Dit was ’n koel Vrydagmiddag in die ooste van Pretoria toe ’n groep kollegas van ’n eiendomsbestuursonderneming in Faerie Glen kort ná vieruur by ’n kroeg-en-restaurant minder as 10 km van  hul werkplek vir drankies by mekaar aansluit.

Theo Kleyhans (60), die baas van die onderneming Property Management Authority of South Africa, beter bekend as PropMan, is ook by die informele samekoms om sy kollegas te trakteer en beter te leer ken.

Theo het dié maatskappy, wat verskeie dienste aan kliënte bied om hul eiendomme se administratiewe sake te bestuur, byna drie dekades gelede gestig.

’n Familielid van een van die kollegas wat die middag saam gekuier het, Jessica* (skuilnaam), sê daar was “11 of 12” kollegas wat saam drankies geniet het by dié restaurant, wat saans in ’n dansklub omskep word.

“Hoe lank almal gebly het, is ek nie seker nie. Jessica het nie lank saam gekuier nie; sy is vroeg huis toe,” vertel die bron, wat anoniem wil bly.

“Dit was die eerste keer dat Jessica sedert sy daar begin werk het saam met haar kollegas in ’n gemakliker of sosiale omgewing gekuier het. Ek dink nie dit was ’n gereelde ding vir almal om so saam te kuier nie, maar bygesê, sy het ook nog nie lank daar gewerk nie.”

Jessica was nie meer daar toe Theo van die oorblywende kollegas, waaronder Mario Pretorius (23), ’n portefeuljebestuurder by die onderneming, asook nóg twee werknemers, Chariska Kloppers (31) en Nonni* (skuilnaam), na sy luukse dubbelverdiepinghuis in Menlopark genooi het om daar verder te kuier nie.

Die slagoffer Mario Pretorius. Foto: Facebook/Mari
Die slagoffer Mario Pretorius. Foto: Facebook/Mario Pretorius

Watter skokgebeure agter die mure van dié baksteenhuis afgespeel het, bly ’n raaisel, want dit is eers die volgende oggend toe Theo se butler by die huis aankom om die hond kos te gee en sy dagtake te verrig toe hy op drie lyke afgekom het.

Die eerste wat hy gesien het, was een van die vroue wat half agteroor op ’n stoel sit. Hy het eers gedink sy slaap. Maar kort daarna het hy besef daar is fout.

Sy werkgewer, Theo, wat aan die voet van die trap lê, is dood. Hy het ook besef die jong man naby hom in die gang, wat later as Mario geïdentifiseer is, en die een “slapende vrou” op die stoep, Chariska, is dood.

Die stoep waar die twee vroue buite die huis, onde
Die stoep waar die twee vroue buite die huis, onderskeidelik dood en bewusteloos, aangetref is. Foto: Skermgreep/Video Verskaf

’n Vierde mens, en die enigste oorlewende, die bewustelose Nonni, wat op die stoep se vloer gelê het, is kort daarna per ambulans na die privaat Netcare Unitas-hospitaal in Centurion gebring waar sy teen Maandag laat nog in die hoësorgeenheid was.

Kol. Noxolo Kweza, provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng, bevestig die drie sterftes en dat ’n vierde mens, ’n vrou, in ’n kritieke toestand na die hospitaal gebring is. Sy wou nie aan Huisgenoot bewerings bevestig dat voorskrifmedisyne en dwelms in die huis gekry is nie.

“Al wat ons in hierdie stadium kan bekend maak is dat daar ’n geregtelike doodsondersoek onderweg is,” sê sy.

Maar Jessica se familielid vertel sy was rasend oor wat gebeur het nadat sy die groep verlaat het. “Natuurlik was Jessica histeries. Kan jy nou net dink – jy werk en kuier die een dag nog saam met die mense, die volgende oggend moet jy hoor hulle is dood.”

Theo Kleynhans Foto: Facebook/Theo Klein
Theo Kleynhans Foto: Facebook/Theo Klein

Sy vertel Jessica het Theo nie goed geken nie. Huisgenoot verneem hy was nie net ’n suksesvolle sakeman nie; hy was ook ’n bekende fotograaf. Daar word beweer hy het dikwels eksplisiete foto’s gedeel, ook foto’s van ’n volwasse of na bewering selfs pornografiese aard.

’n Bekende in televisiekringe, wat verkies om anoniem te bly, vertel daar was vir hom niks vreemds die dag toe hy na Theo se huis is vir ’n fotosessie nie.

Die dag toe ek daar aangekom het, het ons in ’n wagkamer gewag. Binne was daar ’n klomp vertrekkies, een het gelyk soos ’n ateljee waar opnames gedoen word.

Die fotosessie het die dag drie uur lank geneem. “Daar was vir my niks dodgy of vreemd aan hom nie. En beslis nie iets wat my bedag of bekommerd gemaak het nie.

“Die dag toe ek daar aangekom het, het ons in ’n wagkamer gewag. Binne was daar ’n klomp vertrekkies, een het gelyk soos ’n ateljee waar opnames gedoen word. Ek weet hy het gereeld gereis.”

Hy het nie daarna weer kontak met Theo gehad nie.

’n Ingeligte bron, wat ’n paar jaar gelede opknappingswerk in dié betrokke huis gedoen het, vertel die dubbelverdiepinghuis is ’n “moerse plek”. “Dit lyk dalk vervelig van buite, maar binne is dit luuks. Die naaste waaraan ek dit mee kan vergelyk is met iets waarin Lolly Jackson sou bly.”

Lolly, die destydse Teazers-baas wat in 2010 vermoor is, was bekend vir sy uitspattige leefstyl.

“Ek onthou toe ek die dag daar in (Theo se Menlopark-huis) was, was daar nog ’n gespog die goedkoopste bottel drank kos R5 000.”

Theo Kleynhans Foto: Facebook
Theo Kleynhans Foto: Facebook

“Ek het dadelik die huis op die koerantvoorblad herken omdat daar so baie vreemde dinge was. Wanneer ’n mens by die swembad afstap, is daar ’n foto-ateljee, maar dit was geen gewone ateljee nie.”

Hy voeg by: “In die huis was daar seker nege kamers.”

Toe Huisgenoot beeldmateriaal van die huis sien, het dit vervalle gelyk, maar die bron bevestig dit is dieselfde huis. “Ek herken daardie bar.”

Die huis waar die raaiselagtige sterftes plaasgevind het, is in ’n stil woonbuurt in Menlopark. Die huise in dié straat word gekenmerk deur hoë mure en groen tuine waar nie ’n grassie uit plek is nie. Tog lyk die huis waar Theo en sy kollegas gekuier het, meer soos ’n kantoorgebou van buite.

’n Uitsig na die huis waar die drie eiendomswerker
’n Uitsig na die huis waar die drie eiendomswerkers gesterf het. Foto: Verskaf

Volgens Theo se bure was hy ’n “weird man, maar tog ’n gentleman”.

Theo het dié huis glo 20 jaar gelede gebou en nadat sy ouers oorlede is, het hy verskeie kamers in die huis aan huurders verhuur.

Hoewel daar volgens ’n buurman soms rusie tussen van die huurders was, was Theo altyd ’n rustige man.

“Hulle het nie baie partytjie gehou nie. In die laaste tyd was dinge ook stil. Of altans ons het nie harde musiek gehoor of baie karre gesien nie.

“Ons het niks gehoor die aand (toe die mense gesterf het) nie.”

Die slagoffer Mario Pretorius, het as portefeulje
Die slagoffer Mario Pretorius, het as portefeulje bestuurder vir die eiendomsbestuursagentskap gewerk. Foto: Facebook/Mario Pretorius

Nadat ’n bron bevestig het Nonni, die enigste oorlewende van die vreemde gebeure, het haar bewussyn herwin, het die Unitas-hospitaal bevestig sy is steeds in die hoësorgeenheid.

Intussen het een van die oorledenes se familie die privaat ondersoeker Mike Bolhuis genader om die sterftes te ondersoek. Die privaat speurder Werner Koekemoer, wat vir Mike se maatskappy, Specialized Security Services, werk, beweer daar is dwelms in die huis gekry.

“Ons weet nog nie hoe dié mense dood is nie, maar daar is talle rooi ligte wat vir my afgaan omdat daar drie slagoffers is en iemand anders kritiek is,” sê Werner.

’n Skermgreep uit ’n video wat in die huis geneem
’n Skermgreep uit ’n video wat in die huis geneem is, wys wat lyk soos bloed en skuim op die trappe, waar Theo Kleynhans se lyk gevind is. Foto: Skermgreep/Video Verskaf

In ’n selfoonvideo wat Mike se span op die toneel geneem het, kan wat lyk soos bloed en skuim op die onderste trap van die huis gesien word. Werner sê daar is ’n bietjie bloed op die toneel gekry, maar dit is onduidelik of een van die oorledenes hulself beseer het toe hulle val het.

“ ’n Paar goed maak nie heeltemal sin nie. ’n Mens ruik daar is in die huis baie gerook, van die mense daar was rokers, maar al die asbakkies was leeg,” vertel Werner.

Hy benadruk dat dit onduidelik is wat die slagoffers se dood veroorsaak het en of dit moontlik met die beweerde dwelms in die huis te doen het.

Met Huisgenoot se besoek aan die restaurant waar die groep gekuier het voor hulle vort is na Theo se huis, kon die kelners nie onthou waar Theo en sy metgeselle die Vrydagaand gesit en kuier het of eens bevestig dat hulle wel daar was nie.

Op Vrydagaande is die restaurant dikwels vol, en nie die kelners of bestuurder was bewus van Theo se teenwoordigheid daardie aand nie.

In ’n stillerige straat wanneer ’n mens pas van die Atterbury-rylaan in die ooste van Pretoria afgedraai, is PropMan se kantore deel van die Atterbury Court-kantoorpark.

Die kantore van Theo Kleynhans se eiendomsbestuurm
Die kantore van Theo Kleynhans se eiendomsbestuurmaatskappy in Faerie Glen, Pretoria. Foto: Verskaf

By die PropMan-kantoor naby die Atterbury-rylaan in Faerie Glen is daar met Huisgenoot se besoek nie baie aktiwiteit nie, tog word  Huisgenoot deur die sekuriteitswag verbied om binne te gaan.

Die rede daarvoor is glo dat PropMan vandag gesluit is en niemand op kantoor is nie. Bel ’n mens die landlyn van die kantoor, word dit blitsig opgetel, maar die antwoorde bly vaag. ’n Werknemer het gesê hulle het nie meer inligting as wat reeds in die media bekendgemaak is nie.

Maar Jessica se familielid vertel toe sy Maandag terugkeer werk toe, het ’n geskokte stemming geheers.

“Almal het probeer om tot verhaal te kom en die onderneming aan die gang te hou. Ek meen die baas is dood, en aan die ander kant is daar reeds sharks wat die onderneming wil kom oorvat.”

Dan, geskok, sê sy: “Die lyke is nog nie eens koud nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe