Dit was die finale openbare noodkreet van ’n skrywer wat oor dekades diep spore in die Afrikaanse literêre landskap getrap het.

“Kinders word weggewys. Ek kwyn daaronder,” het die ontslape Elsa Joubert (97) aangrypend oor die landwye inperking geskryf skaars ’n maand voor Covid-19 ironies genoeg ook haar lewe geëis het.

“Ons wat in tehuise of inrigtings bly, hoe wonderlik ook al, is totaal van ons familielede afgesny,” het sy in ’n brief uit ’n aftreeoord in Kaapstad geskryf.

Dit was deel van ’n pleidooi aan die regering om wel besoeke aan bejaardes in tehuise en oorde toe te laat.

“Telefone en video’s en Skype en vele meer help, maar is nie genoeg nie. Werklike verbintenis gaan veel dieper,” het sy die situasie geskets. 

Dié woorde tref diep, veral omdat besoeke aan tehuise met die ikoniese skrywer se afsterwe steeds streng beperk was – en met rede. Want hul bejaarde inwoners is veral kwesbaar vir die coronavirus, soos blyk uit die aantal infeksies wat weekliks by die Panorama Palms-aftreeoord in die noordelike voorstede van Kaapstad styg. 

Teen druktyd het 41 inwoners en 34 personeellede al positief getoets vir die virus en dit het twee inwoners se lewe geëis.

“Met ouderdom verswak die immuunstelsel. Ook onderliggende siektes soos diabetes, hoë bloeddruk en hartsiektes maak ouer mense kwesbaarder vir COVID-19,” verduidelik Gabrielle Kelly, ’n navorser verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se Samson Institute for Ageing Research.

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n beroep op mense ouer as 60 gedoen om hulself tydens die pandemie af te sonder sodat hulle so min moontlik blootgestel word. Maar dit bring onvermydelik eensaamheid en verlange, soos vir die Fletchers van Bredasdorp, ’n egpaar in hul 80’s.

Elke dag klokslag om halftwaalf staan Louis met ’n rooi serp buite haar wooneenheid in die Suideroord ACVV Tehuis vir Bejaardes en wapper dit in die rigting van die eenheid vir verswaktes – daar waar haar man, Jonaby, dit uit sy venster kan sien “Dit beteken: ‘Ek het jou nie vergeet nie. Dit gaan goed met my, en ek is lief vir jou,’ ” vertel sy oor dié daaglikse ritueel.

Die twee voor die inperking.
Die twee voor die inperking. Foto: Verskaf

Met dié dat die gewraakte siekte ál meer mense in hul later jare eis en daar geen aanduiding is van hoe lank die beperkings op sosiale besoeke by tehuise nog sal geld nie, het Huisgenoot vir mense in hul later jare gevra hoe hulle die uitwerking van die grendeltyd beleef.

LORRAINE ALLISON (84), JOHANNESBURG

Lorraine
Lorraine Allison Foto: Verskaf

“Dit voel soms of ’n mens in ’n hutspot van weerloosheid bly en dat jy soos op ’n eiland omring word deur die vrese en angste van ander mense hier in die aftreeoord. Dis sleg dat ’n mens in hierdie hoofstuk van jou lewe moet bly bang wees vir ’n siekte waarvoor daar nog nie ’n inenting of kuur is nie.

“As industriële chemikus wat vroeër jare in die virologiebedryf gewerk het, ken ek die gevare van ’n virus soos die gevreesde coronavirus. Inperking is nodig om lewens te red.

“Maar ek mis ons geselsies oor ’n koppie tee hier in die oord – daardie sosiale kontak waar ons aan mekaar mag raak en nie meters ver moet staan nie. “En ek verlang na ’n drukkie van my kleinkinders.

“Ek doen nou blokkiesraaisels om al my varkies op hok te help hou. Ek kyk ook ’n uitstekende Suid-Afrikaanse produksie, Still Breathing. Nogal heel gepas, want ek haal steeds asem.”

EMMA PHALA (71), SOWETO

Emma Phala
Emma Phala Foto: Verskaf

“Ek is baie bang vir die coronavirus. Ons hoor op die televisie hoe die mense doodgaan. “Dit klink vir my as jy dit op my ouderdom kry, dan moet jy van die dood praat.

“Ek is baie gefrustreerd dat ek nie nou my drie kinders en nege kleinkinders kan sien nie. “Hulle bly om die hoek in Jabulani. Dis ook waar my kerk is. En die mall waarheen hulle ons altyd in ’n bussie gevat het.

“Mense van maatskaplike ontwikkeling het altyd ons hare en naels kom doen. Ag, dit sal ook seker weer eendag gebeur, hoop ek.

“As ek voel ek kan nie meer nie, verbeel ek my ek gaan op die sypaadjie sit en skree vir die mense daar buite: ‘Ek is nog hier!’ ”

SARAH WILEY (60), CALVINIA

Sarah Wylie
Sarah Wylie Foto: Verskaf

“My verjaardag op 8 Mei was die ergste. My familie bly hier agter die ouetehuis en kon net by die draad vir my sing. Hulle het darem ook presentjies gestuur – die mooiste, mooiste rose en lekkergoed en toiletries.

“Asseblief tog, President, maak die lockdown oop sodat ek weer saam met almal kan kuier. Ek was 15 jaar lank ’n onderwyseres en het die res van die tyd kinders grootgemaak. Daar was altyd mense om my. Een keer per maand het ek haarkapper toe gegaan.

Nou help die verpleegsters ons met ons hare. Suidooster op die TV hou my maar company. Verder is ek ingehok en alleen in my kamer.

“Ek wil uitgaan na my twee dogters en my kleinkinders toe. Ons het gehoor van twee coronagevalle op die dorp, maar is nie bang nie. Ek is ’n kerkmens.”

KOBUS LUBBE (75), LOUIS TRICHARDT

Kobus Lubbe
Kobus Lubbe Foto: Verskaf

“Ek is ’n Weskus-klong wat op Citrusdal en in Tiervlei, Parow, grootgeword het. “Ek mis die see, jong. Die geruis en die soutlug sou my siel tydens hierdie inperking gesus het.

“Ek mis ook my geliefde vrou wat vier jaar gelede oorlede is, veral saans. Nog ’n asem hier langs my.

“En ek mis die besoeke van my kleinkinders wat ook hier op die dorp woon – hulle is nou in gr. 4 en gr. 6. Dit maak my hartseer om oor die foon vir hulle te probeer verduidelik: ‘Oupa mag ongelukkig nie nou nie.’

“Ons is net twee wewenaars hier, en die tannies was lief vir ons grappies en drukkies. Nou kan ek nie eens onthou wanneer laas ek vir iemand ’n drukkie gegee het nie.”

KEITH LANGLEY (66), KAAPSTAD

Keith Langley
Keith Langley Foto: Verskaf

“Ek is bedlêend sedert ek twee jaar gelede ’n beroerte gehad het. “As ek nie my vrou hier by my in die ouetehuis gehad het nie, sou lockdown my einde beteken het.

“Sy doen alles en is alles vir my. Ons is al 42 jaar getroud, en die lockdown het ons nog hegter saamgebind. “Ek het twee dogters en my seun werk hier naby, maar die afgelope maande is hulle net stemme oor die foon.

“Gelukkig is ek ’n ywerige leser. Ek lees sommer drie boeke per week van veral skrywers soos Jeffrey Archer en Alex Haley. Boeke maak ’n mens vry, al is jy in lockdown. Lees voer ’n mens ver weg na ander wêrelde.

“Ek het ook altyd domino’s gespeel saam met ander mense in die tehuis, maar nou mag ons nie meer by mekaar kuier nie.

“Ek het ’n TV in die kamer en is bewus daarvan dat die coronavirus ons dood kan beteken as dit van buite ingebring word. Maar danksy my geloof is ek nie bang vir ’n virus nie.”

DEL DAVIES (84), KAAPSTAD

Del Davies
Del Davies Foto: Verskaf

“Dis vir my lekker dat al die geldinsamelings en vermaakgeleenthede hier in die aftreeoord nou gekanselleer is. Ek is gewoonlik baie betrokke daarby.

“Maar ek mis my vriende. In 1988 het ek privaat danspartytjies gereël vir gay mans en vroue. Ek het die leisels vyf jaar gelede oorgegee aan twee van my vriende.

“Sedert die begin van die lockdown is ek en my lewensmaat van die afgelope 20 jaar van mekaar geskei. Sy woon hier naby (in Kaapstad). Net personeel en inwoners word hier toegelaat.

“Ons mis mekaar, maar gesels elke dag met WhatsApp. Van my drie kinders, my twee seuns is dood, leef nog net my dogter. Sy is al ’n ouma, maar ek voel nie soos ’n great-granny nie!

“Op ons ouderdom wil ’n mens doen wat jy wil, maar met Covid-19 wat rondsluip, moet ons maar doen wat ons beveel word. “Ek wil mense al drukkies gee wat ek nog nooit voorheen gedruk het nie!”