Ja, Alfonzo Franke van Kaapstad het nogal rugbyliefhebbers laat regop sit en 'n paar Kiwi-wenkbroue laat lig toe hy met die impi se gebruiklike inval vanuit die paviljoentonnel voor die afskop reguit op die All Blacks afpyl en skreeuend voor Kieran en sy spanmaat Sam Whitelock die lug inspring.

Toe hy terugstorm na sy medekrygers, Joshua Nkosi en Thobela Torra, het hy weer sy assegaai in Kieran-hulle se rigting gemik en 'n beweging gemaak wat as 'n keelafsny-gebaar vertolk is.

Hy wou bloot die wind uit die vyand se haka-seile help haal, vertel Alfonzo nou. En hoe kan 'n mens dan nie meegevoer raak te midde van so 'n atmosfeer, in 'n stampvol stadion met meer as 50 000 toeskouers en 'n begeesterde Bok-span wat weer die wêreld se bestes begin intimideer nie?

Kiwi's soos die All Blacks-breier Steve Hansen het trouens Alfonzo se oorlogsdans as 'n teken van Suid-Afrikaners se rugbypassie geloof.

Alfonzo Franke, Joshua Nkosi en Thobela Torra - oorgehaal vir 'n impi-aanslag. Foto: Verskaf

"Dit was iets spontaans, nie beplan nie," verduidelik Alfonzo. Hy is eintlik 'n kameraregisseur en rolprentmaker, veral musiekvideoregisseur. Hy maak lankal video’s vir SA Rugby om die stemming voor sulke wedstryde vas te vang.

Dit sluit kort opnames in van aanhangers van sowel die Bokke as hul teenstanders, die spanne se aankoms by die stadion en van spelers hier en daar. En terwyl hy die afgelope Saterdag hiermee besig was, het hy net die afwagting en "energie in my voel opbou".

En hy het weer besef hoeveel so 'n oomblik vir albei kante beteken, "hoeveel die nasie staatmaak op die Bokke, dat daar g'n ruimte was vir vrees of twyfel nie. En so het ek ook net die passie van my beheer laat neem."

Toe hy uitstorm in sy Zoeloe-krygsgewaad het die All Blacks "heelwat nader aan waar ek gewoonlik my laaste 'bang' doen (waar hy, vuurwerk en al, voorgee hy gooi sy spies die lug in) vir hul haka aangetree. En met al my opgekropte emosie was dit asof ek dié boodskap aan hulle wou oordra: Dis oorlog!”

Nee, hy het hulle nie iets toegesnou, soos vroeër bespiegel is nie. "Dit was maar 'n brul van aggressie. Komaan!" Die keelaf-gebaar? Hy het sy assegaai-lem oor sy bors getrek. Dit was effens gebuig toe hy dit weer uit Loftus se gras trek, vertel hy laggend.

Een van daardie groot Kiwi’s sou dalk net "kon aanstoot neem, maar ek was bereid om enige gevolge vir ons land te dra,” sê Alfonzo, 'n lenige 82 kg.

Hy’s nou nie 'n mededingende liggaamsbouer soos sy impi-makker Joshua, 'n tandarts, nie, maar kom so vyf keer per week in 'n gim. "Ek is lief vir oefen en sport in die algemeen, veral sokker en skaatsplankry, en glo in 'n gesonde leefstyl."

En al van sy grootwordjare in een van Mitchells Plain se taaiste buurte was hy waaghalsig, "lief vir enigiets uitdagends".

Alfonzo, wat daar aan Cedar High sy skoolloopbaan voltooi en later by die AFDA-filmskool in Observatory studeer het, vertel hy het verlede jaar half toevallig - deur sy filmwerk vir SA Rugby - self by die impi aangesluit.

Hy het so agter die skerms by die vernuwing van die Bokke se teenvoeter vir Nieu-Seeland se haka betrokke geraak toe 'n regisseurvriend, Kirk Krotz, hom oor idees begin pols. "Ek het ook gehelp met die choreografie van Joshua se roetine.

"’n Aanvanklike idee was 'n hele klomp impi-krygers, maar 'n mens sou realisties net nog een ander behalwe Joshua en Thobela kon hê.” Toe sake dringend begin raak, val Alfonzo toe maar self in. Dit was vir die Bokke se laaste wedstryd teen die All Blacks verlede jaar, en nou is dit al 'n jaar later.

Alfonzo, op pad Guinea toe laas jaar. Foto: Verskaf

Alfonzo het byvoorbeeld dié Blitsbokke-advertensie saam met Kirk Krotz geregisseer.

Danksy sy filmwerk, alles van advertensies (onder meer vir MTN en Rapid Blue) en musiekvideo’s tot kort flieks, het hy al in van Kenia, Ghana en Guinea tot Nigerië gaan draai.

Hy het Spanje ook baie geniet toe hy daar saam met sy vrou, Candice, was terwyl sy verder in elektro-chemie gestudeer het. Sy doseer vandag in nano-elektrochemie aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Hul eersteling, Matai, ("gawe van God"), is nou 'n jaar oud, vertel Alfonzo trots. "Pa-wees is 'n game changer en groot seën.”

Alfonso, Candice en hul kleinding. Foto: Verskaf

Hy pak graag verskillende dinge aan, maar sy videowerk saam met die Kaapstadse hip hop-kunstenaar Beeza, ook 'n jeugvriend, bly 'n fokuspunt en groot gunsteling, vertel hy.

Intussen wil hy graag 'n bydrae help maak met die daarstel van "kreatiewe spilpunte" in gemeenskappe waar dit veral nodig is – vaardigheidsontwikkeling, hulpbronne en steun wat mense se lewe kan help verander.