“Sjoe, is jy ’n forensiese patoloog? Soos in CSI? Dit moet só interessant wees! Maar raak jy nie depressief nie?”

Dis die tipiese reaksie wanneer iemand my die eerste keer ontmoet en uitvind wat ek doen. Ek weet nooit wat die beste manier is om daarop te reageer nie. Moet ek my werk romantiseer en met hul fantasieë saamspeel? Of vir hulle die koue, naakte feite gee?

Die vrae hou nie daar op nie. By partytjies of ’n braai bly mense gewoonlik om my rondhang op soek na al die vreemde besonderhede. Die eerste vraag wat hulle gewoonlik vra, is: “Wat is die interessantste ding wat jy al gesien het?”

In hierdie stadium gooi ek wal en sê: “Ek vind nie ander mense se onnatuurlike sterftes interessant nie!”

Ryan Blumenthal het al baie vreemde dinge in sy lo
Ryan Blumenthal het al baie vreemde dinge in sy loopbaan as forensiese patoloog teëgekom. In ’n nuwe boek, Autopsy, onthul hy van die grusame maar wetenswaardige besonderhede van sake waarmee hy al te doen gehad het.

Elkeen van die onnatuurlike sterftes waarmee ek te doen kry verteenwoordig immers ’n tragedie in iemand se lewe. Maar as jy my sou vra wat die ongewoonste of vreemdste ding is wat ek al gesien het, sal ek waarskynlik die storie oor die reuserot vertel.

Eendag kom daar ’n liggaam by die lykhuis aan. Dit is in ’n metaalkis verseël wat op sy beurt in ’n houtkis geplaas is en met staalskroewe vasgemaak is. Die metaalkis is met 100% formalien gevul, wat beteken ons moes baie versigtig te werk gaan. As ons dit binne oopgemaak het, sou die formalien verdamp en die ruimte in ’n gaskamer omskep het. Dan sou ons die gevaar geloop het om weens versmoring te sterf.

Ons het daarom die kis buitentoe geneem, die metaalskroewe verwyder en die formalien in groot metaaldromme uitgegooi vir formele afvalverwydering. Ons het toe die besmette lyk met ’n tuinslang afgespoel.

Die volgende oomblik het ons ’n stukkie “draad” by die area onder die borsplaat sien uitsteek. Die oorledene, ’n Suid-Afrikaner, het in ’n vliegongeluk in Sentraal-Afrika gesterf. Eers het ons gedink die “draadjie” was dalk deel van die vliegtuigwrak. Maar jy kan nooit te versigtig wees nie, en ons het dadelik X-strale van die liggaam geneem. Dit kon immers ook deel van ’n bom gewees het. Dit is welbekend dat sekere misdadigergroepe al bomme in lyke geplaas het om gesondheidswerkers te beseer of selfs te vermoor.

Wat ons aangetref het, was buitengewoon. Dit was geen bom nie – dit was die ontbindende lyf van ’n reuserot wat in die fetusposisie in die oorledene se borskas vasgevang was. Die rot was byna die grootte van die reuserietrot wat in rietbeddens en rivieroewers in Afrikalande suid van die Sahara voorkom.

Die hemel weet hoe dit in die liggaam beland het. Die dier moes tydens die balsemproses in die borskas ingekruip het en is waarskynlik weens die nadoodse swelling van die liggaam in die borsholte vasgekeer. Net die rot se stert – wat presies soos ’n stukkie draad gelyk het – het by die liggaam uitgesteek.

Om hierdie rede raai ek mans aan om baie versigtig na hul vrou of lewensmaat se haarstyl op te let.

Van die ander vrae wat ek gereeld hoor, is: Wat is die ergste ding wat jy al gesien het? Die ergste reuk? Wat word as ’n goeie manier beskou om dood te gaan . . . en as ’n slegte manier?

Mense is altyd gefassineer om te hoor hoeveel inligting ek uit hul medisynekassies in die badkamer kan inwin. ’n Vinnige deurkyk van die rakke sal vir my vertel watter medikasie iemand gebruik en of hulle aan enige ernstige siektes ly, of hulle mondspoelmiddel gebruik en selfs of hulle gereeld vlos.

As jy honderde vitamienaanvullings en/of omegaolies in die medisynekassie sou ontdek, kan dit verklap dat iemand vol ipekonders is. Die antiretrovirale tablette wat gebruik word om MIV/vigs te help bestuur word ook gewoonlik in die medisynekassie gehou.

Ek het eenkeer die toneel van ’n diadiese dood (’n moord-en-selfmoord) besoek. Die man het sy vrou doodgeskiet en toe homself. ’n Ondersoek van die oop medisynekassie het ’n houer met antiretrovirale middels opgelewer; daar was ook daarvan op ’n tafel daar naby. My teorie is die man het óf nie geweet sy vrou gebruik antiretrovirale middels nie en dit ontdek toe hy die pille sien, óf hy het geweet hulle het albei MIV/vigs en hy het dalk sy vrou en homself om daardie rede om die lewe gebring.

