Dit was ’n gewone Saterdagmiddag in Desember toe ma en dogter in die Kaapse voorstad Observatory ’n straat begin oorsteek. Met die feestyd om die draai en haar lewe wat voor haar uitstrek, kon die 25-jarige Denise Darvall nie geweet het sy was op die punt om geskiedenis te help maak nie.

'n Ongedateerde foto van Denise Darvall. Foto: Brettman/ Getty Images

Maar eers moes sy sterf. Die twee vroue het moontlik nooit die motor sien aankom wat hulle getref het nie. Denise se ma, Myrtle, is op die ongelukstoneel dood, maar Denise se rol in ’n groot en geskiedkundige mediese drama het toe pas begin.

Sy is breindood en met kop- en breinbeserings in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem, waar sy om kwart oor twee die volgende oggend dood verklaar is. Dit was die oomblik waarop ’n jong Suid- Afrikaanse hartchirurg, prof. Christiaan Barnard, en sy span hulle voorberei het.

Die volgende dag het Denise se hart in die borskas van die Kaapse winkelier Louis Washkansky (middel 50’s) geklop. Die datum was 3 Desember 1967 en die wêreld se heel eerste suksesvolle hartoorplanting is uitgevoer.

Chris se naam was oornag op almal se lippe.

Louis Washkansky. Foto: Bettmann/ Getty Images
Prof. Chris Barnard maak in 1967 geskiedenis deur die eerste keer ’n hart suksesvol oor te plant

Hartstog

Vanjaar se 50-jarige herdenking van dié internasionale mylpaal word met twee spesiale produksies op kykNET gevier. Op Sondag 26 November word die dokumentêr Christiaan Barnard: Deurbraak gewys. En Deon Opperman se fliek Hartstog, gegrond op die gebeure van daardie geskiedkundige dag, se première is op Sondag 3 Desember.

Vir drie van die akteurs in Hartstog was dit boonop ’n emosiebelaaide belewenis om aan die fliek te werk.

Danksy hul persoonlike lewe kon Carel Nel (wat die rol van Chris Barnard vertolk), Stiaan Smith (dr. Coert Venter) en Justin Strydom (dr. Terry O’Donovan) hulle sterk met hul karakters vereenselwig.

In die fliek Hartstog speel Stiaan Smith Chris se kollega dr. Coert Venter.
Carel Nel vertolk die rol van Chris. By hom is Deon Opperman, wat Hartstog se draaiboek geskryf het.

Louis is net 18 dae ná daardie mediese mylpaal weens longontsteking oorlede. Maar 18 dae lank het Denise se hart in sy borskas bly klop – en albei se naam sal voortleef saam met dié van Chris, wat in September 2001 in die ouderdom van 78 jaar oorlede is.

Vir Carel, wat in Hartstog die rol vertolk van Suid-Afrika se bekendste hartchirurg, was dit ’n nostalgiese ervaring om as akteur in ’n operasieteater te wees.

Hy het in ’n “mediese huis” in Bloemfontein grootgeword. Sy ma, Dalina, was ’n verpleegster en sy pa, prof. Kerneels Nel, was in die 1980’s hoof van chirurgie aan die Universiteit van die Vrystaat se mediese fakulteit.

“As kind moes ek gereeld na mediese gesprekke tussen my ouers luister en natuurlik is ek die verhaal van die eerste hartoorplanting vertel,” onthou Carel.

Die foto is op 6 Desember 1967 geneem terwyl (toe nog dr.) Chris Barnard uitvind hoe dit met Louis Washkansky gaan. Foto: Getty Images

“Ek’t nie besef hoe groot, geskiedkundig en emosiebelaai die gebeurtenis was nie. Omdat ek in prof. Chris se skoene moes staan, kyk ek nou met ander oë daarna.”

Ná sy rol het Carel, wat al te sien was in die flieks The Salvation, Young Ones (albei 2014) en Shepherds and Butchers (2016), besluit om ook ’n orgaanskenker te word.

Stiaan het kleintyd familieverhale gehoor oor sy oupa se broer, Peet Smith, wat in 1968 die derde suksesvolle hartoorplanting ondergaan het. Peet het ’n jaar lank met sy nuwe hart geleef.

“As Coert het daardie familieverhale nou vir my ’n insiggewende werklikheid geword,” vertel die akteur oor sy karakter, wat tydens die geskiedkundige oorplanting lid van die mediese span was.

Terry het destyds Denise se hart uitgehaal.

Justin, wat hom speel, het al self by die dood omgedraai toe hy in 1985 ’n hartstilstand kry. “Dit het gebeur ná ’n ernstige motorongeluk in Rustenburg, waar ek grootgeword het,” vertel hy.

“Ek was 15 jaar oud en het agter in my ouers se motor gesit toe ons getref word. Ek het die voorste sitplek getref en was bewusteloos. Later het ek gehoor die mediese personeel het lank gespook om my hart weer aan die gang te kry.”

Die oorplanting het die wêreld ver­ander.

