Dit is die eindtyd, sê ’n gryskopvrou in die ­supermark uitasem terwyl sy die 12de 5 L-waterbottel in haar trollie laai. “Minder as 90 dae tot . . . wat noem hulle nou weer daardie dag?” vra sy dringend. 

“Dag Zero,” help ek haar.

“Ja, Dag Zero; daardie dag sonder ­water,” sê sy.

 Ek stap verby die rak met koerante. Op die voorblad van ’n dagblad staan die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, by een van die talle waterpunte waar Kapenaars na verwagting van 21 April hul daaglikse kwota van 25 L elk sal moet gaan haal. Die Kaap beleef die ergste droogte in die afgelope eeu en die damme word vinnig leër.

As Dag Zero wel aanbreek, sal Kaapstad die grootste stad ter wêreld word wat tot dusver sonder water moes wees, berig die internasionale media.

Sal ek ’n week lank met net 25 L water per dag kan klaarkom, wonder ek. Ek het besluit om uit te vind nog voor die gevreesde Dag Zero aanbreek.

Ek koop vyf 5 L-bottels en maak ’n opname van wie en wat alles daarop moet oorleef: Ek, my golden retriever, Reuben, ’n vetplant en ’n bonsaiboompie. 

Ek bel my ma in die Vrystaat en vertel haar van my plan.

Joanie Bergh.

“O, dis maklik,” sê sy terwyl die donderweer in die agtergrond dreun. 

“Die ou mense het geglo jy kan jouself met net ’n koppie water en ’n waslap was.”

Vir my klink dit ietwat makliker gesê as gedaan.

So het ek dit gedoen:

Dag 1

Ek begin ten spyte van die kommerwekkende konteks hardop lag. Soos Fiela vir Benjamin Komotie gewas het in ’n skottel in die fliek Fiela Se Kind, sit ek nou in die bad met ’n waslap en 1,5 L water. In daardie selfde water het ek netnou my hare gewas en afgespoel – oor die bad se rand en met ’n prop in die bad om die water op te vang. Dit was koud, want ek het die water nie eers gekook nie.

Ek gebruik ’n halwe koppie water (125 ml) vir tandeborsel in die oggend en weer in die aand, en my hond drink 1 L water vir die dag. Deur die loop van die dag drink ek altesaam 4 L, waarby die koffiewater vir drie koppies ingesluit is. Ek maak kos sonder om water te ­gebruik.

Ek sit die dag se vuil klere in ’n emmer met 2 L seepwater en laat dit oornag staan. Ek spoel die toilet net wanneer ­nodig (aaklig!) en gebruik altesaam 5 L daarvoor.

Totale gebruik: 13,75 L 

Dag 2 

Ek gaan gim toe en neem 1 L drinkwater saam. Ek stap ná die tyd sweterig by die huis in en kyk met verlange na my stort. Nee, trek die 1,5 L-bottel water nader, oortuig ek my­self, en was soos die vorige dag daarmee my hare en lyf in die bad. 

Ek besluit om 500 ml water elke dag by my wasbak neer te sit vir hande was. Dit bring my basiese watergebruik vir hierdie dag, en vir elke dag van die res van die week, op 11,25 L te staan.

Dit sluit in 4 L drink- en koffiewater vir my en 1 L water vir my hond, 1,5 L vir was en hare was, 250 ml vir tande borsel, 500 ml vir hande was en 4 L vir klere was en uit­spoel.

Ek was dié dag en die vorige dag se skottelgoed met 3 L. Ek gebruik die 2 L gryswater waarmee ek die vorige dag se klere uitgespoel het om die toilet te spoel, plus nog 2 L.

My lyf, hare en klere voel net so skoon soos in die dae voor die waterkrisis. Net die min toiletspoel bly ’n pyn. 

Totale gebruik: 16,25 L 

Dag 3

Ek raak bewus van elke druppeltjie water wat uitstort. Dit voel soos goud wat ’n mens bakhand in jou hande probeer beskerm. My 1,5 L-oggend-“storte” in die bad raak lekker, en ek wonder of ek nie met nog minder kan klaarkom nie. Ek moet my hond bad en gebruik ’n 1 L-spuitbottel om hom te was en af te spoel.

Ek maak vir myself kos – hoender en slaai – en gebruik 250 ml water om die kropslaai, tamatie en komkommer af te spoel.

Ek spaar drinkwater deur een glas wyn (250 ml) te drink pleks van koffie. 