Dit is hartseer dat ons nooit die antwoord daarop sal hê nie. Die meeste van die selfmoord- en diadiese sterfgevalle wat ek al gesien het, het ’n agtergrondgeskiedenis van MIV/vigs. Dit, glo ek, is te wyte aan swak berading ná die diagnose. As mense maar net geweet en verstaan het dit kan nes enige ander chroniese siektes soos hoë bloeddruk en diabetes behandel word . . .

Een van die tragiesste en stadigste sterftegevalle wat ek al gesien het, is deur ’n snoekgraat veroorsaak. ’n Middeljarige vrou het die graat per ongeluk ingesluk en dit het haar dunderm deurboor. Sy was ’n jaar lank in die hospitaal omdat die geprikte dunderm ’n fistel (’n abnormale kanaal tussen twee hol of buisvormige organe) veroorsaak het. Sy het later chroniese buikvliesontsteking ontwikkel.

In die jaar dat sy in die hospitaal was, is sy talle kere geopereer om die infeksie te probeer opklaar. Sy is eindelik ná ’n jaar van pyn, woede en depressie weens sepsis oorlede.

Die gereedskap wat Ryan inspan om sy werk mee te d
Die gereedskap wat Ryan inspan om sy werk mee te doen.

Een van die vreemdste en vinnigste sterftes wat ek moes ondersoek, het met wit sokkies te doen gehad. ’n Middeljarige man het in net ’n wit onderbroek en met wit sokkies aan kombuis toe gegaan en skynbaar op die gladde vloer gegly. Hy het sy skedel gekraak en is op die plek dood. Ná ’n deeglike rekonstruksie van die toneel en ’n outopsie is vasgestel die aanleidende oorsaak van die dood was waarskynlik die gladde vloer en die sokkies.

Dit is ook die taak van ’n dokter of spesialis om vas te stel of daar wel ’n sterfte was of nie. Soms kan die diagnose van dood uiters moeilik wees; dikwels maak tot die mees ervare dokters foute daarmee.

Op ’n keer is ’n bejaarde vrou, wie se normale liggaamsfunksies skynbaar opgehou het, opgeneem in die hospitaal waar ek gewerk het. Ek kon skaars haar hartklop hoor, daar was geen asemhaling nie en haar liggaamstemperatuur was hipotermies – dit is ver onder normaal. Ek het die ergste gevrees en haar dadelik met ’n reddingskombers toegemaak, vir haar suurstof gegee en ’n binneaarse koppeling ingesit in ’n aar in haar arm wat platgeval het.

Ek het met haar familie gaan praat en vir hulle gesê ek dink nie hul ouma gaan veel langer oorleef nie. Tot my groot verbasing het sy met my terugkeer na haar saal regop gesit, radio geluister en tjips geëet! Hipotermie is ’n baie goeie doodsnabootser en ek is lelik geflous.

Daar is baie maniere om te sterf, maar dis belangrik om tussen natuurlike en onnatuurlike sterftes te onderskei. Na gelang van watter agentskappe se data jy bekyk, het Suid-Afrika tussen 300 000 en 600 000 natuurlike sterftes per jaar. Daaronder tel byvoorbeeld sterftes weens alles van hartaanvalle tot beroertes en kanker.

Op mense wat op hierdie maniere sterf, word daar gewoonlik nie ’n forensiese lykskouing uitgevoer nie. ’n Lykskouing deur ’n anatomiese patoloog kan wel uitgevoer word, veral waar die dood weens natuurlike oorsake is, maar die natuurlike siekte nie bekend is nie. Forensiese patoloë voer net lykskouings op onnatuurlike sterfgevalle uit. Daar is jaarliks tussen 60 000 en 80 000 van hierdie soort sterftes in Suid-Afrika.

Wanneer iemand in Suid-Afrika ’n onnatuurlike dood sterf, word ’n volledige ondersoek vereis om die presiese oorsaak vas te stel. Forensiese patoloë help om die regsgeneeskundige ondersoek uit te voer. Dit sluit ook ’n ondersoek in na die omstandighede rondom die dood. Die lykskouing is net ’n klein onderdeel van die doodsondersoek. Forensiese patoloë is dus spesialisdoodsondersoekers wat afsluiting help bring. Ons is hier om te dien, raaisels op te los en te troos.

Forensiese deskundiges bestudeer ’n misdaadtoneel.
Forensiese deskundiges bestudeer ’n misdaadtoneel. Dit is hul werk om die oorsaak van die dood vas te stel.

Vir die leek wil dit lyk asof forensiese patoloë byna alles moet weet wat daar oor die dood te wete is. Dit is net gedeeltelik waar. Maar wat leke nie regtig weet nie, is dat forensiese patoloë hoofsaaklik met hoogstens 24 maniere van onnatuurlike dood te doen kry.

Dit wissel van vervoerverwante sterftes tot gifdood, marteling en fratsongelukke. Ons sien dit alles. Party van ons het selfs uitgebreide internasionale ervaring van oorlogsmisdade, opspraakwekkende sluipmoordsake, massarampe en scenario’s van gewapende konflik.

