’n Muur het hy aan sy kiesers belowe en ’n muur sál hy bou. Tot elke prys, selfs al moet hy ’n noodtoestand in die VSA afkondig, dreig pres. Donald Trump al geruime tyd.

Ag, dis net nog warm lug van ’n grootbek, het talle dit afgemaak; die president van die wêreld se voorste demokrasie sal tog sekerlik nooit regtig so ver gaan nie . . .

Maar toe doen hy dit sowaar.

Trump het op 15 Februarie ’n nasionale noodtoestand afgekondig bloot om die geld vir sy beoogde grensmuur tussen Amerika en Mexiko te probeer kry. Want die land se wetgewende gesag, die kongres, het steeds geweier om hom die miljarde dollars te gee wat hy vir sy “grootse” troetelprojek wil hê.

Of hy werklik glo aan die noodsaaklikheid van die omstrede muur en of dit eintlik hier oor sy ego, sy magsbeheptheid en sy gevry na kiesers en ’n tweede ampstermyn in 2020 gaan, is die onderwerp van vurige debat.

Maar Trump het met groot fanfare en kenmerkende selfvoldaanheid in die Withuis se roostuin bekendgemaak: “Ons onderteken vandag ’n nasionale noodtoestand. En dis ’n grootse ding om te doen, want ons het ’n inval van dwelms, inval van bendes, inval van mense, en dis nie aanvaarbaar nie.”

“Sonder ’n muur gaan ons nie ’n land hê nie.” Trump gesels met grensbeamptes in San Diego terwyl hy proefmure van tot 9 m hoog bekyk.

As die kongres, bestaande uit die huis van verteenwoordigers en die senaat, of die howe hom nie inkatrol nie, sal Trump met sy groter uitvoerende mag onder so ’n noodtoestand tot $8 miljard (R112 miljard) belastinggeld vir sy muurprojek kan kry.

Dit is heelwat meer as die $1,4 miljard (R19 miljard) wat die kongres hom tot nou toe wil gee.

Teenstanders reken die stap is ’n gruwelike skending van die demokrasie omdat Trump sy magte as president op ongehoorde wyse uitbrei sodat hy sy land se wetgewende gesag kan omseil om geld in die hande te kry vir iets wat miljoene van sy landgenote nie wil hê nie.

DIE LANGSTE REGERINGSTILSTAND

Trump se aankondiging volg op die langste federale regeringstilstand in die Amerikaanse geskiedenis – van 22 Desember verlede jaar tot 25 Januarie vanjaar –’n volle 35 dae.

’n Paar weke gelede was daar vrese dat sy onenigheid met die wetgewer weer die regering sou lamlê. Trump het van die kongres verskil oor die toewysing van geld vir die federale regering se bedrywighede in die 2019-boekjaar.

Hy’t geëis dat die toewysing $5,7 miljard (R80 miljard) vir sy langbeloofde skans teen Mexiko insluit. Maar die senaat met sy klein Republikeinse meerderheid het die toewysingswetsontwerp eenparig sonder finansiering vir die muur aanvaar.

So lyk ’n deel van die bestaande staalbalk-grensheining tussen Mexiko en Otay Mesa, Kalifornië.

En omdat Trump toe verseg om dit goed te keur, is dit in Desember nie deur die huis van verteenwoordigers, toe nog onder Republikeinse beheer, oorweeg nie. Die Demokrate het in die November-middeltermynverkiesing ’n meerderheid in die huis verkry, maar die nuutverkose lede sou eers ná Nuwejaar hul amp aanvaar.

Weens dié dooiepunt het meer as ’n kwart van regeringsaktiwiteite tot stilstand geknars. Meer as 800 000 werknemers en ’n miljoen kontrakteurs van die federale regering moes verlof neem of sonder betaling werk.

Staatswerknemers het van hul geldsorge vertel, soos dat hulle weens hul “vertraagde betaaldag” nie hul verbandpaaiemente en rekenings kon betaal nie. Die hutswoord #ShutdownStories het die internet laat gons.

Daar was verhale van werknemers wat hulle tot voedselbanke moes wend en oorweeg het om hul eie lewe te neem.

Die Demokrate het in Januarie met hul nuwe meerderheid in die huis wel die toewysingswetsontwerp aanvaar, maar Trump, met sy vetoreg, en Republikeinse senatore het sake steeds gedwarsboom.

Hy het eindelik einde Januarie tot ’n tydelike bestedingsooreenkoms ingestem, maar nie voor hy gedreig het hy sou ’n noodtoestand verklaar en onder meer militêre befondsing gebruik om sy muur te bou as hy nie teen 15 Februarie sy sin kry nie. En siedaar . . .

WATTER NOODTOESTAND?

Te oordeel na sy doen en late sedertdien sou jy nie sê Trump het ’n noodtoestand om te bestuur nie. Dat hy die eerste Amerikaanse president is wat dié radikale stap neem om ’n kongres te pypkan wat hom geld weier, skeel hom blykbaar min.

Die grondslag vir sy noodtoestand – die verdediging van Amerika – is nog net een keer in die vorige vier dekades gebruik, en dit deur pres. George W. Bush ná die afgryslike 9/11-terroristeaanvalle.

