Staan nader, oud en jonk – die sirkus is hier met al sy wonders: hansworse, akrobate, sweefstok­artieste en diere wat verstommende toertjies uitvoer. 

Maar in dié geval is die diere wat gehore na hul asem laat snak nie van geboorte af ingehok en afgerig om op boksies te staan of deur vlam­hoepels te spring nie. Hulle is deel van ’n ligvertoning – en dít kan dalk ’n nuwe begin vir ’n kwynende instelling inlui.

By Circus Roncalli, een van Duitsland se grootste sirkusse, sal jy nie regte leeus kry wat met sweepslae toertjies doen of olifante wat met stokke gepor word om op hul agterpote te staan nie.

Jy sal eerder sien hoe sneeuwit perde grasieus en op die maat van dramatiese musiek die ring ingalop en hul stert swaai terwyl hulle die verhoog runnikend omsingel. Jy sal ook ’n reusegoudvis sien wat in ’n kits in ’n olifant verander. 

Dít en die ander kykgenot is alles ­speletjies met lig – asemrowende hologramme wat sirkusgangers nou dwars­oor Europa bekoor.“Die nuwe sirkus lui ’n nuwe era in,” het Max Schautzer, ’n Duitse televisie-aanbieder, gesê nadat hy ’n vertoning by-gewoon het.

“Almal moet byhou met tye wat ver­ander – ek dink dis op ’n fantastiese manier uitgevoer.”

Die idee vir die 3D-hologramvertoning het by die Circus Roncalli-stigter, Bernhard Paul, posgevat toe hy verlede jaar by die Amerikaanse Super Bowl vir Justin Timberlake in rustyd sien optree het.

siirkus,duitsland
Holografiese perde pronk om die sirkusring tot groot vermaak van die gehoor. Foto: Gallo Images

Die popster het gesing langs ’n hologram van die musieklegende Prince, wat twee jaar tevore oorlede is – en net daar het Bernhard ’n blink idee gekry, berig die BBC: Dalk was dít ’n manier om nuwe lewe in die sirkus te blaas en terselfdertyd die gebruik van diere uit te skakel.

Circus Roncalli, wat in 1975 sy deure oopgemaak het, het sedert die 1990’s die gebruik van diere in hul vertonings uitgefaseer en het al ’n jaar lank geen diere in vertonings gehad nie.

En nou is die diere terug – met ’n merkwaardige verskil.

Altesaam 11 projektors vul die arena, wat 32 m wyd en 5 m diep is, met 360°-beelde sodat die hele gehoor alles ten volle kan sien.

“Die beelde wat geprojekteer word, lyk driedimensioneel, maar tref eintlik ’n plat oppervlak aan die rand van die sirkusring. Jy sou dit nooit weet van waar jy in die gehoor sit nie,” berig die tegno-webtuiste BGR.

“Dit verskil eintlik nie veel van fliek kyk in ’n teater nie, maar in hierdie geval kyk jy net hoe virtuele diere toertjies uitvoer – iets wat jy andersins net by ’n regte sirkus sou sien. 

“Die voordeel vir Roncalli is dat geen diere moontlik kan seerkry in hul uitsluitlik digitale vertonings nie, en die gehoor kan alles geniet sonder om skuldig te voel.

“Sal holografiese vertonings belangstelling in sirkusse laat herleef? Dis moeilik om te sê, maar intussen is dit beslis ’n lekker manier om ’n aand van ligte vermaak deur te bring.”

vis,dier,sirkus
In ’n ouskoolse sirkus sou jy nie ’n reusegoudvis in die ring sien rondswem nie. Die hologramme word deur 11 projektors gemaak. Foto: Gallo Images

Sirkusse was eens gewilde gesins­vermaak, maar het die laaste jare swaar getrek. Dit moes nie net met die opkoms van die internet, flieks en videospeletjies meeding nie; dit het ook uiters duur geword om karavane met kunstenaars en diere van dorp tot dorp te vervoer. 

In 2016, toe Circus Roncalli nog diere gebruik het, het ’n enkele reis byna R1,3 miljoen gekos volgens die sake­koerant Handelsblatt.

Sirkusse wat diere ingespan het, het ook ál meer onder kritiek van diere­regteorganisasies soos People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) deurgeloop – en tereg ook.

In 2011 is onthul die Amerikaanse Ringling Bros-sirkus skok, slaan en mishandel hul olifante. Bulhake (staalhake wat aan ’n houthandvatsel geheg is) is ook op sensitiewe dele van die olifant se lyf – soos agter die ore, rondom die anus of aan hul slurp – ingesteek. 

Toe Kenny, ’n olifantkalfie wat gedwing is om op te tree terwyl hy ernstig siek was, en ’n vierjarige olifant, Benjamin, wat verdrink het terwyl hy ná ’n bulhaaksessie in ’n poel geswem het, dood is, het Peta klagtes by die Amerikaanse departement van landbou teen Ringling Bros ingedien en hulle is swaar beboet.

Daar was verdere ontstokenheid toe ’n leeu genaamd Clyde in ’n goederewa dood is weens hitte-uitputting en ’n agt maande oue olifant, Riccardo, van kant gemaak moes word nadat hy albei sy bene in ’n repetisie gebreek het.

Nog bewyse van wreedheid het aan die lig gekom toe Peta, met behulp van iemand in die binnekring – ’n sterwende man wat sy vrou se wense wou vervul – foto’s onthul het wat wys hoe Ringling olifantkalfies wreed inbreek.

Afrigters het babas van hul ma’s weggeskeur en gedwing om ses maande of langer tot 23 uur per dag op ’n betonvloer te staan. ’n Paar van hulle is vasgemaak met toue wat so styfgespan was dat hulle diep snywonde opgedoen het.

Ringling het in 2015 opgehou om ­olifante te gebruik – maar die protes­optogte het voortgeduur, want die sirkus het steeds leeus, tiere, perde, kangaroes en ander diere ingespan.

Nog ’n sirkus wat tot ’n val gekom het, is die beroemde Barnum & Bailey – oftewel “The Greatest Show on Earth”.

Aktiviste het hulle beywer vir ’n beëindiging van die beroemde olifant­vertoning waartydens die groot diere op piepklein stoeltjies moes balanseer, om die ring stap met hul voorpote op ’n ander olifant se rug en selfs bollemakiesie moes slaan.

‘Dit is beslis ’n lekker aand van ligte vermaak’
 Die maatskappy Field Entertainment, wat sowel Ringling as Barnum besit, het in 2017 aangekondig albei sirkusse gaan sluit – Barnum ná 146 jaar. “Die ikoniese sirkus het die laaste jare agteruitgegaan weens hoë bedryfskoste en lang, duur regstryde met dieregroepe, soos die een wat olifanttoertjies wou stopsit,” het Us Weekly destyds berig.

“Kaartjieverkope het reeds afgeneem, maar het aansienlik meer gekrimp as wat verwag is nadat die olifante verlede jaar afgeskaf is.”

Deesdae gebruik sirkusse ál minder diere: 149 stede en dorpe in Amerika het volgens die dierewelsyngroep Four Paws beperkings in-gestel, en meer as 40 lande het beperkings of ’n algehele verbod op diere­vertonings.

In Brittanje het die regering onlangs ’n reël ingestel wat sirkusse verbied wat diere in hul vertonings gebruik.

Roncalli hoop die gebruik van hologramdiere sal sorg vir ’n herlewing in die betowering en misterie wat eens van die sirkus ’n moet gemaak het.

En dit kan dalk suksesvol wees: In ’n toneel wat soos iets uit ’n Disneyfliek lyk, verskyn ’n hologramolifant met flappende ore. Hy staar voor hom uit voor hy grasieus op sy voorpote buig en met sy agterpote hoog in die lug skop. Die skare raak histeries.

Soos hulle in die sirkus sê: The show must go on – maar dié keer sonder die wreedheid en met ’n goeie skeut tegniese towerkuns.

Bronne: smithsonian.com, bbc.co.uk, youtube.com, nypost.com, motherjones.com, thedodo.com, peta.org, thailandelephants.org, news24.com, bgr.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.