Forensiese patoloë help die oorsaak en manier van dood bepaal; help die oorledene identifiseer as hul identiteit nie bekend is nie; bepaal die tyd van dood en besering; samel bewyse in; dokumenteer beserings of die gebrek daaraan; help aflei hoe die beserings opgedoen is; dokumenteer enige onderliggende natuurlike siektes wat teenwoordig is; besoek die sterftoneel; bepaal of daar ander bydraende faktore is of sluit dit uit, en lewer kundige getuienis as daar ’n verhoor is.

Dikwels is groot bedrae geld op die spel, afhangend van of ’n sterfte deur ’n besering by die werk veroorsaak is, ’n skietdood, ongeluk of selfmoord was en of ’n hartaanval voor, tydens of ná ’n ongeluk plaasgevind het.

Forensiese patoloë het ook die onbenydenswaardige taak om sorgvuldig die hele maaginhoud van die dooies deur te kyk. Eendag het ek ’n lykskouing uitgevoer op ’n motorbestuurder wat in ’n ongeluk was, en ek het die slagoffer se blou, halfgekoude kougom in die maaginhoud gekry. Hy het duidelik die kougom tydens die botsing ingesluk.

Een van die vreemdste gevalle waarmee ’n ouer kollega van my gewerk het, was ’n slagoffer van ’n treinspoorongeluk. Die erg verminkte liggaam is op die treinspoor aangetref; net stukkies vel en fyngemaalde been het oorgebly. Die slagoffer was onherkenbaar. Toe my kollega die oorblyfsels van die maag oopmaak, het hy ’n opgefrommelde stukkie papier gekry met ’n nota wat lui: “My naam is X, die volgende mense gaan my doodmaak: X.”

Die oorledene het sy moordenaars se name op ’n stuk papier geskryf en dit ingesluk voor hy vermoor is. Op dié manier kon hy daarin slaag om vanuit die graf te sorg dat sy moordenaars opgesluit word.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Van die dooies sowel as die lewendes kan ons baie leer. Wanneer ek iemand die eerste keer ontmoet, dwaal my oë onmiddellik na die “forensies betekenisvolle” aspekte van hul liggaam en hul gedrag. Ek kyk na hul vel. Het hulle tatoes? Ek kyk na die toestand van hul tande. Ek kyk na hul postuur en die klere wat hulle aanhet. Is die een hand effens bleker as die ander hand? Ek let op na hul parfuum of naskeermiddel. Ek kyk selfs na hul naels.

Dit gebeur binne millisekondes – nog voor ek oogkontak gemaak het. Teen die tyd dat ek hulle groet, het ek reeds ’n beeld in my forensiese geestesoog van hul algehele gesondheid, hul geestesgesteldheid en die risiko’s wat hulle neem.

Ek het eenkeer ’n vrou se egskeiding voorspel op grond van haar skielike en drastiese verandering van haarstyl, en ek weet uit ervaring dat baie selfmoorde van middeljarige vroue deur hierdie verandering voorafgegaan word. ’n Vrou se haarstyl is een van haar belangrikste fisieke eienskappe. ’n Groot verandering kan dui op ’n onopgeloste, interne sielkundige konflik.

Een so ’n geval was ’n vrou wat bitterlik gekla het oor haar onvervulde huwelik en ’n egskeiding aanhangig gemaak het. Sy is dood aangetref nadat sy ’n “melkskommel” van fyngemaakte, gemengde middels gedrink het. Sy het kort tevore haar haarstyl drasties verander. Om hierdie rede raai ek mans aan om baie versigtig na hul vrou of lewensmaat se haarstyl op te let.

Of neem die volgende as voorbeeld van wat ek alles uit my terloopse waarneming geleer het nadat ek ’n vrou in ’n winkeltou ontmoet het. Haar lippe het gelyk asof hulle aan die herstel was van bysteke (sy het botoksinspuitings gekry) en haar vel het sy natuurlike glans verloor (sy was ’n roker). Ek kon aflei uit die handelsname van die klere wat sy aangehad het dat sy binne ’n sekere inkomstegroep val.

Haar postuur en haar gewig het my ’n idee gegee van of sy enige oefening doen en het dit vir my moontlik gemaak om haar eetgewoontes redelik raak te raai. Ek het ook parallelle snymerke op die pols van haar minder dominante hand opgemerk, wat vir my gesê het sy het al verskeie selfmoordpogings aangewend.

Jy sal nie enige van hierdie subtiele insigte in hoofstroomhandboeke kry nie. Dit het te doen met die onontdekte aspekte van menslike gedrag waarvan die deursneemens blykbaar salig onbewus is. Jy win hierdie kennis in as jy gelukkig genoeg is om jou op die regte plek en in die regte loopbaan te bevind – in die lykhuis, as forensiese patoloog. Of, soos ek dit noem, in die blinde kol van die mensdom.

Autopsy by Ryan Blumenthal.
’n Geredigeerde uittreksel uit Autopsy deur Ryan Blumenthal (Jonathan Ball Publishers).
Foto's: Walla Films, R Blumenthal, GALLO IMAGES, GETTY IMAGES