Met ’n patriotiese rooi “USA”-pet het The Don die twee dae ná sy aankondiging ure lank op sy gholfbaan in Florida geboer. Terselfdertyd het hy op Twitter uitgevaar teen die akteur Alec Baldwin, bekend om sy satiriese sketse op die NBC-program Saturday Night Live.

“Nothing funny about tired Saturday Night Live on Fake News NBC,” het die president getwiet. En toe sommer weer die media in die algemeen bygekom, volgens hom “korrup en die vyand van die mense”.

Noodtoestande word gewoonlik in tye van nasionale krisis afgekondig. Ingevolge Amerika se nasionale noodtoestandwet van 1976 gee ’n noodtoestand ’n president toegang tot spesiale magte en kan hy dus die normale politieke prosesse verontagsaam.

Die eintlike oogmerk is speelruimte tydens dringende krisisse waaraan die kongres nie betyds aandag kan gee nie. Trump hou vol daar is ’n immigrantekrisis op die VSA se grens met Mexiko, en dit bedreig Amerikaners se veiligheid.

Verlede November is sowat 2 000 mense daagliks by die VSA se suidelike grens voorgekeer en teruggestuur of in hegtenis geneem.

Voorstanders van die muur meen dié syfers verteenwoordig ’n noodsituasie. Maar volgens ander is die migrasie oor die grens eintlik baie laer as 10 jaar tevore, en hulle sê baie van die migrante wil Amerika wettiglik as asielsoekers binnekom.

Die Brennan Centre for Justice sê daar bestaan geen noodtoestandsituasie nie. Trump kondig dit bloot af “om die politieke prosesse te kortsluit, en dit kom neer op geweldige magsmisbruik”.

Die president het immers tydens sy roostuintoespraak erken: “Ek hoef nie hierdie ding te gedoen het nie; ek kon die muur oor ’n langer tyd gedoen het, maar ek sal dit eerder baie vinniger doen.”

HOE LYK DIE PAD VORENTOE?

’n Koalisie van 16 Amerikaanse deelstate daag Trump nou voor die hof oor sy noodmagteplan. Hulle sê hulle wil hul burgers, ekonomiese belange en natuurlike hulpbronne teen die muurbehepte president beskerm. Verskeie burgerlike en ander drukgroepe dagvaar ook die president.

Trump self verwag dat hy eers in die laer howe kan verloor, maar glo dat hy eindelik in die hooggeregshof sal wen. Dis moontlik, want daar het hy in sy termyn twee konserwatiewe regters aangestel.

“Dalk die belangrikste vir hom is dat die wet geen kriteria verskaf vir besluite oor wanneer ’n nasionale noodtoestand bestaan nie,” meen Chris Edelson, Amerikaanse staatsdiensprofessor en skrywer van Emergency Presidential Power; daarom “kan howe geneig wees om hulle te berus by presidensiële diskresie”.

Maar hy voeg by die kongres het steeds die mag om ’n president se noodtoestandverklaring te verwerp. Dit sal wel ’n tweederdemeerderheid in die huis sowel as die senaat verg. Gegewe die Republikeinse meerderheid in die senaat twyfel Alan Greene, senior lektor in die regte aan die Universiteit van Birmingham, of die kongres eindelik Trump se verklaring sal ophef.

“Maar as hulle niks doen nie, word die noodtoestandwet bloot ’n middel vir presidensiële misbruik,” benadruk Chris.

“Alle oë moet nou op die kongres wees.”

Teen saktyd het die senior Demokraat en huisspeaker Nancy Pelosi reeds ’n proses begin om ’n resolusie vir die opheffing van die noodtoestand aanvaar te kry. Maar soos die wêreld Trump teen dié tyd ken, sal hy ingryping en die wense van baie van sy landgenote waarskynlik nie sommer soos ’n lammetjie aanvaar nie . . . 

Sê weer?
  • “Trump IS die noodtoestand!” – ’n protesplakkaat voor die Withuis
  • “Dit skep zero presedent. Die president het kragtens wet reeds dié mag.” – Mick Mulvaney, Trump se nuwe personeelhoof
  • “Die enigste nasionale noodtoestand is dat ons president ’n idioot is.” – Ann Coulter, TV-kommentator en skrywer van In Trump We Trust
  • “Vuurwapengeweld in Amerika. Dít is ’n nasionale noodtoestand. Waarom verklaar jy dit nie tot ’n noodtoestand nie, mnr. President?” – Nancy Pelosi, top-Demokraat
  • Ons kort muur. Muur werk, muur maak veilig. Jy hoef nie skerp te wees om dit te verstaan nie. Trouens, dis selfs makliker om te verstaan as jy nie skerp is nie.” – Alec Baldwin maak Trump na in die program Saturday Night Live

BRONNE: THE NEW YORK TIMESGOP.GOVDEMOCRATS.ORGCNNBBCWHITEHOUSE.GOVWASHINGTON POSTTHECONVERSATION.COM

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, GALLO IMAGES/REUTERS