“Wat ’n kort tydjie sou wees, het nou in ’n lang nagmerrie ontaard,” vertel Nelisia Rohlandt, ’n finansiële adviseur. 

Sy was slaggereed om te gaan en het uitgesien om weer met haar man, Kevin, te herenig. Sy het uit haar werk bedank, haar kar verkoop en haar tasse was gepak. 

Nelisia was net op pad om saam met hul honde en kat by Kevin in Nieu-Seeland aan te sluit toe die Suid-Afrikaanse regering die land in Maart ingeperk en vlugte in en uit die land opgeskort het. 

“Dus sit ek nou sonder inkomste by my afgetrede ouers wat my noodgedwonge help onderhou. Ek voel nutteloos en broos,” sê Nelisia.

“Kevin probeer om finansieel uit Nieu-Seeland te help, maar om geld internasionaal te stuur, kos ook 'n vrag geld.”

Sy meen sy lê nagte wakker en wonder angstig hoe alles eindelik gaan uitspeel. Sy het al navraag gedoen oor die moontlikheid van repatriasie-vlugte om by haar man aan te sluit, maar wag nog op antwoorde. 

Nelisia en Kevin het mekaar in Januarie laas gesie
Nelisia en Kevin het mekaar in Januarie laas gesien. Foto: Verskaf

“My lewe staan tans stil en elke dag voel soos 'n leeftyd. Ek voel soos 'n gevangene wat niks verkeerds gedoen het nie.”

Nelisia en Kevin het verlede jaar in September besluit om hul tasse te pak ná Kevin se broer en sy vrou 'n paar jaar gelede besluit het om Suid-Afrika vir Nieu-Seeland te verruil. 

Hulle het die bal aan die rol gesit en Kevin, wat in die boubedryf werk, het vinnig ’n pos gekry. Teen Desember was hul papierwerk in orde en hulle het begin om die meeste van hul besittings te verkoop. Kevin het in Januarie reeds gevlieg en woon nou in Christchurch. 

“Ons het besluit dat hy eerste sal oorgaan om 'n plek vir ons te kry en die meubels uit te sorteer,” vertel Nelisia.

Sy het agtergebly om die papierwerk vir hul troeteldiere uit te pluis en hul laaste besittings te verkoop. 

“Die onsekerheid vreet my op,” sê sy.

 Ten spyte van die tydsverskil, gesels hulle gereeld op WhatsApp en hulle bel mekaar ook met video-oproepe.

“Hy was baie oulik en het my die ander dag ‘saamgeneem’ om vir ons nuwe beddegoed te koop sodat ek ook 'n sê kan hê. Hy vat my ander kere ook saam winkels toe sodat ek kan sien hoe dinge daar werk en hoe alles lyk, soos hul selfhelp-betaalpunte.”

Hulle was nog nooit so lank uitmekaar nie. Hulle het mekaar in 2014 ontmoet en is in 2017 getroud. 

“Van die dag wat ons ontmoet het, was ons selde 'n dag apart; dus is die tyd nou ongelooflik moeilik vir ons twee. Kevin is nie net my man nie; hy is ook my beste vriend.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.