Maar sedert die inperking is dié labirint se toekoms in die weegskaal. 

Derduisende spekbome sou binne omtrent drie maande vir die labirint geplant word.

Die doel van die projek, bekend as The Great Labyrinth of Africa, is om mense aan te moedig om te let op hul koolstofspoor, het Peter Shrimpton van die Wonder Plant-organisasie, aan die begin van die jaar aan Huisgenoot gesê. 

Peter het sowat drie jaar gelede begin om mense in informele nedersettings te lei om spekboompies te kweek. 

Aan die begin van die jaar was daar reeds 164 000 bome wat gereed was om geplant te word.

“Sedert die inperking het die span van The Great Labyrinth kontak gemaak met al die individue en maatskappye wat beloof het om ons wonderlike projek te ondersteun,” het die raad van trustees in ’n verklaring op die projek se Facebookblad gesê.

“Ons is keer op keer afgekeur,” lui die verklaring verder. “Ons het ook twee skarefinansieringsveldtogte van stapel gestuur om geld in te samel vir ons boom-entrepreneurs, maar albei het misluk.

“In dié moeilike tye is mense bekommerd oor hoe hulle finansieel gaan oorleef en hulle is onseker oor die toekoms.”

Volgens die verklaring het die trustees en stigterslede van die projek besluit dit is onvanpas om met hul agenda druk te plaas op maatskappye wat in nood verkeer. 

“Daar is eenparig besluit om die projek op ys te plaas tot die einde van Oktober en die situasie dan te herevalueer.

“Ons weet ons magtige wonderplant, die spekboom, sal oorleef en wanneer al die onkruid verwyder is, sal die terrein binne ’n week of twee weer herleef.” 

Peter en sy vrou, Mandy, wat die projek bestuur, het intussen tydelik na Schoemanskloof in Mpumalanga getrek. 

“Hulle is steeds toegewyd tot die projek en sal aanhou om na korporatiewe borge te soek en ’n plan te beraam om die Great Labyrinth-projek te laat herleef sodra die mark weer oop is en gestabiliseer het,” lui die verklaring verder. 

Die trustees stel dit in die verklaring duidelik dat hulle steeds beoog om met die projek voort te gaan, selfs al kan dit eers in 2021 gebeur.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe