Elke keer wanneer hy sy mond oopmaak, raak hy beledigende of diskriminerende dinge kwyt.

Vroue, sê hy, verdien om minder as mans betaal te word, want hulle het die irriterende gewoonte om swanger te raak. Immigrante is die “skuim van die aarde”.

En hy sal eerder die trauma verduur dat sy seun in ’n ­motorongeluk sterf as om hom die woorde te hoor uiter: “Pa, ek is gay.”

Hoe kan so ’n onverdraagsame vent die staatshoof van ’n land wees? 

Pres. Donald Trump is seker verlig hy is ’n slag nie die een wat woede ontketen nie – vergeleke met Brasilië se nuwe ­president, Jair Bolsonaro, lyk die Amerikaanse leier byna so mak soos ’n lammetjie. 

Maar al word Bolsonaro (63), ’n voormalige kaptein in die Brasiliaanse leër, “die Trump van die trope” genoem, is hy veel meer regsgesind. Daar is trouens mense wat sê hy is werklik gevaarlik – vir Brasilië en vir die wêreld.

Brasilië se nuwe president, Jair Bolsonaro, vier sy oorwinning saam met ondersteuners.

Dit is ’n ou dié wat diktators loof, steun vir marteling uitspreek, spot hy sal sy ­politieke teenstanders laat skiet en trots is op die beskrywing van hom as “die mees vrouehatende en veragtelike amptenaar in die demokratiese wêreld”.

Pleks van hom afstootlik vind, het ­hordes Brasiliane in die land se onlangse verkiesing vir hom gestem. Hulle is moeg van wat hulle beskou as papbroekerige politici en ervaar sy bot styl as eerlik – en hulle hoop hy sal inklim en sake regruk.

Waar kom Bolsonaro vandaan en hoe het hy aan die stuur van die vierde grootste demokrasie ter wêreld beland?

Net soos Trump het hy ontsag vir die weermag. As ’n tiener wat op die dorp ­Glicério in die deelstaat São Paulo grootgeword het, het Bolsonaro die Academia Militar das Agulhas Negras, Brasilië se hoof- militêre akademie, bygewoon.

Nadat hy in 1977 daar klaargemaak het, het hy as ’n valskermsoldaat diens gedoen, maar vinnig tot die rang kaptein opgang gemaak. In 1988 het hy die leër verlaat om daarop te fokus om ’n politieke loopbaan te bou en daarin geslaag om hom as stad­raadslid in Rio de Janeiro te laat verkies.

Twee jaar later is hy as ’n lid van die Christelike Demokratiese Party tot die kongres verkies. Hy was 27 jaar lank in die kongres terwyl hy verskeie kere tussen verskillende konserwatiewe partye oorgeloop het.

Al het hy meer as 170 wetsontwerpe ingedien, het net twee wet geword.

In 2008 was hy aan die middelpunt van ’n herrie nadat dit aan die lig gekom het hy het sy vrou, Michelle, as sy sekretaresse aangestel.

In die bestek van twee jaar het hy haar verskeie kere bevorder en haar salaris verdriedubbel.

Hy was later verplig om haar af te dank nadat Brasilië se hooggeregshof bevind het nepotisme is onwettig in die open­bare administrasie. Michelle is Bolsonaro, die pa van vyf kinders, se derde vrou, en hulle woon nou in Barra da Tijuca, ’n rykmansbuurt in Rio de Janeiro.

Bolsonaro het meer as ’n dekade in die Brasiliaanse leër gedien.

Al het hy skynbaar hoë agting vir sy vrou, het sy aanmerkings oor vroue hom al op vele geleenthede in die pekel laat beland. In 2015 is hy beboet omdat hy in ’n onderhoud gesê het die kongreslid ­Maria do Rosário is “nie werd om te verkrag nie”, want “sy is baie lelik”.

Hy is ook deur die prokureur-generaal ondersoek oor rassistiese kommentaar wat hy oor swart Brasiliane gemaak het.

Niks hiervan het hom van stryk ­gebring nie. Vroeg vanjaar het hy die Sosiale Christelike Party verlaat om by die Sosiale Liberale Party aan te sluit. Dit was sy invloed wat die party meer regsgesind laat raak het, sê ontleders. Hy het in Julie die party se amptelike benoemde vir die presidentsverkie­sing geword. 

Aanvanklik het sy kans skraal gelyk teen die gewilde Luiz Inacio Lula da ­Silva, wat herverkies wou word nadat hy tot in 2010 sewe jaar lank as president gedien het. Maar toe Lula in April vir 12 jaar tronk toe gestuur word op aanklagte van korrupsie in sy ampstermyn, het Bolsonaro sy kans aangegryp.

View this post on Instagram

Me preparando para voltar à ativa!

A post shared by Jair M. Bolsonaro (@jairmessiasbolsonaro) on

Hy het ál meer uitgesproke geraak en beloof om “Brasilië weer wonderlik te maak” – ’n onbeskaamde nabootsing van Trump se veldtogleuse, “Make America great again”.

Van sy landgenote was meer omgekrap en bekommerd as ander – en daar was selfs fanatiese optrede teen hom.

In ­September het ’n man na Bolsonaro ge­hardloop en hom in die maag gesteek terwyl ’n ondersteuner hom tydens ’n veldtogbyeenkoms op die dorpie Juiz de Fora op die skouers gedra het.

Die aanvaller, Adélio Bispo de Oliveira, ’n voormalige lid van die linksgesinde ­Sosialisme-en-vryheidsparty, het aan die polisie gesê God het hom opdrag gegee om die aanval uit te voer.

Bolsonaro se seun Flávio het later onthul sy pa was amper dood weens ernstige bloedverlies. Terwyl hy langer as ’n maand bedlêend was, het die politikus sy veldtog voortgesit deur boodskappe aan sy miljoene Facebookvolgelinge af te vuur.

In die eerste ronde van die verkiesing het hy eerste geëindig met 46% van die stemme. Maar sy voorsprong was nie groot genoeg nie, en verlede maand het Bolsonaro in ’n tweede verkiesing teen Fernando Haddad van die Werkersparty meegeding.

In dié ronde het hy 55% van die stemme op hom verenig, genoeg dat hy op 1 Januarie 2019 as Brasilië se 38ste president ingehuldig sal word.

Sy ondersteuners is in die wolke, maar kommentators spreek kommer uit oor Bolsonaro en sy “neofascistiese” gesindheid.

“Die ekstreem regses het Brasilië ver­ower,” sê Celso Rocha de Barros, ’n ­Brasiliaanse rubriekskrywer.

“Brasilië het nou ’n meer ekstremistiese president as enige demokrasie ter wêreld . . . ons weet nie wat gaan gebeur nie.”

Brasilië het sewe van die 20 gewelddadigste stede ter wêreld. Dit het meer as 60 000 moorde per jaar – dis werklik skrikwekkend. Mense wil ’n kitsoplossing daarvoor hê.
Hy en sy vrou, Michelle, verlede maand by ’n stempunt.

Hoekom sou die Brasiliane hul steun bied aan iemand wat die land verdeel en groot groepe mense vervreem?

“My ontleding is dat dit ’n verwerping van die status quo-politiek is. Mense is eenvoudig keelvol,” sê dr. Sean Burges, ’n lektor in internasionale verhoudings aan die Australiese Nasionale Universiteit wie se spesiale fokusgebied die Brasi­liaanse politiek is.

Nadat hulle al die korrupsie in die Brasiliaanse politiek gesien het – onder meer die vervolging van Dilma Rousseff, Brasilië se eerste vrouepresident, in 2016 weens die verontagsaming van begrotingsregulasies – het kiesers nie meer vertroue in die poli­tici van die hoofpartye nie. 

“Hulle wou iets buite die norm hê, en Bolsonara voldoen aan die vereistes,” voeg Sean by.

“Hy is die harde, kwaai stem.”

Bolsonaro en sy drie oudste seuns, (van links) Flávio, Carlos en Eduardo. Hy het nog ’n seun, Renan, en ’n dogter, Laura.

Die politikus het beloof hy sal korrupsie hokslaan, veiligheid in die misdaadgeteisterde land opskerp en ’n onversetlike houding teen linkse ekonomiese beleid inneem. 

“Ons kan nie aanhou flankeer met kommunisme nie,” sê hy. “Ons gaan die lot van Brasilië verander.”

Kiesers het by dié beloftes aanklank gevind – selfs al het dit beteken hulle hou hulle blind vir die verkleinerende idees en haatspraak wat hy al kwytgeraak het.

“Mense is bang,” sê Sean. “Ek dink vrees is ’n groot deel hiervan. Brasilië het sewe van die 20 gewelddadigste stede ter wêreld. Dit het meer as 60 000 moorde per jaar – dis werklik skrikwekkend. Mense wil ’n kitsoplossing daarvoor hê.” 

Trump was een van die eerste wêreldleiers wat Bolsonara gebel het om hom geluk te wens. Dit het waarskynlik vir die omstrede nuwe staatshoof baie beteken om van sy held te hoor. 

“Trump is vir my ’n voorbeeld,” sê Bolsonara. “Ek beplan om nader aan hom te kom tot voordeel van sowel Brasilië as Amerika.” 

Ekskuus, hy het wát gesê?
  • Oor vroue: “Ek het vyf kinders. Vier is mans, maar met die vyfde een het ek ’n oomblik van swakheid gehad en die kind het ’n vrou uitgekom.”
  • Oor gay mense: “Ek sal dit nie beveg of daarteen diskrimineer nie, maar as ek twee mans sien wat mekaar op straat soen, sal ek hulle moker.”
  • Oor vlugtelinge: “Die skuim van die aarde duik in Brasilië op – asof ons nie genoeg probleme van ons eie het nie.”
  • Oor demokrasie: “Ek is ten gunste van ’n diktatorskap . . . Ons sal nooit ernstige nasionale probleme met dié onverantwoordelike demokrasie oplos nie.”
  • Oor menseregte: “Ek is ten gunste van marteling.”

BRONNE: NYTIMES.COM, GUARDIAN.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UKCTV.CA

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM/@JAIRMESSIASBOLSONARO