Ek laat die bietjie skottelgoed tot die volgende dag wag. Ek spoel die toilet met 4 L.

Totale gebruik: 16,25 L

Dag 4 

Ek begin skaam kry oor hoe ek deur my lewe al water vermors het. Vandag lees ek dat min water vir die inwoners van informele nedersettings geensins snaaks is nie; hulle is gewoond daaraan om so te leef.

Motor was is volgens die streng ­waterbeperkings taboe. Dit help darem om my motor elke aand met ’n sagte, nat lap af te vee.

Ek koop wegneemkos en spaar skottelgoedwater.

Benewens my basiese watergebruik, gebruik ek 4 L vir die toilet.

Ek koop vier vanieljegegeurde kerse en laat dit in die badkamer brand.

Totale gebruik: 15,25 L

Dag 5

Ek wys vir Lulu, my engel-huishulp, die vyf 5 L-waterbottels vir die dag en sê sy moet kyk met hoe min daarvan sy kan klaarkom. Sy lag en sê sy kan dit maklik doen.

Die seepwater waarin ek elke aand die dag se klere laat lê, gebruik sy om my tweeslaapkamerwoonstel se vloere te was.

Joanie en Reuben.

Vandag gebruik ek benewens die water vir my basiese behoeftes 1 L om spinasie, pampoen en koeskoes te kook en 3 L vir skottelgoed was. Omdat die wasgoedwater vloerwaswater geword het pleks van toiletspoelwater, gebruik ek 7,5 L vir laasgenoemde.

Totale gebruik: 22,75 L

Dag 6

Ek gooi 5 L in die bad om my beddegoed en drie handdoeke te was, laat dit in seepwater week en trap dit skoon, voor ek dit met nog 5 L uitspoel. Die afspoelwater gebruik ek weer vir die toilet. Ek eet uit; daarom hoef ek nie skottelgoed te was nie.

Totale gebruik: 21,25 L

Dag 7

Ek koop elke week vars madeliefies vir my huis en sit die twee bosse in vase met altesaam 500 ml water. Ek gooi my plante nat met 1 koppie (250 ml) water. Ek koop wegneemkos en het weer geen skottelgoed nie. Ek spoel die toilet met 4 L water. Ek was myself vir oulaas met 1,5 L koue water. Ek stem saam met my ma: Ek is seker ’n koppie water en ’n nat waslap is haalbaar.

Totale gebruik: 16 L

My week se waterverbruik is heelwat minder as wat ek gedink het dit sou wees, en ek het steeds my gewone lewenstandaard gehandhaaf. Die grootste uit­dagings was om myself in die bad te was pleks van te stort, met koue water my hare en lyf te was (gelukkig is dit somer!) en met die hand wasgoed te was.

Dit was ook moeilik om myself voort­durend te herinner om spaarsaam met die water te werk.

Dalk is die prentjie nie so somber soos dit lyk nie en het Dag Zero se donker wolk tog ’n silwer randjie. 

Daar's water (te koop)

Hoe gemaak as jy meer as 25 L per dag nodig het?

Riefqah Davids van Aquazania, wat nasionaal water verskaf, vertel hulle word deur Kapenaars oorval wat van hul gefiltreerde water wil koop. 

Dié gelisensieerde maatskappy kry hul water uit Johannesburg en ­lewer dit daar en ook in Kaapstad en Durban af. Kliënte kry ’n gratis bottel water van 21,8 L om hulle hul week­likse watergebruik te help bereken. Daarna betaal hulle R60 vir elke 21,8 L-waterbottel. Die aflewering is gratis.

Volgens Xolani Koyana, woordvoerder van Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, is daar reeds ander maatskappye wat munisipale water verkoop aan mense met swembaddens en opgaartenks. 

Maar hy waarsku onwettige watertransaksies is strafbaar met boetes en selfs tronkstraf. 

“Elke waterbron wat sulke maat­skappye of ondernemers vir hul verkope gebruik, moet gelisensieer word deur die stad of nasionale ­regering. 

“Ons maan inwoners om sulke verskaffers om hul lisensie te vra, asook vir bewyse dat die water voldoen aan relevante gesondheid- en veiligheidstandaarde.

’n Tipiese 25 L-dag
  • Skottel-& wasgoed: 6 Liter
  • Lyf was: 2 Liter
  • Toilet-spoel: 4 Liter
  • Daaglikse higiëne: 1 Liter
  • Kook: 1 Liter
  • Drink­water: 4 Liter
  • Vir die hond: 1 Liter