Dit was roerend om die 24 uur lange drama rondom die eerste hartoorplanting tot ’n draaiboek te verwerk, vertel Deon, die skrywer van Hartstog.

“Voor dit het ek net geweet Chris Barnard het die eerste hartoorplanting uitgevoer, maar namate my navorsing gevorder het, het die volle drama en merkwaardigheid van alles in daardie 24 uur my verstom en ontroer.

“Die oorplanting het die wêreld ver­ander; die verwerking van almal se betrokkenheid daardie dag tot Hartstog se draaiboek het mý verander.”

Deurbraak

Dit was ’n uitdaging om ná vyf dekades ’n dokumentêre program oor die eerste hart­oorplanting te maak, vertel Wynand Dreyer van Khaki-produksies, die man agter die navorsing en draaiboek van Chris­tiaan Barnard: Deurbraak.

Hy het sy navorsing onder meer gegrond op outobiografieë en biografieë oor Chris se lewe, asook onderhoude met die chirurg se familielede.

In daardie tyd is wyd geglo die mens se siel is in die hart gesetel.

“Bitter min argiefbeeldmateriaal oor daardie tyd is beskikbaar, maar ons het gekyk na wat ons kon kry.”

In die vroeë 1970’s was hy sowat 10 jaar oud en hy onthou die vurige debatte van destyds oor die etiek van hartoorplantings.

“In daardie tyd is wyd geglo die mens se siel is in die hart gesetel. Volgens sommige denkrigtings was dit verkeerd om ’n ander hart te kry, want dit sou van jou ’n ander mens maak.”

Christelle Parrott, medevervaardiger van die dokumentêr, vertel hulle was een aand met verfilming alleen in die Groote Schuur-hospitaal se Chris Barnard-museum, waar ’n replika van die destydse operasieteater ingerig is.

Groote Schuur-hospitaal, waar die eerste hartoorplanting in 1967 plaasgevind het. Foto: Rolls Press/Popperfoto/Getty Images

“Dit was nogal ’n nostalgiese ervaring. Dit het gevoel of die geskiedenis en die mens­poppe lewe kry.”

In die dokumentêr word ’n werklike hartomleiding uitgevoer.“Dit was ongelooflik hoe kalm die mediese span is en watter deernis hulle vir die pasiënte het. Prof. Barnard het sy pasiënte met dieselfde deernis behandel.”

Passie

Karen Berman, Chris se derde vrou, vertel gedurende hul huwelik van 1988 tot 2000 het sy die storie oor die eerste hartoorplanting “seker ’n miljoen keer by Chris gehoor”.

Maar elke keer was soos die eerste keer. “Chris was ’n ongelooflike storieverteller en het ’n groot passie vir sy werk gehad.”

Chris en Karin (nou Berman), sy derde vrou. Hy is 16 jaar gelede aan 'n asma-aanval oorlede.

Die oomblik toe Chris in Louis se leë borskas kyk, het hy gedink: “O vrek, nou moet ek hier ’n hart insit,” onthou Karin.

“Hy het ook vertel hy het op daardie oomblik die alleenste ooit gevoel. ’n Baie goeie mediese span het hom wel bygestaan, maar hy het geweet hy was die enigste een wat die operasie kon doen.”

Anders as vandag het chirurge destyds nie altyd geweet wat om te verwag voor ’n pasiënt se borskas oopgemaak word nie, maar Karin onthou: “Chris het bekendgestaan as iemand wat altyd op sy voete kon dink.”

Dene Friedman, wat vandag nog in Kaapstad woon, was die hart-longmasjien­operateur.


DIE GROOT DAG - DENE FRIEDMAN ONTHOU . . .

Sy vertel die mediese span was sowat drie weke voor die tyd al op bystand. Louis Washkansky het toe al langer as twee maande gewag op ’n geskikte skenkershart nadat hy ’n hartaanval gehad het.

“Ons het geweet ons kan enige tyd gebel word. Dit het bygedra tot die spanningsvolle afwagting om betrokke te wees by wat die eerste suksesvolle hart­oorplanting kon wees.”

Die oproep het omstreeks tienuur die Saterdagaand gekom.

Toe sy in die operasiesaal kom waar Denise Darvall lê, het sy ’n “diepe hartseer” vir dié se pa gevoel.

“Sy was min of meer my ouderdom. Haar kop was in verbande toegedraai; donker krulle het uitgesteek.

“Die atmosfeer was ernstig en stil. Prof. Barnard het gevra of almal gereed is.

Toe gee hy opdrag dat die ventilator afgeskakel word wat haar hart kunsmatig aan die klop hou. Twaalf minute later was daar g’n hartfunksie meer nie. Eers toe kon die chirurge haar borskas oopmaak en die hart uithaal.”

Dene was nie teenwoordig nie, maar het gehoor Louis se eerste woorde toe hy bygebring is, was: “Dit is wonderlik om weer te kan asemhaal.”

Hy het ook later na Chris verwys as “die man met die twee goue hande”, sê Dene.

FOTO'S: MISHA JORDAAN, kykNET, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, VERSKAF