Deel

Inge Lotz-moord spook elf jaar later nog

akkreditasie
Vandag, op die herdenking van haar dood, spook die vraag nog: Wie was die moorddadige besoeker wat op 16 Maart 2005 Inge Lotz se lewe kortgeknip het?

Dit was Woensdag 16 Maart 2005, ’n doodgewone dag in die Boland. Die briljante Matie-student Inge Lotz het haar kêrel, die aktuaris Fred van der Vyver, om kwart voor agt afgesien voor hy klas moes loop by die Universiteit Stellenbosch.

[caption id="attachment_120128" align="alignnone" width="600"]Inge Lotz is elf jaar gelede wreed vermoor. Inge Lotz is elf jaar gelede wreed vermoor. [/caption]

Hy het die vorige aand, soos elke ander Dinsdagaand, by haar in haar woonstel, Shiraz 21 in Klein Welgevonden, oorgeslaap.

Dit was die laaste keer dat Fred haar lewend sou sien.

Inge se liggaam is om 22:36 daardie aand in haar woonstel gevind en vandag, op die herdenking van haar dood 11 jaar later, spook die vraag nog: Wie was die moorddadige besoeker wat dié oënskynlik doodgewone dag in die Boland so ’n gruwelike nalatenskap gegee het?

Ná talle hofsake en teorieë van ondersoekers en leunstoelspeurders, kon niemand nog uitpluis wie die geliefde blouoogstudent vermoor het nie.

Huisgenoot kyk na hoe gebeure oor die afgelope 11 jaar ontvou het:

16 Maart 2005

Inge Lotz se bebloede liggaam word in haar woonstel in Klein Welgevonden, Stellenbosch, deur Christo Pretorius, ’n kerkvriend van Marius Botha, Fred se woonstelmaat, gevind.

15 April 2005

Fred haal ’n ornamentele hamer, ’n geskenk van die Lotz-egpaar, uit sy bakkie en oorhandig dit aan die polisie.

15 Junie 2005

Dit word rugbaar dat die polisie Fred vir Inge se moord wil vervolg en hy gee hom oor in Stellenbosch se Cloetesville-polisiekantoor.

16 September 2005

Die moordsaak teen Fred word met meer as ’n jaar uitgestel.

Oktober 2006

Vingerafdrukdeskundiges stamp kop oor of Fred se vingerafdruk van ’n DVD-houer (wat Inge daardie middag om 15:07 uitgeneem het) of ’n glas gelig is. Fred se span meen die polisie probeer hul doelbewus mislei oor die vingerafdruk, maar hul pogings om die moordsaak van die rol te laat skrap, misluk.

Februarie 2007

Die moordsaak begin in die Kaapse hooggeregshof.

November 2007

Regter Deon van Zyl spreek Fred vry van Inge se moord en in sy uitspraak verwerp hy die staat se getuienis oor die bloedmerk op die badkamervloer, die ornamentele hamer en die vingerafdruk op die DVD-houer.

Mei 2009

Inge se ouers laat vaar ’n siviele eis van R8,5 miljoen wat hulle teen Fred wou instel.

Augustus 2011

Regter Anton Veldhuizen bevind in ’n siviele saak die polisie het Fred inderdaad kwaadwillig vervolg en staan ’n skadevergoedingseis van R46 miljoen toe.

November 2011

Die minister van polisie kry verlof by die appèlhof om teen Fred se suksesvolle eis vir kwaadwillige vervolging te appelleer.

Maart 2012

Inge se ouers, prof. Jan en Juanita Lotz, loof ’n R1 miljoen-beloning uit aan enigeen met inligting wat die moord kan help oplos. Hulle stel ook die befaamde baasspeurder Piet Byleveld aan om die saak verder te ondersoek.

Maart 2013

Die staat slaag in sy appèl om die uitspraak waarin bevind is dat Fred kwaadwillig vervolg is, ter syde te stel. Fred se regsverteenwoordiger, adv. Dup de Bruyn, dui aan hulle sal hulle nou tot die konstitusionele hof wend.

Mei 2013

Die konstitusionele hof keer Fred se aansoek af om teen die appèlhof se bevinding te appelleer.

Junie 2013

Prof. Jan Lotz staak Piet Byleveld se mandaat om Inge se moord te ondersoek.

November 2013

Jan lewer ’n pleidooi tot die direkteur van openbare vervolging (DOV) om die moordsaak teen Fred weer te heropen ná prof. Kobus Visser, ’n fisikus, in ’n verslag meen Fred se vingerafdruk is wel van ’n plat oppervlak gelig. “Mense sê vir my ek moet die boek toemaak en met my lewe voortgaan, maar hoe kan ek ’n boek toemaak wat ek nie verstaan nie?” het Jan destyds aan Huisgenoot gesê oor sy stryd om sy dogter se onopgeloste moord te verwerk.

In dieselfde maand wend Fred hom tot die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie in ’n poging om vir sy destydse vervolging vergoed te word. Dié kommissie keur sy aansoek af.

6 Desember 2013

Die DOV laat weet Jan dat hulle nie die moordsaak teen Fred sal heropen nie.

– Almari Wessels

Lees ook op Huisgenoot.com:

Wanneer Zephany reg is, is ek hier vir haar – Celeste Nurse

Suzelle DIY se selfdoen-wenke eersdaags kassie toe

Wildkyk van agter jou lessenaar? Nou kan jy!

47-jarige Tereza Troskie-Herbst maak laatlam se geslag aan Huisgenoot bekend

Wat is endometriose en waarop moet jy let?

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

23 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees