tot in Mitchells Plain in Kaapstad; ’n vinnige 6 km met sonsopkoms.

Ek slaan my eerste koppie koffie weg, maar my kop is nog lekker wollerig. In die motor op pad na Lookout Hill in Khayelitsha klap ek nog ’n koffie.

Eers toe die groepie wagtende stappers in my hoofligte opdoem, begin die opgewondenheid my beetpak. Dit is nog pikdonker en die herfswind sny deur my klere terwyl ons wag dat die president sy verskyning maak.

“Dis die tyd dat ’n mens nog langs jou verloofde moet lê,” sê iemand langs my.

“Dis koud.”

Ek wil eers saamstem, maar die gedagte dat ek dalk binnekort die president kan ontmoet, laat my van die koue vergeet. Die stappery saam met gewone mense het op 15 Februarie vroegoggend begin, kort voor hy as ons nuwe president ingehuldig is.

Oorblufte Kapenaars het Cyril gewaar waar hy saam met die voormalige minister van finansies Trevor Manuel op Seepunt se promenade gaan draf het. Dit was nie lank nie of ’n selfiestorm het die internet soos ’n vars, politieke bries getref: Foto’s wat Kaapse stappers en drawwers vroegoggend op die promenade saam met Cyril geneem het, is wyd gedeel.

’n Paar dae later het die nuwe staatshoof Kapenaars genooi om by hom aan te sluit toe hy vroegoggend van Guguletu na Athlone stap.

Toe die televisiekameras en ’n hele hand vol stappers hom vroegdag ontmoet, het hy bevestig hy wil Suid-Afrikaners aanmoedig om fiks en gesond te leef en dat hy gereeld sulke stappies sou onderneem.

En hier is ons nou, ek inkluis, gereed om vanoggend by die informele “Ramaphosa Running Club” aan te sluit.

Hier’s ’n hele hand vol inwoners van die omliggende buurte op die Kaapse Vlakte wat wil saamstap. Alan en Alsona Parry het van Durbanville af gekom en hul spruite, Frederick (11), Mathys (10) en Gwyneth (6), saamgebring. “Ek hoop ek sal vir hom kan hallo sê,” laat Frederick opgewonde hoor.

Agter van links is Alan en Alsona Parry van Durbanville by Patrick Mngxunyeni en Vusumzy Nelani. Voor staan Frederick en Mathys Parry. Foto: Corrie Hansen

Die horlosiewyser kruip nader aan vyfuur. Daar is al sowat 100 mense op die parkeerterrein. Toe kom vier lang, slap swart motors met flitsende blou liggies aan die voorpunt daarvan neus teen stert aangery. TOE die motordeur stadig oopgaan, is dit asof die rooitapyt in Hollywood uitrol.

Dis net kameras wat flits en video’s wat opgeneem word. Dit voel asof ons ’n superster inwag. Maar dis g’n rolprentster wat verskyn nie; dis Cyril self.

Hy glimlag van oor tot oor en dra ’n ANC-sweetpak, hoedjie en tekkies.

“Kom ons stap!” laat ’n vrou hoor wat aan die gang wil kom. “Ek het gekom om my stappie vir die dag in te kry.”

Die president, sy lyfwagte én die skare van sowat 100 gee gehoor en begin wikkel. Dit is net ná vyf toe ons wegtrek.

Pres. Cyril Rama­phosa en ’n groep stappers stap deur die strate van Khayelitsha. Foto: Corrie Hansen

Cyril stap teen ’n stewige pas. Hy neem die oefeningstorie ernstig op. Al is daar mense wat van oral sy aandag probeer trek, laat hy hom nie van stryk bring nie. Die dag breek saggies in die verte en die lug raak pienk.

Die gevoel van opgewondenheid bly. Alan tel Gwyneth op sy skouers en almal stap met mening. ’n Ou tannie in haar pers kamerjas loer oor haar voordeur toe ons verbystap. Cyril kry dit nie oor sy hart om verby haar te stap sonder om te groet nie.

“Hoekom stap jy nie saam met ons nie?” vra hy. “Ek is ’n bietjie siek,” verduidelik sy. Hulle gesels ’n rukkie, en toe hy verder beweeg, suig sy haar duim van blydskap en druk dit op haar skouers. “Wat ’n eer om sy hand te skud,” laat sy hoor.

’n Fotograaf wat die volmaakte skoot probeer kry, val neer. Kort-kort stel nog iemand hom of haar aan Cyril voor, en dié wat dapper is, vra ’n selfie.

In die stap vertel Nomonde Ngqula sommer alles omtrent Suid-Afrika se nuwe president maak haar opgewonde. “Jy kan dit in sy oë sien. Hoe hy luister; sy humorsin. Hy het respek vir mense en hy wil dinge vir ons beter maak,” sê sy.

‘Dis lekker om saam met die mense te stap en te gesels’

Ek vertel haar ek wil graag met hom gesels. “Jy moenie bekommerd wees nie. Hy sal. Hy is ’n baie nederige man.”

Ek probeer nader aan Cyril kom, maar loop eensklaps teen ’n gespierde lyf vas.

Dis een van die lewende bakstene in die veiligheidsmuur wat hom omring. Ek bons van die mensemuur af, stap tot ’n entjie voor die president en ontplooi my beste glimlag terwyl ek hom in die oë kyk.

Ek is stomgeslaan toe hy my glimlag beantwoord en my nader roep. Die mensemuur laat my onwillig deur en skielik stap ek langs die president. Ek raak paniekerig.

Daar is ’n hele lys uitgewerkte vrae vir die president in my rugsak, maar ek kan dit nie in die hande kry terwyl ek drafstap om by te hou nie. Hy draai na my en vra waar ek vandaan kom.

Toe ek vir hom sê ek is van Huisgenoot, helder sy gesig op.

“Julle ouens het ’n storie oor my geskryf. Ja, ek het dit gelees. Ek het gedink dit is goed geskryf. My vrou het die storie vir my gebring en sy het ook gedink dit is goed geskryf.”

Ek voel skoon oorbluf oor die kompliment en glimlag nou self van oor tot oor. Een van die president se lyfwagte tik op my skouer. Volgens hom het ek nou genoeg tyd saam met Cyril gehad. Ek probeer dit ignoreer, maar ná ’n ruk trek een my aan die arm.

Gelukkig beduie die president met sy hand hulle moet my los.

“Dankie, mnr. die president,” sê ek. “Ek is baie bly u het van die storie gehou.”

Dan vra ek: “Hoe voel dit om soos ’n beroemde ster hanteer te word?”

Hy lag sag.

Die president saam met ’n jong aanhanger tydens een van sy oggendstappies saam met die mense van die land. Foto: Corrie Hansen

“Ek weet nie van beroemd wees nie. Dis lekker om saam met die mense te kan stap en met hulle te gesels.” Weer voel ek die hand aan my skouer pluk. Ek besef my tyd het uitgeloop.

“Dankie, mnr. die president. Dit was wonderlik om u te ontmoet.”

“Jou ook. En dankie,” laat hoor hy.

En net so is my minuut saam met die president verby.

Ek sien jy het met hom gesels,” laat Nomonde hoor. “Jy weet, hy het waarlik ’n hart vir mense. Hy is teenwoordig, hy is nie beterweterig nie en hy is nie vals nie. Ek kan dit net in hom sien.”

Sy glimlag. “Ons noem dit ubuntu.”

By Mitchells Plain se burgersentrum, waar Cyril se stappie vandag eindig, staan nog ondersteuners hom singend en inwag. Ek kan voel ek het goeie oefening agter die blad, maar voel heerlik.

Dit is nou amper halfsewe, en ’n bietjie langer as ’n uur nadat ons begin het. Cyril klim teen die UDF-standbeeld langs die gebou op. “Amandla!” (krag) skree hy. “Awethu (vir die mense)!” antwoord die skare hom.

“Dankie aan almal wat vandag gekom het. Dit was wonderlik om saam met julle te stap. Ek het so baie mense ontmoet,” groet hy vrolik.

Op pad na sy motorstoet verpoos hy vir ’n handdruk hier, ’n selfie daar.

In die wegry wuif hy, en een van die stappers roep skoon aangedaan: “Tot siens, president! Tot siens, president!”